‘n Hospitaal is ‘n snaakse plek. Ek is altyd hartseer of depressief as ek myself in ‘n hospitaal bevind. Pik ‘n traan onverwags en verlang na mense wat ek nie eers ken nie. Ek verstaan dit nie lekker nie, maar iets loop nie lekker met my as ek in ‘n hospitaal is nie.
Ou Priester, ‘n vriend uit my jong dae uit, het altyd vertel dat hy eendag so gelê het voor die televisie op ‘n Vrydagaand toe hy skielik sien en voel hoe sy maag opswel. Hy sê dis naderhand asof hy ‘n boep het. Sommer binne ‘n uur of twee. Besluit net daar hy moet maar eerder hospitaal toe, want iets is ernstig verkeerd. Die twee nursies laat weet hom hy gaan moet gaan vir ‘n “enema”, want sy derm het gedraai en dit kan bars. Hy weet nie so mooi wat ‘n “enema” is nie, maar hy weet wel dat die twee nursies baie mooi is. Hulle sê vir hom hy gaan in Saal 5 moet lê want dit is die naaste aan ‘n toilet. Maar hulle gaan eers ‘n ou oom daar moet uithaal, en hom in Saal 1 wat ver is van die toilet af sit, sodat Priester naby die toilet kan wees. Die ou manlike ego skop toe in by Priester. Meestal oor sy oningelightheid rondom wat hierdie enema-ding is. “Los die oom net daar. Ek sal in Saal 1 lê” sê hy ewe selfvoldaan. Daardie manlike ego maak mos dat jy enigiets sal doen wat nodig is om die nursies te beïndruk.
En toe gaan hy vir sy enema…
Hy vertel dat hy nog so lê in sy bed in Saal 1 wat ver van die toilet af is, toe besef hy dat sy skielike “behoefte” en die afstand na die toilet nie belyn is met mekaar nie. Hy gaan dit nie maak nie. Hy gaan hierdie mooi blink hospitaalvloer behoorlik bevuil vandag. Voor daardie twee nursies. Hy gryp sy “drip”, en hy storm uit sy bed uit. Net een van die drie wieletjies van die drip raak grond. Die ander twee hang so in die lug en raak net sou nou en dan grond, dan maak dit so “sjjjjrrrrrr- sjjjjjrrr” soos hy verby die twee nursies hardloop. Hy vertel hy sien so in die hoek van sy oog hoe lê altwee van die nursies op hulle arms toe hy verby hulle hardloop. Hulle lag hulle longe uit, maar wil nie dat hy sien dat hulle vir hom lag nie. Sy verdiende loon. Ego is ‘n lelike ding. Hy vertel hy maak daardie toilet net betyds. Sit amper daar vir 30 minute. Die hele rol toiletpapier is net-net genoeg. En dan moet hy sy “drip” kry, sy hospitaalpakkie weer aantrek waar sy holle uitsteek agter, en weer by die twee nursies verbystap. Hulle maak asof niks gebeur het nie. Antwoord kamma die telefoon. Maak geen oogkontak nie. Sodra hy in sy bed inklim, dan kom rondte twee. Alles weer presies dieselfde. Storm uit die bed – nursies op hulle arms – 30 minute – min toiletpapier – weer verbystap – nursies antwoord die telefoon. Hy vertel hy sal volgende keer self enige ou mens uit enige saal uitboender as hy weet dat hy weer moet gaan vir ‘n enema.
Of soos Andre Theron van Secunda my jare verlede vertel. Hy kry ‘n oproep dat sy vrou in Bloemfontein in kraam is. Maar hy is ver van Bloem af. Hy jaag met ‘n stink spoed Bloemfontein toe. Kom daar aan en hardloop na ontvangs toe. “Waar is mevrou Theron” gil hy vir die meisietjie. “Saal 7 boonste vloer – maar sy is reeds in kraam. Jy gaan moet hardloop. Gaan op met die vloer, draai links, en die derde vertrek aan jou regterkant is teaterklere. Trek dit aan en gaan dan na teater 3 op dieselfde vloer. Maar maak vinnig, ek dink jy is klaar te laat” sê die meisietjie. Hy vertel hy trek daar weg met ‘n spoed en volg so rofweg die rigtingaanduidings. En hy maak ‘n deur oop. En daar binne is moppe en besems en seep en pienk rokke met wit kolletjies en ronde pienk musse en Handy Andy en Windolene. Jy ruik net seep. En hy dink so vinnig by homself dat dinge darem baie verander het in hospitale. Min wetend dat hy die skoonmakers se kamer oopgemaak het. Hy vertel dat almal in die teater, selfs sy vrou, vir hom gelag het toe hy uiteindelik daar inwals met sy pienk uniform met wit kolletjies en mus op die kop.
My eie storie is ook maar erg. Ek kom van die Grens af einde 1988 en ek stap saam met ‘n klomp van my grenspelle in ‘n biertent in Windhoek in. En ons kuier verskriklik. Want ons dink die wêreld skuld ons. Swaar op die brandstof. Die een bier na die ander. En skielik staan daar ‘n man hier agter my wat nie hou van my gesig nie. Hy wil my foeter omdat iemand anders bier oor hom uitgegooi het. En hy vat my so agter my kop en slaan my kop in die houttafel in. Ek was uit vir so 15 minute. Kop op die tafel, voete op die grond. En toe ek wakker word, toe is alles net bloed. En my neus sit reg onder my linkeroog. Morsaf. Ja – dit was rowwe jare daardie.
