Die Oshiterera storie

‘n Hospitaal is ‘n snaakse plek. Ek is altyd hartseer of depressief as ek myself in ‘n hospitaal bevind.  Pik ‘n traan onverwags en verlang na mense wat ek nie eers ken nie. Ek verstaan dit nie lekker nie, maar iets loop nie lekker met my as ek in ‘n hospitaal is nie.

Ou Priester, ‘n vriend uit my jong dae uit,  het altyd vertel dat hy eendag so gelê het voor die televisie op ‘n Vrydagaand toe hy skielik sien en voel hoe sy maag opswel. Hy sê dis naderhand asof hy ‘n boep het. Sommer binne ‘n uur of twee.  Besluit net daar hy moet maar eerder hospitaal toe, want iets is ernstig verkeerd.  Die twee nursies laat weet hom hy gaan moet gaan vir ‘n “enema”, want sy derm het gedraai en dit kan bars.  Hy weet nie so mooi wat ‘n “enema” is nie, maar hy weet wel dat die twee nursies baie mooi is. Hulle sê vir hom hy gaan in Saal 5 moet lê want dit is die naaste aan ‘n toilet. Maar hulle gaan eers ‘n ou oom daar moet uithaal, en hom in Saal 1 wat ver is van die toilet af sit, sodat Priester naby die toilet kan wees. Die ou manlike ego skop toe in by Priester. Meestal oor sy oningelightheid rondom wat hierdie enema-ding is. “Los die oom net daar. Ek sal in Saal 1 lê” sê hy ewe selfvoldaan. Daardie manlike ego maak mos dat jy enigiets sal doen wat nodig is om die nursies te beïndruk.

En toe gaan hy vir sy enema…

Hy vertel dat hy nog so lê in sy bed in Saal 1 wat ver van die toilet af is, toe besef hy dat sy skielike “behoefte” en die afstand na die toilet nie belyn is met mekaar nie. Hy gaan dit nie maak nie. Hy gaan hierdie mooi blink hospitaalvloer behoorlik bevuil vandag. Voor daardie twee nursies. Hy gryp sy “drip”, en hy storm uit sy bed uit. Net een van die drie wieletjies van die drip raak grond. Die ander twee hang so in die lug en raak net sou nou en dan grond, dan maak dit so “sjjjjrrrrrr- sjjjjjrrr” soos hy verby die twee nursies hardloop.  Hy vertel hy sien so in die hoek van sy oog hoe lê altwee van die nursies op hulle arms toe hy verby hulle hardloop. Hulle lag hulle longe uit, maar wil nie dat hy sien dat hulle vir hom lag nie. Sy verdiende loon. Ego is ‘n lelike ding. Hy vertel hy maak daardie toilet net betyds. Sit amper daar vir 30 minute. Die hele rol toiletpapier is net-net genoeg. En dan moet hy sy “drip” kry, sy hospitaalpakkie weer aantrek waar sy holle uitsteek agter, en weer by die twee nursies verbystap. Hulle maak asof niks gebeur het nie. Antwoord kamma die telefoon. Maak geen oogkontak nie. Sodra hy in sy bed inklim, dan kom rondte twee. Alles weer presies dieselfde. Storm uit die bed – nursies op hulle arms – 30 minute – min toiletpapier – weer verbystap  – nursies antwoord die telefoon. Hy vertel hy sal volgende keer self enige ou mens uit enige saal uitboender as hy weet dat hy weer moet gaan vir ‘n enema.

Of soos Andre Theron van Secunda my jare verlede vertel. Hy kry ‘n oproep dat sy vrou in Bloemfontein in kraam is. Maar hy is ver van Bloem af. Hy jaag met ‘n stink spoed Bloemfontein toe. Kom daar aan en hardloop na ontvangs toe. “Waar is mevrou Theron” gil hy vir die meisietjie. “Saal 7 boonste vloer – maar sy is reeds in kraam. Jy gaan moet hardloop. Gaan op met die vloer, draai links, en die derde vertrek aan jou regterkant is teaterklere. Trek dit aan en gaan dan na teater 3 op dieselfde vloer. Maar maak vinnig, ek dink jy is klaar te laat” sê die meisietjie. Hy vertel hy trek daar weg met ‘n spoed en volg so rofweg die rigtingaanduidings. En hy maak ‘n deur oop. En daar binne is moppe en besems en seep en pienk rokke met wit kolletjies en ronde pienk musse en Handy Andy en Windolene. Jy ruik net seep. En hy dink so vinnig by homself dat dinge darem baie verander het in hospitale. Min wetend dat hy die skoonmakers se kamer oopgemaak het. Hy vertel dat almal in die teater, selfs sy vrou, vir hom gelag het toe hy uiteindelik daar inwals met sy pienk uniform met wit kolletjies en mus op die kop.

My eie storie is ook maar erg. Ek kom van die Grens af einde   1988 en ek stap saam met ‘n klomp van my grenspelle in ‘n biertent in Windhoek in. En ons kuier verskriklik. Want ons dink die wêreld skuld ons. Swaar op die brandstof. Die een bier na die ander.  En skielik staan daar ‘n man hier agter my wat nie hou van my gesig nie. Hy wil my foeter omdat iemand anders bier oor hom uitgegooi het. En hy vat my so agter my kop en slaan my kop in die houttafel in. Ek was uit vir so 15 minute. Kop op die tafel, voete op die grond. En toe ek wakker word, toe is alles net bloed. En my neus sit reg onder my linkeroog. Morsaf. Ja – dit was rowwe jare daardie.

‘n Paar weke later toe lê ek in die hospitaal in Windhoek. Hulle gaan my neus nou weer breek om dit darem net so bietjie reguit te maak.  Langs my lê ‘n omie van Okakarara. Dis ‘n klein dorpie in Namibië so 50 km suidoos van die Waterberg Nasionale Park.

So lyk hy!

Ons het altyd die plek Oshiterera genoem. Maar die omie kom nooit in ‘n hospitaal nie. Jy kan dit sien. Hy is so “out of place” soos wat kan kom. Jy sien net sy twee ogies wat onder die komberse uitloer. Hy hou elke beweginkie haarfyn dop. Hy vertrou niemand nie. En hy is bang – doodbang vir hierdie hospitaal.

En so ‘n groot nurse met ‘n bolla en sulke dik bo-arms kom daar na my toe. “Trek jou klere uit, en ook jou onderbroek. Trek hierdie jurk aan en sit die mus op jou kop. Klim terug in die bed. Jy is volgende…” blaf sy nors instruksies vir my.

Ek staan toe maar ewe gedwee op en trek die jurk aan.  Sit die mus op my kop. Lyk heel lagwekkend in die spieël.  Maar dis toe ek agterkom dat die jurk my holle laat uitsteek, dat ek toe net daar besluit ek gaan my onderbroek aanhou. En ek wonder by myself:” As hulle aan my neus gaan werk, hoekom moet ek my onderbroek uittrek?” Ek is dadelik agterdogtig. Klim met onderbroek en al terug in die bed. Mus op die kop.

Na ‘n rukkie kom die Nors Nurse weer daar aan. En so waar as wragtig, sy voel onder die komberse of ek my onderbroek uitgetrek het. “Ek het dan duidelik vir jou gesê dat jy jou onderbroek moet uittrek” baklei sy met my. Ek is te bang om my agterdogtigheid met haar te deel, want sy is groot en sterk. Met daardie bo-arms sal sy my ‘n klap gee wat skrik vir niks. En hulle gaan my nou uitsit – en wat gaan sy nie dan met my doen nie? Ek besluit om maar eerder gedwee my onderbroek te laat gaan.

Ek hardloop vinnig terug bed toe, want my holle steek uit. Lê daar en wag vir hulle om my te kom haal. Na ‘n rukkie bring die nurse vir my ‘n pilletjie. Sy sê dit is ‘n “kannie-worry” pil. Ek drink hom. En voel hoe my liggaam hom dadelik oorgee aan die “kannie-worry”. Dis ‘n heerlike gevoel. Die wêreld kan maar vergaan. Ek gee nie meer ‘n blou duit om nie. Almal se moere behalwe myne ….

Met nuwe moed vra ek die oom van Oshiterera hier langs my of hy kan verstaan hoekom ek my onderbroek moet uittrek as hulle aan my neus gaan opereer?

