Ek het ‘n goeie vriend uit die Kaap wat saam met my studeer het by RAU jare terug. Sommige mense dink RAU staan vir Rand Afrikaanse Universiteit. Eintlik staan dit vir “Rejected Applicants of Unisa”. Maar dis nou weer ‘n ander storie, kom ons kom eerder terug na hierdie storie. Hy kom een aand oorslaap by my in Johannesburg, en hy vertel my toe die storie – Die Les van die Sewentien Dorpers. Die vuurtjie is aan die gang, en ons teug rustig aan ‘n rooiwyntjie toe hy met die storie kom. Ek mag miskien hier en daar ‘n fout maak rondom detail, maar jy wil ook nie ‘n goeie storie opdonner met feite nie.
Hy vertel hy besluit om een vakansie Namibië toe te gaan, en meer spesifiek Swakopmund. Hy vat sy vrou en sy twee klein kindertjies en hulle word toe dolverlief op Namibia. En net daar besluit hulle van nou af gaan hulle elke jaar Namibië toe! So vind hulle hulself toe die spesifieke jaar weer daar in Swakopmund. Werner besluit hy wil bietjie die Guass pas gaan ry met sy gesinnetjie. Vir die mense wat nie weet nie, die Gauss pas vat jou volgens my deur die mooiste deel van Namibia. Jy ry grondpad, al langs Sossusvlei af. Dit is droog en ongenaakbaar. Daar is niks, en dit hou net eenvoudig aan en aan vir myle en myle. So hier en daar dan is daar ‘n ou grassietjie wat die moed het om kop uit te steek, en die klippe is swart verbrand deur die son. Jy het nie regtig ‘n 4×4 nodig om daar te ry nie, maar dit bly maar grondpad en daar is lekker groot klippe waaroor jy moet ry, wat dit net makliker maak as jy ‘n 4×4 het.
Werner en sy gesin het hierdie spesifieke jaar gevlieg Swakopmund toe, en dan ‘n gewone ou sedannetjie gehuur om meer rond te ry. Dis ‘n bietjie duur om ‘n 4×4 te huur as jy vir ‘n hele ruk daar in Swakopmund wil rondry.
So eindig Werner en sy gesinnetjie op in hulle karretjie op die Gauss pas, en hy noem dat dit net te pragtig is vir woorde. Hulle is verstom oor die welwitchias langs die pad, en so nou en dan dan hardloop daar ‘n likkewaan of ‘n bok oor die pad. En dan kom die Sossusvlei duine op die horison, en dan vlieg daar ‘n arend oor hulle koppe. Die ervaring is soos om oor ‘n kruiwa te val ….dit hou net nie op nie.
Skielik hoor Werner “Dwah…”… Hy het ‘n pap wiel. Die sedannetjie is nie eintlik gemaak vir die grondpad nie, en die klippe maak die bande seer. Maar die probleem is nie te erg nie. Hulle klim uit, en terwyl die vrou en kinders lekker moerkoffie en beskuit eet langs die pad, ruil Werner gou die wiel om met die spaarwiel. Nie lank nie, toe is hulle weer in die karretjie en ry verder deur die ongenaakbare landskap.
“Dwah….” hoor Werner weer na so ‘n ruk se ry in die vlakte. Nou het hy ‘n probleem. Hy het nie nog ‘n spaarwiel nie. Maar vinnig stel hy sy vrou en kinders gerus. “Hier sal nou-nou iemand hier verbykom wat ons sal help…” Maar Werner misgis hom met die verlatenheid van Namibië. So ver soos die oog kan kyk, is daar geen bewys dat iemand op pad is in hulle rigting nie. Maar hy mag nie vir sy gesinnetjie wys hy is bekommerd nie. In die weermag het hulle altyd vir ons gese dat ‘n offisier wat hardloop saai paniek. Nee, jy loop eerder terwyl die bomme hier om jou val. Trek maar lank aan daardie Gunston, maar moet asseblief net nie hardloop nie. Die oomblik as jy hardloop, dan saai jy paniek.
