Die Boom storie

So het ons konvooi gery! Buffels voor en gun trekkers agter

Almal wat saam met my in die army was, ken my as Boom. Min mense weet hoekom.

Kom ek vertel jou.

Ek het my basies in 1987 in Osona gedoen. Dit is in Okahandja – dorpie noord van Windhoek! En toe ek klaar is met basis, toe gaan doen ons 9 maande JL’s (junior leiers) in Potchefstroom by Artillerieskool. Dis om of ‘n bombardier of ‘n luitenant te kan word.

Daar in Potchefstroom het ek amper gevrek van die koue. Soos wat Namibië lekker warm kan word, so kan daardie Potchefstroom yskoud word.

Ons moes dan as deel van die opleiding ook wag staan. By die skietbaan as ek reg onthou. Dan trek jy jou “overalls” aan, met jou web-belt en jou “bootse” en boshoed en R4 en “long johns” onderaan met jou grootjas bo-oor alles. Jy lyk soos ‘n bleddie eskimo. Dan klim jy op ‘n Samil wat jou dan skietbaan toe vat.

En daar word jou skof wat jy dan moet wagstaan aan jou toegedeel. Eerste skof was om wag te staan van 18h00-20h00, en dan weer van 12h00 – 02h00 in die oggend. Tweede skof was van 20h00 tot 22h00, en weer van 02h00 tot 04h00 in die oggend. En derde skof was weer van 22h00-12h00, en weer van 04h00 tot 06h00 in die oggend. Maak maar jou sommetjies. Die ergste skof was tweede skof, want daardie oggend van 02h00 tot 04h00 was erg – veral wanneer almal op hulle diepste slaap.

En daardie spesifieke dag toe trek ek tweede skof. In die middel van die winter. Dit was ‘n rugbreker. Ek onthou die eerste sessie het ek gemaak van 20h00 tot 22h00. Net-net. En toe die Samil ons 22h00 kom haal toe klim ek “boots en all” net so in die bed. Want ek weet die 02h00 tot 04h00 sessie is om die draai.

En dan voel dit vir jou skaars asof jy geslaap het, dan kom maak hulle jou wakker vir jou 02h00-04h00 skof. Dis vriesend buite. Ver onder vriespunt. Dan klim jy maar op die Samil met jou eskimo-pakkie en daar gaan jy.

Nou kom jou groot geveg teen die slaap. Dis net jy en die nag. En die groot slaap wat vir jou gluur. Want as hulle jou vang slaap tydens wagstaan dan is dit nag vir jou. Rooi doibie, of af van die kursus af, of projektiel in die hoogvoor…Ek onthou hoe sit ek daar op ‘n klip. 70% vasgevries met die slaap wat elke minuut die oorhang begin kry.

En toe, genade op genade, sien ek die ligte van die Samil. Dis 04h00. Tyd vir skofruiling. Nou kan ek lekker twee ure tot 06h00 gaan slaap. Dan gaan hulle ons almal kom wakker maak en dan ry ons terug Artillerie skool toe.

Ek onthou ek klim in daardie bedjie met grootjas, boots en alles. Net my geweer buite die bed gelos. En net voor ek aan die soete slaap oorgee, voel ek dat ek moet gaan pie. Maar dis nie so maklik nie. Dit beteken ek moet my grootjas uittrek, dan my overall uittrek, dan my “long johns” uittrek net om die ding te kan doen. Alles in die vriesende omstandighede. Nie vir sissies nie.

Ek besluit net daar ek sal eerder aftap as hulle ons kom wakker maak 06h00. Die nood is nie so erg nie, lieg ek vir myself. Slaap net vir twee ure. Min het ek geweet dis ‘n groot fout.

Ek was sommer vinnig in droomland. Droom ek hardloop oor ‘n pragtige groen veld met blommetjies en alles. En op die horison staan daar ‘n groot boom. Ek hardloop tot by die boom, haal my potlood uit en pie teen sy stam. Ek voel in die droom hoe ek ontspan.

Maar toe word dit warm om my, en ek word wakker. My klere en bed is sopnat. Ek, hierdie groot soldaat, het my bed natgepie…

Moes met daardie nat overall en al op die Samil klim terug Art Skool toe. Almal het my uitgelag.

Van daardie dag af was ek Boom.

Toe ek in 1988 op Hurricane kom, toe skryf ek eendag vir my ma ‘n brief uit Angola. Ek sê vir haar: ” Ma – ek is nou so lank in Angola, ek dink ek is bossies. As ek ‘n bottel bier oopmaak en iemand maak my skrik, dan hou ek die doppie tussen my tande en gooi hom met die bottel. Soos ‘n handgranaat.” Maar ek maak ‘n grap.

‘n Paar weke later lê ek nog so rustig en trek ‘n Paul Revere in Angola, toe roep die manne my.

“Dis 9 op die radio vir jou”- sê hulle. 9 was Kapt Schoonwinkel.

Ek tel die radio op. “9 – dis Boom, oor”

“Boom” – sê 9 – “is jy bossies?”

” 9 – negatief – oor” sê ek maar ek het geen benul hoekom hy dit vir my vra nie. Heel verbaas teruggestap na my plekkie toe. Geen benul waar die groot 9 daaraan kom nie. Eers jare later vind ek uit. Toe my dierbare moeder die brief kry, toe skakel sy dadelik ‘n brigadier wat toe huisvriende van ons was. Haar seuntjie is bossies en in die middel van Angola – en sy is bekommerd…

Jammer 9. Dit was my ma wat gemaak het dat die hele weermag op jou “case” was toe sy my briefie lees! En jy moes seker aan die hele wêreld verduidelik hoekom jy dan ‘n man daar onder jou bevel het wat bossies is.

Jammer 9…oor!

Eendag toe ry ons konvooi. Ek kan nie onthou wat ek verkeerd gedoen het nie, maar dit was weer iets baie simpel. En toe soek 9 my weer oor die radio.

“9 – 9 – dis Boom – oor…”

“Boom” – sê Groot 9 toe – “jy is ‘n d@@s”…

Ek ervaar toe ‘n mengsel van vrees want ek praat met die groot 9, maar ook so bietjie woede want ek hou nie daarvan as iemand my dit noem nie.

“9 – reg – oor en uit” – proes ek toe oor die radio. Die “uit” was maar my manier om so bietjie ‘n houtjie terug te kry, maar jy sukkel nie met die groot 9 nie…

“Nie f@kken uit nie” … skree 9 toe vir my oor die radio.

“9 – reg – oor” kom ek toe vinnig in gelid.

En toe die stilte. Die bal is nou aan 9 se kant. Hy kon my net daar opdrag gee om ‘n projektiel in die hoogvoor te kry, want my radio-etiket laat toe veel te wense oor.

Maar hy het nie.

Dankie 9 – oor…

Boeta se les:

Yanik – hier is nie eintlik baie lesse in hierdie storie nie. Ek skryf dit maar meer vir die manne van Hurricane. Jy is nog te klein – wil nie graag hê jy moet hierdie nou al lees nie. Maar eendag as jy groot is en jy lees hierdie, onthou dan net die volgende:

  1. As jy voel jy wil pie, gaan pie. Moenie dit uitstel nie. Dit kan lei tot byname.
  2. As jy ooit vir iemand ‘n brief skryf, dink mooi wat hulle daarmee gaan doen voordat jy hom pos.
  3. As iemand ooit met jou oor die radio wil praat, het jy nie die reg om die gesprek kort te knip nie.

Lief vir jou

Pappa

Die slakkie storie

Real photo of a Hibiscus flower covered in volcanic ash village on the island of Sumatra, Indonesia. Photographer: Roni Bintang

Eendag vroeg in die oggend stap daar ‘n jong seun langs die see. Deur die vorige nag het duisende klein slakkies uitgespoel op die strand. Hulle lê daar en wag vir hulle gewisse dood. En vir honderde kilometers lê hulle so langs die strand. Die jong man tel ‘n slakkie op en gooi dit in die see. Dan stap hy vrolik na die volgende slakkie toe en gooi dit in die see. En dan nog een. En nog een. Sonder dat hy ophou.

‘n Ou man staan en bekyk die petalje sinies van ‘n afstand af, en trek so liggies aan sy pyp. “Hei boetie” roep hy die jong seun. “Wat maak jy…?”

“Oom – ek gooi hierdie slakkies in die see anders gaan die son hulle verbrand”

“Boetie – maar jy gaan mos nie ‘n verskil maak nie. Daar is letterlik miljoene slakkies op hierdie strand vir kilometers aaneen. Jy mors jou tyd…”

Die jong seun tel toe nog ‘n slakkie op, en gooi dit in die see. “Dit het ‘n verskil gemaak aan daardie slakkie, Oom!”

Leonardo Felice Buscaglia het hierdie storie oor my pad gebring ‘n lang tyd terug toe ek nog jonk en mooi was. En dit het al die jare by my gebly. En lank nadat hy dood is, het hierdie konsep gestalte gekry in die wetenskap. Maar soos wat die wetenskap nou ook maar is, maak hulle dinge baie gekompliseerd. Hulle gee hierdie konsep toe ‘n naam:

“Appreciative inquiry”…

Gaan google dit. Die ding is groot oor die wêreld heen. En daar is definisie op definisie hieroor. Jy sal verlore raak as jy jou arms om die konsep probeer kry. Maar dit is baie kragtig. Die bietjie wat ek daarvan verstaan…

Een van die dinge waaroor ek nie skaam is nie, is dat ek dit nogal kan regkry om dinge te vereenvoudig. Ek mag dit nou maar sê op my ouderdom sonder dat ek bang is dat iemand dink ek is arrogant. Hulle gatte ook. Miskien is dit omdat ek ook maar net so ‘n eenvoudige brein het. Ek sukkel met ‘n konsep, en as ek dit nie kan vereenvoudig dat selfs ek dit kan verstaan nie, dan laat ek dit maar verbygaan, want dit is bo my vuurmaakplek. “It is like trying to explain the Milky Way to an ant…” Jy kan maar probeer soveel jy wil, daardie miertje gaan nooit sy kop knik in begrip nie…

So kom ek probeer hierdie ding vir jou verskriklik eenvoudig vertaal. Die ou model van probleemoplossing behels dat ons ‘n probleem identifiseer. Ons stuur dan ‘n klomp konsultante in met swart tassies en netjiese pakke om vir ons te vertel wat die “AS IS” en die “TO BE” situasie is, en hoe groot die gaping is tussen die AS IS en die TO BE. Dit word dan ‘n aksieplan wat baie nou bestuur word en mense hardloop rond met “laptops” en wyshede en opinies – net om een ding reg te kry….om die TO BE te bereik. Binne tyd en begroting. Sukses word dan gedefinieër as die mate waarin die TO BE bereik is of nie.

Dit is probleemoplossing in ‘n neutedop. Wat is die AS IS? Wat is die TO BE? Wat is die plan? Hoe ver is ons van die TO BE af? Wat moet ons nou doen?

Hou nou vas aan jou stoel. Kom ons draai hierdie konsep heeltemal op sy kop. Verbeel jou dat niemand ooit probeer vasstel wat die AS IS, die TO BE of die aksieplan is om van die AS IS na die TO BE te gaan nie. Verbeel jou ‘n wêreld waar ons net een vraag vra:

“Wat werk…?”