Hy is dadelik reg met ‘n antwoord, want hy hou alles dop: “Ja boetie – dit is sodat daardie nurse aan iets kan vashou as jy sou besluit om op te staan daar in die teater as hulle besig is met jou…”

Hy maak nie ‘n grap nie. Doodernstig. Dit is hoekom jy jou onderbroek uittrek as jy hospitaal toe gaan. Moet dit nooit vergeet nie.

Boeta se les

Yanik – as jy ooit moet hospitaal toe gaan en ek is nie meer met jou nie, onthou net asseblief ‘n paar dinge.

Eerstens, moet nooit ooit stry of baklei met die nurse nie. As sy vir jou opdrag gee om jou onderbroek uit te trek, laat val daai broekie. Dadelik.  Jy is in haar hande, nie andersom nie. Vra maar vir jou pa.

Tweedens, pasop vir die manlike ego in ‘n hospitaal. Skop die ou tannie of oom self uit haar bed uit as die nurse dink sy moet ruil met jou. As hulle jou vra of jy seer het, sê dadelik ja. Selfs al voel jy geen pyn nie. “Vulnerability is the name of the game.” Met ego in ‘n hospitaal gaan jy net jou gat sien. Onthou dit. Vra maar vir Priester.

En dan, baie belangrik.  Moenie skaam wees om verkeerde klere aan te trek of foute te maak nie. Glo my, dis nie meer vir hulle so snaaks nie. Jy is die pasiënt, en hulle is die dokter. Jy is swak en hulle is sterk. Speel hom so. Hulle sien baie erger dinge as dit wanneer jy oopketel onder narkose met ‘n oop bek lê en roggel terwyl die kwyl drip op die vloer.  Vra maar vir oom Andre.

Miskien is die groot ding van ‘n hospitaal dat dit ons eintlik maar net terugbring na wie ons eintlik is. Nietig en broos.  Ons kan niks doen op hierdie aarde sonder Sy groot genade nie – selfs ons eie asemhaling is net uit Sy genade, elke hartklop net bloot genade. Geen wonder daar staan geskrywe dat die geseënd is wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Moet dit nooit vergeet nie. Ons is ongelooflik nietig. Broos, selfs al dink jy op jou jonge ouderdom jy kan alles doen.

Vra maar vir Priester, en Andre, en jou eie pa. Ons weet. Die hospitaal het ons dit geleer. Dis met ‘n drip op drie wielietjies, ‘n pienk uniform met wit kolletjies en ‘n omie van Oshiterera waar ons die lessie baie mooi geleer het.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

Die Martti Ahtisaari storie

In April 1989 is ‘n man met die naam Martti Ahtisaari Namibië toe gestuur om UNTAG (United Nations Transition Assistance Group) te kom lei in Namibië.  Die man was ‘n yster. Hy was onder andere die 10de president van Finland (1994 – 2000) en ook ‘n Nobel Peace Price winner.  Groot prestasies.

Martti

My pa werk daardie tyd (1989) by die SWAUK (Suidwes Uitsaai Korporasie). Hy kry die opdrag om vir hierdie belangrike man ‘n Namibiese ervaring te gee sodra hy land in Windhoek en net voor al hierdie groot veranderinge (Resolusie 435 en wat nog) behoorlik gaan afskop. En in die SWAUK se beskeie oordeel is daar niks beter om ‘n belangrike gas te ontvang as om 5 Landrovers behoorlik “op te kit” en dan sommer vir Martti op te laai soos hy land by JG Strijdom (die lughawe se naam destyds) net buite Windhoek. Dan ry hulle sommer van die lughawe af dadelik wes Namib woestyn toe. Jy het nie Namibië ooit ervaar as jy nie die Namib woestyn ervaar het nie. En ten minste een nag onder die sterre in die woestyn geslaap het nie.

En so kom Martti toe die dag daar aan in Namibië. My pa vertel dat die man net die beste VIP behandeling kry. Hy klim saam met my pa in die voorste Landrover en daar ry die konvooi wes, Namib woestyn toe. Hulle het die beste kamptoerusting, die beste koffie, baie duur wyn en whisky; net die beste “stretchers” en waaraan jy nog kan dink. Alles netjies ingepak in die vyf Landrovers. Martti mag nooit een oomblik ongelukkig raak nie. Hy is baie belangrik. Hy is die VIP. Hulle gaan hierdie man behoorlik op hulle hande dra. Hy sal vir altyd verlang na hierdie paar dae in die woestyn.

My pa vertel dat die Martii-ou toe eintlik ‘n baie aangename ou is. Soos hulle ry, praat hy oor alles en nog wat. Dis mooi wêreld daar waar die lughawe is – Khomas Hochland.  En as dit so bietjie gereën het, dan is dit grasgroen. Daar is darem niks lekkerder as die reuk van nat stof nie. Die konvooitjie ry deur die Khomas Hochland. Grondpad.  Hulle ry agtermekaar,  wes, Namib woestyn toe.

So lyk die Khomas Hochland

Maar soos hulle ry, word die veld al hoe yler. Dit is normaal, want jy ry wes. Jy ry woestyn toe. Soos wat jy woestyn toe rry, so is dit heel normaal dat die bome en bosse al hoe m inder word. My pa vertel dat Martti ook al hoe stiller raak soos die bome en bossies minder word.  Naderhand is dit net die uitsondering op die reël as Martii praat. Hy trek al hoe dieper in sy dop in. My pa is bekommerd. Hulle VIP is nie meer so lekker nie. En hy lyk ook nie meer so lekker nie.

Die wereld word platter. Spitzkoppe in die agtergrond

Uiteindelik kom hulle by hulle bestemming aan. Die son trek nou al water. Hulle is nou behoorlik in die Namib woestyn in. So ver as wat jy kan kyk, sien jy net vlakte. En watter beter Namibiese ervaring kan hulle nie vir Martti gee as dit nie. Hulle slaan die kamp op. Die idee is dat jy vanaand op jou “stretcher” gaan slaap onder die woestynhemel. Nie binne in ‘n tent nie. En as jy op jou een sy draai dan kan jy 800 kilometer ver kyk oor die horison. En as jy omdraai, dan kyk jy net eenvoudig 800 kilometer in die teenoorgestelde rigting in. En dan hopelik roer iets binne jou. Iets van jou eie nietigheid. Dat jy eintlik maar net ‘n ou klein miertjie is in hierdie grote heelal.  En my pa hoop met harte dat daardie “penny” sal “drop” by ou Martti vanaand…

Die Namib woestyn. Net ‘n duin sal sorg dat jy soms nie ver kan kyk op die horison nie

Hulle steek die vuur aan. Kameeldoringhout. Tafel Lager word oopgemaak. Hulle het nou ver gery. Tyd vir ‘n koue een.  Die son sak rooi in die weste.  Dis ‘n ongelooflike mooi sonsondergang. En nou gaan hulle lekker vleis braai – alles vyf ster natuurlik – want hulle VIP moet ‘n Namibiese ervaring kry.

Hulle VIP…?  Waar is hy? Hulle kom agter vandat hulle hier aangekom het, sit Martti nog steeds binne die Landrover… Hy het nog nooit uitgeklim nie. Daar is iets groot fout. My pa stap vinnig oor na die Landrover. Martti sit binne.   Hy klop liggies aan die venster. Martti draai die venster oop, maar nie heeltemal nie. “Sir, is everything OK?” vra my pa. “Are we going to sleep here tonight” vra Martti met ‘n bewerige stem. “Yes, Sir. Look, we have got a fire going. You are going to sleep under the stars here tonight. In the Namib desert. And you will hear what silence really means tonight when we sleep.  Can I get you something to drink?”

Martti beweeg nie. “Can we go, please? I will not be able to sleep here tonight. It is…. It is too remote.” My pa sien ‘n traan in Martti se oog. Die VIP is bang. Hy is bang tot die dood toe. Hy kan dit aan sy stem hoor.

Dit is sewe uur in die aand. Die son is so pas onder. Hulle is so ongeveer 300 kilometer van Windhoek af. Hulle gaan nou alles weer moet opslaan, oppak en terugry Windhoek toe.  Maar Martti is die VIP. Alles gaan oor hom. En die man is nie gelukkig nie. En hulle “job” is om hom gelukkig te hou. En dit lyk nie asof hulle dit regkry nie.