Dan tref die tweede realiteit hom tussen die oë. Hulle het nie water saamgebring nie. Nou-nou gaan die kinders begin kerm dat hulle dors is, en wat gaan hy dan doen? En asof dit nie genoeg is nie, slaan die derde realiteit hom. Hulle het nie skaduwee nie. Daar is net klein bossies, maar nie genoeg skaduwee nie. En die Namibiese son is stadig besig om al hoe warmer te word – ongenaakbaar! Werner weet dis nie lank nie dan gaan sy kroos kerm oordat hulle warm kry en dors is. En hy weet nie wat hy gaan doen daaromtrent nie! Maar hulle mag nie weet dat hy nie antwoorde het nie. Jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie…
“Pa – ek is dors…” kerm een van sy kinders. En dan trek die ander een los: “Pappa …ek kry warm…!” “Toemaar…” paai Werner, met die wete dat toemaar baie ver tekort skiet om die behoefte weg te vat. Hy kry dit reg om sy vrou en kinders onder die karretjie in te kry, want dit is die enigste skaduweeplekkie… Plat op hulle mae lê hulle daar in die vlakte onder die karretjie op die harde grond en wag vir iemand om verby te kom. Maar daar is niemand op die horison nie.
Werner is emosioneel wanneer hy hierdie storie vir my vertel. Hy vertel nog nooit in sy hele lewe het hy so absoluut magteloos gevoel nie. Daar is niks wat hy kan doen om sy gesin te help nie. Hy sê ‘n vrees vat jou vas daar in die woestyn wat hy nie kan beskryf nie. En intussen word dit net al hoe warmer en word hulle net al hoe dorser…
Werner vertel hulle is later so desperaat dat hulle hardop bid daar onder die karretjie. En huil. Dis so ‘n mengsel tussen bid en huil. Wanneer hulle nie huil nie, dan bid hulle. En wanneer hulle nie bid nie, dan huil hulle. En dan was daar tye wat hulle sommer gelykertyd bid en huil. En dan is daar net weer stilte, met die wind wat liggies sus in hulle ore.
Net toe hy dink dit is die einde van hierdie gesin, en dat ons van hulle sal lees in die Sondagkoerant, toe sien hy doer op die horison ‘n stofkolletjie. Hier is iets op pad. Al vier is oë vasgenael op die stofkolletjie. Is dit hulle verbeelding, of is dit iemand? Dan sien hulle dit: Dit is ‘n donkiekar. En soos die donkiekar naderkom, sien hulle daar sit net een mens op die donkiekar. Dankie tog! Hulle hoop net die persoon het water!
Na ‘n hele ruk stop die donkiekar by hulle. Werner sê die man wat op die donkiekar sit is so ‘n tipiese “Crocodile Dundee” karakter. Hy het ‘n cowboy-hoed op en trek rustig aan sy pyp. Sy vel lyk soos leer soos die son dit al verbrand het. Sy gesig is die ene plooie, en sy stoppelbaard verklap die feit dat hy dae laas geskeer het.
“Klim maar op”. ..sê hy. Werner kom vinnig agter hierdie man is ‘n man van min woorde. Maar hy is tog te dankbaar. Hy wil net die man omhels en sy voete soen, maar besef dit gaan nie gepas wees nie. Hy gee vir hulle water want hy kan sien hulle is morsdood van die dors. Die vrou en kinders klim agterop die donkiekar, en Werner klim voor op saam met die man. Hy slaan liggies met sy latjie op die twee donkies se rug, en stadig maar seker trek die ou donkiekarretjie vorentoe! So tipies donkie – nie regtig lus nie, maar gaan tog stadig vorentoe.
Werner voel hy moet nou met hierdie man wat so pas sy lewe gered het in ‘n sinvolle gesprek gaan, want hulle gaan nog lank op hierdie donkiekar sit. Die man se huis moet baie vêr wees, want hier waar hulle nou op die donkiekar sit is dit so plat jy kan kilometers vêr kyk en hy sien geen huisie op die horison nie. Hy kyk so skuins na die man want hy wil die gesprek nou aan die gang sit, maar hy sien die man is baie diep in gedagte – hy trek net daardie pyp so elke nou en dan. Werner is ongemaklik met die stilte. Hy dink by homself dat hy op een of ander manier die gesprek aan die gang moet kry, maar hy wil darem ook nie die man se gedagtegang onderbreek nie.