Ons probeer nie bepaal wat die gaping is nie. Ons probeer nie idealiseer oor die perfekte wêreld nie. Ons spandeer nie tyd om die nare AS IS-situasie beter te verstaan nie.

Nee – ons het net een bril. En daardie bril kyk na wat werk. Daardie bril sien net die “magic” in enige individu, span, organisasie, land of wêreld raak. Daardie bril laat nie toe dat die “noise” van dit wat nie werk nie, hom van sy visie en hoop laat verloor nie. En as daardie bril die “magic” raakgesien het, dan eens vra hy vraag 2:

“Hoe kan ons hierdie “magic” meer maak?” Hoe maak ons die volume harder van die bietjie “magic”?

As daar net 1% “magic” lê en die ander 99% is bloed en hare, hoe vat ons daardie 1% en maak dit 2%? En dan 3%? En dan 4%. Want daardie bril verstaan die feit dat eers as jy fokus op wat werk, dat dit wat nie werk nie, of verdwyn of minder raak oor tyd.

Want ons kry waarop ons fokus…

“If we focus on what works, what does not work seems to disappear…”

Dit is “appreciative inquiry” in ‘n neutedop. Dit is die teenoorgestelde van probleemoplossing!

Jy los geen probleem op nie…

Jy maak net meer van dit wat reeds werk….!

Kom ons maak dit nog meer prakties:

Wat sou gebeur met jou in jou huwelik as jy ophou om te fokus op dit wat nie werk nie? Heeldag huil en kerm want hy doen nie dit nie en sy doen nie dat nie. En in die plek daarvan eerder die brilletjie opsit en begin raaksien wat wel werk..selfs al is dit net 2% wat werk? En dan sistematies uit-“figure” hoe om dit na 3% en 4% en 5% te vat…?. En jou energie put uit die “magic” uit, selfs al is dit min? Soos om ‘n slakkie terug te gooi in die see in? Met blydskap! En al jou geld, tyd en energie insit op die bietjie wat wel werk…as wat jy dit gooi in die bodemlose put van die oorweldige aantal dinge wat nie werk nie. En daarmee saam toelaat dat jy gedreineer word deur dit wat nie werk nie…?

Hoekom is ons organisasies nog in die oertye wanneer dit by hierdie konsep kom? Ons vereis van ons mense om elkeen ‘n persoonlike ontwikkelingsplan te hê wat belyn is met wat jy moet doen in jou werk. Maar ons maak seker dat daardie ontwikkeling in areas is waarmee jy nie goed is nie, sodat deur ontwikkeling jy bietjie beter kan word in jou “ontwikkelingsarea”.

Dis soos: “Pietie – jy is baie sleg met onderhandeling. So ons gaan baie geldjies betaal dat jy op ‘n kursus kan gaan om so ‘n bietjie beter kan word met onderhandeling….”

NEEEE…!

Wat van:”Pietie – jy is moer sleg met onderhandeling. Kom ons “face” dit. Ons is nog steeds lief vir jou…Maar jy is uitstekend met fasilitering. Ons gaan ons min geldjies spandeer om jou selfs nog beter te maak in fasilitering. En die onderhandeling ding – dis nie ‘n “issue” nie. Ons bestuur hom. Jou gaan baie meer waardevol vir ons wees as ons dit waarmee jy klaar goed is, selfs nog beter maak..”

Hoekom probeer ons visse te laat vlieg? Of voëls te laat swem? Ek sien te veel mense in organisasies wat met alles in hulle probeer om te vlieg want hulle baas verwag dit van hulle. Maar hulle kom nie in die blêddie lug in nie. Want hulle is visse. Hulle het nie vlerke nie. Hulle is gemaak om te swem, nie om te vlieg nie…

Asseblief base – julle is wreed as julle visse “force” om te vlieg. Hou dadelik op daarmee…Hy gaan nooit vlieg nie! Hy gaan dit ook nie vir jou sê nie. Want hy is bang jy gaan hom “fire” as jy eendag agterkom hy is eintlik ‘n vis! Stop asseblief met simpel kursusse om hom in die lug in te kry! Laat hom swem – dis waarmee hy goed is! Maak hom eerder ‘n beter vis! Dis net goeie bestuur.

Elke keer wat ek in situasies kom wat my “paralyse” omdat daar soveel bleddie slakke op die strand lê, dan probeer ek die vraag vra:

“Maar wat werk…? Daar moet iets tog iets wees…?”

As Malema dreig met volksmoord, dan vra ek: “Maar wat werk..? Daar moet tog iets wees?” Ten spyte van versoeking om soos die ou man maar net liggies my pyp te trek in sinisisme.

As die Proteas hulle gat sien, dan vra ek:” Maar wat werk? Daar moet tog iets wees?” Ten spyte van versoeking om soos die ou man maar net liggies my pyp te trek in sinisisme.

As Ace dreig met nationalisering van die Reserwebank, dan vra ek: “Maar wat werk? Daar moet tog iets wees?” Ten spyte van versoeking om soos die ou man maar net liggies my pyp te trek in sinisisme.

As Steve Hofmeyer nie meer mag sing op konserte nie, maar BFF mag sê dat 5 blankes sal doodgemaak word vir elke swarte wat doodgemaak word, dan vra ek:” Maar wat werk? Daar moet tog iets wees…?” Ten spyte van versoeking om soos die ou man maar net liggies my pyp te trek in sinisisme.

Jy sien – ek is moeg om toe te laat dat die magdom slakkies op die strand my moedeloos maak en maak dat ek niks meer wil doen nie. Want kom ons wees eerlik met mekaar. Daar is flippen baie slakke wat moet water toe, anders gaan hulle vrek. Maar om my pyp saggies te trek en niks te doen nie omdat dit volgens my nie ‘n verskil gaan maak nie, is doodeenvoudig net ‘n “cop-out”.

“Even if I knew that tomorrow the world would go to pieces, I would still plant my apple tree” – Martin Luther

Kom ons gooi die slakkie terug in die water…

Boeta se les:

Yanik – nog lank voordat Buscaglia die storie vertel het en die wetenskap dit later geformaliseer het, het jou Pa dit al geweet. Want in sy liefdesbrief aan jou skryf hy vir jou: “Finally, brothers and sisters, whatever is true, whatever is noble, whatever is right, whatever is pure, whatever is lovely, whatever is admirable–if anything is excellent or praiseworthy–think about such things.” Fil 4 vs 8

Lees hom weer.

Vra Hy nie vir jou en vir my om ons brilletjie op te sit om dit raak te sien wat mooi is nie? Om die “magic” raak te sien nie? Tussen al die seer en die pyn en die bloed en die hare en die frustrasies en die rassisme en die reuk van buskruit en dreigemente en armoede en misdaad en moord en dood en haat en honger en taxi’s…?

Daar is altyd iets wat werk. Altyd.

Gooi altyd die slakkies terug in die see. Maak nie saak hoeveel daar is nie.

Een vir een.

Selfs al lyk dit asof jy geen verskil gaan maak nie. Moenie moed verloor nie.

Jou Pa het dit gedoen toe Hy hier was op aarde. Gaan lees maar.

Jy sal sy voetspoor vind.

Hy het ‘n oog gehad vir slakkies wat op die strand uitgespoel het.

Lief vir jou

Pappa

Die “gentle” storie

You cannot solve it – you can only balance it…

Een van die konsepte wat baie laat eers in my lewe ingekom het, is polariteite. Ja – dis ‘n verskriklike groot woord. Ek sukkel selfs om dit te spel. Maar dit het baie dinge in my ou nietige lewetjie verander.

Toe ek dit die eerste keer raakloop, was dit op ‘n kursus in Johannesburg. Die fasiliteerder vertel ons toe van “the Tyranny of the OR, and the Genius of the AND”. “The Tyranny of the OR” beteken dat jy na sekere dinge in die lewe kyk met ‘n dualistiese denkraam. Die antwoord is of A of B. Maar nie altwee nie. Dit werk vir sekere dinge. Jou potlood val van die tafel af. Die oplossing is eenvoudig – tel dit op! “Problem solved”…

Maar sekere ding in die lewe is nie so eenvoudig nie. Wat maak jy as die oplossing A en B is…? Vat iets so eenvoudig soos asemhaling? Moet jy inasem (A) of uitasem (B)? Jy gaan altwee moet doen. En jy gaan dit perfek moet doen. Want as jy meer inasem as uitasem, of meer uitasem as inasem, dan het jy probleme..

En deur altwee te doen gaan jy nooit die probleem van asemhaling kan oplos nie. Dit is nie oplosbaar nie. Jy gaan vIr die res van jou lewe moet asemhaal. Of jy nou wil of nie. Anders gaan jy vrek. Dit is “the genius of the AND” – wanneer jy die dag besef dat altwee reg is – beide inasem en uitasem. Wanneer jy die dag besef dat daar sekere dinge is in die lewe wat jy doodeenvoudig nie kan oplos nie.

Jy kan dit net balanseer.

Inasem en uitasem.

Nie te dink inasem is die antwoord of uitasem is die antwoord nie. Want dan is jy weer vasgevang in die ‘tyranny of the OR”.

En met hierdie nuwe bewustheid van my het ek al hoe meer polariteite begin raaksien wat ons eerder moet balanseer (“genius of the AND”) as om te probeer oplos (“tyranny of the OR”). Dis mos maar altyd so. As jy ‘n nuwe kar koop dan sien jy skielik daardie karre op die pad. Dit was altyd daar, maar jy is nou net bewus daarvan. Ek lig ‘n paar uit:

  • “ego vs vulnerability” – Ek sien te veel mense wat heeltemal oorgedonder het aan die “ego”-skaal en glad nie bewus is dat hulle dit moet balanseer met “vulnerability” nie. Dis amper soos die keiser wat nie weet hy is kaalgat nie. Hulle is vasgevang in die aaklige web van “the tyranny of the OR” . Glo as hulle die vuilste grap kan vertel, of die grootste tjor ry, of die grootste wynkelder het, of die meeste geld, dan is hulle die wenner. Min verstaan hulle dat hulle moet inasem ook (“vulnerability”). Hulle is besig om te versmoor in hulle eie ego – die arme bliksems!
  • “performance vs representation” – wanneer “drop” die “penny” by ons regering, sport en munisipaliteite dat wanneer ons net “representation” nastreef sonder om dit te balanseer met “performance” dat ons dan gaan agteruit boer…? Watter “tyranny of the OR” waarin hulle hulself bevind. Hier sit ons vandag met hoeveel munisipaliteite wat pragtig verteenwoordigend is van die nuwe RSA maar heeltemal bankrot? Hulle besef nie hulle moet uitasem ook nie…
  • “doing vs being” – ons het vergeet dat ons eintlik “human beings” is en nie “human doings nie”. Ons koppel so ons identiteit aan wat ons doen, en ons status en ons posisie, en nie wie ons regtig is nie. Kyk na ‘n boom. Hy is net – hy doen nie iets nie. Hy verstaan baie beter van “being” as ons arme siele… Hierdie maak ‘n hele nuwe “topic” oor, maar gaan dink bietjie mooi oor die volgende vraag: “Wie is jy..?” Net dit. Nie wat jy doen nie, of waar jy bly nie, of wat jou naam is nie. Nee. “Wie is jy…?”. Jy sal dan agterkom dat die antwoord baie meer te doen het met “being” as met “doing”…Leer om asem te haal…
  • “giving vs receiving’ – jy kan nie net die hele tyd gee nie, en jy kan ook nie net die hele tyd ontvang nie. Ek sien elke dag van my lewe mense wat vasgeval is in hierdie “tyranny”. Of hulle is leeggegee en probeer nog die laaste druppeltje uittap, of hulle het hulle hele lewe lank net ontvang en nou skielik is daardie kraantjie droog. Nou is is hulle kwaad vir alles en almal. Jy moet altwee…anders gaan jy versmoor! Die koppie moet eers hê voor hy kan oorloop…Leer om asem te haal

Maar dan kom daar soms ‘n polariteit oor ‘n mens se lewe wat jou tussen jou oë slaan. Hard. Ek is mal oor Lewis. Ek dink hy was een van die beste breins op hierdie planeet. Hy stel dit so:

“Aslan is a lion – the Lion, the great Lion” “Ooh” said Susan.”I’d thought he was a man. Is he – quite safe? I shall feel rather nervous about meeting a lion”…

“Safe?” said Mr Beaver…”Who said anything about safe?” ‘Course he isn’t safe. But he is good. He is the King, I tell you…

C.S. Lewis. The Lion, the Witch and the Wardrobe (Chronicles of Narna, #1)

Nie “safe” nie – maar goed.