My pa breek die nuus aan die ander manne. Hulle mompel. Hulle het so uitgesien na ‘n lekker kuier hier in die woestyn. Nou stop hierdie blêddie Fin al hulle plesier.  Hulle pak op, maak die vuur dood. Traag ry die konvooitjie die lang pad terug Windhoek toe. Alle grappies op ‘n stokkie. Die “trippie” is verby.

Dis tjoepstil in die Landrover. Martti praat nie ‘n woord nie. My pa besluit om nie die gesprek aan die gang te probeer sit nie. Los die man eerder uit. Hy het ‘n paar prosesse om deur te werk in sy eie kop.

Laat daardie aand toe boek my pa vir Martti in die Kalahari Sands hotel in Windhoek in.  Martti is weer mens. Hy gaan die hele naweek in die Kalahari Sands spandeer. En dis waar hy eerder wil wees. Nie in die woestyn op ‘n “stretcher” onder die sterre nie.

Windhoek in die nag – my grootworddorp.

My pa vertel hy besef dat Martti grootgeword het in Europa. Daar waar daar die hele tyd liggies en geraas is. En dat die Namib woestyn totaal die teenoorgestelde is waaraan die arme man gewoond is. Die skok van die verlatenheid en niksheid was seker net te groot vir Martti.

Boeta se les:

Yanik, daar is ongelooflike “magic” in die woestyn. Jy moet sorg dat jy gereeld in ‘n woestyn uitkom in jou lewe. Dan gaan sit jy daar op ‘n stoel, en jy staar in die verte in. Dan  sal jy agterkom na ‘n rukkie (soms vat dit langer) begin ou “files” waarvan jy al lankal vergeet het, vanself van jou derms af na jou kop toe kom. Heel natuurlik. En daardie “files” skree dan: “Process me – process me, please!” Dan sit jy op jou stoel en jy werk deur daardie “file”. Sorg dat niemand jou pla nie. Jy moet alleen wees. Dit lei soms daartoe dat jy kliphard sit en praat met jouself, maar moenie toelaat dat daardie “file” weer van jou kop afgedruk word na jou derms toe nie. Want ons doen dit te veel.

Ons het nie meer tyd in hierdie gejaagde lewe om deur al ons “files” te werk nie. En dan kan ons nie verstaan hoekom ons moeg en uitgeput is nie. Werk asb deur jou “files”. Die woestyn is soos Traxa salf wat Mamma altyd op jou seerplekke sit. Hy trek daardie “file” van jou derms af na jou kop toe. Heeltemal op sy eie sonder dat jy enige moeite hoef te doen.  Sodat jy deur hom kan werk.

Kyk na Martti. Hulle sê hy het so gereageer want hy is nie gewoond aan die woestyn nie. Ek is nie so seker nie. Ek dink hy het besef hierdie plek gaan hom tot stilstand forseer sodat hy ook deur sy eie “files” moet werk. Dis wat ‘n woestyn doen. Jy kan nie weghardloop nie. My goeie vriend Essie sê altyd dat daar nie paaie in ‘n woestyn is nie. In ‘n groot stad met baie liggies is dit maklik om weg te hardloop. Nie in die Namib nie.

En kyk na Jesus.  Daar is ‘n duidelike patroon in Sy lewe. Hy het gereeld weggegaan na ‘n stil plek toe. Hy is versoek in die woestyn. Dis daar waar jou “files” vir jou lê en wag! Ek is seker Hy het ook daar iewers gesit en deur al Sy “files” gewerk.

Scott Peck skryf ‘n boek jare gelede – “The Road Less Travelled”. En hy begin die boek met die sin: “Life is difficult”. En dat die lewe moeilik is omdat die lewe probleme het. So eenvoudig soos dit.  En dat probleme nie weggaan as ons dit ignoreer nie. Ons dink so, maar dit is nie so nie. Hy gaan lê net in jou derms as jy hom ignoreer. Dit gaan slegs weg as ons dit in die gesig staar en daardeur werk. Dit is “the road less traveled” – om probleme te laat weggaan deur hulle in die gesig te staar en deur hulle te werk, en nie toe te laat dat hulle onverwerk in jou derms gaan lê met die vals hoop dat dit sommer vanself daar opgelos gaan word nie. Dit gaan nie.  En as jy besef dat die lewe veronderstel is om moeilik te wees want die lewe het probleme, dan is dit skielik asof die lewe makliker is.

Werk deur jou “files”, Boeta! En gaan gereeld woestyn toe sodat hulle van jou derms af na jou kop toe kan kom!

Gereeld!

Lief vir jou

Pappa

 

 

Die Staaldraad storie

In die jaar 1987 toe gaan ek Weermag toe. Net na matriek. Ek het in 1986 Matriek geskryf by Hoërskool Academia in Windhoek, Namibië.  Mnr Du Plooy het eendag tydens ons Jeugweerbaarheidsklas in sy “browns” vir ons kom verduidelik hoe belangrik dit vir ons is om Weermag toe te gaan. Ons moet gaan veg teen die kommunisme en SWAPO. Hy was verskriklik begeesterd en het sy “dog tags” onder sy hemp uitgeruk om vir ons te wys hoe belangrik die Army is. Maar ek onthou so goed dat sy “dog tags” aan sy bril vasgehaak het toe hy dit probeer uithaal. En daar staan hy voor in die klas, al sukkelende om die “dog tags” los te kry. Ons het hom skaapagtig aangegaap, maar ook deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat op ons as jong manne se skouers gelê is om ons land te beskerm sodat die vrouens en kinders lekker kan slaap in die aand. En ons het daardie klas afgesluit met ons lied: ℘In Suidwes wil ons graag bly, dis die wêreld net vir my, sorgeloos en kommervry. Met ons sweet het ons betaal, vir ons land en volk en taal, ons land, Suidwes, verre land. Wiederschau…℘ ”

Daardie middag onthou ek het ek “Green Berets” herhaaldelik geluister en my besluit geneem – ek gaan volgende jaar Army toe!

Ons moes eers gaan basiese opleiding doen in Osona basis, naby Okahandja. Ek onthou nog die dag toe ek inklaar in Windhoek en vir almal totsiens sê! Dit was ongelooflik “daunting” – ek het geen benul gehad wat voor my gelê het nie.

Die dag van inklaring saam met Anthoni van der Smit. Kyk net hoe maer is ek. My pa het gesê ek moet in die stort rondspring om nat te word…En met my hare wat so lank was het hy ook soms gesê ek lyk vir hom soos ‘n tolbos met ‘n dun stingel…! Alles darem met liefde!

Ons is op die Samil 50’s daar weg Osonabasis toe.  Eerste ding wat met ons gebeur het is al ons hare is afgesny met ‘n nommer 1 – poenskop pappie. Ons is toegedeel in ons  bateljonne. Ek onthou ek was in Charlie kompanie Peleton 5. Ons is ge-“kit” met staaldak, webbing en geweer, waterbottel, boshoed, trommel, pikstel; varkpan, slaapsak, staaldak en nog ‘n helse klomp goed wat ons kamma as troep sou nodig het. Elkeen kry ‘n magsnommer. As jy hom vergeet, is jy in jare se moeilikheid. Ek onthou myne tot vandag toe – 84802040 SCE. En dan moes ons alles in die trommel gooi, dit in die hoogvoor kry en hardloop na die volgende bestemming.

Ons is toegedeel in ons tente, en toe alles verby is, het ons so vinnig ‘n kans gekry om asem te skep op jou bed in jou tent.  “Wie is julle Samajoor?” vra ‘n troep wat sy kop daar by ons tent insteek. “Samajoor Staaldraad” mompel een van my nuwe tentmaats. “Eina – arme julle. As ek julle is sorg ek dat ek wegkom. Dis nag vir julle” – lag die troep en weg is hy. Ek het nog nie vir Staaldraad ontmoet nie. Maar dit klink nie goed nie. Lyk my ons het die verkeerde looitjie getrek. Maar ‘n ou is ook so oorweldig met alles wat gebeur dat jy nie eintlik te veel aandag skenk aan die feit dat jy toegedeel is aan “Staaldraad” nie.  Ons “bandwydte” kan nie nog ‘n verdere verrassing akkommodeer nie.

Dit word skemer. Skielik hoor ek ‘n skril fluitjie wat blaas. “Tree aan” word daar gebulder deur Korporaal Cassie. Hy was die jaar voor ons in in dieselfde skool in matriek, en nou is hy ‘n korporaal. En hy het ‘n houding aan hom soos jy nie kan glo  nie. Want ons is nou rou troepe, en nou is hy in “charge”. En alles wat ooit verkeerd geloop het in sy skoolloopbaan en al sy patologie en “issues” gaan hy nou op ons uithaal.

