Vrees…
5 letters, maar dis ‘n groot woord. En vir baie lank in my lewe het ek geveg teen hierdie reus genaamd vrees. En dan moet ek bieg – baie keer in my lewe het Vreesreus my gewen. Maar daar was ‘n paar kere wat ek hom lekker onder sy gat geskop het.
1980. Ek was in Pionierspark laerskool in Windhoek! Standerd 4! Ek was maar my hele lewe nooit deel van die binnekring nie, maar hierdie jaar was ek baie erg aan die buitekant van alles. Maer, en sonder vriende…! En die outjie in die skool met die rykste pa daag my uit vir ‘n “fight” na skool omdat my pa Dirk Mudge se party – die DTA – ondersteun het en sy pa AKTUR – die meer regse party! Ek was so bang soos hel. Vreesreus het my vierkantig in die oë gestaar. Ek het niks verstaan van vuiste swaai nie. Weemoedig en bang het ek daardie middag na skool geloop na die parkie toe – om my pak soos ‘n man te vat omdat my pa DTA gestem het. Maar veg gaan ek veg . Windmakerig op hulle fietse het die opposisie die dag daar opgedaag. Vyf van hulle. Hulle was in ‘n bende. Ek nie. Vyf teen een. Vreesreus was in sy sewende hemel. Ek onthou ons het die sandbank gebruik as ‘n bokskruit, en een van die vyf was die “timekeeper”. Kaalvuis, een minuut per rondte. Ek onthou hoe Vreesreus vir my gefluister het dat ek nie vandag by die huis gaan kan uitkom nie, want my oë gaan toegeslaan wees. En toe kry ek die eerste vuishou teen my kop. Ek onthou dat ek alle rasionaliteit verloor het en siedend soos hel lostrek en slaan sonder om eers te kyk. En toe ek klaar is, kyk ek terug. En daar lê die man op die grond. Nie meer lus vir baklei nie. Ek dog toe alles is nou verby. Toe hoor ek die bende gaan ‘n tweede man teen my instuur. Die 1 minuut het skaars begin toe lê die man ook plat op die grond. En Vreesreus lyk skielik nie meer so groot nie, soos wat my selfvertroue toeneem. Die bende is daardie dag druipstert daar weg, en ek met ongelooflike selfvertroue. Ek noem doelbewus nie die outjies se name nie, maar hulle sal weet wie hulle is….
Vreesreus het my weer aangevat in 1987. Ek is toe in die Weermag – Osona-basis net buite Okahandja in ou Suidwes. Steeds so maer soos ‘n kraai maar hierdie keer met staaldak, “webbing” en geweer! En ammo kiste! Ek onthou soos gister twee majore wat agterop ‘n Gary by my verbyry reg aan die begin van die Vasbyt wat ons moes stap tydens basies en hulle lag kliphard vir my toe hulle my sien! “Boetie – jy gaan dit nie maak nie! Jy is te maer” – terg hulle vir my! Dit was ‘n baie harde vasbyt daardie – veral vir my met my maer lyf! Ons het ‘n hele paar dae gestap in die warm Suidwes son. Kilometers sonder einde. Niks kon kom by die vreugde toe ek by eindpunt kom nie! Die twee majore kon my nie in die oë kyk nie. Vreesreus het weer sy gat gesien.
Vreesreus hou nooit op nie. In 1988 kry ek malaria in Angola tydens grensdiens. Ek het vir die eerste keer gedink ek gaan nou dood. Een oomblik kry ek so warm dat ek nie kan asemhaal nie. Die volgende oomblik bibber ek van die koue. Hulle stuur my Oshakati toe, en die Ops medics gee my twee Quinine pilletjies en stuur my terug Angola toe. Hulle het gedink ek sit aan, en dat ek nie wil oorlog maak nie. Twee dae later toe slaap ek in my slaapsak in Angola, vrot van die malaria. En ek besluit ek gaan nie meer kerm oor hoe ek voel nie. Toe ons na ses maande uiteindelik pas kry en ek kon huistoe gaan, gaan ek onmiddelik na ‘n privaatdokter toe. Hulle skrik hulle morsdood vir my toestand en boek my dadelik in die siekeboeg in. Ek het daar gelê vir twee maande tot ek uiteindelik die malaria ding gewen het. Die vreesreus het my geterg met die idee van doodgaan. Ek het hom gewen.
