Die Zim storie

                       

Die jaar 2005 was ‘n baie interessante jaar in ons lewe. Ek was so pas klaar met op ‘n groot projek in Gaborone, en my kontrak is verleng vir nog twee jaar. Ons was nou in Orapa, ‘n baie klein dorpie in die middel van Botswana. My “job” was die OD & strategie-bestuurder van die grootste diamandmyn in die wêreld. Dit was ‘n ongelooflike ondervinding wat ek vir niks in die wêreld ooit sou verruil nie.

Hierdie kaart gee vir jou ‘n idee waar Orapa is
Emily & Yanik

Emily wat ons helper was in Gaborone het saam met ons getrek Orapa toe. Sy was ongelooflik lief vir Yanik. Hier is hy tussen een en twee jaar oud. Orapa was blêddie warm. Ek onthou as jy uit jou “air-con” gebou uitstap, dan tref daardie hitte jou so in die gesig. En as jy dan die warm lug inasem, dan het dit soms gevoel asof jou longe brand van die hitte. Kon maklik 45 grade of selfs warm word

So het ons vir Yanik afgekoel in die snikhete warmte van Orapa

Ons sosiale lewe was op ‘n heel ander vlak waaraan ons ooit gewoond was. Ek dink dit is omdat daar so min “expats” was. Ons was maar baie op mekaar aangewese.

Jan (links); Colin (middel) en ek (regs) en Colin se vriend (op die grond) op ‘n bootjie op die Okavango rivier. Groot planne om tiervisse te gaan vang

Ons het naweke weggegaan na allerhande lekker plekke toe. Sal nooit vergeet hoe ons op die Okavanga rivier gery het en tiervisse gevang het nie. So tussen die krokodille, seekoeie en visarende deur. Dit was ongelooflik lekker. En in die aande het ons  langs die Okavango gebraai en gekuier

My poging tot ‘n tiervis
Photos3_0019
Die vrouens en die kids op die Okavango
Photos3_0012
Lyk asof Yanik ‘n babellas het
As jy ‘n Nr 2 het en jy is by die panne, dan het jy ‘n probleem

Die Makgadikgadik-panne was ‘n ervaring op sy eie. Jy kan letterlik net ry en ry en ry op die pan, sonder ophou. En wanneer die flaminke daar was, dan is die horison pienk. Dit is onbeskryflik mooi. Ja, en as jy moet toilet toe gaan, dan is jy maar blootgestel.

Namiddag rit in die Orapa Game Park

Baie middae het ons sommer net vir ‘n draai gaan ry in die Orapa Game Park. Daar was altyd iets om te sien.

Die Du Toit’s by Guma Lagoon
Hier kamp ons by LeRoo le Tau – Voetspoor van die leeu

Daar was die ongelooflikste kampplekke. As ons nie in Central Kalahari gaan kamp het nie, dan was ons by le Roo le Tau. Daar slaap jy nie lekker in die nag nie want die leeus jaag die heelnag die bokke rond.

Lynette sit, en dan van links na regs Vossie, Piet, Colin en Jan
Jan & Jacolette
So kamp jy in Botswana
Die vrouens en die kids
Tilde en Yanik
Ons Orapa vriende
My laaste aand op Orapa voor ek daar weg is einde 2005
Sonsondergang oor Guma Lagoon
Yanik se daaglikse bad as ons kamp
Pa en seun in die Botwana bos
Photos3_0009
Yanik en sy maatjies in Orapa. Toe ons terug is in Suid-Afrika, toe was hy verbaas dat daar so baie wit kinders is. Hy het sokker gespeel nog voordat hy kon loop
Los my uit mense – ek is moeg…
Yanik & Tilde
Yanik in sy onnie op ons Orapa groen gras
By Livingstone se standbeeld by die Victoria watervalle
So lyk die valle
Ma en kind en Valle
Vic valle
Die vlooimark by die Vic valle wat hierdie storie geinspireer het

So gaan hou ons Du Toit’s toe een naweek vakansie. Ons gaan kamp heel noord by Kasane. Dit is die plek waar vier lande bymekaarkom – Namibië, Botswana, Zambië en Zimbabwe. Ons ry rond, braai lekker elke aand, en besluit maar ons moet darem een dag deurry na die Victoria-valle toe. Ons besluit ons gaan dit van die Zimbabwe kant af doen.