Ons tree aan, maar dis maar ‘n gesukkel want ons verstaan nie mooi van “Peleton, peleton aandag” nie, en nog minder van “regs rig”, en dan nog minder van “oop orde mars”. Korporaal Cassie is sommer dadelik siedend.  Ek kan sien hier gaan dit net moeilik word, maar jy kan nie weghardloop nie. Dit sal nie help nie.

“Troepe, ek wil julle graag voorstel aan julle Samajoor”  sê Cassie.  “Hierdie is Samajoor Van Niekerk”. Cassie tree terug en Samajoor van Niekerk stap na vore.  Dis ‘n snaakse mannetjie. Hy is maer – net soos ek. Maar hy loop asof hy ‘n besem ingesluk het. Skerp gesiggie, met ‘n snor wat mooi krul soos dit enige Samajoor  wat sy sout werd is, betaam. Sy “bootse” is so blink jy kan jou hare daarin kam. Hy het so ‘n klein brilletjie waardeur hy na ons gluur. Staaldraad – dink ek. Hoekom Staaldraad?

“Naand troepe” sê hy saggies en met ‘n glimlag. Hy is vriendelik die Samajoor, dink ek. “Welkom op Osona. Ek is julle Samajoor en ek gaan mooi na julle kyk. Maak seker dat julle julle ouers bel vanaand om hulle te laat weet dat julle OK is, en gaan stort en klim vroeg in die bed. Môre is ‘n lang dag”. Dan maak hy ‘n omkeer soos net ‘n Samajoor kan, en loop daar weg.

Ons is nou weer in die hande van Korporaal Cassie. Hy is nie so vriendelik nie. ” As ek een van julle bliksems vang wat nie onmiddelik aantree in jou “overalls” wanneer ek die fluitjie more-oggend 04h30 blaas nie, dan gaan jy “k@k”.  Peleton, peleton uittree…”

Ek lê die aand in my bed. Dink by myself, wat ‘n dag. Ons het ingeklaar, ek is nou in die army… Nou gaan ek ‘n soldaat word, en ek gaan veg vir volk en vaderland. Swapo se gat. En Staaldraad is nie so erg nie. Hy praat dan so saggies en so mooi met ons soos ‘n pa met sy seun. Ek sal hierdie ding kan doen…dink ek. En toe slaap ek want ek was doodmoeg.

“PRRRRRRRRRTTTTT….” knal die fluitjie 04h30 die volgende oggend. Ek is klaar aangetrek in my “overalls” en “boots”, boshoed op die kop, web-belt aan. Wag al van 03h00 af vir daai fluitjie om te blaas. Korporaal Cassie loop breëbors rond. Dis lekker vir hom om ons so te sien rondhardloop soos hoenders met afkoppe. “Tree aan…. tree aan….” skree hy, harder as gewoonlik want Samajoor Staaldraad staan daar. Hy moet darem wys hy kan die ding doen.

Ons tree aan. Langste man heel regs en dan kom die res. Dis koel, maar nie so dat ons koud kry nie. Gisteraand het dit bietjie gereën en jy ruik die nat stof. “Môre troepe” sê Staaldraad. “Hoop julle het lekker geslaap? Is almal OK?” Tjoepstil. ” Goed, ons gaan so bietjie uitdril paradegrond toe. Ek het nodig om julle ‘n paar dinge van dril te leer. Kan sien dat daar baie skaafwerk nodig is. Ek sal sorg dat julle die beste drilpeleton in Osona is hierdie jaar. Doen net wat ek sê dan sal alles OK wees.”

“Rig op die regterflank – Voorwaarts mars.” Daar gaan ons. Korporaal Cassie is soos ‘n Jack Russel tussen ons, maar veral wanneer hy Staaldraad se aandag het. “ha liek ja hiek ja hiek ja je; ha liek ja hiek ja liek ja he” dril Cassie ons met geoefende styl daar weg.  “Lang man”, skree Cassie vir een van die manne wat heel voor dril. “Jy dril soos ‘n dr@l in ‘n wasbak. Hou jou arms reguit jou dom moer.  Skouerhoogte.”  Dan struikel een van die ander manne oor ‘n klip wat hy nie gesien het nie. “Ek sal vir jou so bliks@m dat jou sn@t om jou nek sal gaan en jou f@kken nek sal afruk” blaf Korporaal Cassie. Maar Samajoor Staaldraad is heel rustig. Ons gaan nie groot probleme hê nie, dink ek. Ou Cassie is meer bek as binnegoed, en Ou Staaldraad is ‘n vulletjie. Ons gaan draaie om hom stap.

Uiteindelik dril Cassie vir ons op die paradegrond op. Die Namibiese son kom rooi op oor die horison. Dis nog baie vroeg. Ons oefen enigiets van “oop orde mars”, na “presenteer geweer” na “makeer die pas” na “na regs salueer, saluut” na “stadige pas mars”. En Cassie is tussen ons die hele tyd. “Troep, jy is so bleddie maer jy kyk seker met twee oë deur ‘n sleutelgat” slaan Cassie ‘n hou na my kant toe. “Jy kan seker ‘n appel deur ‘n raket eet” slaan hy na ‘n man hier neffens my wie se tande so bietjie uitsteek uit sy mond uit. Was seker nooit by ‘n tandarts in sy lewe nie.

Dis nou 10h00. Dis nou warm. Staaldraad is ook nie meer so rustig nie. Ek kan sien sy gesig is rooi. Weet nie of dit van die son is en of dit van frustrasie is nie. Sy oē flits ook. Iets het die man nou ernstig omgekrap. “As julle nie wil luister nie, gaan julle voel…” skree hy uit die bloute uit. Maar met ‘n stem wat so dwarsdeur jou wil breek. Dis so ‘n skril gegil.” Daardie bergkop daar doer – sien julle hom – sy naam is Plesierkop. Daar gaat julle…” jaag hy ons op teen ‘n kop wat so kilometer ver van ons af is. Terwyl ek hardloop, wonder ek by myself: “Wat het nou gebeur? Wie het vir Staaldraad de hel in gemaak.”

Plesierkop is steil, en jy sien dadelik ‘n diep spoor soos vorige arme slagoffers hulle sweet daar laat val het. Almal is na ‘n hele ruk terug. Ons is pootuit. Die hitte en Plesierkop is besig om sy tol te vat.

Maar Staaldraad lyk nou selfs meer de bliksem in. Sy gesig is bloedrooi, en hy gil so skril dat jy hoendervleis kry. “Haal julle waterbottels uit en lê op die grond” gil hy. “Rol” gil hy nog ‘n opdrag. “Staan op”  gil hy weer. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. “Rol vinniger” gil hy. “Staan op” gil hy. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. Ons begin die een na die ander opgooi, want om op ‘n warm paradegrond met ‘n moeë lyf te rol met ‘n klomp water in jou maag maak jou baie naar. Staaldraad en Cassie staan en kyk wie het nog nie opgegooi nie. “Ons gaan aanhou hiermee totdat ieder en elk van julle gek@ts het vandag” dra Cassie by tot die slagting.

Toe die laaste man opgooi, skree Staaldraad weer: “Plesierkop verlang na  julle…” en daar gaan ons weer. Ek dink by myself – miskien gaan ek al uitval op my eerste dag in die Army, want ek kan nie meer nie. Maar ek byt vas. Op teen Plesierkop, en af.  Terug na Staaldraad en Cassie toe. Cassie staan en rook terwyl hulle vir ons wag.

“Julle gee nie om vir julle maatjie nie, sien ek” sê Staaldraad. Ek verstaan eers nie, maar sien almal kyk terug. Doer op die paradegrond lê ‘n man. Sy liggaam kan nie meer nie. Hy huil kliphard. “Gaan haal die dônner” sê Staaldraad.  Ons gaan haal hom. Hy hang soos ‘n lel tussen twee manne wat hom dra. Trane loop oor sy wange. Maar dis sulke bruin strepe want sy gesig is vol stof. “Gaan lê jy daar onder die boom soos ‘n meisietjie en verlang na jou mamma, terwyl ons weer probeer met die dril” koggel Staaldraad.