Inasem …..en dan uitasem……

Altwee……nie A of B nie…

The genius of the AND….

Boeta se les:

Yanik – ek wens dat jy eendag hierdie polariteit baie goed sal verstaan. Die ergste ding wat ooit met jou kan gebeur is wanneer die mense eendag op jou grafsteen skryf: “Hier lê ‘n pa, ‘n man en ‘n kerkganger – regtig ‘n baie nice ou…”

Want “nice” beteken nie noodwendig ruggraat nie. Dit sê niks van ‘n bereidheid om vyande te maak omdat jy bereid was om op te staan vir wat reg is nie. Dit sê eerder dat ander mense se aanvaarding belangriker vir jou was as om die alleenpad van geregtigheid te stap.

Dat “nice” belangriker was vir jou as “truth”…

Onthou altyd dat die DNA van jou Hemelse Pa (die Leeu) in jou is. Hy is nie “safe” nie, maar Hy is goed. Dieselfde DNA wat Dawid daai 5 klippies laat optel het teen Goliat. Gaan lees maar 1 Samuel 17 v 26. Dieselfde DNA as in Elia (1 Konings 18 vs 20-40) wat die Baālprofete in die openbaar verneder het. Dieselfde DNA wat Paulus sy stem laat verhef het in die publiek teen die leiers van Athene (Handelinge 17 vs 16).

Hierdie ouens was nie “nice” nie….

Hulle was nie “safe” nie, maar hulle was goed…

“Expect gentleness from the strong. Cruelty can only come from the weak”.

Wees “gentle”, maar moet asseblief nooit “safe” wees nie…

Want jou Pa verwag dit van jou.

Lief vir jou

Pappa

Die Bittereinder storie

In Namibië is daar verskillende rasse en tale. Wikipedia vertel vir jou dat 49% van die bevolking praat Oshiwambo, 11% praat Nama/Damara, 10% Afrikaans, 9% praat Kavango en Herero word weer gepraat deur 9%. Engels as huistaal word net deur 3% van die bevolking gepraat.

Maar dit is ook nie heeltemal die waarheid nie.

Daar is drie ander tale ook, volgens my. Die Owambo’s praat ook Afrikambo. Dit is ‘n mengsel tussen Afrikaans en Owambo. Die Afrikaners praat weer Namlish. Dis ‘n mengsel tussen Namibiaans en Engels. En dan is daar die Suide. Die mense in die Suide praat “bittereinder Afrikaans”.

Laat ek verduidelik.

Johannes was ons tuinwerker in Windhoek, jare terug. ‘n Trotse Owambo rou uit Owamboland (noorde van Namibië) uit. En omtrent elke tweede Owambo se naam is Johannes. Hy kon nie Engels praat nie. Net Owambo en Afrikambo. Wanneer ‘n Owambo Afrikaans praat, dan ruil hulle hul R’e om met die L’e. Alles wat jy sou uitspreek met ‘n “r” spreek hulle uit as ‘n “l”, en andersom. Wanneer hy vir jou wil vertel van sy visvang, dan sal hy vir jou dit so stel:” Ek het hom gevang dlllie garrrrjoenne daar by die Hentiesbaai…”.

Dit is suiwer Afrikambo.

‘n Owambo sonder ‘n dikwielfiets is ook nie ‘n opregte Owambo nie. Johannes kom eendag daar by ons aan met sy dikwielfiets. En later die middag toe ry hy so bietjie rond met sy fiets. Die fietsketting gly en hy slaan sy kroonjuwele hard teen die fietspyp. Ek weet hoe dit voel – dit het baie keer met my gebeur. Hy kreun en word amper spierwit van die pyn.

Toe prewel hy: “My pierrrrr is seelllll…”

Dit is opregte Afrikambo. Uit die hart uit.

 

8b8bb2fe1a11581126d0a58ddd6ff7f3
Die Namibiaanse president Hifikepunye Pohamba is ook ‘n Owambo

My oorlede pa vertel een Saterdag klop Johannes aan die deur. “Waalll is hy die follllk….?” vra Johannes vir my pa. My pa verstaan nie wat hy vir hom probeer sê nie. Hy vra toe vir Johannes wat hy wil doen. Johannes wys toe vir hom hy wil spit met die tuinvurk (“follllk”). Die R en die L word omgeruil.  Later klop hy weer aan die deur. “Waalll  is hy die halllk…?” vra Johannes. My pa is nou al geïrriteerd met Johannes want hulle kry nie gekommunikeer met mekaar nie. Hy vra hom weer wat hy wil doen. Johannes wys toe vir hom hy wil hark met die hark (“hallllk”). Nie lank daarna nie toe klop Johannes weer aan die deur. “Waalll is hom die Wambo se toirrret…” vra hy vir my pa. “Wat wil jy doen, Johannes?” vra my pa. Hy is nou al lekker gatvol, want Johannes hou hom uit sy middagslapie.

En Johannes trek los in perfekte Afrikambo: ” Ek werrr pesss….”

Want “toirret” in Afrikambo beteken toilet in Afrikaans.

Namlish weer is seker die mees geprate taal in Namibië. Wanneer ‘n Namibiaan Engels praat, dan sê ons net wat ons wat ons kan sê. Ons kan nooit sê  wat ons wil sê in Engels nie. Daarom meng ons hom maar lekker met die Afrikaans. En as jy met ‘n ander Namibiaan Namlish sou praat, dan verstaan hy jou. Ek het baie skade gedoen in Suid-Afrika met my Namlish. Vra een dag in ‘n onderhoud wat ek voer met ‘n applikant  wat sy “soccer prestations” is. Want in Namibië is ‘n prestasie in Afrikaans niks anders as ‘n “prestation” in Engels nie.

Dit is suiwer Namlish.

En toe ek skaapagtige uitdrukkings kry van ‘n klomp “fancy” Engelse toe ek ‘n deftige aandete bewoon en vra vir die “chicken legs”, toe kom ek eens later agter die regte Engels is “drumstick”. Maar as ek vir ‘n ander Namibiaan sou gevra het vir ‘n “chicken leg” dan sou hy dit vir my gegee het sonder enige vrae.

Want hy verstaan Namlish.

Maar dan kry jy ook die “bitter einder Afrikaans”. Die mense wat hierdie taal praat vat Afrikaans  na die volgende vlak toe. Jy kan met hulle praat in enige taal, maar hulle hou net eenvoudig by Afrikaans. Maak nie maak wat nie. As jy nie met hulle kan Afrikaans praat nie, dan is dit jou probleem. Nie hulle sin nie.

My oorlede pa vertel dat toe Suidwes-Afrika deur sy transformasie gaan en Namibië word, toe word die SWAUK (Suidwes Afrika Uitsaai Koöperasie) oornag die NBC (Namibian Broadcasting Corporation). En skielik is alles Engels. Niemand mag meer Afrikaans praat nie. Hulle stel net verslaggewers aan wat Engels kan praat. As jy nie Engels kan praat nie, dan is die NBC nie meer die plek vir jou nie.

So stuur hulle ‘n nuutaangestelde Owambo verslaggewer af Karasburg toe. Suide toe. Want daar is ‘n Namakoorleidster by name Anna wat blykbaar met haar koortjie die een internasionale prys na die ander wen. En hierdie Owambo (wat deel is van die 3% in Namibië wat Engels kan praat en daarom die “job” gekry het as verslaggewer ) moes toe ‘n onderhoud gaan voer met Anna.

En lewendig oor die televisie word die volgende onderhoud toe gevoer:

“Thank you for taking the time to talk to us. So in fact, actually, what is your name?”

“Nee, my naam is Anna…”

“So, Anna, in fact actually, what do you do…?”

“Nee ek het die koortjie hier op die dorp en ons sing ‘n hond uit ‘n bos uit…”

“So in fact actually you have got the choir…?”

“Ja – ek sê dan vir jjou. En ons het nou die dag ‘n “reward” gekry. Daar “oversea…”

“So in fact actually Anna, how many people have you got in your choir…?”

“Nei man ek het tien maar ons gaan nou nog ‘n bas bykry, dan is ons elf.”

Teen hierdie tyd kom die nuutaangestelde Owambo verslaggewer agter dat Anna hou by Afrikaans. Plat, maar pragtige Afrikaans.

“So in fact, Anna, actually, do you rather want to speak Afrikaans than English” vra die verslaggewer versigtig.

“Jja man, wat kom jjy hier met jjou Engels?  Jjy is nou in die Suide by Karasburg. Hier praat ons net Afrikaans…”

Toe slaan die verslaggewer oor van Engels na die mooiste Afrikaans: “Hoe het jjy nou weer gesê Anna, hoeveel mense is daar in jjou koortjie…”

Dis wat ek bedoel met “bittereinder Afrikaans”. Jy hou aan met hom totdat die ander party die knie buig en ook die taal praat!

Jy hou aan met hom, want jy is trots op hom.

Dankie, Anna.

Jy het ons gewys hoe mens dit moet doen… 

images-3
‘n Nama vrou

Boeta se les

Yanik, jou pa sukkel nog sy hele lewe met die Engels. Om in Namibië groot te word het my eintlik nou ook nie verskriklik gehelp nie.  Dit het net my Namlish so bietjie opgeskerp.

Maar ek dink jy gaan die taal bemeester. Jy praat dan nou al reeds beter Engels as wat ek ooit sou kon droom.

Maar weet jy wat? As ek bid, dan bid ek in Afrikaans. Nie in Namlish nie. Nie in Afrikambo nie. Nie in Engels nie. Nee – bittereinder Afrikaans.

Dis die taal waarin ek lag en die taal waarin ek huil, en die taal waarmee ek met God praat. En ek is soos Anna trots daarop.

Bittereinder Afrikaans.

Praat maar jou Engels, en jou Duits. Maar moet nooit skaam wees vir jou taal nie.