Die grenspos was nie te moeilik nie, en toe ons weer sien, toe is ons in Zim en op pad na die valle toe. En die Valle was pragtig. Omtrent iets om te beleef. Naderhand besluit ons om ‘n draai te maak by die plaaslike vlooimark en ietsie koop.

Dit was baie erg. Daar was baie stalletjies, maar wat my opgeval het, was die mense se ongelooflike desperaatheid. Elkeen sit by sy stalletjie, en jy sien in sy oë dat as jy nie vandag iets by hom gaan koop nie, dan gaan hy vanaand honger slaap. En as jy verby sy stalletjie loop dan was dit asof jy so pas ‘n doodsvonnis oor hom uitgespreek het. As ons wou, kon ons hulle afstry tot op die been om iets te koop. Maar dit was net eenvoudig “morally wrong” – ek het twee hout beelde vir US $50 elk gekoop by een ou omdat ek hom so uit my hart uit jammer gekry het. Die beelde was seker net R50 werd.

Ons is naderhand daar weg. Nie omdat ons wou nie. Maar omdat dit eenvoudig net te intensief was. Ons het geld, en hulle het nie. En waar ons op vakansie is, is hulle in ‘n daaglikse stryd besig tussen lewe en dood.

Toe ek agter my bakkie se stuurwiel sit, toe staan daar een van die manne by Lynette se venster. Ek dog hy gaan vra vir ‘n geldjie of iets. Toe vra hy vir haar of hy haar kouse kon kry. Sy het al huilend haar kouse uitgetrek en dit vir hom gegee. En hy het daar weggestap, vir die eerste keer in jare met kouse wat hy weer aan sy voete kon sit.

Ons het in stilte teruggery van Zim af Botswana toe. Al die pad.

Boeta se les:

Yanik – as jy hierdie storie ooit lees, dan moet jy asseblief onthou om nooit ooit jou medemenslikheid te verloor nie. Ja ek weet, dit is rof hier in Afrika. By elke robot staan daar een wat ietsie wat by jou wil hê en naderhand raak dit net te erg.

Maar as jy gesien het wat ek gesien het daar in Zim, dan sal jy verstaan dat ons hier is om ander mense te help. Daai kaalkopou in sy jassie – die Dalai Lama – stel dit so: ” The purpose of life is to help other people. And if you cannot help them – wil you please not hurt them…?”

Selfs al moet jy miskien jou kouse eendag uittrek sodat iemand weer kan voel hoe dit voel om kouse aan sy voete te kan trek. Vra vir Mamma, sy weet!

Lief vir jou

Pappa

Die Vreesreus storie

Vrees…

5 letters, maar dis ‘n groot woord.  En vir baie lank in my lewe het ek geveg teen hierdie reus genaamd vrees. En dan moet ek bieg – baie keer in my lewe het Vreesreus my gewen. Maar daar was ‘n paar kere wat ek hom lekker onder sy gat geskop het.

1980.  Ek was in Pionierspark laerskool in Windhoek! Standerd 4! Ek was maar my hele lewe nooit deel van die binnekring nie, maar hierdie jaar was ek baie erg aan die buitekant van alles. Maer, en sonder vriende…! En die outjie in die skool met die rykste pa daag my uit vir ‘n “fight” na skool omdat my pa Dirk Mudge se party – die DTA – ondersteun het en sy pa AKTUR – die meer regse party! Ek was so bang soos hel. Vreesreus het my vierkantig in die oë gestaar. Ek het niks verstaan van vuiste swaai nie.  Weemoedig en bang het ek daardie middag na skool geloop na die parkie toe – om my pak soos ‘n man te vat omdat my pa DTA gestem het.  Maar veg gaan ek veg . Windmakerig op hulle fietse het die opposisie die dag daar opgedaag. Vyf van hulle. Hulle was in ‘n bende. Ek nie. Vyf teen een.  Vreesreus was in sy sewende hemel. Ek onthou ons het die sandbank gebruik as ‘n bokskruit, en een van die vyf was die “timekeeper”. Kaalvuis, een minuut per  rondte. Ek onthou hoe Vreesreus vir my gefluister het dat ek nie vandag by die huis gaan kan uitkom nie, want my oë gaan toegeslaan wees. En toe kry ek die eerste vuishou teen my kop. Ek onthou dat ek alle rasionaliteit verloor het en siedend soos hel lostrek en slaan sonder om eers te kyk. En toe ek klaar is, kyk ek terug. En daar lê die man op die grond. Nie meer lus vir baklei nie. Ek dog toe alles is nou verby. Toe hoor ek die bende gaan ‘n tweede man teen my instuur. Die 1 minuut het skaars begin toe lê die man ook plat op die grond.  En Vreesreus lyk skielik nie meer so groot nie, soos wat my selfvertroue toeneem. Die bende is daardie dag druipstert daar weg, en ek met ongelooflike selfvertroue.  Ek noem doelbewus nie die outjies se name nie, maar hulle sal weet wie hulle is….