Ek gaan dit nie maak nie, dink ek. As ek nog een keer teen Plesierkop moet uithardloop, dan gaan hulle my langs daardie man neerlê.  Ek sien al hoe lê ek lepel met hom onder die boom.

Die hele dag het ons gedril, gerol en gehardloop. En gekôts. En toe sak die son. Weereens ‘n pragtige sonsondergang soos jy net kan kry in Namibië.  En Staaldraad se gesig is nie meer rooi nie. En hy praat rustig en sag. Dis asof hy ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het. Wat de hel gaan aan?

Daardie aand in ons tent vertel een van die ou manne vir ons die waarheid. “Weet julle nie hoekom is sy naam Staaldraad nie? Dis omdat hulle ‘n stuk van sy skedel weggeskiet het in Angola. Hulle het ‘n staalplaat in die plek daarvan gesit.” Dadelik maak ek die konneksie. Daardie staalplaat word warm wanneer die son op hom skyn, en dan word Staaldraad geïrriteerd.  En wanneer die son nie skyn nie, dan is hy die rustigheid van self…

“Tree aan” skree Cassie. Dis aand. “Naand troepe”, groet Staaldraad ons vriendelik. “Dankie vir ‘n heerlike dag. Ek dink ons het regtig goeie vordering gemaak vandag, met beide drilwerk en fiksheid. Onthou om met my te kom praat as julle enige probleme het. Bel jou ma vanaand, gaan eet nou lekker en ons het gesorg vir lekker warm water vir ‘n stort. Skree as julle koud kry – ek het ekstra komberse…”

Ek lê die tweede aand in my bed. Die Weermag se basies was daardie jare drie maande. Drie maande wat vir my voorlê op Osona saam met Samajoor Staaldraad en Korporaal Cassie. En die son skyn elke dag op Osona. Want dit is net anderkant Okahandja. Dit is baie min dat jy enige wolke daar ooit sal sien. Genoeg son elke dag om te skyn – op Staaldraad se staalplaat.

Boeta se les:

Yanik – hierdie lewe is hard. En weet maar verseker dat jy altyd mense in enige organisasie gaan kry wat jou lewe gaan hel maak. Soos Staaldraad en Korporaal Cassie. Maar onthou een ding – Victor Frankl skryf in sy boek “Man’s Search for Meaning” dat die mens die enigste wese op aarde is waar hy die vryheid van keuse het tussen stimulus en respons. Geen ander wese het daardie vermoë nie.  Maak nie saak wat met jou gebeur op aarde nie, jy het altyd die vryheid van keuse om te besluit wat jou respons gaan wees….! Niemand kan dit ooit van jou af wegvat nie.

En watter beter voorbeeld het ons nie van dit as by ons Skepper nie? Toe Hy aan die kruis hang met spykers deur Sy hande, toe sê Hy: “Vader, vergeef hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie…!!” Hulle stimulus, en Sy respons. Ons kan net leer.

Ek het dit nooit so goed verstaan soos ek dit nou verstaan nie. My amper my hele lewe sover gevat om hierdie les onder die knieg te kry.  Maar nou verstaan ek hom beter. En as ek toegelaat het destyds dat Staaldraad en Cassie onder my vel ingekom het, dan het ek sekerlik nie dit gemaak in die Army nie. Maar ek het.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

 

Die Ons Tuis storie

My oupa was in sy laaste jare in Huis Ons Tuis in Gezina in Pretoria-Noord voor hy oorlede is.  Hy was in die Alzheimer saal.  Getref met Alzheimer’s. Dit is ‘n verskriklike siekte vir die wat weet. In 1996 was ek ‘n interne konsultant /sielkundige by die Militêre Psigologiese Instituut. Die twee geboue was reg langs mekaar.

Ek het gereeld vir my oupa daar gaan kuier wanneer ek geleentheid gekry het. Maar dit was nooit lekker vir my nie. Wanneer jy in daardie Alzheimer saal instap, dan twyfel jy soms aan God se genade. Daar sit letterlik ‘n klomp ou mensies die hele saal vol, maar dit is die doodse stilte is wat jou tref. Niemand praat ‘n woord nie. Elkeen sit net daar. In stilte. Alzheimer het hulle tot stilte gebring.

Stel jouself voor ‘n saal met so 50 -80 mense, en niemand praat ‘n woord met niemand nie. Dit is nogal ‘n onaardige ervaring.  Mense wat soveel jare se ondervinding en wysheid het maar dit nie meer kan deel nie want Alzheimer het hulle handbrieke opgetrek. Dit laat my altyd dink aan wat Eric Fromm, ‘n Duitse sielkundige gesê het:” We are so much together that we are all dying of loneliness”. Daardie stelling was nog nooit so waar elke keer wanneer ek in daardie saal ingestap het nie.

Ek vertel hierdie volgende storie met die meeste respek vir die mense wat in daardie saal sit.  Ek wil graag kontrakteer met die leser wat ‘n geliefde het wat ook al uit die Alzheimer-beker moet of moes drink – hierdie storie is nie om te spot met Alzheimer nie. Dit is net om dit makliker vir ons almal te maak deur so bietjie humor op die ding te sit. Anders raak dinge darem maar blêddie  morbied en swaar.

Ek en my oorlede pa het eendag vir my oupa gaan kuier. So stap ons toe in die Alzheimersaal in. Daar sit die ou mensies op ‘n knop. In stilte. Soveel mense en soveel stilte. Ons soek my oupa so tussen die mense uit. Niemand maak met ons oogkontak nie. En as hulle na jou kyk dan kyk hulle deur jou, nie vir jou nie. Elkeen net in sy eie ou wêreldjie.  Dan sien ons Oupa sit eenkant in ‘n hoekie. Ons stap na hom toe, en groet hom, Maar hy groet nie terug nie. Hy herken ons nie. Weet nie eers dat ons langs hom sit nie. Hy is ver weg, op sy eie plekkie iewers.

Ek gaan sit aan sy linkerkant, en my pa aan sy regterkant. Ons hou sy hande vas. Skuif reg op ons stoele. Maak reg vir ‘n lang sit in doodse stilte.  Want as jy sou praat sou jy eintlik rukkerig dans met die groter konteks.  Die stilte is groter as ons. Ons moet dit respekteer. Ons is nie groter as die spel  nie. Ontmoet hierdie mensies daar waar hulle is. Ons gaan in hulle spasie in, hulle is nie in ons spasie nie. Respek.

Voor my sit ‘n omie. Hy sit by ‘n tafel. Sy kop hang so skeef oor die tafel. Hy is baie ver weg. Verder as my oupa. En hy kwyl. En so met die tyd het die kwyl nou al behoorlik opgedam op die tafel.  Die kwyl hang eers so ‘n lang string aan sy mond totdat gravitasie naderhand die oorhand kry en dit op die tafel val. Snaaks hoe ‘n mens is – as jy so in stilte sit dan hou jy jouself maar besig met allerhande dinge. Ek begin ‘n speletjie in my kop om te raai presies wanneer sy kwylstring gaan val op die tafel.  Ek kry die oom jammer, maar ek moet myself darem ook op ‘n manier konstruktief besig hou in hierdie onaardse stilte. Of miskien is dit maar so ‘n bietjie OCD binne in my wat my nie wil toelaat om net stil te sit en aan niks te dink nie.

Dan skielik kyk hy op. Sy oë is helder. Hy soek iemand om mee te praat. Hy kyk vinnig rond in die saal op soek na ‘n maatjie vir ‘n praatjie, en dan sien hy vir my en my pa raak. Dadelik weet hy hy kan met ons praat! Weet nie hoe weet hy dit nie, maar hy het duidelik geweet!

“Julle sal nie glo wat gebeur met my nie” trek hy los na amper ‘n uur van kwyl op die tafel.  Ek is baie dik van die lag, want dit is bisar. Die een oomblik kwyl hy op die tafel en die volgende oomblik praat hy met ons asof niks fout is nie.

“Die dokter sê vir my ek het ‘n moerse probleem” gaan hy aan. “Die dokter het my laat weet dat my kop te groot is vir my lyf, en my nekwerwels gaan dit nie kan hou nie” vertel hy ons met oortuiging. “Hulle gaan my kop moet afsny – ek gaan vir drie maande sonder ‘n kop moet rondloop net om die nekwerwels ‘n kans te gee om te herstel”.