Dit is ons hartstaal. Daar waar die “disprin” oplos, daar is alles Afrikaans.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Die Kola Storie

Ek het vir Kola van Staden ontmoet in 1995 toe ek my internskap by MPI (Militêre Psigologiese Instituut) gedoen het. In Gezina daar in Pretoria-Noord.  Hy het ook sy internskap daar gedoen, en ons vriendskap het daardie jaar begin.

Ek het van Kola gehou van dag een af. En ek kon in my jonger jare nooit my vinger daarop sit oor hoekom ek so mal oor ou Kola was nie. Hy was een van my beste vriende. Nou met die grysheid kom die wysheid. As ek so terugdink aan hom, dan weet ek hoekom ek so mal was oor hom. Twee redes. Kola het my waardeer soos ek was – “warts & all” . Nie een oomblik kan ek onthou dat hy iets in my wou verander nie. Nie een oomblik het hy met my probeer kompeteer nie. Nie een oomblik het hy probeer om my te gebruik vir wat hy wil bereik nie. Nie een oomblik het hy probeer om te beïndruk nie. Nooit het hy afgekyk op my nie. Kola was net Kola. En ek was net ek. En dit was reg so.

Die tweede rede hoekom ek so mal oor Kola was, was omdat hy ongelooflike “fun” was. Humor en lag was hoog op die agenda wanneer Kola saam met my was. Ons het soveel dinge saam gedoen. Ons was stout, maar gelukkig nooit lelik stout nie. Ek onthou hoe ek en Kola en ‘n ander vriend van ons, Conrad, eenkeer van Johannesburg af deur is Potchefstroom toe vir die aand. Connie het ‘n “girl” gehad wat daardie tyd vir RAU (Randse Afrikaanse Universiteit) se pluimbalspan teen Potchefstroom gaan speel het. Ek en Kola is saam met Connie die aand Potch toe – ek en Kola om te gaan “kuier” en die plek uit te kyk  en Connie om vir sy meisie te kuier.

DSC04131
Kola links, Piet regs

Kola was op sy stukke daardie aand. Hy het uit volle bors vir wildvreemde meisies kliphard sonder enige  vrees gesing: ” Met jou in my lewe, kan ek soveel vermag. Dis die aand van die Oujaar wat ek toe geweet het, dat ek vir jou sal wag….”

Ja – Andre Schwartz se song. Ek verklap my ouderdom…

Dit het nie juis ‘n indruk op die meisies gemaak nie, maar vir ons was dit nogal snaaks. Veral om die verbasing op hulle gesigte te sien. En hoe hulle vinnig wegtrippel as hy lostrek.

Conrad se pluimbalmeisie het ‘n vriendin gehad wat hulle toe later die aand aan my voorstel. Ek kon nog nooit baie drink nie. Lippe word dood na die derde bier. Dan praat ek so bietjie snaaks. Ek is eintlik heel nugter, dis net die lippie was so bietjie hang.  My vriende ken my so. En toe dit later die aand word, toe word die meisie vir my al hoe mooier en ek trek los en gee haar ‘n soen. Tot my verbasing soen sy my toe terug. En net toe ek dink dinge loop nou mooi, toe spring sy op en hardloop weg.  En toe proe ek bloed. Ja – ek het die meisie se lip stukkend gebyt want my lippie was so bietjie dood.

DSC04126
Kola my Kola…

Raar maar waar.

Sy was ook in RAU se pluimbalspan en moes die volgende oggend blykbaar met ‘n dik lip teen Potch se pluimbalspan uitdraf. As daardie meisie ooit hierdie storie lees (“ek kan nie haar naam onthou nie”) , ek is baie jammer dat ek jou lip raakgebyt het. Ek het dit nie so bedoel nie.  Ek moes dit vir jou voor die tyd gesê het dat my ou lippie so bietjie dood is. Maar Kola het daardie aand oopgeloop met sy “met jou in my lewe-song” en ek het die fout gemaak om by hom te probeer hou.

Kola was sports. Maak nie saak wat ons gedoen het nie, hy het enige situasie verander in pret. My vaal ou lewetjie ingekleur. As ons op die gholfbaan was, dan het jy gekrul van die lag vir hom. As ons in die Spur was, dan het Kola net moeilikheid gemaak waar hy kom. Dit was ongelooflike “fun” om saam met Kola uit te hang.

007
Kola

En hy het ‘n diep kant aan hom gehad. Ek onthou vele aande in Johannesburg. Ons het tot vroegoggend rooiwyn gedrink, musiek geluister en gefilosofeer oor die lewe. Dan het hy sy hart oopgemaak oor sy lewe en sy pyn. En sy malligheid was ook maar net ‘n manier om sy seer weg te steek.

Een oggend was ek en hy by ‘n mannegroep – 06h00 op ‘n Saterdagoggend. En toe die groepie bid, toe trek hy eerste los met: “Genade – genade onbeskryflik groot….”. So asof hy met sy Pa praat.

Ek het amper van my stoel afgeval. Kola het verstaan van genade.

Ek was baie lief vir Kola.

file-13
Kola soos ek hom onthou….mal soos ‘n haas

En toe op ‘n dag toe sien ek dit gaan nie goed met Kola nie. Dinge het blykbaar nie so lekker geloop by sy huis nie.

Ek kon sien ou Kola trek erge “amps”.  Ek het hom die Donderdag nog gesien by GIBS (Gordon Institute for Business Science). Hy het net so voor hom uitgestaar. Ek het vir hom gevra om asseblief dit net rustig te vat. Om nie nou alleen te wees nie. Hy het nou ons nodig. Hy het na my gekyk, geglimlag en gesê: ” Ek is OK, tjom!”

Maar hy was op ‘n ander plek.

Daardie Maandag het ek ‘n oproep gekry van Pieter, sy kollega.

Kola is dood.

Hy het homself opgehang.

Die bediende het hom die Maandagoggend gekry. Yskoud.

Iewers tussen die Donderdag en die Maandag het dinge net te veel geword vir Kola.

En ons was nie daar om hom te help nie.

Ek sou so graag in Kola se pikswart spasie saam met hom wou sit voor hy homself gehang het, en vir hom gefluister het: “Kola – moenie dit doen nie. Jy is nie alleen nie ou maat. Ons is hier vir jou. Ons sal deur hierdie ding kom. Ons sal jou help, ou tjom!”

kobus i phone 11 073
Met jou in my lewe kan ek soveel vermag…

Maar dit was te laat. Die donker het te veel geword vir Kola. Agter sy lag en sy malligheid en sy menswees was daar net te veel pyn.

Boeta se les

Yanik – Daar is drie goed wat ek geleer het by Kola:

Eerstens – aanvaar mense net soos hulle is. Wees vir hulle lief net soos hulle is. “Warts & all”. Moenie hulle oordeel nie. Moenie hulle probeer beïndruk nie. Moet asseblief nooit  afkyk op hulle nie. Leo Buscaglia stel dit so:” I am an apple, and you are a pear. And it is very difficult for an apple to become a pear. So I am not even going to try.”

Moenie van appels pere probeer maak nie.

En as jy ‘n vriend ontmoet wat jou toelaat om ten volle ‘n appel te kan word, besef dat jy olie raak geboor het. Daardie vriende is so skaars soos hoendertande. Hou vas aan hulle en spandeer jou tyd saam met hulle. Hulle verstaan. Soos Kola.

Tweedens – “When you are bored you are most probably boring as hell too”.

Wees “fun”. Maak grappe. Lag.

Moenie swaar deur die lewe gaan nie. Daar is genoeg smartvrate daar buite. Daar is te min mense op die speelveld en te veel toeskouers wat kritiseer. Wees iemand wat die lekker en die lag en die “fun” kan inbring in enige dooie omgewing.  Veral in Suid-Afrika. Ons is nie gemaak om heeldag te tob nie. Ons is gemaak om die lewe in al sy volheid te geniet. Doen dit. Moenie terughou nie.

Geniet die lewe! Sing vir mense uit volle bors uit, sonder om bang te wees vir hulle reaksie.

Maar moenie hulle lippe stukkend byt nie. Dis jou pa se area daardie.

Dans in die reën. Soos Kola.

Derdens – Wanneer dit pikswart om jou word en jy op moedverloor se vlakte sit – onthou om jou hand op te steek. Jy is nooit alleen nie.  Selfs al voel dit vir jou so. Dit is ‘n leuen. As daar niemand by jou is in jou pikdonker nie, dan is God daar. Maar daar is altyd ook vriende wat by jou sal kom sit en uit hulle pad uit sal gaan om jou te help.

As jy net jou hand sal opsteek. Ek sou daar gewees het vir Kola.

Maar hy het nie sy hand opgesteek nie.

Wees lief vir die appels. Wees mal sonder om lippe raak te byt. En steek jou hand op.

Lief vir jou

Pappa

 

Die Hart storie

Ja die storie loop ‘n lang draai. Soos ek nou hier sit, moet ek nou eers behoorlik dink om al die gedagtes in my kop in gelid te kry. Ek het eers bewus geword daarvan toe ek op ‘n groot vriend van my, ou Tolla, se vyftigste verjaarsdag ‘n “speech” moes maak. Toe ek so halfpad af is in die “speech”, toe is ek uitasem. Koue sweet. Ek kon dit toe nie so lekker verstaan nie, want ek was nie op my senuwees of iets nie. Net uitasem. So ‘n rukkie daarna toe gaan doen ons die Parkrun by Kaya Mandi in Stellenbosch. Vir die wat nie dit ken nie, hy begin met twee steil bulte. Toe ek so net begin met die eerste bult, toe is al my asem op. Ek sê vir my vrou hulle moet maar klaar loop, ek wag vir hulle in die kar.

Ek glo toe vas ek is seker besig om griep of iets te kry, want ek bly uitasem. Maak vir my ‘n afspraak by my GP – Dr Tobie Roux –  vir ‘n Saterdagoggend dat ons hierdie griepvirus kan gas gee voordat hy vir my gas gee. My dokter sit toe daardie  stethoskoop op my hart soos hulle mos nou maar doen. “Voel jy OK?” vra hy. “Geen probleem – Dok. Net bietjie uitasem.”

“Jannie – jy ry nou reguit Stellenbosch hospitaal toe. Moenie R200 insamel nie, en moenie by begin verbygaan nie. Ek het klaar vir hulle gebel. Ry na ongevalle toe – hulle wag vir jou.”  Hy vertel iets van ‘n hart wat nie reëlmatig klop nie.

Ek is in my karretjie en rapporteer bekommerd daar by hulle. Hulle vat my toe reguit ICU toe, en plak my vol “stickers” en “drips” en alles wat seer maak. Slaap daardie eerste aand in ICU Stellenbosch Medi-Clinic. Die ou omies en tannies kerm heelnag hier langs my. Die een wil piepie en daardie een huil oor iets. Die volgende oggend sê die internis vir my dat hulle my met ‘n ambulans gaan oorplaas na Busamed toe in die Strand – daar is groot probleme met my hart.