Dan na ‘n hele ruk kry Werner genoeg moed bymekaar: “Boer jy…?” vra hy hom. Werner vertel die man trek daardie pyp so lank en dink oor die vraag asof dit ‘n strikvraag is, en na ‘n lang ruk blaas hy sy rook uit en sê: “Ja.” Dis al. Net ja. Die gesprek word tot stilstand gebring deur die Ja. Hierdie gesprek is soos ‘n vuurtjie wat jy wil begin maar elke keer dan gaan dit dood. Werner dink by homself dat hierdie ‘n baie lang rit gaan word, want hy kan die stilte eenvoudig net nie meer vat nie. Maar hy sien ook nie kans om af te klim van die donkiekar en oorgelewer te word aan die woestyn nie. So hy gaan maar bly sit.
Na nog ‘n tyd verbygaan wat vir Werner na ‘n ewigheid voel, skraap hy weer genoeg moed bymekaar om weer te probeer. “So waarmee boer jy…?” Die man trek sy pyp lank en dink diep oor die vraag. Na ‘n lang ruk antwoord hy: “Dorpers”. Dis al. Net daar stop die gesprek weer. Dis so asof Werner eenrigtingtennis speel. Daar staan iemand aan die ander kant, maar die bal kom net nooit terug oor die net nie. Nie lekker nie. Soos ek verstaan, is die Dorperskaap ‘n omgewingsvriendelike skaap wat die min grassies wat daar is, net afbyt en nie soos ander skape uittrek uit die grond uit met wortel en al nie. Die dorper is ‘n “groen” skaap. Die boere daar verkies die Dorper want dan kry die gras darem weer kans om te groei. Want daar is maar min gras. Maar die gesprek is weer dood, en al wat jy hoor is die donkiekarwiele wat teensinning voortbeur op die grondpad.
Werner voel nou ‘n mengsel van emosies. Aan die een kant is hy kwaad en verneder, want die man stel duidelik nie belang in geselskap nie. Maar aan die ander kant is hy verleë, want afklim van die donkiekar af gaan nie gebeur nie. Nie in hierdie vlakte nie. So hy besluit om maar weer te probeer om te kyk of hy die gesprek aan die gang kan kry. Na ‘n hele ruk van niks kug hy liggies en slaan dan weer af: “Hoeveel dorpers het jy…?” Die man trek lank aan sy pyp en dink diep oor die vraag. Nadat hy sy rook uitblaas, sê hy : “Sewentien”. Dis al. Die gesprek stop daar.
Werner sê hy besef net daar dat die man iets het wat hy nie het nie. Werner doen baie goed in die korporatief – hy is al hoogop in die organisasie waar hy werk. Hy is op die 17de vloer van sy maatskappy se gebou. Die agtiende vloer is waar die uitvoerende span sit. En soos dit nou maar is – jou verdiepingnommer bepaal jou waarde. Hoe hoër jy in die lug is, hoe belangriker is jy. Hy is ‘n sukses, baie naby aan die 18de vloer en baie beter af as hierdie Crocodile Dundee skepsel op sy donkiekar met net 17 dorpers.
Maar hierdie man het iets wat hy nie het nie – ‘n vrede en ‘n “contentment”.
Verstaan – dis nie vir hom nodig om in ‘n gesprek met Werner te hoef te gaan nie, want sy eie gedagtes en vrede is vir hom meer werd op die donkiekar as gesprek met iemand anders. Hy is gelukkig op sy eie, in sy eenvoud en met sy sewentien ou dorpertjies. Hy hoef niemand te beindruk nie. En eintlik, sê Werner, dink hy na die tyd, dat hierdie ou miskien nie eers lus was om hom op te tel nie want hy het miskien geweet Werner gaan hom net kom pla met ‘n klomp irrelevante, oppervlakkige poginkies tot gesprekke. Hy sou eerder in stilte alleen op sy donkiekar wou wees.
Toe hulle teen sononder by die man se eenvoudige ou huisie uitkom, staan sy vroutjie daar vir hulle en wag met ‘n warm glimlag. En sy kindertjies kom aangehardloop na Pappa toe, bly om hom te sien. En die sewentien dorpers loop ook daar rond.
Vrede en geluk, en “contentment”. Nie ‘n strewe na iets meer nie. Slegs ‘n waardering vir wat daar is. Iets baie skaars in vandag se lewe.