Ek kan my lag nie hou nie, maar uit respek vir die oom luister ons verder. “Haai oom – dit is verskriklik! Ons hoop die operasie sal ‘n sukses wees” praat ons hom moed in maar ek sukkel om my lag te kan hou. “Ja – en dan na drie maande gaan hulle my kop weer vasmaak aan my lyf. Teen daardie tyd is my nekwerwels dan weer reg” – vertel die oom.

Toe hoor ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd my Oupa wat praat: ” Ja – daar wag vir jou ‘n harde tyd my ou maat”. Hy het nooit ooit iets gesê as ons daar by hom was nie. Maar daardie dag het hy sy woorde ingekry.

Toe kon ek nie meer my lag inhou nie. Ek is jammer ou mensies dat ek daardie dag so gelag het in julle teenwoordigheid. Maar regtig – dit het opgebou en ek kon dit later net nie meer inhou nie. My oupa wat so ver weg was en skielik vir ‘n paar sekondes weer met ons was voordat hy weer verder op sy ver alleenreis gegaan het. Weet tot vandag nie of hy die oom geglo het of nie. Net hy sou weet.

Boeta se les:

Yanik – siekte is ‘n lelike ding. Jy gaan baie daarvan sien op hierdie aarde. Want hierdie wêreld is maar stukkend. Onthou altyd dat jy siek mense met baie respek moet hanteer. Moet nooit spot met siekte nie. Maar moet ook nie vergeet om dinge ligter te maak vir jou en vir hulle deur nie die humor in die swarigheid raak te sien nie. Probeer om jou swaarkry met lekkerkry klaar te kry sou ou Langenhoven ons leer. Anders gaan die pad maar lank en swaar word.

Vra jou pa. Daardie ou mensies het hom dit geleer. In elke situasie, maak nie saak hoe swaar en seer dit is nie, is daar altyd maar so ‘n bietjie humor. Ek glo die Vader gee dit vir ons sodat ons las nie so erg hoef te wees hier op aarde nie. Hy sê dan Sy juk is sag. Miskien is dit die humor wat Hy gee wat die juk sagter maak. Dra daardie juk, maar nie sonder die lagie humor nie. Anders gaan jou knieë knak.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

 

Visvang saam met Fanie de Jongh-hulle by die Vaalrivier

Ek en Yanik het die 22ste Julie saam met Fanie de Jongh (Springbok varswater hengelaar) en ‘n paar van sy vriende gaan visvang by die Vaalrivier.

Hulle het die vorige dag 18 visse gevang. Maar die dag was nie so goed vir ons nie. Altesaam 6 visse gevang tussen almal van ons.

Hierdie mooi karp van 4.5 kilos het Yanik uitgetrek, maar van Fanie se visstok af
‘n Naderskoot
So lyk dit daar vroegoggend
Ek het darem ‘n babertjie gevang
Tel hom op dat ons hom mooi kan sien….

Visvang kompetisie Morgenzon (Naby Oranjeville) 24 Junie 2017

Die Du Toit’s (al drie)  is toe hier weg vroeg die Saterdagoggend van die 24ste Junie  15h45 om 06h00 te kan inklok by Morgenzon by die Vaaldam.

Dit was ‘n heel skaflike dag so in die winter. Bleddie koud gekry vroeg die oggend toe die wind opkom. Maar so na 10h00 toe kom die son uit en toe gaan lê die wind. Die ervare manne vertel dat dit goed is as die wind waai want dit bring suurstof en dan is die visse meer aktief! Maar as dit te koud is dan werk dit weer teen alles!

Tussen my en Yanik het ons 6 vissies gevang. Ek het my PB (personal best) karp (ongeveer 1.3 kilos) gevang en Yanik het ook sy PB karp (1.1 kilos) gevang. Dan het ons nog 4 klein “mud-fish” tussen ons gevang.

Yanik die groot visserman

Ek het ook die tweede prys gewen onder die volwassenes met ‘n hamper met ‘n hele paar dip; floaties & mieliebom. Moes daai karp gewees het wat die ding gedoen het.

 

Vangs van die dag

Ons raak al hoe beter by die dag….

Skaars ‘n maand of twee terug het ons eers begin met hierdie visvangding – nou weet ons al hoe om mieliebom op te sit en ons raak al hoe beter met die ingooi!

Die visvangding het die Du Toit’s nou behoorlik beet! Mamper was saam maar sy het soos oudergewoonte weer net geslaap! Haar naam is nie verniet Lê- net nie…..

 

 

 

 

 

Die Calueque storie

In 1988 was ek in Angola, besig met grensdiens as deel van my nasionale diensplig. Ek was 20 jaar oud. Ek was deel van die Suidwes-Afrikaanse Gebiedsmag.  Ons was in die artillerie, en het met G2 kanonne in Angola rondgejaag. Ek moet nou wel noem dat ek nie noodwendig hierdie verskriklike grensvegter-ervarings gehad het soos baie mense soms rondom ‘n braaivleisvuur vertel nie. Dan kom jy na die tyd agter hulle het nooit regtig hulle voete in Angola gesit nie. Ons was nou wel baie in Angola in 1988, maar die aksie was maar bra min. Dit was ook aan die einde van die oorlog met Resolusie 435  en alles.  Dit was omtrent net rondry in die aande en skiet met die kanonne, en dan laaglê in die dag onder die camo-nette. Artillerie lê maar laag in die dag want ‘n MIG vegvliegtuig kan lekker skade doen aan artillerie. Ons was maar bang vir ‘n MIG.  Die nag was ons ding, want dan kon die MIGs ons nie sien nie. Snags het ons rondgery en met die kanonne geskiet.

iPhone-2017.06.06-13.44.48.095
Die foto lyk maar sleg, maar hier is ek en Gunther von Schauroth op die Calueque-brug. Die dag of twee hierna is die brug opgeblaas deur ‘n MIG. Ek is die een met die blonde kop.

Deur die dag was dit laaglê met baie sigarette en gesprekke oor alles en nog wat. Ons het mekaar baie goed leer ken so! By elke stelling waar ons aangekom het, was dit die reël dat jy ‘n “fox-hole” moet grawe in die grond wat diep genoeg is sodat jy onder die grondoppervlakte kan wees net ingeval ‘n MIG vegvliegtuig sy bomme oor jy gooi. Veral as die lug rooi is – wat beteken daar is iewers ‘n MIG in die lug. Maar glo my, jy raak maar bra gatvol om elke nou en dan so ‘n gat te grawe wat diep genoeg is.  En dan is ek nog ‘n taamlike lang ou wat ‘n dieper gat as normaalweg verg.

En toe op die 27ste Junie 1988 besluit ek ek gaan nie vir my ‘n “fox-hole” grawe nie. Snaaks hoe die lewe is – daardie een keer wat jy dit nie doen kan jou baie duur te staan kom in vergelyking met die 300 keer wat jy dit gedoen het. Hierdie les het ek baie hard geleer! Op daardie spesifieke dag was ons so ‘n paar kilometer weg van Caluequebrug. Ek het nog so lekker onder ‘n boom gesit en rook, toe sien ek dit…

So lyk ‘n guntrekker onder ‘n cammo-net in Angola

‘n MIG 23 vegvliegtuig wat besig is om reguit oor my kop te vlieg!

Die MIG het stadig en laag – boomtop hoogte – oor my kop gevlieg.  Ek kon die  Kubaan se gesig sien binne die stuurkajuit. Dit het gevoel asof ek hom met ‘n halwe baksteen uit die lug kon gooi so laag was hy en so stadig het hy gevlieg. Ek besluit toe om so agter die boomstam weg te kruip sodat hy my nie sien nie. En dan so al huppelende het ek om die boomstam gespring soos wat hy by my verbyvlieg.  Almal was veilig in hulle “fox-holes” – behalwe ek!

En so lyk dit as jy ‘n G2 onder ‘n camo-net sit

Die MIG is oor my kop en nie lank daarna nie toe hoor ons ‘n geweldige ontploffing. Ek het intussen naarstigtelik ‘n “dixie” – dis so ‘n vierkantige bakkie waaruit ons geëet het – gegryp en vir my ‘n “fox-hole” begin grawe want daar was nie ‘n graaf naby nie. Die MIG het weer oor my kop gevlieg met die terugkeer – maar hierdie keer kon jy hom net hoor, nie sien nie. Hy het alles oopgemaak terug na sy bestemming toe. Ek het binne my fox-hole gelê toe hy weer oor my kop is. Dit was letterlik ‘n paar minute wat dit my geneem het om ‘n gat in die grond te grawe met ‘n “dixie” groot genoeg om my te kan vat.  Dit is ongelooflik hoe adrenalien kan inskop as jy hom die dag nodig het. Die manne lag tot vandag toe vir my as ons oor die tye praat. Ek het boude eerste in die “foxhole” gespring , sodat my kop en voete bo was en ek na die tyd nie self uit die gat uit kon klim nie. Hulle moes my kom uittrek!

