Ek haat enige binnekring.
Ek het vroeg in my lewe al oorlog verklaar teen enige vorm van binnekring. Sal dit ook “fight” vir die res van my lewe. Dit is volgens my siek tot in die nate in. Veel erger as om ‘n kleintjie se roomys te steel. Of om jou sussie te soen.
Ek het nie baie maatjies gehad toe ek grootgeword het nie. Ek was nie die gewildste kind in die skool nie. Ek was nie prefek nie. Was te maer om goed te kon rugby speel. Maar ek het alles probeer, want as jy kon rugby speel, dan was jy OK.
Die rugby onnie het my begin op stut in Standerd 5. Dit was in 1981.
Toe haker.
Toe slot.
Toe flank.
Toe agsteman.
Toe skrumskakel.
Toe losskakel.
Toe senter.
Toe vleuel.
Toe heelagter.
Ek het die boodskap duidelik gekry toe ek op ‘n dag opdaag vir rugbyoefening en die meneer my op die skrummasjien laat sit terwyl die ander oefen.
Vir die hele oefening.
Toe los ek maar rugby.
Het ook nooit ‘n meisie gehad op skool nie. Ek was nie juis ‘n proposisie nie. Soos ‘n koedoekalf gelyk met my maer lyf en bakore. Kon ook nie daarop staatmaak dat my ouers ryk of invloedryk was nie. Ek het nie duur speelgoed gehad nie. Ons het ook nie in die duurste huis gebly nie. Ons het nooit luukse motors gehad nie. Kon nooit my maatjies beïndruk met ons speelgoed nie.
Ek onthou op ‘n tyd in my lewe toe ek geen maatjies gehad het nie. Ek onthou hoe bang ek was vir pouse. Ek onthou vele pouses in my lewe waar ek alleen gesit het. Niemand wou met my speel nie. Vroeg reeds in my lewe moes ek gewoond raak aan die buitekring.
Die buitekring is nie maklik nie.
Dankie tog vir maats in my lewe op skool soos Coen van Niekerk en Tarka du Plessis. As dit nie vir hulle was nie, dan het ek seker al lankal my polse met Marie-beskuite gesny.
Ek was my hele skoollloopbaan in die buitekring. En merendeels tot nou toe loop ek maar eerder in die buitekring.
Ek hou nie van die binnekring nie.
If you are not on the inside, you must always remember that you are on the outside
Warren Buffet
My pa het op ‘n tyd nie kerk toe gegaan nie. Sondagoggende sou ons aantrek vir kerk en dan sou hy nog steeds in die bed lê. Ek vra hom toe eendag hoekom hy nie saam met ons kerk toe gaan nie. Sy antwoord was dat hy weer kerk toe sal gaan sodra hy kan verstaan hoekom daar elke Sondag in die kerk gevra word vir donasies sodat die kerk sendingwerk kan doen in Afrika, maar ons laat geen swartes toe in die kerk nie. Ons wil siele red in Afrika, solank hulle net nie langs my sit in die kerk nie….
Die kringetjie.
Óf jy is aan die binnekant, of jy is aan die buitekant.
My pa het verstaan van die kring.
Daar is ‘n baie interessante sielkunde wanneer dit by die kring kom. Die mense aan die binnekant sal jou die hele tyd probeer “weeg”. Jy word na ‘n braai genooi en dan kom jy agter daar is allerhande “onsigbare” hoepeltjies waardeur jy die hele tyd moet spring. En as jy nie deur almal spring nie, dan word jy “te lig” bevind. En dan word jy eenvoudig net nie weer genooi nie.
Die mense aan die buitekant probeer weer gewoonlik met alle mag en mening om tog net deel te word van die ou kringetjie. Aanvaarding van die binnekring uber alles. Probeer die snaakste grappies te vertel of die meeste te drink of duurste speelgoed te koop – net om nie te “lig” te wees wanneer die binnekring hulle “weegskaal” uithaal nie.
As niemand van jou weet nie, sal niemand jou vergeet nie. Dis tog so eenvoudig. Dis jy alleen, net jy!
Koos du Plessis
Ek het nog altyd so ‘n rebel streep in my gehad. Ek kan vasskop soos ‘n steeks donkie. Want ek weet van kringe. Die oomblik as ek snuf in die neus kry van ‘n kring, dan raak ek moeilik. Skuinsbedônnerd. As hulle hulle hoepeltjies begin stel en “onskuldige” vragies begin vra met die eintlike doel om jou te “weeg”, dan sien ek dit gelukkig baie vinnig raak. En dan speel ek hulle “game” terug. Maar op my manier. Ek probeer myself doelbewus diskwalifiseer. Spring juis nie deur hulle siek hoepeltjies nie. Gee vir hulle antwoorde wat hulle nie juis verwag nie. As hulle my vra wat doen ek vir ‘n lewe, dan antwoord ek gewoonlik: “Ek is ‘n pastorale ingenieur…”
En dan los ek hulle net daar…. in hulle verbasing.
Die uiteinde is gewoonlik dat ek nie deel word van die kringetjie nie. Dankie tog! Ek val nie meer vir hulle siek aanvaarding nie. Want die buitekring is eintlik baie beter as die binnekring. Dit is waar jy regtig vry is. Niemand kom weeg my nie. Miskien is ek net gewoond aan die buitekring. Ek hoef nie te “perform” nie.
