Die Merwe Storie
My maatskappy, SimpleXity (Pty) Ltd, is vandag ‘n maatskappy om mee rekening te hou. Ons kliënte is Standard Bank; Shoprite; Bevcan; Sasol; Solstices; Johannesburg Eye Institute; Dell Foundation; SA Cities Network; South African Geomatic Institute; Twinsaver; IQ Business; MAC Consulting en nog vele meer. Ons was redelik onlangs ‘n gasspreker op ‘n konferensie in Duitsland. “Watch this space” – SimpleXity gaan nog groter raak as dit.
En daar is twee redes hoekom SimpleXity vandag is wat dit is. Die een rede is God se ongelooflike groot genade, en die ander rede is Merwe van Pletsen.
Kom ek vertel julle hoekom Merwe. Ek werk daardie tyd vir ‘n veranderingsbestuursmaatskappy en Merwe is my kliënt. Blêddie moeilike kliënt om te hê – maar kom ons los dit maar daar. Dis hoekom ek lyk soos ek lyk. Ek is eintlik net 19 jaar oud maar ek lyk 50 as gevolg van Merwe. Ons raak goeie vriende en die Vrystater nooi my een naweek saam na sy plaas op Boshoff. Ons braai skaaptjoppies op sy plaas, kyk rugby in Boshoff se kroeg, kyk na sy beeste, eet min groente en alles en nog wat.
Die aand om die vuur maak ek my hart oop. Ek vertel hom dat ek massiewe projekte inbring vir hierdie plek waar ek werk, en nie eintlik die vergoeding kry daarvoor nie. Ek trek ernstig aan die kortste ent. Lang storie kort – ek wil my eie besigheid begin. Ek los dit net daar.
‘n Paar weke later bel hy my. “Du Toit – het jy ‘n Pty Ltd? Ek wil jou gebruik”. Gelukkig het ek al ‘n ruk terug ‘n besigheid gestig met die polities onvriendelike naam van Jannie du Toit Consulting (Pty) Ltd. “Ja Merwe – ek het alles reg.”
Ek skryf ‘n e-mail aan die maatskappy waar ek werk om my bedanking in te dien. Alle hel breek los. Hulle skeduleer ‘n vergadering met my. Dreig my met hofsake en “restraint of trade” en waaraan jy nog kan dink.
Ek raak skrikkerig, want dit lyk my hulle weet waarvan hulle praat. Hulle dreigemente laat my huiwer. Ek kom ooreen met hulle dat hulle die kontrak direk met Merwe kan sluit, en dat ek dan vir hulle sal subkontrakteer. Dit beteken Merwe bly hulle kliënt, maar ek kry die geleentheid om my eie besigheid van die grond af te bring. Nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie, maar dit is darem ‘n kompromie. So kan al die partye darem op ‘n manier gelukkig wees.
Maar nie met Van Pletsen nie. Hy bel my die aand om te hoor van die status van die kontrak. “Ja Vrystater ” sê ek versigtig. “Ons het ‘n wen-wen-wen.” Lang stilte. “Wat is ‘n wen-wen-wen?” vra die Vrystater. “Jy wen, want ek gaan persoonlik die werk vir jou doen. Die maatskappy waar ek werk wen, want die kontrak gaan tussen jou en hulle wees. Hulle gaan my net subkontrakteur. En ek wen, want ek kan nou my eie besigheid begin. ”
“Nee – dis nie wat ek wil hê nie” sê Merwe. “Ek soek ‘n kontrak met jou, nie met die ander konsultasiefirma nie. Sê vir hulle hulle moet my kom sien.” Nou is die vet in die vuur. Merwe en hulle. Die Vrystater is moeilik.
Die direkteur van die konsultasiebesigheid gaan sien vir Merwe. Na 3 minute loop hy uit Merwe se kantoor uit. Hangskouers. Hy is uitgeslaan in die eerste rondte. Hy het hom behoorlik vasgeloop in die Vrystater wat hom vasgevat het. Ek dog alles is verby. Ons kan nou maar net aangaan.
Dan hoor ek die volgende dag dat Merwe ‘n kommunikasie laat opstel het om te versprei aan Sasol dat hy in dispuut is met hierdie spesifieke konsultasie-maatskappy, en dat alle werk wat hierdie maatskappy tans doen in Sasol onmiddelik gestop moet word totdat die dispuut opgelos is. En hulle het baie werk daardie tyd gehad in Sasol. Hy hou nie op boks nie, selfs al het die teenstander al uit die kruit uitgespring na die eerste rondte. Of alles, of niks.
