Ek het vir Kola van Staden ontmoet in 1995 toe ek my internskap by MPI (Militêre Psigologiese Instituut) gedoen het. In Gezina daar in Pretoria-Noord. Hy het ook sy internskap daar gedoen, en ons vriendskap het daardie jaar begin.
Ek het van Kola gehou van dag een af. En ek kon in my jonger jare nooit my vinger daarop sit oor hoekom ek so mal oor ou Kola was nie. Hy was een van my beste vriende. Nou met die grysheid kom die wysheid. As ek so terugdink aan hom, dan weet ek hoekom ek so mal was oor hom. Twee redes. Kola het my waardeer soos ek was – “warts & all” . Nie een oomblik kan ek onthou dat hy iets in my wou verander nie. Nie een oomblik het hy met my probeer kompeteer nie. Nie een oomblik het hy probeer om my te gebruik vir wat hy wil bereik nie. Nie een oomblik het hy probeer om te beïndruk nie. Nooit het hy afgekyk op my nie. Kola was net Kola. En ek was net ek. En dit was reg so.
Die tweede rede hoekom ek so mal oor Kola was, was omdat hy ongelooflike “fun” was. Humor en lag was hoog op die agenda wanneer Kola saam met my was. Ons het soveel dinge saam gedoen. Ons was stout, maar gelukkig nooit lelik stout nie. Ek onthou hoe ek en Kola en ‘n ander vriend van ons, Conrad, eenkeer van Johannesburg af deur is Potchefstroom toe vir die aand. Connie het ‘n “girl” gehad wat daardie tyd vir RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) se pluimbalspan teen Potchefstroom gaan speel het. Ek en Kola is saam met Connie die aand Potch toe – ek en Kola om te gaan “kuier” en die plek uit te kyk en Connie om vir sy meisie te kuier.
Kola was op sy stukke daardie aand. Hy het uit volle bors vir wildvreemde meisies kliphard sonder enige vrees gesing: ” Met jou in my lewe, kan ek soveel vermag. Dis die aand van die Oujaar wat ek toe geweet het, dat ek vir jou sal wag….”
Ja – Andre Schwartz se song. Ek verklap my ouderdom…
Dit het nie juis ‘n indruk op die meisies gemaak nie, maar vir ons was dit nogal snaaks. Veral om die verbasing op hulle gesigte te sien. En hoe hulle vinnig wegtrippel as hy lostrek.
Conrad se pluimbalmeisie het ‘n vriendin gehad wat hulle toe later die aand aan my voorstel. Ek kon nog nooit baie drink nie. Lippe word dood na die derde bier. Dan praat ek so bietjie snaaks. Ek is eintlik heel nugter, dis net die lippie was so bietjie hang. My vriende ken my so. En toe dit later die aand word, toe word die meisie vir my al hoe mooier en ek trek los en gee haar ‘n soen. Tot my verbasing soen sy my toe terug. En net toe ek dink dinge loop nou mooi, toe spring sy op en hardloop weg. En toe proe ek bloed. Ja – ek het die meisie se lip stukkend gebyt want my lippie was so bietjie dood.
Raar maar waar.
Sy was ook in RAU se pluimbalspan en moes die volgende oggend blykbaar met ‘n dik lip teen Potch se pluimbalspan uitdraf. As daardie meisie ooit hierdie storie lees (“ek kan nie haar naam onthou nie”) , ek is baie jammer dat ek jou lip raakgebyt het. Ek het dit nie so bedoel nie. Ek moes dit vir jou voor die tyd gesê het dat my ou lippie so bietjie dood is. Maar Kola het daardie aand oopgeloop met sy “met jou in my lewe-song” en ek het die fout gemaak om by hom te probeer hou.
Kola was sports. Maak nie saak wat ons gedoen het nie, hy het enige situasie verander in pret. My vaal ou lewetjie ingekleur. As ons op die gholfbaan was, dan het jy gekrul van die lag vir hom. As ons in die Spur was, dan het Kola net moeilikheid gemaak waar hy kom. Dit was ongelooflike “fun” om saam met Kola uit te hang.
En hy het ‘n diep kant aan hom gehad. Ek onthou vele aande in Johannesburg. Ons het tot vroegoggend rooiwyn gedrink, musiek geluister en gefilosofeer oor die lewe. Dan het hy sy hart oopgemaak oor sy lewe en sy pyn. En sy malligheid was ook maar net ‘n manier om sy seer weg te steek.
Een oggend was ek en hy by ‘n mannegroep – 06h00 op ‘n Saterdagoggend. En toe die groepie bid, toe trek hy eerste los met: “Genade – genade onbeskryflik groot….”. So asof hy met sy Pa praat.