Vreesreus het my weer aangevat in 1987. Ek is toe in die Weermag – Osona-basis net buite Okahandja in ou Suidwes.  Steeds so maer soos ‘n kraai maar hierdie keer met staaldak,  “webbing” en geweer! En ammo kiste! Ek onthou soos gister twee majore wat agterop ‘n Gary by my verbyry reg aan die begin van die Vasbyt wat ons moes stap tydens basies en hulle lag kliphard vir my toe hulle my sien! “Boetie  – jy gaan dit nie maak nie! Jy is te maer” – terg hulle vir my! Dit was ‘n baie harde vasbyt daardie – veral vir my met my maer lyf! Ons het ‘n hele paar dae gestap in die warm Suidwes son. Kilometers sonder einde. Niks kon kom by die vreugde toe ek by eindpunt kom nie! Die twee majore kon my nie in die oë kyk nie. Vreesreus het weer sy gat gesien.

Vreesreus hou nooit op nie. In 1988 kry ek malaria in Angola tydens grensdiens. Ek het vir die eerste keer gedink ek gaan nou dood. Een oomblik kry ek so warm dat ek nie kan asemhaal nie. Die volgende oomblik bibber ek van die koue. Hulle stuur my Oshakati toe, en die Ops medics gee my twee Quinine pilletjies en stuur my terug Angola toe. Hulle het gedink ek sit aan, en dat ek nie wil oorlog maak nie.  Twee dae later toe slaap ek in my slaapsak in Angola, vrot van die malaria. En ek besluit ek gaan nie meer kerm oor hoe ek voel nie.  Toe ons na ses maande uiteindelik pas kry en ek kon huistoe gaan, gaan ek onmiddelik na ‘n privaatdokter toe. Hulle skrik hulle morsdood vir my toestand en boek my dadelik in die siekeboeg in. Ek het daar gelê vir twee maande tot ek uiteindelik die malaria ding gewen het. Die vreesreus het my geterg met die idee van doodgaan.  Ek het hom gewen.

Of soos in 1988 toe Vreesreus met bravade oor my kop vlieg in die gedaante van ‘n MIG vegvliegtuig in Angola. Of in 2005 toe Vreesreus my weer aanvat toe ek ‘n sessie moes fasiliteer tussen APLA, MK, Umkhonto we Sizwe en die Suid-Afrikaanse Weermag. Lees die storie hier:  https://www.diedutoitsonline.com/die-calueque-storie

Wanneer jy die dood in die gesig staar of so bang is dat jy nie kan asemhaal nie, dan lag Vreesreus op sy hardste. Maar deur net elke dag weer op te staan en aan te gaan, wen jy hom.

Vreesreus vat my toe weer aan in 2003. Ek bedank by Sasol en los ‘n goeie stabiele senior pos net nadat ek bevorder is met aandele so ewe…. En dit alles vir ‘n groot SAP projek in Botswana! En skaars daar aangekom is my vroutjie swanger. En Vreesreus daag op een oggend by die werk in Gaborone op toe ek die nuus kry… Die grote SAP projek waarvoor ek my wonderlike joppie gelos het by Sasol is gekanseleer.  Daar sit ek op die vlakte diskant nêrens in ‘n vreemde land waar ek maar een van min wit gesigte is en met ‘n swanger vrou – en ek weet nie of ek die volgende dag ‘n “joppie” het nie. Maar ek het myself uit die bed uit getrek elke oggend en die dag vierkantig in die oë gekyk. En Vreesreus het toe uiteindelik stert tussen die bene daar weggehardloop.