Werner sê Namibië het hom ‘n harde les geleer daardie dag in die woestyn. Hy noem dit die les van die sewentien dorpers. En dan vee hy ‘n traan uit die oog as hy vertel dat iets verander het in hom sedert sy trippie op die donkiekar…. die 17de vloer is vir hom nou ook OK. Hy hoef nie by die 18de vloer uit te kom nie.
Die man met die 17 dorpers het hom dit geleer…
Boeta se les:
Yanik, jy moet nooit iemand op sy baadjie trakseer nie. Pasop om dadelik mense in “buckets” te sit net omdat hulle miskien op ‘n donkiekar ry of nie geld het nie. Dit is vir my altyd interesant dat Jesus nie sy twaalf dissipels gaan haal het in die boonste kringe van die kerk nie. Doodgewone mense soos ek en jy is vir Hom baie waardevol. En kyk nou net hoe het Christenskap uitgekring vanuit daardie twaalf dissipels dat dit nou omtrent een derde van die wereld se bevolking is. Weet jy hoeveel is 2.1 biljoen Christene? Boeta, dit is baie!
Maar nog meer belangrik. Waardeer dit wat jy het, en moenie heeltyd strewe na iets wat jy nie het nie. Vind ‘n diepe vrede en geluk in dit wat is, nie wat kan wees nie. Anders is jou so besig om ‘n lewe to probeer maak dat jy jou lewe verloor. Die Here wil graag hê dat ons moet vrede hê. Elke dag van ons lewe, elke sekonde! ’n Vrede wat die wêreld nooit sal verstaan nie! Iewers in Spreke staan daar – “Where ambition ends, happiness begins” …. Hierdie ou op die donkiekar het dit verstaan.
Ek wens dit so vir jou – dat jy jou lewe in vrede sal leef en nie ‘n gevangene sal word van ander mense se goedkeuring of dat jy sal dink dat status. posisie of mag jou in die tent sal inbring nie. Bly eerder buite die tent.
Vra maar vir jou Pa. Hy weet. Hy het baie lank geprobeer om binne die tent te wees, en uitgevind dat dit eintlik baie lekkerder is buite die tent. Want dan is jy vry. Die vrede van God is goud werd in hierdie ou stukkende wêreld waarin ons vandag leef. Jy moet elke oomblik in jou lewe streef daarna. Mense kan nie vir jou vrede gee nie. Moenie tyd mors om dit by mense te soek nie – hulle het dit nie.
En as jy ooit in ‘n woestyn is en iemand kom tel jou op met ‘n donkiekar, onthou dat dit soms nie nodig is om te praat nie. Stilte is waar God ook is. Dis nie toeval dat Hy gereeld woestyn toe gegaan het om perspektief te kry nie. Gaan kyk maar – Hy het gereeld weggegaan op sy eie na plekke van stilte.
Lief vir jou
Pappa
Uitstekend!
So baie mooi in die eenvoud daarvan.
Ek kon die storie voor my sien afspeel. Baie beskrywend ingekleur.
Dankie Jannie.
Pragtige Jannie. Skryf nog. Baie baie waar les.
Dankie broer – ek moet nog so bietjie skaaf aan die storie…hy is nog nie heeltemal klaar nie
Dankie Jannie, jy beter al die stories skryf!!! Hou natuurlik van die een ook, glo mens moet die pad wat ons loop met die mense deel wat belangrik is- toe trek jou tekkies aan 😉
Wow Jannie – ongelooflik. Pragtig geskryf. Groetnis
Ek sou dink die Korrektiewe Dienste storie oor die keurings “interview” en “prestations” van Proefbewaarder du Toit sou eerste die lig sien. Die les daaruit sal wees: “Don’t talk too high cause you can’t come by” Janneman!
Dankie Jannie! Dit is hoe ek jou ken -ek geniet elke oomblik hiervan. Hou so aan
Groete
Amen Boeta Johanneses. Dit is beslis wat ons elke dag vir ons kinders moet toe bid, wat jy hier vir Janik in jou slot boodskap seg. Bly buite die tent in Sy Vrede. Cois
Dankie Janneman…laaank hiervoor gewag en jy mag maar nog deel asseblief. Groete
As n Namakwalander het ek baie waardering vir daardie verlatenheid.
Dis n wonderlike storie en n waardevolle lewensles, ek voel bevoorreg om dit uit die perd se bek te kon hoor. 🙂