Ek lê soos ‘n wafferse “casavac” agter in die ambulans en hulle jaag met my Busamed ICU toe. Weer “stickers” en naalde en bloed trek en alles waaraan jy kan dink. Die kardioloog kom sien my. “Your heart is not in rhythm. It is a condition called A-Fib (atrial fibrillation). The risk that you run is that you can get a stroke because of a blood clot due to the fact that your heart does not pump as it should. I am going to have to shock your heart to get it back into rhythm.”  Hulle maak my aan die slaap, en toe ek later wakker word, toe sien ek op die masjientjie dat my hart weer mooi ritmies klop. Ek word ontslaan. Ek dog toe alles is OK – my ou hartjie het net ‘n skok nodig gehad. As ek maar geweet het…

WhatsApp Image 2018-10-04 at 14.16.14
So lyk my hartklop nadat hulle hom geskok het. Maar net vir ‘n rukkie – dan neem die tweede korporaal oor!

‘n Week later op ‘n Vrydagaand is ek so moeg dat ek nie my hande kan optel nie. Ek maak weer ‘n afspraak by my GP. Hy sit weer sy stethoskoop op my hart. Kyk bekommerd na my. “Voel jy OK? Jou hart is weer uit ritme uit. Hierdie keer gaan jy Vergelegen toe in Somerset Wes. Dr Tjaart Venter. Maar jy mag nie self bestuur nie. Jou vrou moet jou vat”

‘n Ruk later lê  ek in ICU Vergelegen. Stickers, drips, naalde en spelde – en wat have you. Ek lê daar vir drie nagte, en my hart word seker so 4 keer geskok in daardie tyd. Elke keer as ek wakker word na narkose, dan is my hart na die skok in ritme, maar na so ‘n paar uur, dan gaan hy op hol. Heel op sy eie “mission”. So asof hy onafhanklikheid wil verklaar – sy eie republiek wil vorm!

“Jy het permanente atrial fibrillation” sê Dr Tjaart vir my. Hy verduidelik vir my wat dit beteken. Raak baie tegnies, maar soos die mense my nou maar ken, vat ek ‘n ding en vereenvoudig dit tot ek dit naderhand self verstaan. So hier is wat dit beteken volgens my: “My atrium is soos ‘n korporaal wat bevele skree op die paradegrond. My ventrikel is soos die peleton wat dril op die bevele van die korporaal. Wat nou met my gebeur het, is dat daar ‘n tweede korporaal opgedaag het op die paradegrond. En hy skree tegelykertyd opdragte aan die peleton. So die peleton hoor “links om” van die een korporaal, en gelykertyd “regs om” van die ander korporaal. En dan raak hy deurmekaar, en gaan op hol.

IMG_1873
Kyk na die groen deel. Dis wanneer jou tweede korporaal die peloton so op hol het dat die peleton oor sy eie voete begin val. Hierdie is rustende hartklop van 127 slae per minuut… Artial Fibrillation tot in die nate in. Ek weet nie hoe lank dit aangegaan het nie, maar dit is soos om ‘n marathon te hardloop dag en nag sonder ophou – vir dae tot weke aanmekaar. En jy weet nie eers dat jy besig is om ‘n marathon te hardloop nie! En as jy weet kan jy nie jou hartklop op jou eie beheer om dit stadiger te laat klop nie

“Jy hardloop ‘n marathon nou al vir weke aanmekaar sonder dat jy dit weet – 24/7″ sê Dr Tjaart vir my. Dit is hoekom ek so uitasem is. Hoekom ek nie lekker ‘n speech kon maak op Tolla se partytjie nie, en nie die Parkrun kon doen nie. Want my arme hart is in ‘overdrive” nou al vir weke sonder dat ek dit eers weet! As ek in die aand slaap dan hardloop ek ‘n marathon – ek weet net nie daarvan nie!

WhatsApp Image 2018-10-04 at 11.56.32
Tolla kom kuier vir my in Vergelegen ICU

“Ek gaan jou nie hiermee verder kan help nie – jy het nou ‘n kardioloog nodig wat werk met die elektrisiteit van die hart. ‘n Elektro-kardioloog. Dis soos ‘n kardioloog op steriods.  Intussen gaan jy maar op ‘n klomp medisyne moet gaan” sê Dr Tjaart vir my.

Uiteindelik kry ek ‘n afspraak by Prof Chin van UCT Private Academic Hospital. Hy is ‘n elektro-kardioloog. Hy verduidelik vir my dat hy my kan help met ‘n prosedure wat hulle noem “ablation”. Hulle gaan hier met ‘n pyp in jou lies in op tot in jou hart en brand dan al jou slagare aan die binnekant van die hart om ‘n eelt te vorm binne die hart wat dan maak dat jou hartklop weer in gelid kom. In my taal – hulle “execute” die tweede korporaal. Maar ek gaan moet wag want hy is besig. Baie besig. Ek kry my datum van die prosedure – 25 Januarie 2019. Gaan so twee maande moet wag daarvoor. Twee maande van pilletjies en allerhande dinge.

En toe daag die 25ste Januarie op. Ek word in Grootte Schuur se teater ingestoot, 5 ure onder narkose, en toe ek uitkom, toe klop my hart in perfekte ritme. Word die volgende dag ontslaan, en hier sit ek nou. Spekvet en gesond. My hart is op meer as 110 plekke gebrand aan die binnekant. En nou is daar net een korporaal op die paradegrond. Die ander korporaal is “uitgehaal”….

Boeta se les:

Yanik, daar is ‘n paar pennies wat by my gedrop het deur hierdie hele ervaring:

  1. Ek het ‘n tweede korporaal gehad. Net so is het ons mensdom ‘n tweede korporaal wat ongenooid opdaag en instruksies begin gooi! Hy maak dat ons harte nie in ‘n perfekte ritme met die Vaderhart klop nie. Ons word verlei deur die tweede korporaal se snoepie waar hy allerhande lekkers aan ons probeer verkoop asof ons gelukkiger sal wees as ons van daardie lekkers kan eet! Alles leuens! Net soos Adam en Eva van ouds! Niks nuuts nie – ou trick! John Piper definieer sonde as ” preferring anything else above God” ! Waar die tweede korporaal se snoepie meer aanloklik vir jou lyk as jou Pa se koningsmaaltyd!
  2.  Ek kon nie myself gesond maak nie. Om skielik te begin oefen om fiks te word sou nie help nie! Ek was reeds hoeveel weke in ‘n marathon 24/7! Sonder dat ek geweet het! Om skielik gesond te eet of gewig te probeer verloor sou nie die probleem oplos nie! Gesond eet of gewigsverlies vat nie die tweede korporaal weg nie! Nee – ek het ‘n elektrokardioloog nodig gehad! ‘n Professor Chin wat met sy goeters in jou hart ingaan en jou hart brand van binne af! Net so kan ons arme mensdom onsself nie help nie! Ons het ‘n Kardioloog op steroids nodig om ons gesond te maak. En waar Prof Chin weet van harte en waar en wanneer om te brand, kan daardie Kardioloog iets regkry wat Prof Chin nie kan doen nie. Hy vat jou hart van klip en Hy verander dit in ‘n hart van vleis! Net Hy kan dit vir jou doen….
  3.  Ek moes doen wat Prof Chin vir my sê. Dit sou my niks help dat ek weet dat ek ‘n tweede korporaal het en dat ek myself nie kan help nie en dat ek ‘n elektro-kardioloog nodig het nie maar ek weier steeds om na Prof Chin te luister nie! Nee! Hy gee die opdragte en ek doen net wat hy vir my sê! Want as ek my eie kop sou volg en nie bereid sou wees om Prof Chin te gehoorsaam nie – dan was daardie tweede korporaal nog steeds met my! Net so moet ons leer dat ware lewe kom wanneer ons besef ons is nie so slim soos die Groot Kardioloog nie! Hy weet baie beter as ons – so luister vir Hom…

Ek sou dit so opsom. Ek moes besef wat my toestand is. Ek moes besef dat ek myself nie kan help nie! Ek moes besef dat gehoorsaamheid die sleutel is tot lewe!

“The purpose of my life here on earth is to know Him and to make Him known” – Louis Giglio

Dis al.

So eenvoudig en tegelykertyd so “complicated”….

Dankie Prof Chin dat ek deur jou so ietsie kon sien van Hom! Die Groot Geneesheer! Die Een wat mense se harte gesond maak! Sodat ons die lewe kan ervaar in al sy volheid!

En seun – wanneer jy agterkom dat al wat die ou duiwel se snoepie jou bied is soos om spookasem te eet om jou honger maag vol te maak, dan is dit asof jy van eerste rat af na tweede rat toe gaan. Want sy snoepie kan jou nie gelukkig maak nie. Dis alles net ‘n leuen – en hy weet dit soos hy geweet het van die appel en Eden.

Piper stel dit so:” God is most glorified when I find my ultimate pleasure in Him”! Wanneer ek besef ware plesier is in Hom! Jou Pa!  Nie in die tweede korporaal se snoepie nie!

Vra maar vir jou pa! Die tweede korporaal se snoepie het my vir baie jare ‘n rat om die oë gedraai! Moenie dat hy dieselfde met jou doen nie!

Skop sy gat!

Lief vir jou

Pappa

Die Himba storie

Ek was in 1988 op die grens. Hurricane-basis om presies te wees. Dit is so ‘n paar kilo’s noord van Ruacana. Ons was in die artillerie. G2- kannonne. En ek was ‘n TA-sersant. Dis die outjie wat met ‘n teodoliet (‘n tipe kompas) die kanonne gerig het op die teiken wat deurgegee is na ons toe. Ons was daardie jaar meer in Angola as wat ons in Hurricane basis was.  ‘n Troep is 4 kanonne, en ‘n battery is 8 kanonne.  My “job” was om seker te maak dat daardie 8 kanonne se lope eweredig gerig was op die teiken. Ter aller tye. Dan het ons altyd eers net geskiet met 1 kanon. Hy was gewoonlik die inskietkanon. Ons het dan fyn aanpassings gemaak op die teiken, todat daardie inskietkanon 100% op teiken was. Dan was dit baie maklik om net daardie kanon se lesings deur te gee na die ander 7 kanonne. En met die volgende sarsie het daar 8 massiewe projektiele deur die lug geklief. En dan hoor jy hoe lawaai dit daar aan die ander kant wanneer daardie projektiele ontplof en die aarde uitmekaar uit geskiet word.

Ek het nooit geweet hoeveel skade ons aangevang het nie, want die teiken was gewoonlik so 30-50 km van ons af gewees. Maar ek kon net dink dat dit iets allerverskrikliks moes gewees het as daardie projektiele hier om jou ontplof.

Die eerste keer wat daardie kanonknal afgaan, is jou ore morsdood selfs al het jy oorpluisies ingehad. Dis ‘n verskriklike lawaai!  Jy hoor niks vir ‘n hele paar ure nie. Maar so met die tyd word ‘n mens gewoond aan die kanonskote en die reuk van buskruit. Ek het naderhand nie meer oorpluisies gedra nie (“tot my spyt want ek is nou half doof in my regteroor”). Ek onthou ons het soms deur die nag geskiet, en dan het ek rustig geslaap sonder om wakker te word van die geknal van kanonskote.  So gewoond word ‘n mens aan daardie lawaai!

