In 1988 was ek in Angola, besig met grensdiens as deel van my nasionale diensplig. Ek was 20 jaar oud. Ek was deel van die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag. Ons was in die artillerie, en het met G2 kanonne in Angola rondgejaag. Ek moet nou wel noem dat ek nie noodwendig hierdie verskriklike grensvegter-ervarings gehad het soos baie mense soms rondom ‘n braaivleisvuur vertel nie. Dan kom jy na die tyd agter hulle het nooit regtig hulle voete in Angola gesit nie. Ons was nou wel baie in Angola in 1988, maar die aksie was maar bra min. Dit was ook aan die einde van die oorlog met Resolusie 435 en alles. Dit was omtrent net rondry in die aande en skiet met die kanonne, en dan laaglê in die dag onder die camo-nette. Artillerie lê maar laag in die dag want ‘n MIG vegvliegtuig kan lekker skade doen aan artillerie. Ons was maar bang vir ‘n MIG. Die nag was ons ding, want dan kon die MIGs ons nie sien nie. Snags het ons rondgery en met die kanonne geskiet.
Deur die dag was dit laaglê met baie sigarette en gesprekke oor alles en nog wat. Ons het mekaar baie goed leer ken so! By elke stelling waar ons aangekom het, was dit die reël dat jy ‘n “fox-hole” moet grawe in die grond wat diep genoeg is sodat jy onder die grondoppervlakte kan wees net ingeval ‘n MIG vegvliegtuig sy bomme oor jy gooi. Veral as die lug rooi is – wat beteken daar is iewers ‘n MIG in die lug. Maar glo my, jy raak maar bra gatvol om elke nou en dan so ‘n gat te grawe wat diep genoeg is. En dan is ek nog ‘n taamlike lang ou wat ‘n dieper gat as normaalweg verg.
En toe op die 27ste Junie 1988 besluit ek ek gaan nie vir my ‘n “fox-hole” grawe nie. Snaaks hoe die lewe is – daardie een keer wat jy dit nie doen kan jou baie duur te staan kom in vergelyking met die 300 keer wat jy dit gedoen het. Hierdie les het ek baie hard geleer! Op daardie spesifieke dag was ons so ‘n paar kilometer weg van Caluequebrug. Ek het nog so lekker onder ‘n boom gesit en rook, toe sien ek dit…
‘n MIG 23 vegvliegtuig wat besig is om reguit oor my kop te vlieg!
Die MIG het stadig en laag – boomtop hoogte – oor my kop gevlieg. Ek kon die Kubaan se gesig sien binne die stuurkajuit. Dit het gevoel asof ek hom met ‘n halwe baksteen uit die lug kon gooi so laag was hy en so stadig het hy gevlieg. Ek besluit toe om so agter die boomstam weg te kruip sodat hy my nie sien nie. En dan so al huppelende het ek om die boomstam gespring soos wat hy by my verbyvlieg. Almal was veilig in hulle “fox-holes” – behalwe ek!
Die MIG is oor my kop en nie lank daarna nie toe hoor ons ‘n geweldige ontploffing. Ek het intussen naarstigtelik ‘n “dixie” – dis so ‘n vierkantige bakkie waaruit ons geëet het – gegryp en vir my ‘n “fox-hole” begin grawe want daar was nie ‘n graaf naby nie. Die MIG het weer oor my kop gevlieg met die terugkeer – maar hierdie keer kon jy hom net hoor, nie sien nie. Hy het alles oopgemaak terug na sy bestemming toe. Ek het binne my fox-hole gelê toe hy weer oor my kop is. Dit was letterlik ‘n paar minute wat dit my geneem het om ‘n gat in die grond te grawe met ‘n “dixie” groot genoeg om my te kan vat. Dit is ongelooflik hoe adrenalien kan inskop as jy hom die dag nodig het. Die manne lag tot vandag toe vir my as ons oor die tye praat. Ek het boude eerste in die “foxhole” gespring , sodat my kop en voete bo was en ek na die tyd nie self uit die gat uit kon klim nie. Hulle moes my kom uittrek!
Nie lank hierna nie, toe kom die order:”Staak Vuur”. In artillerie beteken dit – “Pak op pappie, en kom weg.” Ons het die kanonne gehaak en teruggery Namibië toe. Verby Caluequebrug. Snaaks genoeg, soos die leser op die foto’s kan sien, was ons self ‘n dag of twee tevore op hierdie brug. Daar rondgeloop met my eie voete.
