Ek kan nie beet eet nie.

Elke keer as ek beet sien, vat dit my terug na 1987.

Elke liewe keer.

Ek was in Potchefstroom besig met Nasionale Diensplig. Artillerieskool. Besig met Junior Leierskap kursus (JL’s) . Om rang te kry. Nege maande kursus.

Elke ou wat in die Weermag was sal jou vertel van Vasbyt. Dit is waar die koring van die kaf geskei word. Jy loop vir dae aaneen en dra dromme vol water en jy word tot die uiterste getoets. En as jy dit nie maak nie, dan word jy van die kursus afgegooi en dan kry jy nie rang nie. So eenvoudig soos dit.

So lyk ‘n Vasbyt

Hulle het ons in sindikate ingedeel. Jy kies nie jou sindikaat nie – jy word net eenvoudig ingedeel. En dan moet jy en jou sindikaat kilometers aaneen stap vir dae aaneen sonder ophou, swaar dinge dra, min water drink, opgooi as jy nie meer kan nie en verder stap.

Hel op hel.

En as daar ‘n maatjie in jou sindikaat is wat sukkel, dan is dit die sindikaat se probleem. So jy hoop maar jy word ingedeel by ‘n goeie sindikaat anders kan jy maar weet jou Vasbyt gaan erger hel wees.

A picture is worth a thousand words

Daar is ‘n ding soos O’Reilly’s Law. Hy het mos geglo Murphy was ‘n optimis. Toe hulle ons indeel, toe is die meerderheid van die outjies in my sindikaat nou nie die wêreld se sterkste of slimstes nie.

Inteendeel.

En dit word toe op die eerste dag van Vasbyt sommer gou duidelik. Want nie lank nie, toe kom skreeu die bombardier vir ons dat ons die laaste is van al die sindikate. En as jy laaste is, dan kry jy aan die einde van die dag geen kos nie. Nadat jy heeldag geswoeg, gesweet, gehuil en geproes het. Niks. Dit is jou straf.

Want julle was die laaste sindikaat.

Ek sal nooit vergeet hoe ons daardie eerste aand by die basis aankom nie. Doodmoeg. Heeldag lank gestap met “full kit”. Dromme vol water gedra. Opgegooi. Gehuil. Gevloek. En daar staan ‘n simpel bombardier met ‘n “over-inflated ego” by ‘n groot gat in die grond wat hulle gegrawe het. Met ‘n houtkruis ingesteek in die grond langs die gat hou hulle kamma begrafnis.

Ons kos gaan begrawe word.

En dan voor ons honger oë begrawe hulle seremonieël die kos wat uitgehou is spesifiek vir ons sindikaat. Steak. Wors. Lemoensap. Brood. KFC. Eiers. Bier.

‘n Feesmaal word begrawe reg voor ons oë.

Omdat ons die laaste sindikaat was.

En dan het jy honger en doodmoeg in jou slaapsak ingeklim. En die volgende oggend staan jy vroeg met ‘n leë maag op, trek jou “full kit” aan, geweer in die hoogvoor, en daar gaat jy. Nog ‘n dag van hel wat voorlê, maar nou met ‘n leë maag. En geen energie nie. Nodeloos om te sê dat jy teen die einde van die tweede dag outomaties weer heel laaste is – en dan weer heel onwillekeurig toeskouers word van nog ‘n “kosbegrafnis”.

Ek onthou dat hulle aan die einde van die tweede dag vir elkeen van ons in die laaste sindikaat twee klein blikkieskos gegee het waarvan die “labels” afgehaal is net om ons aan die lewe te hou. So dit is so iets soos ‘n “lucky packet” – jy weet nie wat jy gaan kry nie. Maar jy is so honger dat jy nie regtig omgee wat jy kry nie – solank jy net iets in jou maag kan kry.

Toe ek my eerste blikkie oopmaak, toe was daar beet daarin. En toe ek my tweede blikkie oopmaak, toe was daar ook beet daarin.

Niemand wou met my uitruil nie.

Tot vandag toe eet ek nie beet nie. Dit is nou 33 jaar later, maar elke keer as ek beet sien, dan vat dit my terug na die “kosbegrafnis” toe.

Die oomblik as ek beet sien, sien ek daardie Vasbyt in 1987. Ek kan nie die twee skei van mekaar nie. Beet en Vasbyt. Sukkel nou al vir jare. Kry dit nog steeds nie reg nie. Sal seker ook nooit nie.

Ek eet nog steeds geen beet nie.

Boeta se les:

Yanik, hier is ‘n baie belangrike les wat ek graag met jou wil deel in hierdie beetstorie.

Die prentjie wat jy in jou kop het van enigiets, bepaal jou gedrag. Die prentjie wat ek in my kop het van beet, maak dat ek nou vir 33 jaar nooit weer my lippe aan beet gesit het nie.