Daar was ook ‘n baie interresante sielkunde tussen ons manne daar op die grens. So amper asof die ongeskrewe reël was dat die een wat die “meanste” is, is die wenner. As jy die meeste vloek en laster, die meeste drink of rook en die vuilste grappe kon vertel, dan was jy die wenner.  En elke dag was daar dan hierdie kompetisie – sonder dat ek dink ons ooit heeltemal bewus was daarvan. Wees rof en onbeskof, dan pas jy in. Dan is jy deel van ons. Maar as jy dit nie doen nie, dan maak ons van jou ‘n bespotting. Probeer om vir iemand te sê  dat hy nie so moet laster nie, dan kyk jy wat gebeur met jou. Probeer om op te hou rook of drink, dan word jy onmiddelik die uitgeworpene. Die bespotting. Die een wat geweeg is en te lig bevind is. Soos Warren Buffet sê: ” If you are not on the inside, then you are on the outside…”.

En om aan die buitekant te wees op die grens is nie ‘n plek waar jy wil wees nie. Want jy is op hierdie mense aangewese. Jy sit op die grens in die middel van nêrens. Dis nie dat jy in jou karretjie kan klim en net kan wegry nie. Jy moet oorleef daar – tussen al die manne wat so verskriklik rof en onbeskof is. En dan word jy ook maar naderhand so! Jy vloek en rook en drink en vertel vuil grappe, want verwerping is die ergste ding wat met jou kan gebeur. En jy begin onbewustelik om ander mense om jou te begin weeg en te lig te vind, want jy glo as jy ander kan weeg, dan is die kans skraler dat hulle jou gaan probeer weeg. En so beskerm jy jouself baie keer ten koste van ander mense. As hulle sleg lyk dan lyk jy miskien beter… Klink verskriklik siek maar dis hoe dit was.

Ek onthou ons was op ‘n dag in Hurricane, en ons moes skiet met die kanonne. Dit was helder oordag en ons kon van Hurricane af tot op ‘n berg in Angola skiet. Ek het my koördinate gekry en ek het al 8 die kanonne se lesings vir hulle oor die radio gegee. Dit was ‘n verskriklike warm dag. En soos ek die lesings gee oor die radio, sien ek toe ‘n klein Himba-seuntjie in die verte daar na ons aangestap kom. Hy was nuuskierig oor die kanonne, en kon seker maar net nie sy nuuskierigheid beteuel nie.

 

download (1)
Die Himbatjie het soos hierdie outjie gelyk

Ons lok hom toe nader om te kom kyk hoe lyk hierdie ding wat soveel lawaai maak. En grootoog en versigtig kom hy nader. Sy nuuskierigheid weeg meer as sy vrees. En ons wys hom alles van die kanon, die projektiel tot die buskruit tot die teodoliet tot die loop. Jy kon sien hy was oorweldig. Nooit gedink hierdie kanon kan so ‘n ongelooflike ding wees nie.

En toe knal die eerste skoot deur die lug. Ons is nou al daaraan gewoond. Maar die Himbatjie het dit glad nie verwag dat dit so hard gaan wees nie. Hy skrik so groot dat hy plat neerval op die grond, opspring en weghardloop.

Toe skop daardie “rof en beskof” sielkunde weer in by ons. Die troepe hardloop hom van agter af in, en bring hom terug na die kanonne toe. Sy oë is groot en spierwit van die vrees. Hy  lê op die grond agter die kanonne en huil bitterlik van die vrees. Hy probeer sy ore toedruk om weg te kom van die knal van 8 projektiele gelyktydig deur die lug. Maar dit help nie. En ons lag vir hom. Want ons is tog so rof en onbeskof.

 Boeta se les

Yanik – een van my grootste wense is om weer daardie Himbatjie raak te loop. Hy sal vandag al groot wees. Miskien al so 37 tot 40. En sal graag vir hom die volgende wil sê:

  1. Ek is verskriklik jammer dat ek nie die een was wat daardie dag opgestaan het uit die groep uit om hom weg te vat van die kanonne af nie. Ek moes hom aan sy bewende handjie vat en weglei van die kanonne af. Maar ek het nie. Want dan was ek nie meer rof en onbeskof nie.  Dan was ek ‘n uitgeworpene.
  2. Ek is so verskriklik jammer dat ek nie die een was wat daardie dag sy trane afgevee het nie. Ek moes ‘n sakdoek uithaal en sy trane afvee. Maar dit sou gelyk het soos “weakness”. Daarom het ek nie.
  3. Ek is so verskriklik jammer dat ek nie die ouens daar daardie dag vasgevat het nie. Hoe verskriklik lafhartig en pateties om plesier te put uit ‘n klein onskuldige Himba-seuntjie se vrees nie. Maar ek het nie. Want dan was ek die bespotting van die groep. Dan was ek alleen aan die buitekant en hulle aan die binnekant.
  4. Ek is so verskriklik jammer dat ek daardie dag nie teen die orders opgestaan het nie. Hulle het geweet dat hy hom morsdood gaan skrik vir die geraas, maar hulle het nog steeds die opdrag om te vuur gegee. En gelag toe hy huil van die vrees. Ek moes opgestaan het daarteen, maar ek het nie. Want om aan die binnekant te wees was vir my belangriker as om op te staan vir wat reg is.

Yanik – die binnekring is op die ou einde baie slegter as die buitekring. En die prys wat jy betaal om aan die binnekring te behoort is glad nie die moeite werd nie. Ek weet dat soos vir enige normale mens is aanvaarding deur die groep belangrik vir jou, veral op jou ouderdom nou. Maar ek weet ook nou dat om die regte ding te doen baie belangriker is as om dinge reg te doen.

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer dink ek dat dit die term “gentleness” is.  Een van my groot leermeesters Leo Buscaglia het gesê: ” Only the weak are cruel. Gentleness can only be expected from the strong”. My seun – ons was so ongelooflik “weak” . En ons het vas geglo ons was “mean” …

Hoe pateties was ons nie  – so met ons Paul Revere’s in ons monde en vuil laster en vloek op ons lippe. Om in die aand in die kroeg oor ‘n bier verder te lag oor die Himbatjie – arme armsalige ons.

Ek skaam my morsdood om hierdie storie vir jou te vertel. Maar dit is waar. Elke woord daarvan. Mag waar jy gaan jy “gentleness” bring – want wreedheid kom net van “the weak”. Mag jy hierdie les vroeg in jou lewe leer.

En as jy ooit iewers in jou lewe ‘n Himbaman raakloop van so by die 40 jaar – selfs al is dit nie hy nie – onthou tog net hierdie storie en dat jou pa daardie tyd nie mooi verstaan het van “gentleness” en “cruelty”, en “weak” en “strong” nie.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

Die Henties Storie

My pa het vir ons ‘n strandhuis gekoop in Hentiesbaai baie lank gelede. Dit was op die Suid Duin. In Pretoria is daar ‘n plek met die naam Alkantrant… toe noem ons maar die plekkie Alkantsant …..

Ons definisie daardie tyd van vakansie was maar net eenvoudig Hentiesbaai. Ons het van niks beter geweet het.  Ons het geweet suid van ons was die grote Republiek en blykbaar was daar ook ‘n see, maar al wat ons geken het was Henties en Swakopmund.  En almal wat saam met jou op skool was, het jy jaar na jaar daar gesien. Almal … die hele spul. Want ons het nie van beter geweet nie.

Photos_0003
Ek en Yanik baie jare terug in Swakopmund

In 1981 was ek in Standerd 5. Dit was daardie jaar dat die mense in die Republiek Hentiesbaai ontdek het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Hulle het met verskriklike groot 4×4’s in hulle massas die arme dorpie bestorm. Al die vleis uit die ou karige slaghuisie gekoop, al die drank uit die arme drankwinkeltjie en dan in De Duine hotel gaan sit en vertel van hulle groot planne om ‘n klomp vis te vang.

Ek het hulle maar so op ‘n afstand dopgehou. By myself gedink dat miskien weet hulle beter as ek, want hulle het darem groot 4×4’s, en net die beste katrolle en visstokke. Hierdie manne was definitief op ‘n ander “level” as ekke.

My pa het nie ‘n 4×4 gehad nie, maar ons het daardie see goed geken. Ons het geweet waar om galjoen te vang, waar om kabeljou te vang, watter aas om te gebruik vir watter vis, wanneer om te vang en wanneer om te weet dat die see jou niks gaan gee nie. Met ‘n stokou Penn katrolletjie en doodgewone visstokke het ons gereeld vele visse gevang langs daardie kus. En met ‘n ou Datsun Nissan 1400 bakkie het ons op plekke gery waar min mense dit sou oorweeg. Ons was “locals”.

Op ‘n dag kom my pa na my toe met die storie. Die ooms van die Republiek het hom gevra of ek nie saam met hulle kan ry en vir hulle wys waar om vis te vang nie. Hulle sukkel blykbaar. Desnieteenstaande hulle toerusting en 4×4’s en drank en vleis en oorvloed vang hulle geen vis nie. En toe een aand in die hotel toe word daar vertel hulle het iemand nodig wat hulle gids kan wees in hierdie dorre wêreld – en soos die noodlot dit wil hê word my naam toe genoem. Laat ek net onmiddelik dit noem – daardie tyd was daar baie Namibiërs daar wat baie beter was as ek met visvang, en ek erken dit ruiterlik. Maar ek was darem ook nie te sleg nie. Ek het darem geweet van watter hoek vir galjoen en watter hoek vir kabeljou, en waar vang jy wat, en al die ou klein dingetjies wat jou help om jou vissie te vang.

Die volgende oggend 04h00 toe is dit nog pikdonker. Vyf 4×4’s stop voor ons huisie – Alkantsant. Ek klim grootoog saam met die oom in die voorste 4×4. Nog nooit in my lewe in so ‘n groot kar gery nie. Net knoppies waar jy kyk. Hulle bied my koffie aan en biltong en dra my op hulle hande. Ek is nou die Moses wat hulle nou na die Beloofde Land gaan lei van baie vis.

“Watter vis wil Oom vang” – vra ek nadat ek genoeg moed bymekaar geskraap het om ‘n woord uit te kry. “Boetie – enige vis. Ons is nou hier vir ‘n week en ons het nog niks gevang nie.”

Ek weet dadelik waarheen om hulle te vat. Ons het ‘n vangplek net so anderkant Myl 69 daardie tyd gehad waar ek elke keer ‘n paar kabeljoue uitgetrek het. Jy hoef nie ver in te gooi nie, en daar is selfs rotse naby as die manne wil galjoen vang.  “Watter aas het Oom” – vra ek weer. “Boetie, ons het alles. Rooiwurm, stinkaas, pilchards, mossel you name it we have got it….” lag die Oom en trek sy Paul Revere diep.

Daardie aand toe hulle my kom aflaai by die huis, toe het hulle nie een vis gevang nie.

My pa vra my wat het gebeur. “Pa, hierdie mense is ongelooflik haastig. Hulle gooi in en dan katrol hulle sommer dadelik weer op. So asof die vis moet resies jaag om by die aas uit te kom”.  En dan wil hulle sommer dadelik na ‘n ander plek toe gaan want hier is dan nie vis nie. Dis asof iets hulle jaag Pa…”

DSC00234
Yanik met ‘n stuk brood en sy onnie op Myl 4 net noord van Swakopmund

“Het jy vir hulle vertel dat hulle moet geduldig wees?” vra my pa. “Nee Pa, ek kan mos nie vir die Ooms dit sê nie. Hulle ry dan hierdie groot karre en Pa moet hulle katrolle en visstokke sien. Hulle weet tog seker meer as ek…wie is ek nou?”