Maar toe ons weer daar verbyry toe lyk die prentjie heel anders. Die brug is opgeblaas deur die MIG. Eenkant het ‘n Buffel voertuig gestaan en binne die Buffel was dit net bloed. Die MIG het onder andere ‘n bom gegooi wat weer klomp klein bommetjies gooi (“‘n cluster-bom”), en een van daardie bommetjies het binne hierdie Buffel geval en daardie dag het die Suid-Afrikaanse Weermag die bemanning van ‘n hele Buffel verloor. Dit is so 11 soldate. Dit was ‘n gesig wat ek nooit in my hele lewe sal vergeet nie.
Maar kom ons los die storie vir eers net daar. My doel is nie om jou te vertel hoe bloederig dit was nie. Julle kry die punt. Daar was bloed en hare.
Ek wil jou graag “fast forward” na die jaar 1995. Sewe jaar later. Ek doen toe my bedryfsielkunde internskap by die Militêre Psigologiese Instituut (MPI). Ons is betrokke met die mees ongelooflikste dinge. Dit wissel van “pilot” en “recce”-keuring na Boesmanintegrasie na fasiliteringsvaardighede vir die generaals (ek onthou dat ek vir Generaal Siphiwe Nyanda – destyds Hoof van die Leër – fasiliteringsvaardighede geleer het) na integrasie van APLA, Umkhontho we Sizwe en die Ou Weermag na die nuwe SANDF (South African National Defence Force).
Daar was onder andere ‘n kursus wat jy moes doen as jy ‘n senior offisier wou word. Hierdie kursus was ‘n tawwe kursus van so 9 maande waar jy in ‘n “bungalow” in Voortrekkerhoogte bly saam met ander kursusgangers, en jy gaan maar min huis toe. Onthou nou net – in 1995 was ons ‘n nuwe weermag wat bestaan het uit al die vorige magte (APLA/MK/SA Weermag) wat letterlik vyande was voorheen. Nou skielik is almal in een Weermag. Stille water diepe grond – onder draai die duiwel rond….
Dit het gelei tot allerhande snaakse dinamika. Jy kan mos nou vir jouself indink – ‘n paar jaar terug sou jy die man wat nou hier langs jou sit in ‘n kursus vrekskiet. Nou moet jy saam met hom in ‘n “bungalow” slaap en saam met hom eet! Dit is ‘n helse groot sprong as jy doodnugter daaroor dink!
En in 1994 met die inname van die nuwe kursusgangers toe loop die vuiste blykbaar die eerste aand in die kroeg. Dit noodsaak toe die grootbaas daar om die MPI te skakel en te hoor of ons nie in 1995 met die nuwe inname iets kan doen in die lyn van groepvorming nie – ‘n spanbou of ‘n kenmekaar of so iets. Ons is tog die kopkrimpers. Ons moet tog iewers ‘n haas uit die hoed uit kan haal. Solank die manne mekaar tog net nie met die vuis bykom soos in 1994 nie. En omdat ek in 1995 myself bevind by MPI besig met my internskap, beland ek toe ook as fasiliteerder van die “spanbou”- sessie om die APLA’s en MK’s en Boere te kry om mekaar beter te verstaan. En daardie beter verstaan beteken nie beter verstaan met die vuiste nie…. en die sessie is ook reg aan die begin van die kursus. So die druk is op….
Die slimkoppe by MPI werk toe vir my ‘n detail agenda uit wat ek moet volg vir drie dae saam met hierdie manne. Ek was doodbang, want ek is maar ‘n jong man van 27 en nou moet ek my man kan staan met geharde soldate wat die lelike kant van die lewe baie goed ken. En om dit net ‘n bietjie te vererger – hulle hou nie te veel van mekaar nie….