So lyk ‘n MIG-23 – gevaarlike bleddie ding hierdie

Nie lank hierna nie, toe kom die order:”Staak Vuur”. In artillerie beteken dit – “Pak op pappie, en kom weg.” Ons het die kanonne gehaak en teruggery Namibië toe. Verby Caluequebrug. Snaaks genoeg, soos die leser op die foto’s kan sien, was ons self ‘n dag of twee tevore op hierdie brug. Daar rondgeloop met my eie voete.

Maar toe ons weer daar verbyry toe lyk die prentjie heel anders. Die brug is opgeblaas deur die MIG. Eenkant het ‘n Buffel voertuig gestaan en binne die Buffel was dit net bloed. Die MIG het onder andere ‘n bom gegooi wat weer klomp klein bommetjies gooi (“‘n cluster-bom”), en een van daardie bommetjies het binne hierdie Buffel geval en daardie dag het die Suid-Afrikaanse Weermag die bemanning van ‘n hele Buffel verloor. Dit is so 11 soldate. Dit was ‘n gesig wat ek nooit in my hele lewe sal vergeet nie.

‘n Dag in die lewe van ‘n “gunner” in Angola

Maar kom ons los die storie vir eers net daar. My doel is nie om jou te vertel hoe bloederig dit was nie.  Julle kry die punt. Daar was bloed en hare.

So het die Buffel gelyk nadat die MIG met hom klaar was….
So het die brug gelyk na die MIG aanval

Ek wil jou graag “fast forward” na die jaar 1995. Sewe jaar later. Ek doen toe my bedryfsielkunde internskap by die Militêre Psigologiese Instituut (MPI). Ons is betrokke met die mees ongelooflikste dinge. Dit wissel van “pilot” en “recce”-keuring na Boesmanintegrasie na fasiliteringsvaardighede vir die generaals (ek onthou dat ek vir Generaal Siphiwe Nyanda – destyds Hoof van die Leër – fasiliteringsvaardighede geleer het) na integrasie van APLA, Umkhontho we Sizwe en die Ou Weermag na die nuwe SANDF (South African National Defence Force).

My jare by MPI. Hierdie was een of andere verskriklike dinee by SAGD. Aan my linkerkant is Andre Basson (Bass); dan Eben Geldenhuys (Eeb Teeb); dan Lindie Geyser (Reynecke) en dan Dave Peasley. Goeie tye….

Daar was onder andere ‘n kursus wat jy moes doen as jy ‘n senior offisier wou word.  Hierdie kursus was ‘n tawwe kursus van so 9 maande waar jy in ‘n “bungalow” in Voortrekkerhoogte bly saam met ander kursusgangers, en jy gaan maar min huis toe. Onthou nou net – in 1995 was ons ‘n nuwe weermag wat bestaan het uit al die vorige magte (APLA/MK/SA Weermag) wat letterlik vyande was voorheen. Nou skielik is almal in een Weermag. Stille water diepe grond – onder draai die duiwel rond….

Dit het gelei tot allerhande snaakse dinamika.  Jy kan mos nou vir jouself indink – ‘n paar jaar terug sou jy die man wat nou hier langs jou sit in ‘n kursus vrekskiet. Nou moet jy saam met hom in ‘n “bungalow” slaap en saam met hom eet! Dit is ‘n helse groot sprong as jy doodnugter daaroor dink!

Ek en Luandré Botha by die Calueque-brug ‘n dag of twee voor die MIG aanval

En in 1994 met die inname van die nuwe kursusgangers toe loop die vuiste blykbaar die eerste aand in die kroeg.  Dit noodsaak toe die grootbaas daar om die MPI te skakel en te hoor of ons nie in 1995 met die nuwe inname iets kan doen in die lyn van groepvorming nie – ‘n spanbou of ‘n kenmekaar of so iets.  Ons is tog die kopkrimpers. Ons moet tog iewers ‘n haas uit die hoed uit kan haal.  Solank die manne mekaar tog net nie met die vuis bykom soos in 1994 nie. En omdat ek in 1995 myself bevind by MPI besig met my internskap, beland ek toe ook as fasiliteerder van die “spanbou”- sessie om die APLA’s en MK’s en Boere te kry om mekaar beter te verstaan. En daardie beter verstaan beteken nie beter verstaan met die vuiste nie…. en die sessie is ook reg aan die begin van die kursus. So die druk is op….

Die slimkoppe by MPI werk toe vir my ‘n detail agenda uit wat ek moet volg vir drie dae saam met hierdie manne. Ek was doodbang, want ek is maar ‘n jong man van 27 en nou moet ek my man kan staan met geharde soldate wat die lelike kant van die lewe baie goed ken. En om dit net ‘n bietjie te vererger – hulle hou nie te veel van mekaar nie….

Alfa-troep se manne by hulle kanon

Ek sal nooit daardie oggend vergeet toe ek daar instap nie. Die vertrek was in ‘n U-vorm. Aan die linkerkant sit die MK’s en APLA’s; dan is daar so sewe stoele oop aan die agterkant van die U, en dan aan die regterkant sit die Boere. Dit is tjoepstil. Jy kan die atmosfeer sny met ‘n skêr. Hulle gluur my aan. Ek weet wat hulle dink – “Wie is hierdie kind wat nou dink hy kan ons kom besig hou vir drie dae?” En – “ons is nie lus hiervoor nie – ons gaan hierdie ander manne foeter sodra ons die geleentheid kry”

Gowaseb en Skopelitis met ‘n paar G2 projektiele

Ek het volgens ‘n baie streng agenda gewerk wat vooraf bepaal is deur die Militêre Psigologiese Instituut, en ek moes hulle my woord gee dat ek nie sou afwyk van die agenda nie. Die heel eerste item op die agenda was dat elke offisier met die groep moes deel wie hy ag as sy leierskapsrolmodel, en die rede daarvoor.  Ek begin toe aan my linkerkant by die APLA’s & MK’s. Die eerste offisier was ‘n baie indrukwekkende ou – stil maar jy kon sien hy dink voor hy praat. “Chris Hani – who has been murdered by the Boers” noem hy sy rolmodel en wys in die rigting van die Boere aan die oorkant van die vertrek.  Ek hoor ‘n gemompel van die Boere se kant af. Ek besef ek weet nie hoe om hierdie situasie te hanteer nie. Ek is heeltemal te lig en onervare vir hierdie situasie, en dit is sommer reeds op ‘n mespunt nog voor ons regtig begin het.

So het ons in die aande om die vuur gelewe – in Angola. Ek sit met ‘n stuk roosterbrood in die hand.

Ek gaan vinnig oor na die volgende offisier. Ek onthou dat jy die haat in sy oë kon sien. “Peter – One Settler One Bullet – Mokaba” – spoeg hy sy antwoord uit sonder om te verduidelik wat sy rede is. Hy stel net belang in die reaksie wat hy kan uitlok by die boere. Dan gaan ek oor na die volgende offisier: “Nelson Mandela” – sê hy met trots. Dit is 1995,  skaars drie jaar sedert ons eerste demokratiese verkiesing.  Ek hoor nou meer as net ‘n gemompel van die Boere se kant. Hulle vloek nou al allerhande aardige swetswoorde wat ek nie hier sal kan oorvertel nie.

Gunther en Skopelitus by hulle guntrekker. Die man se kanon was my inskietkanon!

Uiteindelik is ek klaar met die APLA’s en MK’s. Ek gaan oor die 5 tot 7  leë stoele en kom by die Boere uit. Ek kan sien hulle kan nie wag nie. “Generaal Christiaan de Wet” – blaf die eerste Boer. Nou is die gemompel aan my linkerkant. Nadat hy sy rede gee, trek die volgende Boer los: “Barend -Wit Wolf-Strydom” mompel hy en jy kan sien hoe seer slaan sy tong die APLAs en MK’s  aan my linkerkant. Die manne mompel in hulle taal en hulle oë flits van die woede. Ek gaan vinnig oor na die volgende man – en ek hoop hy is tog net sagter. “Eugene Terre’Blanche” fluister hy maar met soveel venyn dat een van die APLAS/MK’s opstaan om uit te loop.

