Ek was destyds in Laerskool Pionierspark in Windhoek, Namibië.

Toe ek in Standard 2 was, kry ons laerskool ‘n koorjuffrou. Dit was iets nuuts vir ons. Ons het maar so aangesing op ‘n manier sonder enige juffrou. Maar ons was nuuskierig. Want ‘n juffrou wat net op koor fokus, moet blêddie goed wees.

En so kondig hulle toe aan dat die hele laerskool, van Sub A tot Standerd 4 een middag uitgenooi word om te kom sing. Hulle wil ‘n koortjie stig vir die skool. En daardie middag toe is ons almal daar. Niemand wil die geleentheid mis nie. En die juffie hardloop rond om ons te beheer, en naderhand staan ons toe ewe gedweë in die koortjie. In rye. Kleintjies voor, en groter agter.

En die juffrou begin met Do-Re-Me-Fa-So-La-Te-Do. Do is laag, en dan is Re bietjie hoër, en so gaan jy aan tot jy by Do weer kom, die heel hoogste.

En die juffrou frons. Iets is erg verkeerd in die koor. Sy laat ons rye oper staan sodat sy so tussen ons kan deurloop. En dan sit sy haar oor teen elke mond, want iewers is iemand besig om hierdie hele koor ernstig op te dônner. En toe sy by my kom, toe staan sy stil. En sy stop die koor. En sy sê vir my: “Boetie, gaan sit net bietjie vir juffrou op daardie stoel.”

En ek loop en gaan sit. En hulle begin van voor af met die Do-Re-Me gedoente. En toe sing daai koor ‘n hond uit ‘n bos uit. Sonder my. Hulle sing dat jy net hulle kleintongetjies kan sien.

My sangloopbaan het daardie dag net daar ‘n halt geroep. Ek het die hele koor opgefoeter – sukkel nog vandag met die Do-Re-Me.

Ek was ‘n maergat op skool. My pa het altyd gesê as ek my arms optel dan gaan ek deur my eie gat val. Die kinders op skool het vir my gesê ek moet seker rondspring in die stort om nat te word. Hulle het my gespot en gesê ek is so maer hulle kan die stront deur my ribbes ruik. Of dat ek met twee oë deur ‘n sleutelgat kan loer. Of dat ek eintlik baie braaf is, want ek waag my lewe op vuurhoutjies. Ek ken alles. En alhoewel ek maar saamgelag het, het dit maar seergemaak daar waar die disprin oplos.

Rugby kon my nie red nie. Ek was nie vinnig nie, en ek was nie rats nie, en ek was nie sterk nie. Maar ek het opgedaag vir oefening. En die arme rugby meneer het later nie meer geweet wat om met my te doen nie. Toe laat hy my maar op die skrummasjien sit om dit net so klein bietjie swaarder te maak vir die voorry. Ek het baie kommentaar gekry oor my skrummasjien-sittery.

My “looks” het ook nie baie gehelp nie. Ek het sulke bakore gehad. My pa het my geterg en gesê ek lyk soos ‘n jong koedoekalf. Ek was nie juis veel van enige proposisie vir die skoner geslag nie. Ek het ‘n paar keer probeer, maar het elke keer hard en aanhoudend op my hel gekry.

En in die “army” was dit ook maar ‘n gesukkel. Vele keer wat ek die hele “bungalow” moes laat hardloop omdat my geweer nie skoon genoeg was tydens inspeksie nie. En as die korporaal (“of bombardier in die artillerie”) ons gedril het en gebulder het “Links Om”, dan is ek die enigste een wat regs alleen in die vlakte in marsjeer.

Ai, en gholf. Hierdie spel weet darem hoe om jou vinnig grond toe te bring. Ek speel eenkeer by Dienste in Pretoria op ‘n Woensdagmiddag en die hele gholfklub staan en kyk hoe ons afslaan. En ek sukkel met die druk, veral omdat die ouens in my “four-ball” reeds almal afgeslaan het, en hulle balle lê doer in die skoonveld, verder as wat ek ooit kan droom om te slaan. En toe ek afslaan, toe staan die balletjie nog steeds op die stokkie. “Fresh air”. En niemand maak met jou oogkontak nie. Dis asof jy in jou broek gedinges het. En toe ek uiteindelik die bal raakgeslaan kry en tot my verligting kan afstap van ons eerste bof af, toe skree een van die omies vir my:” Boetie – dis darem ‘n moeilike baan hierdie, né…?”

Of die slag toe ek in ‘n fietswedren in Pretoria deelneem het. En ek het nuwe “pedals” vir my fiets opgesit, daardie tipe wat in-“clip”. En soos ons ry, is daar ‘n oulike meisie wat saam met my ry en ons begin gesels. En die heelpad hou ons bymekaar, opdraandes en afdraandes. En sy is aangenaam. En ek wil haar beïndruk met my fietsryvermoëns . En toe ons by die eindstreep aankom, toe kry ek nie my voete uit die “pedals” uit nie. En ek val oor haar en haar fiets dat sy sulke benoude gilletjies gee. Dit was soos om oor ‘n kruiwa te val – dit hou net eenvoudig nie op nie. Ek het haar nooit weer daarna gesien nie.