“Jannie” sê my pa, “môre as die mense jou weer kom haal, dan gaan ek vir hulle sê dat hulle jou opdragte streng moet gehoorsaam. Niemand gooi hulle lyne in as jy nie vir hulle toestemming gee nie, en niemand katrol op as jy dit nie goedkeur nie. Anders is dit baie eenvoudig – jy gaan net nie weer saam nie…”

DSCN0163
My pa so ‘n paar jaar voor sy dood. As ek net sy wysheid alles op papier kon kry sou hierdie wereld soveel beter gewees het…

Ek staan so ‘n entjie weg die volgende oggend 04h00 terwyl my pa deur die 4×4 se venster met die Ooms praat. Maar ek kan sien so op ‘n afstand hy is baie ernstig en die ooms knik net hulle koppe. En so is ons daar weg die oggend…

Daardie aand in 1981 toe daardie 5 4×4’s in die dorp inry, toe hang hulle omtrent op die grond so baie vis het elkeen gedra. Dit was nog voor die tyd van kwotas waar jy soveel vis kon vang as wat jou wou. Kabeljoue, steenbras, galjoene, kolsterte en barbers by die dosyne. Die manne is in baie goeie gees daar weg toe hulle my aflaai by Alkantsant voordat hulle De Duine hotel toe gaan om hulle stories verder te gaan vertel oor ‘n bier.

“Daar is ‘n verskriklike belangrike les wat jy moet leer uit hierdie ervaring, Jannie” sê my pa nadat hy ‘n vuurtjie vir ons aangesteek het in die kaggel. “En ek wil graag dat jy vir my sê wat jy dink daardie les is…?”

Swakopmund lank lank gelede
Pa en seun in Swakop jare terug

“Dis seker maar dat die mense na my geluister het Pa?”, mompel ek want ek is self nie so seker nie.

“Nee my kind, die les is baie groter as dit. Dit gaan oor ritme. Daar is ‘n sekere ritme in hierdie land, en voordat jy nie “in sync” kom met daardie ritme nie, gaan jy oneffektief wees. Jy kan nie met groot 4×4’s en baie geld en drank en die beste katrolle en visstokke daardie ritme verander nie. Dit is groter as jy. Kom in pas met die ritme om jou. Die oomblik toe die omies na jou luister en jy hulle in pas bring met die groter ritme, toe kom die vis. Het jy dit geweet?”

Daardie tyd het ek dit nie mooi verstaan nie. Maar nou, jare later,  verstaan ek dit nou baie beter wat my pa my probeer leer het daardie dag.

Boeta se les:

Yanik my seun, dit gaan alles oor ritme. Ons dans baie rukkerig as mense omdat ons nie die groter ritme om ons lekker verstaan nie. Maar ook baiekeer omdat ons dink ons eie ritme is belangriker as die groter ritme om ons.

Leer hierdie les terwyl jy nog jonk is! Ou Dok Craven het dit mooi gestel: “Jy is nie groter as die spel nie…” En as jy dit begin verstaan dan is dit sommer asof alles makliker is. Want jy dans nie meer so rukkerig nie.

Ek lees nou die dag hierdie stukkie, en dit som nogal op ‘n manier op wat ek vir jou probeer leer: “The biggest lesson I learned this year is to not force anything: conversations, friendships, relationships, attention, love (en mag ek byvoeg visvang…?). Anything forced is just not worth fighting for, whatever flows flows, what crashes crashes. It is what it is.”

Ons is nie groter as die spel nie my liewe kind. Ons is maar net klein miertjies wat die heelal probeer verstaan. Maar daar ‘s ‘n groot God wat ons geskape het, en dit is Hy wat die groter ritme skep waarbinne ek en jy kan dans. “He plays the music, you and I must do the dancing…”

Ek wonder of daardie omies dit daardie tyd verstaan het? Toe hulle die lang pad terugvat Republiek toe, het die “penny gedrop” of nie?

Wees jy eendag iemand wat nie rukkerig dans nie….

Lief vir jou

Pappa

Die Tolla Storie

Ek was nog nooit bang vir risiko in my lewe nie. Ek het ‘n boekie gelees jare gelede by name “Living; Loving & Learning” deur Buscaglia. Daar is baie wyshede in die boekie, maar een wysheid wat ek nooit sal vergeet nie, is die volgende: “The biggest risk in life is to take no risk….”

file-10
Tolla sit op sy ma se skoot

En dit kan ek regtig sê – ek het nog altyd risiko as my vriend gesien. Dit beteken nie ek was nie bang nie. Maar ten spyte van die bang, het ek altyd deurgedruk. Dis miskien hoekom ek vandag lyk soos ek lyk – omdat ek nie maklik nee sè vir risiko nie. “Sometimes we need to learn to simply jump off the cliff and then to build your wings on the way down”.  Ek het nog altyd gewalg in mense se oordrewe behoefte na sekuriteit en mensgemaakte troontjies. Hou vas aan ‘n ou grashalmpie terwyl die wye wêreld vir jou lê en wag. Grootte van die kantoor. Eie parkeerplek by die werk of nie. Ken hierdie of daardie belangrike persoon.

file-12
Tolla met die geel hemp

Maar 2018 was ‘n ander jaar. Telke male hierdie jaar het ek by myself gedink dat ek nou meer afgebyt het as wat ek kan kou.  Hierdie keer, Du Toit, gaan jy jou gat sien. Jy wat so terg met risiko asof jy die Man van Staal is. Hierdie jaar gaan jy leer dat risiko geen man se speelmaat is nie.

file-23
Tolla die troep. Rof en onbeskof

Ons besluit einde 2017 om af te trek Kaap toe. Ek praat met my vennoot daaroor. Hy gaan die Gauteng besigheid verder groei, en ek sal soos Van Riebeeck Kaap toe kom en ons besigheid hier begin groei. Want ek is mos nie bang nie. En Desember 2017 toe is ons pens en pootjies in die Kaap. Ek, my vrou, en ons twee honde. Ek ken min mense in die Kaap, maar ek weet mos ek is goed. Ons gaan nie toelaat dat die onsekerheid van die toekoms ons “paralyse” nie. Ek gaan nie soos die ander mense wees en vashou aan my ou grashalmpies van sekuriteit nie. “To boldly go where no man has gone before…”

file-20
Tolla deel ratpacks uit op die grens aan die PB’s (plaaslike bevolking)

file-15-2863690604-1538209946991.jpeg
Tolla in ‘n MIG se bomgat in Angola

Min het ons Du Toit’s geweet wat vir ons voorlê.

Verandering het ons geskud tot in ons fondamente en op alle dimensies. Tot in die nate in. Tot daar waar die Disprin oplos. En ons kan maak asof dit OK was, maar dit was nie. Dit was hel. So asof jy oor ‘n kruiwa val. Dis nie so seer nie. Dis net so blêddie aanhoudend.

My seun was hierdie jaar in Graad 8 in Paul Roos. Verlede jaar was hy gelukkig en in sy veilge bekende plekkie in Laerskool Fontaineblaauw  in Randburg. Goed in sport. Goed in akademie. Gewild. Hy het hierdie jaar in ‘n nuwe dorp, nuwe provinsie en ‘n nuwe skool begin sonder dat hy iemand ken. Soos in niemand nie. Niks. Nul. Zero. Zilch. Dis asof ons ‘n klein plantjie gevat het en wortel en tak uitgepluk het in Johannesburg en net so oorgeplant het in Stellenbosch. En dan net verwag het dat die plantjie sal groei. Die ander kinders hier  was saam op laerskool of ken ten minste mekaar se gesigte. Vir hom was dit nie so nie. Alles was 100% nuut. Geen bekende gesigte nie.  En tipiese tiener kan jy sy pyn sien, maar hy praat nie daaroor nie. Dis nie maklik vir die plantjie om net weer te groei nie.

file-22

Tolla die veteraan

My vroutjie gee al die jare vandat ons getroud is skool en sy is ‘n uitstekende onderwyseres. Sy het haar werk bedank in Johannesburg einde 2017 na hoeveel jare van skoolgee en ons het gedink sy sal sommer vinnig ‘n “joppie” kry hier in die Kaap. Want sy het nog altyd al die werk gekry waarvoor sy aansoek gedoen het. Nog nooit ‘n “Dear Johnny” briefie gekry nie. Almal wou haar nog altyd hê. Maar hierdie keer het dit nie so gewerk nie. Poste is maar skaars, en as daar iets geadverteer word, dan het die mense lankal iemand reeds in gedagte. Lyk dit vir my. Nie dat ek eintlik omgee nie, want sy kan nou baie tyd spandeer aan ons seun. En sy doen. Maar ek sien haar seer. En as sy om die etenstafel een aand met trane in haar oë vir my sê dat ons by die punt moet kom om te erken dat dinge nie werk in die Kaap nie, dan verlang ons saam terug na die kospotte van Egipte. Dan besef ek watter pyn my vreeslose Man van Staal-benadering gebring het aan die persoon vir wie ek lief is.

file-7
Tolla – Karookind

En my honde is ook deur hel. Hulle is gewoond aan ‘n groot erf van 2330 m2 in Linden om in rond te hardloop. En hier is hulle nou in ‘n “townhouse” waar hulle nie gras onder hulle voete het nie. En die katte loop wild rond hier – Casper se siel is onrustig.

IMG_1685
Casper die Border Terriër

Want in sy definisie is ‘n kat daar om vernietig te word. Dis oorlog. Elke dag. Maar hy is “outnumbered” hier. Heeltemal. Hier is die katte in beheer, nie die honde nie. En dit maak hom mal.

file-13
Ek, Kwas & Tolla

En ja, ek self is deur hel hierdie jaar.  Die een groot projek waarop ek sou wees in Januarie 2018 kom soos die noodlot dit wil hê skielik tot ‘n einde. Net nadat ek ingetrek het in ons plekkie. Dis asof die ligte net skielik afgaan op jou. Pikdonker. En as ek nie werk nie, dan kry ek nie geld nie. “Time is money”. Dis mos maar hoe dit loop as jy jou eie besigheid het. Dit voel vir my asof ek opgedaag het in die Kaap met my “surf-board”, maar eintlik op ‘n dam lê en wag vir ‘n brander. En nie agterkom ek lê eintlik op ‘n dam nie. En almal om my gaan werk toe en doen hulle ding. En hier lê ek op my “surf-board” op ‘n blêddie dam. En wag vir ‘n brander.

file-11
Tolla en sy familie

En debietorders verstaan nie van ‘n dam en geen branders nie.  En elke maand is ons uitgawes veel meer as ons inkomstes. As ek so terugkyk, dan skrik ek. Want die woestyn was erg.

Maar nou vir die eerste keer ruik ek die reën van die Beloofde Land voor my. Vir ‘n Namibiër is daar geen lekkerder reuk as die reuk van nat stof nie. Ons woestyn is nou klaar – dit gaan nou reën. In die woestyn.

