My pa was ‘n baie wyse ou. So op sy manier. Ek dink hy was ook baie alleen omdat hy ver voor die res was in sy denke oor dinge. Ja – hy was ‘n denker. Hy is nou al 5 jaar gelede oorlede, maar sy wysheid bly staan.

My pa was ‘n baie wyse ou topple.

Een aand in my eerste jaar toe is ek en my boesemvriend in De Duine hotel op Hentiesbaai. En ons speel “pool” en “darts” en kyk die meisies uit.

En een van die ou omies daar sê toe vir ons hy sal vir ons drank koop. Maar hy gaan vir ons elkeen twee dubbel Stroh Rum’s koop. En ons moet dit “down”. Jy bied nie vir ‘n eerstejaarsstudent gratis drank aan nie. Ons gooi toe altwee daai dubbels af in ons keel.

Dit was laat in die aand. En ek besef skielik dat hierdie Stroh Rum geen man se maat is nie. Ek was nie meer vas op my voete nie. En my pel ook nie. En twee meisies kom vra ons of ons hulle nie wil gaan aflaai by hulle huis nie. En nie lank nie, toe is ons in my Datsun 1400 bakkie. Ek bestuur, en twee meisietjies sit tussen my en my pel. En genade bo genade kry ons die meisietjies veilig afgelaai by hulle huis.

Hentiesbaai het net soutpaaie gehad. En elke huis het net sand gehad as ‘n erf. En toe ons terugry in die ou 1400 Nissan bakkie, toe beland ek in iemand se erf. Ek weet nie hoe ek dit reggeky het nie. Maar dit was nie ek nie. Dit was Oom Stroh Rum. Ek het op een of ander manier direk van die pad af tot binne iemand se jaart ingery.

En toe sien ek en my pel dat ons in die enigste polisieman op Hentiesbaai se erf ingery het saam met Oom Stroh Rum. Want sy polisiebakkie met die blou lig staan toe in die erf. Maar gelukkig slaap almal.

En ons besluit toe ons gaan net saggies weer uit die erf ry. Maar Oom Stroh Rum wou nie saamspeel nie. Want hy laat my toe glo ek het die bakkie in “reverse” gesit terwyl ek dit eintlik in eerste rat gesit het het. En toe ek die “clutch” los, toe spring daardie 1400 vorentoe en met ‘n boosaardige slag stamp ek toe die poliesman se splinternuwe wit muur dat jy die kraak sien hardloop vir so lank as wat die muur is.

Ons is gevang daardie aand. Deur die einste poliesman wat ons wakker gemaak het deurdat ons sy muur in sy moer ingery het – nogal van binne sy erf af. En ons is ingelaai agter in die einste polisiebakkie wat ons gesien het staan in die erf. En hulle het my bloed getrek daardie aand. En wonder bo wonder het ek daardie aand nie ‘n kriminele rekord gekry nie.

My pa het onderhandel met die polisieman om sy muur vir hom reg te maak. Op sy onkoste. Hy het my die volgende oggend saam met hom laat ry dat ons die 1400 Nissan moet gaan haal. Dit was vir my erg, want ons kon nie die d@nnerse bakkie kry nie. Na twee ure se rondry op die Noord Duin het ons hom uiteindelik gekry. Gehawend. “Bumper” heel ingebuig.

En ‘n oop bottel Tassenberg wat op sy sy op die vloer lê binne die bakkie en meeste van die wyn wat uitgeloop het op die mat. Jou kopvel krimp inmekaar as jy die volgende oggend in daardie bakkie klim en die Namib son het dinge al behoorlik warm gemaak binne in die bakkie. En dan moes ek met my babellaslyf in die bakkie klim en stadig terugry agter my pa aan, want die modderskerm het geskuur teen die wiel na die harde stamp.