Ek sal nooit vergeet hoe ek gesukkel het om my eerste werk te kry nie. Ek het my kwota van “Dear Johnnies” gehad, glo my. Onderhoud op onderhoud, maar na my graad met geen ondervinding nie, was ek nie veel van ‘n opsie nie. En dit was nie lekker om te sien hoe my vriende die een na die ander ‘n “joppie” kry en ek sit droogbek nie. En hoe mense na jou kyk as jy nie werk kry nie.

Ek onthou die kritiek toe ek jare gelede bedank by ‘n groot maatskappy en in Botswana inspring op ‘n groot projek. Hoe kan jy jou sekuriteit en status so weggooi? Hoe kan jy alles hier verruil vir ‘n ander derdewêreldse Afrikaland waar jy maar net een van die min wit velle gaan wees? En waar gaan jou weer ‘n “job” kry as jy terugkom van Botswana af? Hoekom klou jy nie vas aan wat jy het nie…?

Of die slag toe ek 4 tuinhuise op een dag koop. Hoe kan jy soveel skuld maak? Hoe gaan jy ooit die bank kan terugbetaal? Jy weet nie wat jy doen nie.

En toe ek my eie besigheid SimpleXity (Pty) Ltd www.simplexityconsulting.co.za begin, toe was daar ook baie kommentaar. Jy dink darem baie van jouself! Wie sal nou ooit na jou wil luister? Hoe kan jy jouself beskou as ‘n konsultant? Dink jy jy weet meer as ons?

Soveel projekte in my lewe waar ek my doodswoeg om die projek te maak werk, en my dan vasloop in mense wat nie hulle handjies vuilmaak om te help op die projek nie, maar eerder oorloop van kritiek en opinie van wat nie regloop nie. En hoe ons dit moet doen. Daar is te veel van hulle. Hulle besef nie dat ‘n kantoor een van die gevaarlikste plekke op hierdie aarde is nie.

Boeta se les

Yanik, Oom Roosevelt was ‘n vorige president van Amerika. Hy het die volgende gesê op 23 April 1910:

President Theodore Roosevelt

“It is not the critic who counts; not the man who points out how the strong man stumbles, or where the doer of deeds could have done them better. The credit belongs to the man who is actually in the arena, whose face is marred by dust and sweat and blood; who strives valiantly; who errs, who comes short again and again, because there is no effort without error and shortcoming; but who does actually strive to do the deeds; who knows great enthusiasms, the great devotions; who spends himself in a worthy cause; who at the best knows in the end the triumph of high achievement, and who at the worst, if he fails, at least fails while daring greatly, so that his place shall never be with those cold and timid souls who neither know victory nor defeat.”

Nelson Mandela het hierdie vir Francois Pienaar gegee voordat hulle die magtige All Blacks verslaan het in die 1995 Rugby World Cup.

Seun, daar is te veel mense vandag op die pawiljoen. Hulle kerm en kla oor alles. Jy sal nooit goed genoeg vir hulle wees nie. En hulle is te slapgat of lui om self in die arena te klim. Maar hulle sal baie gou vir jou hulle opinie gee.

Vat nou baie goeie raad van jou pa:

Belowe my jy sal nooit ooit luister na die raad of opinie van enigeen wat nie in die arena is nie.

Nooit nie.

Die enigste raad en opinie waarna jy luister , is van die saam met jou in die arena.

Sorg dat jy in die arena is.

En glimlag vir die wat op die pawiljoen sit. Maar steur jou nie aan hulle nie.

Want hulle is nie in die arena nie. So eenvoudig soos dit.

As hy of sy nie op die veld of arena is nie, het hy of sy nie regtig die reg tot klank nie.

En kom ek vertel jou nog ‘n groot geheim – Daar is iemand wat jou haat soos pes. Elke dag. En hy sal alles in sy vermoë doen om jou te kry om nie te wil speel in die arena nie.

Alles.

En hy is 24/7 besig om in jou kop in te kom en jou vieslike leuens te vertel. En te hoop hy kan jou kry om dit te glo. Kyk was sê Giglio:

“It is likely the Enemy is lying to you about something right now –

your worth, your future, your changes of survival, your ability, a dreadful outcome, the possibility of being loved and forgiven no matter what you have done.

You have to spot the lie. Name it and shine the light of truth on it. And replace it with what God says is true…”

“Mute” hom Boeta.. Hy weet net van sit op die pawiljoen. “Mute” hom elke dag. En weet dat hy nooit sal opgee nie.

Wens ek kon dit vroeër regkry in my lewe.

Lief vir jou

Pappa

One thought on “Die Koor storie

  1. What a heartfelt rendition of how many times throughout life, from youth to adult, you didn’t make it.

    And here you are today, not a choral singer, rugby player, or golfer, but a successful an impactful consultant.

    A consultant I am humbled to call a colleague and friend.

    Great words of wisdom for your son, but also for all of us. Our stripes of strife make us strong.

    Great words “mute” the critics who are not in the arena.

    So glad you didn’t listen to the critics Jannie

Comments are closed.