Die jaar 2005 was ‘n baie interessante jaar in ons lewe. Ek was so pas klaar met op ‘n groot projek in Gaborone, en my kontrak is verleng vir nog twee jaar. Ons was nou in Orapa, ‘n baie klein dorpie in die middel van Botswana. My “job” was die OD & strategie-bestuurder van die grootste diamandmyn in die wêreld. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding wat ek vir niks in die wêreld ooit sou verruil nie.
Emily wat ons helper was in Gaborone het saam met ons getrek Orapa toe. Sy was ongelooflik lief vir Yanik. Hier is hy tussen een en twee jaar oud. Orapa was blêddie warm. Ek onthou as jy uit jou “air-con” gebou uitstap, dan tref daardie hitte jou so in die gesig. En as jy dan die warm lug inasem, dan het dit soms gevoel asof jou longe brand van die hitte. Kon maklik 45 grade of selfs warm word
Ons sosiale lewe was op ‘n heel ander vlak waaraan ons ooit gewoond was. Ek dink dit is omdat daar so min “expats” was. Ons was maar baie op mekaar aangewese.
Ons het naweke weggegaan na allerhande lekker plekke toe. Sal nooit vergeet hoe ons op die Okavanga rivier gery het en tiervisse gevang het nie. So tussen die krokodille, seekoeie en visarende deur. Dit was ongelooflik lekker. En in die aande het ons langs die Okavango gebraai en gekuier
Die Makgadikgadik-panne was ‘n ervaring op sy eie. Jy kan letterlik net ry en ry en ry op die pan, sonder ophou. En wanneer die flaminke daar was, dan is die horison pienk. Dit is onbeskryflik mooi. Ja, en as jy moet toilet toe gaan, dan is jy maar blootgestel.
Baie middae het ons sommer net vir ‘n draai gaan ry in die Orapa Game Park. Daar was altyd iets om te sien.
Daar was die ongelooflikste kampplekke. As ons nie in Central Kalahari gaan kamp het nie, dan was ons by le Roo le Tau. Daar slaap jy nie lekker in die nag nie want die leeus jaag die heelnag die bokke rond.
So gaan hou ons Du Toit’s toe een naweek vakansie. Ons gaan kamp heel noord by Kasane. Dit is die plek waar vier lande bymekaarkom – Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe. Ons ry rond, braai lekker elke aand, en besluit maar ons moet darem een dag deurry na die Victoria-valle toe. Ons besluit ons gaan dit van die Zimbabwe kant af doen.
Die grenspos was nie te moeilik nie, en toe ons weer sien, toe is ons in Zim en op pad na die valle toe. En die Valle was pragtig. Omtrent iets om te beleef. Naderhand besluit ons om ‘n draai te maak by die plaaslike vlooimark en ietsie koop.
Dit was baie erg. Daar was baie stalletjies, maar wat my opgeval het, was die mense se ongelooflike desperaatheid. Elkeen sit by sy stalletjie, en jy sien in sy oë dat as jy nie vandag iets by hom gaan koop nie, dan gaan hy vanaand honger slaap. En as jy verby sy stalletjie loop dan was dit asof jy so pas ‘n doodsvonnis oor hom uitgespreek het. As ons wou, kon ons hulle afstry tot op die been om iets te koop. Maar dit was net eenvoudig “morally wrong” – ek het twee hout beelde vir US $50 elk gekoop by een ou omdat ek hom so uit my hart uit jammer gekry het. Die beelde was seker net R50 werd.
Ons is naderhand daar weg. Nie omdat ons wou nie. Maar omdat dit eenvoudig net te intensief was. Ons het geld, en hulle het nie. En waar ons op vakansie is, is hulle in ‘n daaglikse stryd besig tussen lewe en dood.
Toe ek agter my bakkie se stuurwiel sit, toe staan daar een van die manne by Lynette se venster. Ek dog hy gaan vra vir ‘n geldjie of iets. Toe vra hy vir haar of hy haar kouse kon kry. Sy het al huilend haar kouse uitgetrek en dit vir hom gegee. En hy het daar weggestap, vir die eerste keer in jare met kouse wat hy weer aan sy voete kon sit.
Ons het in stilte teruggery van Zim af Botswana toe. Al die pad.
Boeta se les:
Yanik – as jy hierdie storie ooit lees, dan moet jy asseblief onthou om nooit ooit jou medemenslikheid te verloor nie. Ja ek weet, dit is rof hier in Afrika. By elke robot staan daar een wat ietsie wat by jou wil hê en naderhand raak dit net te erg.
Maar as jy gesien het wat ek gesien het daar in Zim, dan sal jy verstaan dat ons hier is om ander mense te help. Daai kaalkopou in sy jassie – die Dalai Lama – stel dit so: ” The purpose of life is to help other people. And if you cannot help them – wil you please not hurt them…?”
Selfs al moet jy miskien jou kouse eendag uittrek sodat iemand weer kan voel hoe dit voel om kouse aan sy voete te kan trek. Vra vir Mamma, sy weet!
Lief vir jou
Pappa
Baie dankie Jannie!
Dit was nou n mooi storie en les wat mens so vinnig vergeet.