So speel ons Monopoly op ‘n ammokis in Angola. Luandre Botha aan die linkerkant; die Ops Medic aan sy linkerkant; die witkop is Seun Kesslau en Gunther von Schauroth heel regs

Dis net wat ek nodig het, want ek besef ek is in ‘n situasie wat baie groter is as wat ek en my min ondervinding kan hanteer.  Ek kondig ‘n “smoke break” aan. Die manne staan op en loop uit. Ek is verlig. Staan daar in stilte in die vertrek en my kop wemel van gedagtes en planne.  Ek kyk deur die venster. Buite sien ek die MK’s/APLA’s onder een boom, en die Boere onder ‘n ander boom. Jy sien net hande swaai in die lug soos beide kante praat en verduidelik. Duidelik is hulle hewig ontsteld. Ek dink by myself hulle is nou besig om te konkel, en as hierdie “smoke break” verby is dan gaan die vuiste tien teen een sommer al vandag klap hier binne hierdie vertrek. Dit is net ‘n kwessie van tyd.

Calueque-brug letterlik ‘n dag of twee voordat hy deur ‘n MIG opgeblaas is

Ek besluit dat ek nou nie meer hierdie agenda gaan volg nie, want dit gaan ons net verder die afgrond in lei. Met my netelige kennis weet ek dat die APLA’s/MK’s baie internasionale militêre blootstelling gehad het, want hulle het die befondsing gekry vanaf Rusland en ander plekke. Ek ruk myself reg, haal diep asem  en glimlag toe die manne instap sodat ons kan aangaan met die sessie. Dis een van daardie glimlagte waar jy probeer om vir die mense te wys jy is eintlik in beheer, maar eintlik weet jy  en almal om jou jy is heeltemal te lig vir die sessie.

Gowaseb in sy foxhole

Dan skop ek die sessie af. Ek praat met die indrukwekkende swart majoor aan my linkerkant. “Sir, will you please share your military experience with the team?” vra ek hom. Hy dink lank voor hy praat. Dan praat hy: ” I was the military commander of a MIG escadron in Luanda. I was responsible for the MIG attack on Calueque bridge in 1988 where some of the SANDF soldiers died. ”

Dit is doodstil. Jy kan ‘n speld hoor val.

Ek het dit ook nie verwag nie. Hier voor my sit die man wat gemaak het dat ek agter ‘n boom moes rondspring daardie dag toe die MIG oor my kop gevlieg het. En dit is hy wat veroorsaak het dat ons net bloed gesien het toe ons minute later verby Calueque gery het.  Ek besef daar is van die Boere hier wat ook baie emosioneel mag wees oor Calueque. Dinge gaan nou rof raak in hierdie sessie. Ek het in my onkunde afgewyk van die agenda, en nou gaan alles ontplof. Ek moes maar eerder by die agenda gebly het, dink ek vinnig. Maar dit is nou te laat – die koeël is reeds deur die kerk.

Pitt in sy foxhole

Een van die Boere steek sy hand stadig op. Ek is bang om hom geleentheid te gee, want sy vraag is tien teen een die vlammetjie wat nou alles gaan laat ontplof. Die spanning in die vertrek is ondraaglik, maar ek kan hom ook nie ignoreer nie. Ek gee hom geleentheid om sy vraag te vra. “What MIG’s where you coordinating?” vra hy hom in gebroke Engels. “MIG23’s” antwoord die Majoor. “What type of bombs did you drop on Calueque?” vra die Boer. “Cluster bombs amongst others – of which one fell into one of your vehicles and killed those soldiers” – antwoord die Majoor.

Gunther in sy “foxhole”

Dan steek daar nog ‘n Boer sy hand op en vra die Majoor ‘n tegniese vraag waarop hy dan weer ‘n tegniese antwoord gee. En na ‘n ruk, dan steek ‘n ander Boer sy hand op en vra vir een van die ander APLA’s/MK’s ‘n tegniese vraag waarop hy ‘n tegniese antwoord gee.

Skielik besef ek dat die beste ding wat ek nou kan doen is om hulle nou net te laat praat met mekaar. Ek moet nou as fasiliteerder minder word sodat hulle meer kan word.  Ek staan terug en kyk met verwondering wat hier reg voor my oë gebeur. Hulle is besig om met mekaar te praat. Maar meer as dit, hulle het die “common ground” getref. Hulle “connect”…

Almal in die vertrek is soldate.

Daardie aand toe kuier hulle saam in die kroeg. Nie een vuis het geklap nie. Die volgende twee dae het ek hulle net doodeenvoudig toegelaat om meer uit te vind oor mekaar. Die agenda het ek diplomaties opsy gesit. Die laaste dag toe ek instap in die sessie, toe sit hulle op ander plekke.  Daar was nie meer APLA’s/MK’s aan die linkerkant en Boere aan die regterkant met 5-7 stoele oop tussen hulle nie. Nee, hulle sit deurmekaar. Sonder dat hulle dit eers agterkom. Toe was daar nie meer APLA’s/MK’s en Boere wat voor my sit nie.

Nee, toe was daar net soldate voor my.

Boeta se les:

Yanik, onthou altyd…..Ons is almal net doodeenvoudige mense. En mense is baie meer dieselfde as wat ons anders is van mekaar , selfs al dink ons ons is anders.  So soek altyd eers die “common ground” tussen mense voordat jy die andersheid probeer uitlig. Werk van die “dieselfdheid” af na die “andersheid” toe, nooit andersom nie.

Jou pa weet. Hy het hierdie les hard geleer as ‘n jong man voor ‘n klomp geharde soldate. Hulle het hom geleer op hulle manier.

Lief vir jou

Pappa

Jagnaweek in Karasburg 3-7 Junie 2017

Ek is saam met my groot vrind Kwas (Eugene Quass) hier weg vir ‘n vinnige jagnaweek in Karasberge by my goeie weermagvriend Gunther von Schauroth

Ons maak vir ons brekfis net so voor ons oor die Namibiese grens gaan
Wat is padkos nou meer as net doodeenvoudig goeie koffie en brood met behoorlike botter? O ja – en moenie vergeet van die hardgekookte eiers nie…
Gunther se kasteel op sy plaas Blinkoog in die Karasburg distrik

 

Ons drink eers ‘n bier voordat ons by Gunthie aankom

 

So lyk die wereld hier – Dis die Dorsland pappie!

 

Die huisie waarin ons bly – 5 manne die naweek!

 

Koffie vroegoggend

 

Ek en Gunther von Schauroth. Ons kom al saam van 1987 af! Saam in die SWA Gebiedsmag. Ek gaan nou saam met Kwas stap in die veld. Hy om te loop en jag, en ek om net te loop!

 

Boetie Bert skiet sy  springbok.
Springbok word gehang
Nog een
Tielman en Boetie Bert agterop die bakkie. Gunthie se Nama doen die keelafslag en pens-uithaal werk
Boetie Bert weet van skiet. Die man het al oor die 10 000 springbokke in sy lewe geskiet
Peet (Kwas se neef) is maar soos ek. Nie eintlik ‘n jagter nie. Maar laat hom ‘n storie vertel vanaand om die vuur! Jy lag jou vrek. Hier loop hy aan die linkerkant om die bakkie
Nog ‘n bok
So maak mens
4 springbokke en 2 kudu’s – gereed om geslag te word
Boetie Bert weet hoe om ‘n pofadder te maak van die lewer, niertjies en hart. Dan braai ons hom sommer so onder die boom
Nou gaan ons braai
So sit ons onder die boom! Hemels!
So lyk die pofadder

 

So lyk dit hier in die geweste
Die klippe maak enige wiel pap. Die Nama ruil hom gou om!
Vleis word bewerk
Vleis

 

Gunthie agter die lessenaar
Gunther en twee van sy drieling – Athos en Inge – in gesprek met Kwas
Ek en Kwas het die laaste aand sommer gestap van Gunthie se huis af na ons plekkie toe – so 5 kilo’s. Hier sit ons en kyk hoe gaan die son onder in die Karasberge
En toe ons terugry toe reën dit. ‘n Nat pad in Namibië bly maar net ‘n mooi ding