Vreesreus daag toe weer in 2004 op in my kantoor in Orapa in Botswana. Ek is die  organisasie-ontwikkelingsbestuurder van die grootste diamantmyn in die wêreld. Vreesreus kom in die gedaante van die plaaslike HR man wat my meedeel in my kantoor dat my vaardighede nou plaaslik beskikbaar is en dat ek nie meer welkom daar is nie, en eintlik al uit die land uit moes gewees het.  En toe ek vir Vreesreus vra om vir my ‘n afskrif van die brief te gee wat hy my gelees het toe weier Vreesreus. Vreesreus wou gehad het ek moet bang wees. En vasklou aan die “joppie” in vrees dat hulle nou van my gaan ontslae raak. Ek het net daar besluit genoeg is genoeg. Ek het die volgende dag bedank en  teruggetrek Johannesburg toe. Hulle het jare nadat ek daar weg was nog nie ‘n volgende bestuurder kon aanstel  nie. Vreesreus se planne het in sy eie gesig ontplof.

Toe kom 2010. Ek begin SimpleXity Pty Ltd. My eie maatskappy. Vreesreus is op my – dag en nag. Daar was tye waar ses maande voor my verbygegaan het sonder dat ek een uur gewerk het. Vreesreus lag dan vir jou – veral in die aande as almal slaap. Dan lê jy met natgeswete handpalms en staar na die plafon. Debietorders verstaan nie as daar nie werk is nie.   En as Vreesreus jou nie gas gee met gedagtes van hoe die bank alles gaan kom haal nie, dan skiet hy jou met die gifpyl van moedeloosheid. Vreesreus kom na jou toe in die gedaante van SARS. Hulle besluit sommer oornag dat jou maatskappy hulle nou uit die bloute baie geld skuld. En dan is jy skuldig tot jy jou onskuld kan bewys. En as jy nie die massiewe bedrag geld onmiddelik betaal nie, kry jy geen “tax clearance certificates” nie – ‘n dokument wat broodnodig is wanneer jy as ‘n diensverskaffer by maatskappye wil registreer.  Dan maak jy maar ‘n plan – skraap die klomp geld bymekaar en betaal SARS en begin dan ‘n proses om jou onskuld te bewys om die geld terug te kry. Ek veg nog steeds daardie geveg met SARS – nou vir oor die twee jaar.  Want Vreesreus sal my nie onderkry nie.

Of soos einde 2017 toe ons as gesin besluit ons trek Kaap toe. Los alles in Johannesburg wat ons ken. Dit kon soveel makliker gewees het om net te bly by die bekende.  En Vreesreus lag vir my. “Julle gaan dit nooit maak nie” spot hy my. “Jy lê met jou surfboard op ‘n dam, jou kluit. Hier is nie werk nie. En as hier werk is, dan betaal die mense nie. Jy behoort dit geweet het voordat jy hierheen gekom het”.  Maar hier sit ons gesinnetjie nou al vir amper ses maande in die Kaap en nog elke aand was daar kos op die tafel. Vreesreus het weer verloor.

‘n Vriend van my wat ook sy lewe spandeer op projekte vertel my nou die dag: ” These big projects are like dancing with a gorilla. When you are tired of dancing, the gorilla is not necessarily tired of dancing”. As ek so terugdink, was Vreesreus ook daar toe ek groot projekte aangevat het. Ek het al ‘n  paar keer self met Vreesreus gedans.  En hy het nooit opgehou om in my oor te fluister dat ek of te dom, of te onervare, of te lig is vir die projek nie. Maar elke projek het ek klaargemaak sonder dat ek my ooit aan Vreesreus gesteur het.

Boeta se les:

Yanik – ek was amper dood van die vrees toe ek manalleen opdaag daardie dag in 1980 by die parkie en die ander 5 daar opdaag met hulle fietse! Ek was so bang ek kon nie asemhaal nie! Maar ek het opgedaag! Alleen! En baklei vir my lewe…

En toe daardie twee majore vir my lag voor ek nog eers begin het om die Namibiese Vasbyt te stap – toe wou ek net daar omdraai! Maar ek het nie! Ek het wel ‘n paar keer opgegooi! Maar ek het daardie Vasbyt klaar gestap!