Wat is die prentjie in jou kop van God?

Dis belangrik, want dit gaan jou gedrag bepaal vir die res van jou lewe.

En ek wil by jou pleit dat jy altyd hierdie “blog” sal oopmaak, en jouself heeltyd toelaat om te “recalculate” soos ‘n GPS oor die volgende punte wat vir my persoonlik hopeloos te lank gevat het om onder die knie te kry.

Kou lank en herhaaldelik hieraan tot dit vir jou ook sin maak.

Eerstens: God is nie kwaad vir jou nie. Daar is te veel lawaai in hierdie wêreld wanneer dit kom by hierdie punt. Dit maak jou deurmekaar en onseker, want die een sê een ding en die ander een sê iets anders. En iewers tussen dit alles moet jy self die antwoord probeer kry.

We come to God not by doing it right, but by doing it wrong….

Richard Rohr

Pasop vir al hierdie slim mense wat jou aandag probeer fokus op jou 6 emmers sonde. Luister na hulle wat met jou praat oor die see van genade. Dit is hoe groot jou Pa is. Sy genade is meer as genoeg vir jou. Gaan lees bietjie Julian of Norwich en laat daardie denke deel word van jou DNA. Daar waar die disprin oplos.

As my ses emmers sonde in Sy see van genade val, dan weet ek Hy is God…

Prophet

All will be well and all will be well and every kind of thing shall be well

Julian of Norwich

Daar is sonde in hierdie wêreld. Die plek is blêddie stukkend. Maar “all will be well and all will be well and every kind of thing shall be well” desnieteenstaande die stukkende wêreld. Jy moet dit glo. God is en bly in beheer.

En Hy het nie een stukkie “blame” na jou kant toe, of na enige ander persoon toe nie. Sy hele Natuur maak hierdie “blaming game” totaal en al irrelevant.

“Perfection, rather, is the ability to incorporate imperfection! There’s no other way to live: You either incorporate imperfection, or you fall into denial. That’s how the Spirit moves in or out of our lives.”

Richard Rohr

Dit is juis wanneer jy struikel dat Hy sag en met liefde na jou kyk. Jou “vulnerability” as netelige mens is vir Hom pragtig.

Hy is nie kwaad vir jou nie. Sal ook nooit wees nie.

God verwag nie prestasie van jou nie. God soek jy teenwoordigheid sodat Hy met jou kan werk en jou kan verander en transformeer. Hy is die Pottebakker, en jy is net die klei.

God does not expect performance from you. He expects presence…

Richard Rohr

Jy gaan Hom nooit beïndruk met jou dade nie. Hou asseblief dadelik daarmee op as iemand jou verlei het dat dit jou waarheid moet wees. Dit is soos om jouself te probeer optrek aan jou skoenveters. Stop dit onmiddellik. Jy mors jou tyd, en jy gaan moeg en gatvol word. Vra my, ek weet!

Daag op, in stilte. Word “present” – sodat Hy met jou kan werk en jou kan verander!

God tiekiedraai oor jou. Gaan lees weer die storie van die verlore seun. En weer. En weer.

It is not about requirements. It is all about relationship…

Richard Rohr

Dit is God. Hy hardloop na jou toe. Hy spog oor jou. Hy laat slag die Lam oor jou. Hy staan nie aan die ander kant van jou rivier van sonde en vertel jou hoe teleurgesteld Hy is in jou nie. Hy staan langs jou, en Hy gooi Sy mantel oor jou. En Hy hou jou vas in Sy Liefde en vertel jou dat jy nie alleen staan teen jou rivier van sonde nie. Hy sal en gaan jou help. Jy is en sal nooit alleen wees nie. Alles sal OK wees. Hy hardloop na jou toe. Nie omdat jy iets reg gedoen het nie.

Inteendeel.

Hy hardloop na jou toe omdat jy Sy kind is. En Hy jou Pa is.

Boeta – toets alles wat slim mense julle wil van oortuig van teen hierdie drie vrae:

  1. Vereis dit “performance” van my voordat dinge kan gebeur in my lewe? Of vereis dit “presence” van my sodat God my kan verander?
  2. Gaan dit my na ‘n plek toe vat waar ek beheer word deur my ses emmers sonde? Of waar ek verbaas gaan staan oor die see van genade…?
  3. Gaan dit my na ‘n plek toe vat waar ek God probeer oortuig dat ek eintlik OK is? Rooi vlag! Moenie eers probeer nie. Word wie jy reeds is, alias Thomas Merton

Moenie toelaat dat mense jou prentjie van God in jou kop verander nie. Want daardie prentjie van God vorm jou gedrag. Nooit andersom nie.

Ek moet eers die prentjie in my kop van beet verander voordat ek weer beet sal kan eet.

En ek gaan probeer. Drie-en-dertig jaar is lank genoeg.

Lief vir jou

Pappa