Ek het amper van my stoel afgeval. Kola het verstaan van genade.
Ek was baie lief vir Kola.
En toe op ‘n dag toe sien ek dit gaan nie goed met Kola nie. Dinge het blykbaar nie so lekker geloop by sy huis nie.
Ek kon sien ou Kola trek erge “amps”. Ek het hom die Donderdag nog gesien by GIBS (Gordon Institute for Business Science). Hy het net so voor hom uitgestaar. Ek het vir hom gevra om asseblief dit net rustig te vat. Om nie nou alleen te wees nie. Hy het nou ons nodig. Hy het na my gekyk, geglimlag en gesê: ” Ek is OK, tjom!”
Maar hy was op ‘n ander plek.
Daardie Maandag het ek ‘n oproep gekry van Pieter, sy kollega.
Kola is dood.
Hy het homself opgehang.
Die bediende het hom die Maandagoggend gekry. Yskoud.
Iewers tussen die Donderdag en die Maandag het dinge net te veel geword vir Kola.
En ons was nie daar om hom te help nie.
Ek sou so graag in Kola se pikswart spasie saam met hom wou sit voor hy homself gehang het, en vir hom gefluister het: “Kola – moenie dit doen nie. Jy is nie alleen nie ou maat. Ons is hier vir jou. Ons sal deur hierdie ding kom. Ons sal jou help, ou tjom!”
Maar dit was te laat. Die donker het te veel geword vir Kola. Agter sy lag en sy malligheid en sy menswees was daar net te veel pyn.
Boeta se les
Yanik – Daar is drie goed wat ek geleer het by Kola:
Eerstens – aanvaar mense net soos hulle is. Wees vir hulle lief net soos hulle is. “Warts & all”. Moenie hulle oordeel nie. Moenie hulle probeer beïndruk nie. Moet asseblief nooit afkyk op hulle nie. Leo Buscaglia stel dit so:” I am an apple, and you are a pear. And it is very difficult for an apple to become a pear. So I am not even going to try.”
Moenie van appels pere probeer maak nie.
En as jy ‘n vriend ontmoet wat jou toelaat om ten volle ‘n appel te kan word, besef dat jy olie raak geboor het. Daardie vriende is so skaars soos hoendertande. Hou vas aan hulle en spandeer jou tyd saam met hulle. Hulle verstaan. Soos Kola.
Tweedens – “When you are bored you are most probably boring as hell too”.
Wees “fun”. Maak grappe. Lag.
Moenie swaar deur die lewe gaan nie. Daar is genoeg smartvrate daar buite. Daar is te min mense op die speelveld en te veel toeskouers wat kritiseer. Wees iemand wat die lekker en die lag en die “fun” kan inbring in enige dooie omgewing. Veral in Suid-Afrika. Ons is nie gemaak om heeldag te tob nie. Ons is gemaak om die lewe in al sy volheid te geniet. Doen dit. Moenie terughou nie.
Geniet die lewe! Sing vir mense uit volle bors uit, sonder om bang te wees vir hulle reaksie.
Maar moenie hulle lippe stukkend byt nie. Dis jou pa se area daardie.
Dans in die reën. Soos Kola.
Derdens – Wanneer dit pikswart om jou word en jy op moedverloor se vlakte sit – onthou om jou hand op te steek. Jy is nooit alleen nie. Selfs al voel dit vir jou so. Dit is ‘n leuen. As daar niemand by jou is in jou pikdonker nie, dan is God daar. Maar daar is altyd ook vriende wat by jou sal kom sit en uit hulle pad uit sal gaan om jou te help.
As jy net jou hand sal opsteek. Ek sou daar gewees het vir Kola.
Maar hy het nie sy hand opgesteek nie.
Wees lief vir die appels. Wees mal sonder om lippe raak te byt. En steek jou hand op.
Lief vir jou
Pappa
Yip. Ou Kola het nie pleisters aan gehad nie. Elke dag dieselfde bondel vreugde. Net voor ek uit die Lugmag is 1998 het my sekretaresse (Tannie Hettie) vir my gese Kola stuur groete. Verbaas het ek gevra hoe sy hom ken. “Ek maak sy vrou se trourok” was tannie Hettie se respons. Ek het vir hom gese jy is my “baas” se sy, en hy het geantwoord “Chopper sal se net sy vrou is sy baas tannie Hettie” (-_-). Hy het geluister as ons spot, selfs al het ons nie gedink hy hoor nie! RIP Kola. Legend.