In 1994 toe kry ek my heel eerste volwaardige job. Ek word aangestel as psigometris by die Departement van Korrektiewe Dienste. Hulle gee my die rang van proefbewaarder. Dit is heel onder op die voedselketting. Ek onthou in daardie jare toe hulle my eerste salaris inbetaal, toe kry ek ‘n volle R310 na aftrekkings vir die maand.

My taak was om 16 PF (personality factor) toetse op werksapplikante te doen en dan ‘n onderhoud met hulle te voer gebaseer op die 16 PF. So jy vra vragies wat so bietjie krap op plekkies wat nie te lekker lyk op die 16 PF nie. En dan as alles klaar is, dan was daar drie boksies om van te kies –  “Not recommended; Recommended en Strongly Recommended”.  En dan kon die grootmanne maar besluit wat hulle met die kandidaat wou verder maak.

En dis omtrent al wat ek gedoen het daardie jaar. Ek was naderhand so gatvol vir onderhoude en 16 PF’s dat dit by my ore uitgeloop het.  Maar my heel eerste onderhoud wat ek moes voer, was anders. Jy moet verstaan – ek kom van Namibië af. Wanneer ons Engels praat, dan sê ons wat ons kan sê, nie wat ons wil sê nie. As jou Engelse juffrou in matriek se naam juffrou Du Toit is, dan dui dit mos duidelik aan dat jy eintlik maar met ‘n moerse agterstand die wêreld ingestuur word.  Sy was ‘n uitstekende juffrou maar haar taak was onmoontlik om ons klomp Namibiērs die taal te leer. En in hierdie geval moes ek ‘n onderhoud voer met ‘n man wat net Engels praat.

Aan die linkerkant is Johan. Hy was die grootbaas toe ek al my skade aangevang het. Ek het hom hier (Mei 2017) eers vertel wat ek alles aangevang het. Ook maar goed so. Hy sou my ge-“fire” het as ek hom toe (1994) hierdie storie vertel het. In die middel sit Chopper – my ou groot maat wat ek nou al ken van 1995 af.

Hy doen aansoek vir ‘n verskriklike hogere pos in die Departement.  Uitvoerende Generaal of so iets. En hy het ‘n CV wat skrik vir niks. Alles by University of Zululand; of University of Venda; of University of Fort Hare of iets in die lyn.  MBA; D Phill; noem dit en hy het dit.

Nou stres ek want dit is baie hoë profiel onderhoud hierdie, en ek sukkel met die Engels.  En ek berei toe nou maar voor vir die onderhoud deur die man se CV so bietjie te beloer voor die tyd. En toe sien ek dat die man nie net ‘n ywerige akademikus is wat grade insamel nie, maar ook sy merk gemaak met sokker. Selfs uitgedraf vir Bafana Bafana op ‘n tyd.  Hulle het ons mooi geleer op Stellenbosch – wanneer jy ‘n onderhoud doen is dit soos om ‘n hamburger van bo af te eet. Jy gaan nie direk vir die “pattie” nie. Nee, jy eet eers die broodjie, dan hanteer jy die “pattie”, en dan eindig jy weer met die broodjie. Binne die onderhoudkonteks beteken dit eenvoudig dat jy die onderhoud begin met iets informeel, dan zoom jy in op die formele, en dan eindig jy die onderhoud weer met die informele.

Net daar besluit ek die sokkerding is die boonste broodjie van die hamburger. Ek gaan met die man sokker praat, en sodra ek genoeg selfvertroue het in Engels, dan sal ek die “pattie” aandurf. En dan weer afsluit met sokker. Ek is toe se reg as wat kan kom vir hierdie onderhoud. Eintlik sommer opgewonde.

Die volgende oggend toe staan die man voor die Departement van Korrektiewe Diense se deur – 10 minute voor die tyd. Net soos dit ‘n goeie kandidaat betaam. Skoene netjies blink – das en baadjie en alles. Ek nooi hom om te kom sit en bied hom koffie aan. Ons drink saam koffie. Dan begin ek die gesprek met my beste Engels:

” I see on your CV you play soccer?” Hy antwoord positief. Ek vra hom: “Tell me more about your soccer prestations…”

Want in Afrikaans noem ons dit mos ‘n prestasie. Nou in my wêreld praat ons van Namlish – Namibian English. Ek kan vir enige Namibiaan vra wat is sy “prestations” en hy sou hulle opnoem sonder om eers te aarsel. Hoekom kan ‘n prestasie in Afrikaans nie ‘n “prestation” in Engels wees nie…?

Die man kyk my skaapagtig aan. Hy het nie die vaagste benul waarvan ek praat nie.  Na ‘n ruk vra hy my: “What do you mean – prestations?” Ek kyk hom op en af. Hoe kan hy nie weet wat sy “prestations” is nie? Ewe selfvoldaan sê ek vir hom: “Sir I do not understand how you do not know what your soccer prestations are. You clearly indicated them to me in your CV….”  En dan wys ek vir hom op sy CV met my vinger, maar toe ek my vinger so druk op die woordjie waar daar “prestation” moet staan, toe staan daar “achievements”.