‘n Paar weke later toe lê ek in die hospitaal in Windhoek. Hulle gaan my neus nou weer breek om dit darem net so bietjie reguit te maak. Langs my lê ‘n omie van Okakarara. Dis ‘n klein dorpie in Namibië so 50 km suidoos van die Waterberg Nasionale Park.
Ons het altyd die plek Oshiterera genoem. Maar die omie kom nooit in ‘n hospitaal nie. Jy kan dit sien. Hy is so “out of place” soos wat kan kom. Jy sien net sy twee ogies wat onder die komberse uitloer. Hy hou elke beweginkie haarfyn dop. Hy vertrou niemand nie. En hy is bang – doodbang vir hierdie hospitaal.
En so ‘n groot nurse met ‘n bolla en sulke dik bo-arms kom daar na my toe. “Trek jou klere uit, en ook jou onderbroek. Trek hierdie jurk aan en sit die mus op jou kop. Klim terug in die bed. Jy is volgende…” blaf sy nors instruksies vir my.
Ek staan toe maar ewe gedwee op en trek die jurk aan. Sit die mus op my kop. Lyk heel lagwekkend in die spieël. Maar dis toe ek agterkom dat die jurk my holle laat uitsteek, dat ek toe net daar besluit ek gaan my onderbroek aanhou. En ek wonder by myself:” As hulle aan my neus gaan werk, hoekom moet ek my onderbroek uittrek?” Ek is dadelik agterdogtig. Klim met onderbroek en al terug in die bed. Mus op die kop.
Na ‘n rukkie kom die Nors Nurse weer daar aan. En so waar as wragtig, sy voel onder die komberse of ek my onderbroek uitgetrek het. “Ek het dan duidelik vir jou gesê dat jy jou onderbroek moet uittrek” baklei sy met my. Ek is te bang om my agterdogtigheid met haar te deel, want sy is groot en sterk. Met daardie bo-arms sal sy my ‘n klap gee wat skrik vir niks. En hulle gaan my nou uitsit – en wat gaan sy nie dan met my doen nie? Ek besluit om maar eerder gedwee my onderbroek te laat gaan.
Ek hardloop vinnig terug bed toe, want my holle steek uit. Lê daar en wag vir hulle om my te kom haal. Na ‘n rukkie bring die nurse vir my ‘n pilletjie. Sy sê dit is ‘n “kannie-worry” pil. Ek drink hom. En voel hoe my liggaam hom dadelik oorgee aan die “kannie-worry”. Dis ‘n heerlike gevoel. Die wêreld kan maar vergaan. Ek gee nie meer ‘n blou duit om nie. Almal se moere behalwe myne ….
Met nuwe moed vra ek die oom van Oshiterera hier langs my of hy kan verstaan hoekom ek my onderbroek moet uittrek as hulle aan my neus gaan opereer?
Hy is dadelik reg met ‘n antwoord, want hy hou alles dop: “Ja boetie – dit is sodat daardie nurse aan iets kan vashou as jy sou besluit om op te staan daar in die teater as hulle besig is met jou…”
Hy maak nie ‘n grap nie. Doodernstig. Dit is hoekom jy jou onderbroek uittrek as jy hospitaal toe gaan. Moet dit nooit vergeet nie.
Boeta se les
Yanik – as jy ooit moet hospitaal toe gaan en ek is nie meer met jou nie, onthou net asseblief ‘n paar dinge.
Eerstens, moet nooit ooit stry of baklei met die nurse nie. As sy vir jou opdrag gee om jou onderbroek uit te trek, laat val daai broekie. Dadelik. Jy is in haar hande, nie andersom nie. Vra maar vir jou pa.
Tweedens, pasop vir die manlike ego in ‘n hospitaal. Skop die ou tannie of oom self uit haar bed uit as die nurse dink sy moet ruil met jou. As hulle jou vra of jy seer het, sê dadelik ja. Selfs al voel jy geen pyn nie. “Vulnerability is the name of the game.” Met ego in ‘n hospitaal gaan jy net jou gat sien. Onthou dit. Vra maar vir Priester.
En dan, baie belangrik. Moenie skaam wees om verkeerde klere aan te trek of foute te maak nie. Glo my, dis nie meer vir hulle so snaaks nie. Jy is die pasiënt, en hulle is die dokter. Jy is swak en hulle is sterk. Speel hom so. Hulle sien baie erger dinge as dit wanneer jy oopketel onder narkose met ‘n oop bek lê en roggel terwyl die kwyl drip op die vloer. Vra maar vir oom Andre.
Miskien is die groot ding van ‘n hospitaal dat dit ons eintlik maar net terugbring na wie ons eintlik is. Nietig en broos. Ons kan niks doen op hierdie aarde sonder Sy groot genade nie – selfs ons eie asemhaling is net uit Sy genade, elke hartklop net bloot genade. Geen wonder daar staan geskrywe dat die geseënd is wat weet hoe afhanklik hulle van God is.
Moet dit nooit vergeet nie. Ons is ongelooflik nietig. Broos, selfs al dink jy op jou jonge ouderdom jy kan alles doen.
Vra maar vir Priester, en Andre, en jou eie pa. Ons weet. Die hospitaal het ons dit geleer. Dis met ‘n drip op drie wielietjies, ‘n pienk uniform met wit kolletjies en ‘n omie van Oshiterera waar ons die lessie baie mooi geleer het.
Lief vir jou
Pappa