Ek sal nooit daardie oggend vergeet toe ek daar instap nie. Die vertrek was in ‘n U-vorm. Aan die linkerkant sit die MK’s en APLA’s; dan is daar so sewe stoele oop aan die agterkant van die U, en dan aan die regterkant sit die Boere. Dit is tjoepstil. Jy kan die atmosfeer sny met ‘n skêr. Hulle gluur my aan. Ek weet wat hulle dink – “Wie is hierdie kind wat nou dink hy kan ons kom besig hou vir drie dae?” En – “ons is nie lus hiervoor nie – ons gaan hierdie ander manne foeter sodra ons die geleentheid kry”
Ek het volgens ‘n baie streng agenda gewerk wat vooraf bepaal is deur die Militêre Psigologiese Instituut, en ek moes hulle my woord gee dat ek nie sou afwyk van die agenda nie. Die heel eerste item op die agenda was dat elke offisier met die groep moes deel wie hy ag as sy leierskapsrolmodel, en die rede daarvoor. Ek begin toe aan my linkerkant by die APLA’s & MK’s. Die eerste offisier was ‘n baie indrukwekkende ou – stil maar jy kon sien hy dink voor hy praat. “Chris Hani – who has been murdered by the Boers” noem hy sy rolmodel en wys in die rigting van die Boere aan die oorkant van die vertrek. Ek hoor ‘n gemompel van die Boere se kant af. Ek besef ek weet nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Ek is heeltemal te lig en onervare vir hierdie situasie, en dit is sommer reeds op ‘n mespunt nog voor ons regtig begin het.
Ek gaan vinnig oor na die volgende offisier. Ek onthou dat jy die haat in sy oë kon sien. “Peter – One Settler One Bullet – Mokaba” – spoeg hy sy antwoord uit sonder om te verduidelik wat sy rede is. Hy stel net belang in die reaksie wat hy kan uitlok by die boere. Dan gaan ek oor na die volgende offisier: “Nelson Mandela” – sê hy met trots. Dit is 1995, skaars drie jaar sedert ons eerste demokratiese verkiesing. Ek hoor nou meer as net ‘n gemompel van die Boere se kant. Hulle vloek nou al allerhande aardige swetswoorde wat ek nie hier sal kan oorvertel nie.
Uiteindelik is ek klaar met die APLA’s en MK’s. Ek gaan oor die 5 tot 7 leë stoele en kom by die Boere uit. Ek kan sien hulle kan nie wag nie. “Generaal Christiaan de Wet” – blaf die eerste Boer. Nou is die gemompel aan my linkerkant. Nadat hy sy rede gee, trek die volgende Boer los: “Barend -Wit Wolf-Strydom” mompel hy en jy kan sien hoe seer slaan sy tong die APLAs en MK’s aan my linkerkant. Die manne mompel in hulle taal en hulle oë flits van die woede. Ek gaan vinnig oor na die volgende man – en ek hoop hy is tog net sagter. “Eugene Terre’Blanche” fluister hy maar met soveel venyn dat een van die APLAS/MK’s opstaan om uit te loop.
Dis net wat ek nodig het, want ek besef ek is in ‘n situasie wat baie groter is as wat ek en my min ondervinding kan hanteer. Ek kondig ‘n “smoke break” aan. Die manne staan op en loop uit. Ek is verlig. Staan daar in stilte in die vertrek en my kop wemel van gedagtes en planne. Ek kyk deur die venster. Buite sien ek die MK’s/APLA’s onder een boom, en die Boere onder ‘n ander boom. Jy sien net hande swaai in die lug soos beide kante praat en verduidelik. Duidelik is hulle hewig ontsteld. Ek dink by myself hulle is nou besig om te konkel, en as hierdie “smoke break” verby is dan gaan die vuiste tien teen een sommer al vandag klap hier binne hierdie vertrek. Dit is net ‘n kwessie van tyd.
Ek besluit dat ek nou nie meer hierdie agenda gaan volg nie, want dit gaan ons net verder die afgrond in lei. Met my netelige kennis weet ek dat die APLA’s/MK’s baie internasionale militêre blootstelling gehad het, want hulle het die befondsing gekry vanaf Rusland en ander plekke. Ek ruk myself reg, haal diep asem en glimlag toe die manne instap sodat ons kan aangaan met die sessie. Dis een van daardie glimlagte waar jy probeer om vir die mense te wys jy is eintlik in beheer, maar eintlik weet jy en almal om jou jy is heeltemal te lig vir die sessie.