My pa het my nie veroordeel nie. Hy het my nie uitgeskel nie. Hy het my nie verwyt nie. Hy het die hele petalje net agter hom gesit en aanbeweeg. Ek onthou ek sou eerder verkies het dat hy my pak slae gee. Maar hy het nie. En hy het ook nooit ou koeie uit die sloot uit gegrawe nie.

Die beste ding wat ooit met my gebeur het is die geboorte van my seun op 25 Februarie 2004. Dit was ‘n “amazing” dag vir my. Ek onthou so goed hoe dit gebeur het.

Ek hou vir Yanik 16 jaar gelede vir die eerste keer in my hande vas!
Lynette en Yanik saam op die Okavango rivier in 2005
Yanik was ‘n padda in die konsert en hy was nie lus om ‘n padda te wees nie
Yanik op laerskool
Yanik aan die begin van sy krieketloopbaan
Ek en Yanik so paar jaar gelede.

Hy is nou sestien. Nie meer ‘n klein babaseuntjie wat my met sy spoegbekkie ‘n soen gee nie. En ek besef sy maats het klaar my plek gevat. Hy wil eerder by hulle wees as by my. Hy word al hoe groter en onafhankliker, en ek al hoe meer irrelevanter. By die dag.

So ‘n ruk terug kom hy na my toe. Hy vertel my hy moet met my praat. Hy vertel hoe hy en sy maatjies by ‘n partytjie was. En dat dinge daar so bietjie uitgehaak het.

En ons is geskok. En ons baklei met hom. En ons verwyt hom. En ons huil. En ons is kwaad. En daar is stilstuipe in die huis. En nog wat.

En toe ons gaan onlangs na iemand toe om ons net te help met objektiewe perspektief. Want ons dink nie meer nugter nie. En die ou vertel my ‘n storie wat my uitslaan. Op my voete.

Hy vertel die storie van die man wat vandag kursusse aanbied aan ouers oor hoe om hulle tieners groot te kry met liefde. En die man wat die kursus aanbied, vertel dat hy as tiener verskriklik gedrink het. Elke aand. En dat sy pa elke oggend wanneer hy dooddronk by die huis aangekom het, vir hom gewag het. En hom dan in die bed gesit het. En vir hom koffie gemaak het. En vir hom gebid het.

Die ou vertel dat sy pa dit gehaat het dat hy so drink.

Maar sy drinkery het sy pa nie gestop om vir sy seun lief te wees nie….

Boeta se les:

Yanik, jy word nou groot ou bul. Jy is nie meer pappa se klein seuntjie nie. En ek gaan nie meer jou besluite vir jou kan maak nie.

Ek moet jou laat gaan.

Jy gaan al hoe meer nou jou eie besluite moet neem. En jy moet ook. Want dit is hoe dit moet wees. Jy word groot en jy moet leer om jou eie besluite te neem.

Daar gaan nog baie partytjies wees. Baie drank. Baie los meisies. Miskien selfs dagga. Of erger.

En jy gaan elke keer moet besluit!

Ek gaan nie vir jou kan besluit nie. Ek het nie meer beheer oor jou keuses nie.

Maar ek sal probeer om daar te wees vir jou as jy verkeerd besluit het. Om vir jou koffie te maak. En jou in die bed te sit. En vir jou te bid. En die polisieman se muur te betaal. En saam met jou rond te ry op die Noordduin op soek na die Nissan 14oo. Sonder om kwaad te wees.

Want my liefde vir jou weeg swaarder as my woede vir jou verkeerde besluite…

Want ek is jou pa.

Oupa het my mooi geleer!

Hy het dit beter verstaan as ek!

Pappa

.

2 thoughts on “Die De Duine storie

  1. Dankie Janneman, hoe ons ouers ons “droogmaak” handteer het,reflekteer maar weer deur na ons kinders toe.
    Mooi les die storie, “wag maar in, in die bed sit, koffie maak, BID” dit is GENADE!.
    Gebeur seker met die meeste van ons……?.

  2. A beautiful love story from a parent to a child. Fly child, remember you will always have shelter from the storm if you need it.

Comments are closed.