En toe hulle my doodsiek terug stuur Angola toe met my malaria en ek met altwee my hande moes vashou aan die grond omdat dit gevoel het ek val aanhoudend in ‘n donker gat in as gevolg van die koors wou ek ophou! Maar ek het nie!

En om in Botswana te sit met jou nog in Mamma se maag en te hoor die projek is gestop en jy sit met jou wit vel in die middel van nêrens is erg! Ek was bang – maar ek het nie weggehardloop nie!

En om meegedeel te word dat jy kamma onwettig in Botswana is en eintlik nie regtig meer daar welkom is nie, is erg! Maar ek het die hou op die wang gevat en aanbeweeg!

En om nagte lank te stoei met die twee Rottweilers van vrees en moedeloosheid as jy jou eie besigheid het – is ook nie vir sussies nie! Maar hier in 2018 – 8 jaar later – staan my maatskappy nog steeds. Ek het nie opgegee nie, selfs al wou ek baie kere. En SimpleXity is sterker as ooit tevore…

En as ‘n Russiese MIG oor jou kop vlieg of jy ‘n sessie fasiliteer waar blank en swart jou aangluur of jy op ‘n projek werk waar dit net lyk asof jy niks vordering maak nie, dan is dit baie aanloklik om net op te hou. Maar ek het nie.

Boeta – aan die ander kant van vrees wag oorvloedige lewe!  Dit is nie ‘n skande om bang te wees nie! Wees maar bang! Erken dit.  Maar moet asseblief nooit toelaat dat jou vrees jou terughou nie!

Vrees moet vir jou vrees…

Vrees is soos die tipiese skoolboelie! Jy mag maar bang wees vir hom – maar skop sy gat net een keer en sien dan hoe vinnig huil hy. Dink jy Dawid was nie bang toe hy na Goliath toe afstap met net 5 klippies nie? Ek dink hy was vrek bang! Gelukkig het hulle in daardie dae nie broeke gedra nie, want kom ek vertel vir jou – Dawid se broek sou gebewe het! Maar dit het hom nie gestop nie….en ‘n rukkie later toe val die ou boelie Goliath!

En kom ek vertel jou ‘n groot geheim: Ek het nooit een van hierdie vrese alleen baklei nie! Ek het eintlik ‘n onregverdige voordeel gehad met elkeen van hulle! Want gaan kyk maar hoeveel keer staan daar in Sy Woord: “Moenie vrees nie”.

En die rede hoekom jy nie hoef te vrees nie, is omdat Hy by jou is.

Selfs al is jy so bang dat jy nie kan asemhaal nie

Lief vir jou

Pappa

Die Woolworths storie

Ons het regtig gesukkel om aan te pas toe ons uit Namibië getrek het Pretoria toe. My pa het altyd gesê dit is omdat ons so bietjie “milieu-gestremd” was. Dis ‘n hogere woord – maar wat eintlik maar net beteken ons omgewing in Windhoek het ons nie regtig voorberei vir hierdie verskriklike skok van ‘n Gauteng nie.

Kom ek maak dit prakties. As ons op die hoofweg ry, dan maak dit nie sin om vir almal te groet wat van vooraf kom nie. Hulle is net te veel. In Namibië kan jy dit doen, en dis mooi. Maar nie in spitstyd op die N1 in Pretoria nie. Dit maak nie sin nie. Jy maak net jou naam gat. Niemand gaan teruggroet nie. En as hulle sou groet, sou hulle net by hulself dink wie dit was wat hulle gegroet het?  Want in Gauteng groet jy mos nie mense as jy hulle nie ken nie. Dis anders in Namibië.

Dit is wat my pa bedoel het met milieu-gestremdheid.

