Albie is ‘n baie goeie vriend van my. Ons stap die pad al saam van 1997 af. Ek het hom ontmoet toe ons saam in ‘n bybelstudiegroepie in Secunda was.
Goeie ou! Lekker sin vir humor. Plat op die aarde. Geen geite aan hom nie. Hy het diep in my hart ingekruip. Ek hou mos van mense wat jou aanvaar net soos jy is. Wat jou nie probeer verander nie.
Albie is een.
En toe ons aftrek Kaap toe in 2017, toe hoor ons Albie-hulle trek ook af Kaap toe. Hy en sy vrou Naomi. En was dit nou lekker om hulle weer hier in die Kaap raak te loop. Ons braai gereeld saam en kuier te heerlik bymekaar.
Hy is nou so mlddel 50’s. Werk by City of Cape Town. Maar die man het ‘n moeilike werk. Hy is betrokke by “informal settlements”. Jy kort ‘n man op ‘n perd om in daardie stoel te kan sit.
So ruk gelede toe kom braai Albie en Naomi weer by ons. Maar hierdie keer sukkel Albie om te loop. Hy vertel my sy senuwees in sy bene skiet die hele tyd. Dis asof jy jou vinger op rou senuwees neersit. Dit is so seer dat hy nie kan slaap nie. Hy lê heelnag wakker. En hy verloor gewig.
Ek is bekommerd oor my ou vriend. Bel hom elke nou en dan om te hoor hoe gaan dit. Maar ek weet selfs al gaan dit sleg sal Albie nooit kla nie. Altyd optimisties en vol grappies. Hy hou sy pyn en swaarkry vir homself.
Verlede week bel hy my. “Janneman – is jy by die huis? Ek wil gou ‘n draai kom maak”. So ‘n paar minute later stop hy en Naomi voor my huis. Hy het sy ou tjor ingeruil vir ‘n outomatiese kar – want hy kan nie meer trap met sy bene nie. Maar dit stop hom nie om rond te ry nie – selfs al het hy pyn.
Hierdie keer het Albie ‘n loopraam saamgebring. Die ander been het nou ook die ding met die senuwees. Dis nou altwee sy bene. Hy sê vir my hy sien nie kans om die trappies op te klim na my huis toe nie. Ons besluit ons sit sommer in die garage. Dit gaan die maklikste wees vir Albie. Ek kry drie stoele en maak koffie saam met Naomi, en ons gaan sit in die garage.
Albie het ‘n paar “steak & kidney pies” en “dougnuts” gekoop hier onder by ons Spar. Ons drink die koffie en eet die pasteie. Praat bietjie oor dit en bietjie oor dat.
Na ‘n rukkie begin Albie praat. Ek kan sien die man is deur maande van hel. Kan nie slaap nie. Kan nie loop nie. Permanente skietpyne in beide bene. Bang om om te draai in die aande in die bed want die senuwees skiet in sy bene.
Dan begin Albie sy storie vertel. Hy vertel dat hierdie ding wat met hom gebeur het, die beste ding is wat ooit met hom kon gebeur het. Hy sê hy was so gefokus op sy werk dat hy vergeet het dat net om te kan loop, een ongelooflike “blessing” is. Hy sê hy sien mans met groot bierpense wat loop. Dan wil hy vir hulle vertel hoe ongelooflik bevoorreg hulle is. Want hulle kan loop. Hy sê vir my met trane in sy oë dat hy dit nooit sou besef het as hierdie ding nie met hom gebeur het nie. Net om asem te kan haal is ‘n voorreg. Om te kan eet. Om te kan slaap. Om die son op jou vel te voel. Met jou hond te speel. ‘n Glasie wyn te kan drink. Alles is dinge wat ons so maklik vat as ‘n”given”. Maar dit is nie. En jy besef dit eers as jy dit verloor het.
Maar dan vertel hy my dat hierdie ding nog ‘n les vir hom geleer het. Dat hier oorgenoeg goed nog is in ons land. Hy vertel hoe mense uit hulle pad uitgaan om hom te help. Om die “lift” se deur oop te hou vir hom. Om hom in en uit sy karretjie te help. Hy sê hy staan verstom oor al die goedheid in ons land, te midde van al die hartseer, geweld en moord en dood.
Toe hulle na ‘n ruk ry, toe sit ek lank in my stoel. En dink. Hierdie man. Nie een sekonde van kla nie. Nie een sekonde van kerm nie. Geen behoefte dat iemand hom moet jammer kry nie. Net ‘n oorvloed van dankbaarheid dat hierdie beker oor sy pad gekom het sodat hy net weer kan besef hoe geseënd ons regtig is. En so tipies Albie -sien net die goed in enige situasie.
Albie, ek het toe Tankwa toe gegaan soos ek jou vertel het. Jy wou so graag saamgaan, maar dit sou sukkel met daai loopraam van jou. Ek het in die aand om die vuur gesit en dink aan jou.
Ou maat, en ek het die Saterdagoggend ver in die Tanka gaan stap. En op ‘n koppie gaan staan en na die vlakte gekyk. En toe weer ver teruggestap na ons huisie toe.
Albie, en ek het so met die stap gehuil oor jou. Nie oor jou pyn nie. Maar oor die manier hoe jy hierdie ding vat. Jy is ‘n absolute voorbeeld vir my. ‘n Yster van formaat. Jou Pa is trots op jou!
Ek huil oor jou, want ek leer so baie by jou!
Boeta se les:
Yanik, jy gaan ook een of ander tyd blootgestel word aan swaarkry, my ou seun.
Dis deel van die lewe.
Maar die manier waarop jy jou “suffering” gaan hanteer, is baie belangrik.
Richard Rohr skryf:”If you do not allow your suffering to transform you, you will most assuredly transmit it to others, and it will slowly destroy you in one way or the other.”
Kyk na Oom Albie. Hy verstaan dit goed. Hy laat toe dat sy “suffering” hom “transform”. Hy is vir niemand kwaad nie. Hy gee niemand die skuld nie. Hy soek nêrens simpatie nie.
Inteendeel.
Hy is dankbaar. Dankbaar vir sy “suffering”….!
Dit is nie geluk wat ons dankbaar maak nie! Dit is dankbaarheid wat ons gelukkig maak!
Leer by hom! Ek doen!
Lief vir jou.
Pappa