Of jy hou van my, of jy hou nie van my nie. Eenvoudig. Ek is nogal nou by die punt in my lewe waar ander mense se aanvaarding van my eintlik heeltemal irrelevant is vir my. As hulle nie van my hou nie, dan mis hulle ‘n wonderlike persoon. Hulle is doodeenvoudig net baie armer.
If you are not on the outside, then you must know that you are on the inside. Get out…!
Jannie du Toit
Ek weet nie wat is erger of meer pateties nie. Die een wat binne sy siek sirkeltjie sit en ander weeg, of die een wat glo hy of sy OK sal wees as hulle net deur al die hoepeltjies kan spring van die idioot binne die kringetjie…
En as jy die eerste kringetjie eers raakgesien het, dan sien jy dit die hele tyd raak. Dit is orals om jou. Kringetjies hier en kringetjies daar. Dit is soos wanneer jy ‘n nuwe kar koop. Skielik sien jy daardie karretjie orals op die paaie. Dit was nog die hele tyd op die paaie. Jy sien dit nou net vir die eerste keer raak.
Kringetjies.
Of jy is binne, of jy is buite…
En as jy buite is, probeer jy binnekom. En as jy binne is, probeer jy almal “weeg”…of keer dat hulle inkom…
Is dit nie ongelooflik siek nie?
Nico Nel is ‘n baie goeie vriend van my. Ons kom al jare saam. Hy was my gholf partner jare terug toe ons saam by Sasol gewerk het.
Ek kon hom nooit wen met gholf nie. Maar dan moet ek ook bysê – Hy is gebore sonder ‘n linkerarm. Ek met my twee gesonde arms kon hom nooit wen met gholf nie. Ja dit is waar. Moeilik om te erken – maar dit is so!
En redelik onlangs kom maak hy ‘n draai hier by my in Somerset Wes. En ons braai lekker, en ek maak ‘n paar rooiwyne oop. En ons gesels oor alles en nog wat. En hy vertel my sy storie. Hoe hy ‘n hartaanval kry in 2011. En toe begin oefen omdat hy dink sy leefstyl het gelei tot sy hartaanval. En hoe hy begin triathlon’s doen het. Doen die Sani-to-Sea, Crater Cruise (105 km), Barbeton (110 km) en die 36One (360 km). En nog ‘n klomp ander. Topfiks. En toe kry hy ‘n beroerte in November 2015. En hy sukkel om te sluk. En hulle sit vir hom ‘n “shunt” in om breinvog te dreineer. En hoe hy gediagnoseer word met fabry – ‘n baie skaars siekte. Gaan google dit maar. En daarna stoei met depressie. Glo my, die man is deur absolute hel.
En aan die einde van die aand toe vertel hy my iets wat ek nooit sal vergeet nie.
Hy vertel my hy verstaan baie goed van die kring. As jy in die lewe inkom sonder ‘n linkerarm, dan is dinge klaar baie moeiliker vir jou as vir die gemiddelde mens. Die term “handicapped” skop jou sommer onmiddellik uit in die donkertes van die buitekringe. Waar jy jouself die hele tyd moet bewys en deur al die hoepeltjies moet spring net om OK te wees. Jou hele lewe lank.
En na al sy ervaringe vertel hy my is daar een ding wat soos ‘n paal bo water vir hom uitstaan na al die jare. Dit is die volgende:
Niemand kan homself of haarself “include” nie.
Dit moet aan jou gedoen word. Jy het geen beheer daaroor nie. Niks.
“Inclusion” is iets wat jy nie vir jouself kan doen nie.
Boeta se les:
Yanik, jy weet jou pa haat enige binnekring. Kies jy ook altyd die buitekring. Moet nooit in die versoeking val om deur al die hoepeltjies van die binnekring te probeer spring net sodat hulle van jou hou nie. Die buitekring is miskien “lonely” – maar jy is vry daar!
Moenie val vir goedkoop aanvaarding van siek binnekringe nie.
Maar baie meer belangrik: Wees jy altyd die “includer”.
Wees jy daardie ou wat mense insluit!
Nie omdat hulle nie deur al die hoepeltjies kon spring nie. Nie omdat hulle geweeg is en te lig bevind is nie. Nee – slegs omdat hulle hulself nie kan insluit nie.
Ek verstaan nou baie beter hoekom jou Pa so ‘n “issue” gehad het met die binnekring toe Hy hier op Aarde was. En hoekom Hy Homself heeltyd besig gehou het met die buitekring. Met die outjies wat net nie deur al die hoepeltjies kon spring nie. Wat geweeg is, en die hele tyd te lig bevind is.
Want die binnekring het Hom op die einde doodgemaak omdat Hy nie deur al hulle hoepeltjies wou spring nie. En omdat Hy die gepeupel “include” het.
Hy het geweet hulle kan hulself nie insluit nie.
Wees jy altyd die “includer”…
Omdat mense hulself nie kan insluit nie.
Jou Pa sal trots wees op jou!
Lief vir jou
Pappa
An insightful view of how ‘loaded’ associations are, starting from childhood that continues throughout life. I prefer your account of inclusivity rather than being ‘in’. A vital life lesson.