Hoe red ek myself sonder dat hy agterkom dat ek eintlik nou my naam met ‘n plank geslaan het? “I mean your soccer achievements” mompel ek saggies sonder om te verleë te probeer lyk, so asof dit maar net ‘n klein onbenullige ou simpel foutjie is.

Hy noem sy “soccer prestations” selfvoldaan op – die een na die ander. Dis so asof hy ‘n sug van verlugting slaak, want ek dink na die tyd dat hy moes gedink het daar bestaan wel iets soos ‘n “prestation” – en hy gaan hierdie onderhoud nie maak nie want dit is nie deel van sy woordeskat nie. Ek los hom om aan te gaan, want dit gee my tyd om te dink watter volgende vraag kan ek vra om net hierdie hele “prestation”-ding agter my te kan sit met die hoop dat hy dit net sal vergeet en dat “prestations” net liggies soos mis voor die son in die niet sal verdwyn.

“How many goals did you achieve?” – vra ek ewe selfvoldaan. Ek het darem nou baie tyd gehad om te herstel en weer beheer te vat van die onderhoud.  Maar hy kyk my nou selfs meer skaapagtig aan. So met ‘n oorbluftheid dat hy nie kan glo dat ek hom so ‘n vraag durf vra nie. Ek kan dit glad nie verstaan nie. Dis dan duidelik, en die woord “goals” bestaan tog….

“Do you want their names….?” vra hy my.

Ek neem aan hy gee vir elke doel wat hy skop ‘n naam.  “Yes – what is their names…?” vra ek. Die man is vaal. Hy skuif so van die linkerboud na die regterboud, soos ‘n stout skoolseun. Kyk af na die grond – wil my nie in my oë kyk nie.

Na ‘n ruk hoor ek saggies: “Felicity”. Dan “…and Sarah”. Dan “…and Anna”. Dan “…and Beauty”. Dan “…and Precious”. Dan “…and Bridgette”. So gaan hy aan. So asof hy bely! En die name gaan eenvoudig aan sonder ophou!

Dan slaan die verskriklike gedagte my – Ek besef dat met my swaar Namibiese engelse aksent hoor hy “girls” en nie “goals” nie.   Hy dink ek vra hom direk in die onderhoud “how many girls did you achieve…”  En dit in ‘n baie hoë profiel formele onderhoud.  En as hy die werk wil hê, dan gaan hy nou maar moet bieg. Dis hoe dit werk in Korrektiewe Dienste.

Ek het die man baie sterk aanbeveel vir die werk. Nie omdat ek dink hy dit regtig dit verdien het nie. Eerder omdat ek skrikkerig is dat hy my swak Engels gaan blootstel aan die groter publiek. En ek miskien my werk kan verloor omdat ek die aansoekers seksueel teister.

Ek dink daar loop vandag iewers by Korrektiewe Dienste ‘n groot generaal rond wat tot vandag nog nie lekker verstaan van ‘n “prestation” nie. En miskien nie kan glo dat hy sy privaatlewe so op die tafel moes sit nie. Ek wonder of hy my onthou…

Ek wil net graag vir daardie man uit my hart uit jammer sê vir die ongemak waar ek hom ingebring het. Dit was regtig nie my bedoeling nie. Ek wou net my werkie so goed as moontlik doen. Maar as jy ‘n Namibiaan forseer om Engels te praat, dan moet jy maar verlief neem met die nagevolge. Dan praat ons Engels uit selfverdediging…

Boeta se les:

Yanik, Engels is belangrik Boeta. Jou pa sukkel sy hele lewe met die taal maar jy hoef nie.  Ek dink dit is ‘n balans. Ek sal jammer wees as jy eendag die waarde en die rykheid van ons pragtige Afrikaans nie meer sal waardeer nie. Die taal is in ons gene Boeta. Dis deel van ons DNA. Ons bid in Afrikaans as ons met ons God praat! Maar ek wil ook nie dat mense eendag vir jou moet lag as jy die Ingils gooi nie! Mag jy eendag beter Engels praat as jou pa!

Eendag toe gaan haal ek jou by ‘n maatjie wat verjaar het. Sy pa nooi my in vir ‘n bier. Hy gee my ‘n Windhoek Lager. Ek vertel hom dat hy goeie bier drink en ons kom agter ons kom albei van Namibië af.  Ons werk hom terug dat hy saam met my jare terug in Sub A in Oshakati was. Ek vra hom hoe “cope” hy hier in Johannesburg. Hy vertel my dat nou die dag toe was hy saam met ‘n groep mense, toe vra hulle hom: “From where are you?” Hy gooi toe sy beste Engels: “I am a Namibian burger”.

Hy vertel dat hy toe nie kon verstaan hoekom hulle vir hom lag nie…

Mag jy vry wees van prestations en burgers en al sulke dinge my kind

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

2 thoughts on “Die Prestation storie

  1. Jannie du Toit
    Ek het nou eers lekker gelag…!
    Ek sien in my geestes-oog hoe jy vraend kyk na die kandidaat in die onderhoud en wonder hoe hy so kan wonder oor daai vrae!

    n Heel ander dimensie as die 17 dorpers maar nogsteeds heel gepas en oulik.

    Sien uit na die ander stories!

Comments are closed.