Boeta se les:

Yanik, daar is ‘n rede hoekom God vir ons vriende gee. Want hierdie lewe is in ‘n groot mate ‘n woestyn wat ons nie maklik sal oorleef as dit nie vir vriende was nie. Maar goeie vriende is so skaars soos hoendertande. En een van jou grootste uitdagings in die lewe gaan wees om jou goeie vriende te onderskei van die kaf. So kom ek help jou. Hier is vir jou ‘n formule om seker te maak die pel van jou is ‘n ware pel. Direk van jou pa af na jou toe. Ons eie formule:

G + H + L = T

G staan vir Geloof. Dr Gustav Gous wat jou pa getrou het, sê altyd: “You must be a broker of faith”.  Kyk bietjie of daardie vriend van jou geloof inbring in julle vriendskap. Oom Tolla wat jy ken, het in hierdie jaar herhaaldelike kere Deutronomium 28 oor my uitgespreek. Nie een keer nie. Herhaaldelik. Op sy mooi manier sal hy jou in die oë kyk en sê: “Jannie – jy is die kop, nie die stert nie. Geseënd sal jy wees in die stad Jannie.  En in die veld. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Jannie, die Here sal maak dat jou vyande voor jou sal uitvlug. En Jannie, die Here sal die goeie aan jou oorvloedig gee. Jannie, jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. Jannie, jy moet dit glo. Dit is waar. Dit is die Woord van God”. Maak seker jy het sulke vriende om jou Boeta, anders gaan die woestyn te erg vir jou word.

H staan vir Hoop. Dr Gustav sê : “You must be a dealer in hope”. Jou ware vriend sal altyd vir jou hoop gee. Hy sal maak dat jy uit die donker weer die lig kan sien. Hy sal maak dat jy weer opgewonde word oor môre. Hy sal nie van jou ‘n bespotting maak, of jou probeer verkleineer sodat hy beter lyk nie. Nee, hy sal jou weer in jouself laat glo. En jou kry dat jy jou kop weer sal optel. Dan hoor ek vir ou Tolla so tong in die kies:” Jannie – ‘n man van jou gelyke sal jy nie vind in die Suidelike Halfrond nie. Die Here het ‘n wonderlike plan met jou. Hy sal jou mos nooit hiernatoe laat kom om jou te vernietig nie.”  Baie kere sal hy sommer daar waar ons staan – in die publiek – vir my bid. Hardop. So op die ingewing van die oomblik. Sonder om skaam te wees oor wat die mense sal dink. Boeta, toets jou vriende en kyk of hulle oor die H dwarslat kan kom.

L staan vir Liefde. Dr Gustav sê : “You must be a giver of love”. Jou ware vriend sal liefde kan gee vir jou. Sonder om iets terug te verwag. Omgee oor jou. Dink aan jou. Bemoeienis maak met jou. Jou respekteer en jou waardeer. Jou ag. Tyd wil spandeer met jou. Jou nie wil verneder nie. Jou nie wil beheer nie. Jou nie deel van sy eie selfsugtige agenda wil maak nie. Ou Tolla het dit alles gedoen. Hy het my ingetrek in sy vriendekring in. Toe ons hier intrek, het hy melktert gaan koop en dit saam met my op my stoep kom eet. Net ons twee en een melktert en die berg. En die melktert het sy gat gesien.  En my gevra om namens al sy vriende ‘n heildronk op hom in te stel op sy verjaarsdag. Maak seker jou vriende is lief vir jou. Moenie jou geld, jou tyd, en onnodige energie mors op mense wat nie verstaan van L nie.

Die T staan vir Tolla. Hy is “a broker of faith, a dealer in hope, and a giver of love”. ‘n Man van sy gelyke gaan jy nie maklik vind nie. Hoofman oor tienduisend. ‘n Vriend duisend. ‘n Man van God. Doen regtig moeite om hierdie les te verstaan. Dit gaan jou baie help om die koring van die kaf te skei. Hierdie mense is skaars. Jy skop hom nie agter elke bos uit nie. Ou Langenhoven het mos gesê: “Wees goedkoop met jou vriendelikheid, maar baie duur met jou vriendskap”

Sy ma skryf vir hom: “Aan my wonderlike seun. Ek is so bly oor jou. Jy is nie bestel nie, maar Liewe Jesus het jou as ‘n bonus vir ons gegee. Hy het geweet, hierdie kind sal ‘n verskil maak in hierdie ou siek wêreld. Ons is so lief vir jou. Ek sal nooit vergeet, jy is op ‘n Sondag in Calvinia se hospitaal gebore nie. Min het ek geweet watter wonderlike mens jou sou uitdraai. Pappa was net so lief vir jou. Mooi dag vir jou my seun. Baie liefde. Mamma”

Yanik, daai tannie verstaan van G+H+L=T. Sy het hom so grootgemaak. Sy ken.

Leer hierdie les asseblief vroeg in jou lewe my kind. Dit gaan jou baie pyn spaar. Eendag sal daardie formule ook wees G+H+L=Y. Ek wens dit toe vir jou, en ek weet dit gaan eendag waar word.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

Die Zim storie

                       

Die jaar 2005 was ‘n baie interessante jaar in ons lewe. Ek was so pas klaar met op ‘n groot projek in Gaborone, en my kontrak is verleng vir nog twee jaar. Ons was nou in Orapa, ‘n baie klein dorpie in die middel van Botswana. My “job” was die OD & strategie-bestuurder van die grootste diamandmyn in die wêreld. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding wat ek vir niks in die wêreld ooit sou verruil nie.

Hierdie kaart gee vir jou ‘n idee waar Orapa is

Emily & Yanik

Emily wat ons helper was in Gaborone het saam met ons getrek Orapa toe. Sy was ongelooflik lief vir Yanik. Hier is hy tussen een en twee jaar oud. Orapa was blêddie warm. Ek onthou as jy uit jou “air-con” gebou uitstap, dan tref daardie hitte jou so in die gesig. En as jy dan die warm lug inasem, dan het dit soms gevoel asof jou longe brand van die hitte. Kon maklik 45 grade of selfs warm word

So het ons vir Yanik afgekoel in die snikhete warmte van Orapa

Ons sosiale lewe was op ‘n heel ander vlak waaraan ons ooit gewoond was. Ek dink dit is omdat daar so min “expats” was. Ons was maar baie op mekaar aangewese.

Jan (links); Colin (middel) en ek (regs) en Colin se vriend (op die grond) op ‘n bootjie op die Okavango rivier. Groot planne om tiervisse te gaan vang

Ons het naweke weggegaan na allerhande lekker plekke toe. Sal nooit vergeet hoe ons op die Okavanga rivier gery het en tiervisse gevang het nie. So tussen die krokodille, seekoeie en visarende deur. Dit was ongelooflik lekker. En in die aande het ons  langs die Okavango gebraai en gekuier

My poging tot ‘n tiervis

Photos3_0019
Die vrouens en die kids op die Okavango

Photos3_0012
Lyk asof Yanik ‘n babellas het

As jy ‘n Nr 2 het en jy is by die panne, dan het jy ‘n probleem

Die Makgadikgadik-panne was ‘n ervaring op sy eie. Jy kan letterlik net ry en ry en ry op die pan, sonder ophou. En wanneer die flaminke daar was, dan is die horison pienk. Dit is onbeskryflik mooi. Ja, en as jy moet toilet toe gaan, dan is jy maar blootgestel.

Namiddag rit in die Orapa Game Park

Baie middae het ons sommer net vir ‘n draai gaan ry in die Orapa Game Park. Daar was altyd iets om te sien.

Die Du Toit’s by Guma Lagoon

Hier kamp ons by LeRoo le Tau – Voetspoor van die leeu

Daar was die ongelooflikste kampplekke. As ons nie in Central Kalahari gaan kamp het nie, dan was ons by le Roo le Tau. Daar slaap jy nie lekker in die nag nie want die leeus jaag die heelnag die bokke rond.

Lynette sit, en dan van links na regs Vossie, Piet, Colin en Jan

Jan & Jacolette

So kamp jy in Botswana

Die vrouens en die kids

Tilde en Yanik

Ons Orapa vriende

My laaste aand op Orapa voor ek daar weg is einde 2005

Sonsondergang oor Guma Lagoon

Yanik se daaglikse bad as ons kamp

Pa en seun in die Botwana bos

Photos3_0009
Yanik en sy maatjies in Orapa. Toe ons terug is in Suid-Afrika, toe was hy verbaas dat daar so baie wit kinders is. Hy het sokker gespeel nog voordat hy kon loop

Los my uit mense – ek is moeg…

Yanik & Tilde

Yanik in sy onnie op ons Orapa groen gras

By Livingstone se standbeeld by die Victoria watervalle

So lyk die valle

Ma en kind en Valle

Vic valle

Die vlooimark by die Vic valle wat hierdie storie geinspireer het

So gaan hou ons Du Toit’s toe een naweek vakansie. Ons gaan kamp heel noord by Kasane. Dit is die plek waar vier lande bymekaarkom – Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe. Ons ry rond, braai lekker elke aand, en besluit maar ons moet darem een dag deurry na die Victoria-valle toe. Ons besluit ons gaan dit van die Zimbabwe kant af doen.

Die grenspos was nie te moeilik nie, en toe ons weer sien, toe is ons in Zim en op pad na die valle toe. En die Valle was pragtig. Omtrent iets om te beleef. Naderhand besluit ons om ‘n draai te maak by die plaaslike vlooimark en ietsie koop.

Dit was baie erg. Daar was baie stalletjies, maar wat my opgeval het, was die mense se ongelooflike desperaatheid. Elkeen sit by sy stalletjie, en jy sien in sy oë dat as jy nie vandag iets by hom gaan koop nie, dan gaan hy vanaand honger slaap. En as jy verby sy stalletjie loop dan was dit asof jy so pas ‘n doodsvonnis oor hom uitgespreek het. As ons wou, kon ons hulle afstry tot op die been om iets te koop. Maar dit was net eenvoudig “morally wrong” – ek het twee hout beelde vir US $50 elk gekoop by een ou omdat ek hom so uit my hart uit jammer gekry het. Die beelde was seker net R50 werd.

Ons is naderhand daar weg. Nie omdat ons wou nie. Maar omdat dit eenvoudig net te intensief was. Ons het geld, en hulle het nie. En waar ons op vakansie is, is hulle in ‘n daaglikse stryd besig tussen lewe en dood.

Toe ek agter my bakkie se stuurwiel sit, toe staan daar een van die manne by Lynette se venster. Ek dog hy gaan vra vir ‘n geldjie of iets. Toe vra hy vir haar of hy haar kouse kon kry. Sy het al huilend haar kouse uitgetrek en dit vir hom gegee. En hy het daar weggestap, vir die eerste keer in jare met kouse wat hy weer aan sy voete kon sit.

Ons het in stilte teruggery van Zim af Botswana toe. Al die pad.

Boeta se les:

Yanik – as jy hierdie storie ooit lees, dan moet jy asseblief onthou om nooit ooit jou medemenslikheid te verloor nie. Ja ek weet, dit is rof hier in Afrika. By elke robot staan daar een wat ietsie wat by jou wil hê en naderhand raak dit net te erg.

Maar as jy gesien het wat ek gesien het daar in Zim, dan sal jy verstaan dat ons hier is om ander mense te help. Daai kaalkopou in sy jassie – die Dalai Lama – stel dit so: ” The purpose of life is to help other people. And if you cannot help them – wil you please not hurt them…?”

Selfs al moet jy miskien jou kouse eendag uittrek sodat iemand weer kan voel hoe dit voel om kouse aan sy voete te kan trek. Vra vir Mamma, sy weet!

Lief vir jou

Pappa