Of soos die slag toe my pa terugry van die gholf af en vir sy gholfmaat Fanie gaan aflaai. Maar Fanie vergeet sy selfoon onder die sitplek. My pa was maar tegnologies baie gestremd. Hy vertel my hy ry en hy hoor “tiengelieng-tieng-tien.”  Nog nooit so ‘n geluid gehoor nie – ken nie van selfone nie. En dan na ‘n ruk dan kom dit weer. “Tiengelieng-tieng-tien.” Hy dink daar is ernstig fout met sy karretjie se enjin en hy trek van die N1 af. Soek die geluid. Kry uiteindelik die foon onder die sitplek. Hy sien daar is ‘n groen knoppie. Druk die groen knoppie. Maar hou die foon hier so voor hom asof dit ‘n “walkie-talkie” is. “Hallo…” antwoord hy die foon. Dan hoor hy ‘n vae dowwe stemmetjie aan die ander kant:”Hennie kan jy my hoor? Dis Fanie. Dis my selfoon wat jy in jou hand het.” My pa antwoord:” Hallo? Fanie? Jy gaan moet harder praat, ek kan jou amper nie hoor nie”.   Fanie gil later soos ‘n besetene aan die ander kant: ” Hennie – sit die donnerse foon teen jou oor, dan gaan jy my kan hoor…”

Milieu-gestremd.

Of soos die keer toe ons besluit ons moet seker maar uit die huis uit, want ons was baie bang vir die hoofweë. As jy daar ‘n verkeerde afrit vat, dan is jy heeltemal in jou moer in. Ons moes by ‘n Midas uitkom, en volgens die kaart (daardie tyd was daar geen GPS’s nie) was daar ‘n Midas in Kerkstraat. My pa bestuur en ek navigeer. Links hier, regs daar. Bevind ons uiteindelik in Kerkstraat. Min het ons geweet ons is nou in die hoofstraat van Pretoria. In Namibië ry jy tot by die plek en dan stop jy sommer reg voor die gebou. Geen probeem. Ons sien uiteindelik toe die Midas, maar daar is geen parkeerplek nie.  Ry verby. Bevind ons in die sirkel waar Paul Kruger se standbeeld staan. Tussen die busse. Kerkplein. Almal toet vir ons. Ons ry terug in Kerkstraat. Ry weer by die Midas verby.

“Nou waar die donner moet ek parkeer” swets my pa.  Ons maak ‘n “U-turn” in Kerkstraat en ry weer verby. Nou is my pa se moermeter in die rooi. ” Hoe kan hulle verwag ons moet by hulle koop as hulle nie vir ons parkering kan bied nie?” praat hy hard.  Dan sien ek dit. ‘n Bordjie langs die pad wat lees : ” Parkade”.

“Pa – ry daar links. Daar by daardie bordjie” sê ek in my rol as navigator. “Nee man – jy kan mos nie met jou kar in ‘n gebou in ry nie. Miskien in ‘n garage in, maar “not de hel” in ‘n gebou in nie ” sê my pa kortaf. Hy is lekker de donner in, maar ek kry hom tog naderhand oortuig om daar in te ry.

Ons stop grootoog by die “beam”. “Nou wie gaan hierdie ding vir ons lig? Daar is nou weer niemand by hierdie hek nie” grom my pa.  Ek oortuig hom om die knoppie te druk wat sê: ” Press Here”.  Hy druk die knoppie. Dan hoor ons ‘n gerommel. “Wat gaan nou met die masjien aan?” vra my pa. Dan spoeg die masjien die kaartjie uit. “Wat moet ek doen met hierdie kaartjie?” vra my pa benoud. “Trek hom uit die masjien uit” sê ek vir hom. Hy trek hom uit, en die “beam” lig.  My pa trap die petrol want hy is bang die “beam” kom weer af op sy karretjie.

“Jannie – hierdie is ongelooflik…” sê my pa in verwondering. “Kyk net al hierdie karre, en hulle is almal in een gebou?”  Ons ry stadig op soek na parkering. Gaan naderhand nog ‘n vlak op want ons kry nie parkering op die onderste vlak nie. Na 20 minute wat ons so ry, sê my pa: “Die Here is ‘n wonderlike God. Hy maak die mens met die vermoë om ‘n gebou te bou soos hierdie waar daar soveel karre in staan. En ons ry nou al vir twintig minute op in hierdie gebou, en ons kry nie parkering nie. Kan jy dink hoe hoog moet hierdie gebou wees?”

Toe kom ons agter ons ry die hele tyd net op die tweede vloer al in die rondte, want ek herken toe ‘n tjor waar ons netnou verby gery het…

Milieu-gestremdheid.