Dan skop ek die sessie af. Ek praat met die indrukwekkende swart majoor aan my linkerkant. “Sir, will you please share your military experience with the team?” vra ek hom. Hy dink lank voor hy praat. Dan praat hy: ” I was the military commander of a MIG escadron in Luanda. I was responsible for the MIG attack on Calueque bridge in 1988 where some of the SANDF soldiers died. ”
Dit is doodstil. Jy kan ‘n speld hoor val.
Ek het dit ook nie verwag nie. Hier voor my sit die man wat gemaak het dat ek agter ‘n boom moes rondspring daardie dag toe die MIG oor my kop gevlieg het. En dit is hy wat veroorsaak het dat ons net bloed gesien het toe ons minute later verby Calueque gery het. Ek besef daar is van die Boere hier wat ook baie emosioneel mag wees oor Calueque. Dinge gaan nou rof raak in hierdie sessie. Ek het in my onkunde afgewyk van die agenda, en nou gaan alles ontplof. Ek moes maar eerder by die agenda gebly het, dink ek vinnig. Maar dit is nou te laat – die koeël is reeds deur die kerk.
Een van die Boere steek sy hand stadig op. Ek is bang om hom geleentheid te gee, want sy vraag is tien teen een die vlammetjie wat nou alles gaan laat ontplof. Die spanning in die vertrek is ondraaglik, maar ek kan hom ook nie ignoreer nie. Ek gee hom geleentheid om sy vraag te vra. “What MIG’s where you coordinating?” vra hy hom in gebroke Engels. “MIG23’s” antwoord die Majoor. “What type of bombs did you drop on Calueque?” vra die Boer. “Cluster bombs amongst others – of which one fell into one of your vehicles and killed those soldiers” – antwoord die Majoor.
Dan steek daar nog ‘n Boer sy hand op en vra die Majoor ‘n tegniese vraag waarop hy dan weer ‘n tegniese antwoord gee. En na ‘n ruk, dan steek ‘n ander Boer sy hand op en vra vir een van die ander APLA’s/MK’s ‘n tegniese vraag waarop hy ‘n tegniese antwoord gee.
Skielik besef ek dat die beste ding wat ek nou kan doen is om hulle nou net te laat praat met mekaar. Ek moet nou as fasiliteerder minder word sodat hulle meer kan word. Ek staan terug en kyk met verwondering wat hier reg voor my oë gebeur. Hulle is besig om met mekaar te praat. Maar meer as dit, hulle het die “common ground” getref. Hulle “connect”…
Almal in die vertrek is soldate.
Daardie aand toe kuier hulle saam in die kroeg. Nie een vuis het geklap nie. Die volgende twee dae het ek hulle net doodeenvoudig toegelaat om meer uit te vind oor mekaar. Die agenda het ek diplomaties opsy gesit. Die laaste dag toe ek instap in die sessie, toe sit hulle op ander plekke. Daar was nie meer APLA’s/MK’s aan die linkerkant en Boere aan die regterkant met 5-7 stoele oop tussen hulle nie. Nee, hulle sit deurmekaar. Sonder dat hulle dit eers agterkom. Toe was daar nie meer APLA’s/MK’s en Boere wat voor my sit nie.
Nee, toe was daar net soldate voor my.
Boeta se les:
Yanik, onthou altyd…..Ons is almal net doodeenvoudige mense. En mense is baie meer dieselfde as wat ons anders is van mekaar , selfs al dink ons ons is anders. So soek altyd eers die “common ground” tussen mense voordat jy die andersheid probeer uitlig. Werk van die “dieselfdheid” af na die “andersheid” toe, nooit andersom nie.
Jou pa weet. Hy het hierdie les hard geleer as ‘n jong man voor ‘n klomp geharde soldate. Hulle het hom geleer op hulle manier.
Lief vir jou
Pappa
Sjoe Jannie, ek het my nou behoorlik ingeleef in die storie. Jou skryf styl kleur dit so mooi in. Dit voel of ek daar was.
“Common ground”..!!! As ons maar net meer hierdie roete kies dan sal so baie mense besef dat ons nie so baie verskil nie, dan raak ras en kleur ook nie meer n probleem nie.
Sjoe Janneman! Dis aangrypend! Kan nie wag om “prestations” te lees nie…ken hom mos👍
Hierdie is n vreeslike belangrike lewensles…. En dis baie goed geskryf, well done Jannie!