Of soos in 1988 toe Vreesreus met bravade oor my kop vlieg in die gedaante van ‘n MIG vegvliegtuig in Angola. Of in 2005 toe Vreesreus my weer aanvat toe ek ‘n sessie moes fasiliteer tussen APLA, MK, Umkhonto we Sizwe en die Suid-Afrikaanse Weermag. Lees die storie hier: https://www.diedutoitsonline.com/die-calueque-storie
Wanneer jy die dood in die gesig staar of so bang is dat jy nie kan asemhaal nie, dan lag Vreesreus op sy hardste. Maar deur net elke dag weer op te staan en aan te gaan, wen jy hom.
Vreesreus vat my toe weer aan in 2003. Ek bedank by Sasol en los ‘n goeie stabiele senior pos net nadat ek bevorder is met aandele so ewe…. En dit alles vir ‘n groot SAP projek in Botswana! En skaars daar aangekom is my vroutjie swanger. En Vreesreus daag op een oggend by die werk in Gaborone op toe ek die nuus kry… Die grote SAP projek waarvoor ek my wonderlike joppie gelos het by Sasol is gekanseleer. Daar sit ek op die vlakte diskant nêrens in ‘n vreemde land waar ek maar een van min wit gesigte is en met ‘n swanger vrou – en ek weet nie of ek die volgende dag ‘n “joppie” het nie. Maar ek het myself uit die bed uit getrek elke oggend en die dag vierkantig in die oë gekyk. En Vreesreus het toe uiteindelik stert tussen die bene daar weggehardloop.
Vreesreus daag toe weer in 2004 op in my kantoor in Orapa in Botswana. Ek is die organisasie-ontwikkelingsbestuurder van die grootste diamantmyn in die wêreld. Vreesreus kom in die gedaante van die plaaslike HR man wat my meedeel in my kantoor dat my vaardighede nou plaaslik beskikbaar is en dat ek nie meer welkom daar is nie, en eintlik al uit die land uit moes gewees het. En toe ek vir Vreesreus vra om vir my ‘n afskrif van die brief te gee wat hy my gelees het toe weier Vreesreus. Vreesreus wou gehad het ek moet bang wees. En vasklou aan die “joppie” in vrees dat hulle nou van my gaan ontslae raak. Ek het net daar besluit genoeg is genoeg. Ek het die volgende dag bedank en teruggetrek Johannesburg toe. Hulle het jare nadat ek daar weg was nog nie ‘n volgende bestuurder kon aanstel nie. Vreesreus se planne het in sy eie gesig ontplof.
Toe kom 2010. Ek begin SimpleXity Pty Ltd. My eie maatskappy. Vreesreus is op my – dag en nag. Daar was tye waar ses maande voor my verbygegaan het sonder dat ek een uur gewerk het. Vreesreus lag dan vir jou – veral in die aande as almal slaap. Dan lê jy met natgeswete handpalms en staar na die plafon. Debietorders verstaan nie as daar nie werk is nie. En as Vreesreus jou nie gas gee met gedagtes van hoe die bank alles gaan kom haal nie, dan skiet hy jou met die gifpyl van moedeloosheid. Vreesreus kom na jou toe in die gedaante van SARS. Hulle besluit sommer oornag dat jou maatskappy hulle nou uit die bloute baie geld skuld. En dan is jy skuldig tot jy jou onskuld kan bewys. En as jy nie die massiewe bedrag geld onmiddelik betaal nie, kry jy geen “tax clearance certificates” nie – ‘n dokument wat broodnodig is wanneer jy as ‘n diensverskaffer by maatskappye wil registreer. Dan maak jy maar ‘n plan – skraap die klomp geld bymekaar en betaal SARS en begin dan ‘n proses om jou onskuld te bewys om die geld terug te kry. Ek veg nog steeds daardie geveg met SARS – nou vir oor die twee jaar. Want Vreesreus sal my nie onderkry nie.