Ons kom uiteindelik in Kerkstraat, en soos die noodlot dit wil hê, weet ons nie meer hoe om by die “parkade” weer terug te kom nie. Ons is verdwaal.  En ons gaan iemand moet vra om ons te help. Maar ons wil nie. Want hulle groet ons nie. Ons het so half besluit hulle moere ook.  Maar nou het ons nie ‘n keuse nie. Iemand gaan ons moet help. Ons gaan ons trots in die sak moet druk.

“Verskoon my Meneer” vra my pa ‘n omie wat by ons verbystap. Hy vra die omie om ons te verduidelik waar die spesifieke parkade is. Ons het die parkade se naam  gememoriseer want ons het geweet ons gaan verdwaal.

Toe die omie antwoord, toe weet ons daar is nou iewers groot fout.  “Jooo” sê die oom, maar hy praat verskriklik stadig. “Juuuuulllleeee mmmmooooeeet nnnneeettt ddddrrrriiiieee bbbbbllllllooooookkkkkeee aaannnlllooooppppp, dddddaaaannnn sssssssaaaaalll jjjjjjuuuullllleeee hhhhhoooommmmm kkrrryyyy.”

Ons staan so paar tree terug. Dit klink asof die omie se plaat vasgehaak het.  My pa is sommer dadelik kwaad. Hierdie oom maak nou weer ‘n grap met ons.

“Aaannnn jjjjoooouuuu lllliiiinnnnkkkkeeeerrrrkkkkaaannnttt ssssaaaalllll jjjyyy ‘nn PPiiiccckkk & PPPaayyy kkkrryyy, eeennnn aannn jjjjooouuu rrrreeggttteerrrkkkaannt ‘nnnn ….”

Die oom haak nou heeltemal vas. Dis asof hy skielik tot stilstand kom. “Wooo…” sê die oom. Hy is rooi in sy gesig. Hy besef hy haak vas, en praat skielik harder:” WWWWOOOO…” Die oom is nou paniekerig, maar hy probeer weer: “WWWWOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOO…” skree hy op ons.

Ons dog hy verstik. Of dat ons moet stop met iets wat ons verkeerd doen. Toe ons naderkom om te help, toe sê hy dit:

“Woolworths…”

Ons loop grootoog daar weg. Ons het eers gedink die omie spot met ons. Maar soos ons reflekteer oor die ervaring, is ons beste hipotese dat hy miskien hakkel. En dat iemand hom mos geleer het om stadig te praat. En dat hy dit mooi reggekry het. Totdat hy by Woolworths uitgekom het. Woolworths het hom gegooi.

Nietemin, ons het uiteindelik ons karretjie weer gekry en veilig by die huis aangekom.

Boeta se les:

Yanik – hierdie aarde is nie ons huis nie. Ons is op die aarde maar nie van die aarde nie. Moet nooit vergeet dat ons nou maar net deur ‘n wasige spieël na dinge kyk nie. Selfs die slimste mens op hierdie aarde is steeds milieu-gestremd. Hierdie ou aarde kan ons nie voorberei op wat eendag vir ons wag nie.

Net soos wat Namibië ons nie kon voorberei vir Gauteng nie.

Ek wens soms daar was ‘n boek wat ons kon voorberei het op hoekom jy nie mense groet op die N1 nie, en wat ‘n selfoon regtig is en dat sommige mense mag sukkel om Woolworths uit te spreek.

Maar daar is ‘n Boek wat jou gaan voorberei op wat eendag vir jou wag. Gebruik hom. Spandeer baie tyd in daardie Boek. Hy gaan jou baie help met jou aardse milieu-gestremdheid.

Lief vir jou

Pappa

Die Boemelaar storie

Ons gesinnetjie het afgetrek vanaf Namibië na Pretoria in 1991. Suidwes het so pas Namibië geword. Onafhanklikwording. My pa het gewerk by die SWAUK voordat hy medies ongeskik verklaar is – voordat hy 50 jaar oud was. Die SWAUK (Suidwes Afrikaanse Uitsaai Korporasie) het oornag die NBC (Namibië Broadcasting Corporation) geword.  Dit was die verkeerde plek om by te wees as jy blank was en voorheen gepraat het van terroriste. Nou was vryheidsvegters die polities korrekte bewoording. Dit was vir my pa baie moeilik, en ek dink al daardie dinge het maar aanleiding gegee tot sy hartaanval en latere mediese ongeskiktheid.