So het SimpleXity (Pty) Ltd tot stand gekom.
Alles wat SimpleXity vandag is, is te danke aan een man. Merwe. Hy wat nie tevrede was met ‘n kompromie nie. Wat nie bang was om die regte ding te doen nie, maak nie saak hoe moeilik of ongemaklik dit was nie. Wat nooit bang was vir konflik nie. Wat bereid was om op te tree in my beste belang, selfs al sou hy nie self baie baat daardeur nie. Wat geglo het in my en in my droom. Wat nie skaam was om sy geloof in God te deel nie. Wat nie ‘n bang haar op sy kop het nie, alhoewel hy nie meer baie hare oor het nie. Wat een aand in Bothaville toe ek, hy en Ronald Logie saam in een klein koshuiskamertjie slaap omdat ons drie Nampo se landbouskou gaan bywoon het nie skaam was om die kamer se lig eers af te sit nadat hy sy Bybel gelees het en gebid het nie. Wat nie bang was om ‘n massiewe transformasie teweeg te bring vir die Learning funksie van Sasol nie. Wat enige uitvoerende baas gas gegee het as hulle nie na die tafel toe kom nie. Wat so gelei het dat mense hom wou volg! Een van sy gunsteling gesegdes was altyd Alvin Toffler:
“The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn and relearn”
Baie mense het hom nie verstaan nie, want hy was 10 jaar voor sy tyd. Die wêreld het leiers soos Van Pletsen vandag broodnodig.
Dit is Merwe! Wat ‘n mens! Wat ‘n leier!
Lekker verjaar Merwe. Ek sien uit na die volgende 60 jaar.
Janneman
Visvang saam met Fanie de Jongh-hulle by die Vaalrivier
Ek en Yanik het die 22ste Julie saam met Fanie de Jongh (Springbok varswater hengelaar) en ‘n paar van sy vriende gaan visvang by die Vaalrivier.
Hulle het die vorige dag 18 visse gevang. Maar die dag was nie so goed vir ons nie. Altesaam 6 visse gevang tussen almal van ons.
16 Julie 2017 – Yellowfish Paradise
So gaan probeer ons toe geelvis vang by Yellowfish Paradise – langs die Vaalrivier naby Vanderbijl. Omtrent 10 strops verloor met al die klippe daar – en niks gevang nie. Maar ons gee nie moed op nie….
Visvang by Roodeplaat dam – Dinokeng Fishing 1 Julie 2017
Gister vir Yanik & Tristan gevat na Dinokeng Fishing om te kyk of ons ‘n paar vissies kan vang. Ons het heeldag geprobeer en nie eers een byt gekry nie.
Visvang kompetisie Morgenzon (Naby Oranjeville) 24 Junie 2017
Die Du Toit’s (al drie) is toe hier weg vroeg die Saterdagoggend van die 24ste Junie 15h45 om 06h00 te kan inklok by Morgenzon by die Vaaldam.
Dit was ‘n heel skaflike dag so in die winter. Bleddie koud gekry vroeg die oggend toe die wind opkom. Maar so na 10h00 toe kom die son uit en toe gaan lê die wind. Die ervare manne vertel dat dit goed is as die wind waai want dit bring suurstof en dan is die visse meer aktief! Maar as dit te koud is dan werk dit weer teen alles!
Tussen my en Yanik het ons 6 vissies gevang. Ek het my PB (personal best) karp (ongeveer 1.3 kilos) gevang en Yanik het ook sy PB karp (1.1 kilos) gevang. Dan het ons nog 4 klein “mud-fish” tussen ons gevang.
Ek het ook die tweede prys gewen onder die volwassenes met ‘n hamper met ‘n hele paar dip; floaties & mieliebom. Moes daai karp gewees het wat die ding gedoen het.
Ons raak al hoe beter by die dag….
Skaars ‘n maand of twee terug het ons eers begin met hierdie visvangding – nou weet ons al hoe om mieliebom op te sit en ons raak al hoe beter met die ingooi!
Die visvangding het die Du Toit’s nou behoorlik beet! Mamper was saam maar sy het soos oudergewoonte weer net geslaap! Haar naam is nie verniet Lê- net nie…..