Of soos einde 2017 toe ons as gesin besluit ons trek Kaap toe. Los alles in Johannesburg wat ons ken. Dit kon soveel makliker gewees het om net te bly by die bekende. En Vreesreus lag vir my. “Julle gaan dit nooit maak nie” spot hy my. “Jy lê met jou surfboard op ‘n dam, jou kluit. Hier is nie werk nie. En as hier werk is, dan betaal die mense nie. Jy behoort dit geweet het voordat jy hierheen gekom het”. Maar hier sit ons gesinnetjie nou al vir amper ses maande in die Kaap en nog elke aand was daar kos op die tafel. Vreesreus het weer verloor.
‘n Vriend van my wat ook sy lewe spandeer op projekte vertel my nou die dag: ” These big projects are like dancing with a gorilla. When you are tired of dancing, the gorilla is not necessarily tired of dancing”. As ek so terugdink, was Vreesreus ook daar toe ek groot projekte aangevat het. Ek het al ‘n paar keer self met Vreesreus gedans. En hy het nooit opgehou om in my oor te fluister dat ek of te dom, of te onervare, of te lig is vir die projek nie. Maar elke projek het ek klaargemaak sonder dat ek my ooit aan Vreesreus gesteur het.
Boeta se les:
Yanik – ek was amper dood van die vrees toe ek manalleen opdaag daardie dag in 1980 by die parkie en die ander 5 daar opdaag met hulle fietse! Ek was so bang ek kon nie asemhaal nie! Maar ek het opgedaag! Alleen! En baklei vir my lewe…
En toe daardie twee majore vir my lag voor ek nog eers begin het om die Namibiese Vasbyt te stap – toe wou ek net daar omdraai! Maar ek het nie! Ek het wel ‘n paar keer opgegooi! Maar ek het daardie Vasbyt klaar gestap!
En toe hulle my doodsiek terug stuur Angola toe met my malaria en ek met altwee my hande moes vashou aan die grond omdat dit gevoel het ek val aanhoudend in ‘n donker gat in as gevolg van die koors wou ek ophou! Maar ek het nie!
En om in Botswana te sit met jou nog in Mamma se maag en te hoor die projek is gestop en jy sit met jou wit vel in die middel van nêrens is erg! Ek was bang – maar ek het nie weggehardloop nie!
En om meegedeel te word dat jy kamma onwettig in Botswana is en eintlik nie regtig meer daar welkom is nie, is erg! Maar ek het die hou op die wang gevat en aanbeweeg!
En om nagte lank te stoei met die twee Rottweilers van vrees en moedeloosheid as jy jou eie besigheid het – is ook nie vir sussies nie! Maar hier in 2018 – 8 jaar later – staan my maatskappy nog steeds. Ek het nie opgegee nie, selfs al wou ek baie kere. En SimpleXity is sterker as ooit tevore…
En as ‘n Russiese MIG oor jou kop vlieg of jy ‘n sessie fasiliteer waar blank en swart jou aangluur of jy op ‘n projek werk waar dit net lyk asof jy niks vordering maak nie, dan is dit baie aanloklik om net op te hou. Maar ek het nie.
Boeta – aan die ander kant van vrees wag oorvloedige lewe! Dit is nie ‘n skande om bang te wees nie! Wees maar bang! Erken dit. Maar moet asseblief nooit toelaat dat jou vrees jou terughou nie!
Vrees moet vir jou vrees…
Vrees is soos die tipiese skoolboelie! Jy mag maar bang wees vir hom – maar skop sy gat net een keer en sien dan hoe vinnig huil hy. Dink jy Dawid was nie bang toe hy na Goliath toe afstap met net 5 klippies nie? Ek dink hy was vrek bang! Gelukkig het hulle in daardie dae nie broeke gedra nie, want kom ek vertel vir jou – Dawid se broek sou gebewe het! Maar dit het hom nie gestop nie….en ‘n rukkie later toe val die ou boelie Goliath!
En kom ek vertel jou ‘n groot geheim: Ek het nooit een van hierdie vrese alleen baklei nie! Ek het eintlik ‘n onregverdige voordeel gehad met elkeen van hulle! Want gaan kyk maar hoeveel keer staan daar in Sy Woord: “Moenie vrees nie”.
En die rede hoekom jy nie hoef te vrees nie, is omdat Hy by jou is.
Selfs al is jy so bang dat jy nie kan asemhaal nie
Lief vir jou
Pappa