Hy was ongelooflik lief vir Namibië, en dit was vir hom verskriklik om die land te verlaat en in Pretoria te gaan bly. Ons het afgery, maar hy het afgevlieg. Hy wou nie deur Namibië ry, die land waarvoor ons oor die jare so lief  geword het nie.

En toe trek ons in ‘n huisie in Rossouw Straat in. Murrayfield. Pretoria. En daar sit ons toe. Soos meerkatte wat uitkyk by die venster. Wanneer kom die bure dan nou vir ons hallo sê? In ons wêreld kom die hele buurt, of hulle jou nou ken of nie, en kom groet. Dis hoe dit werk! Maar nie hier nie. Ek onthou my pa wat sê:” Nee wat, dis ‘n sleg plek die. Ek gaan nie hier kan bly nie. Ek wil terug Windhoek toe.” Dit was vir hom baie swaar.

Die eerste oggend wat ons wakker word in Pretoria skrik ons wakker van ‘n moerse lawaai. Dit klink asof iemand vermoor word. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons dit vir die eerste keer – ‘n hadeda. Ons ken nie sulke goeters in Namibië nie. Ons het ons verstom aan die voël wat so ‘n verskriklike lawaai kan maak. Geen wonder niemand wou vir ons ‘n melktertjie bring nie. Hulle het seker ons al op ‘n afstand gesien en gekatagoriseer as “Die weird Du Toit’s”.

Een oggend toe stap ons buurman af met sy asdrom met wieletjies om dit te gaan los teen die pad sodat die asdrommense dit daar kan optel. My pa gryp ons asdrom en loop vinnig af pad toe. Vandag is sy kans. Hy gaan die asdrom gebruik om uit te reik na sy buurman en homself voor te stel.  Maar die buurman skrik toe my pa op hom afstorm en loop vinnig terug huis toe. Ek sal nooit my pa se moedelose stappie terug huis toe vergeet nie.  Selfs ons eie buurman wou niks van hierdie Du Toit’s weet nie.

Dit was baie erg vir ons in die begin in Pretoria. My pa wat nie werk nie, en my ma wat die pot aan die kook hou. En ons drie kinders wat ook maar elkeen ons eie stryd gehad het.

Toe eendag vra my pa my om saam met hom te ry. Ek klim saam met hom in ons ou rooi Foxie en ons ry. “Waarnatoe gaan ons, Pa?” vra ek. “Kerkplein – jy moet my kom help met iets…”

Toe begin hy sy storie vertel soos ons ry.  “Ek kan nie meer so by die huis sit nie. Jy besef nie die impak as jy skielik nie meer deel is van die ekonomiese stroom nie.”  Ek weet hy trek swaar. Sy werk was sy alles, en skielik is dit weggeneem van hom af deur sy gesondheid. En nou sit hy hier in die vreemde, en nie eers die buurman wil met hom praat nie. En die blêddie hadeda skreeu ons wakker elke oggend.  En niemand doen die moeite om net ‘n ou koffietjie saam met ons te kom drink nie.

“Ek bel toe die Salvation Army, want ek voel ek moet op een of ander manier ‘n bydrae maak tot die samelewing. Ek kan nie net so sit nie.”  Hy het ‘n ongelooflike humorsin gehad. “Soms sit ek en dink, en ander tye sit ek net…” sê hy tong in die kies.

“Ek bied toe die Salvation Army geld aan om vir die arm mense te gee, maar die tannie aan die ander kant sê toe vir my hulle soek nie my geld nie. Hulle het genoeg geld. Hulle soek my hande…”

“Ek skrik eers, maar sy vertel toe verder. Hulle gee elke Vrydagmiddag sop vir die boemelaars op Kerkplein. Daar is genoeg sop, maar hulle het niemand om die sopwaentjie aan ‘n kar met ‘n haak te sleep na kerkplein, dit dan daar af te haak en dan die sop in te skep vir die boemelaars nie. Dis wat ek en jy vandag gaan doen….”

Ek is tjoepstil. Nog nooit in my lewe sop vir boemelaars ingeskep nie. Ons is nie sulke mense nie. Ons gaan kerk toe ja. En ons hou nagmaal. En ons bid. Maar sop self gaan oplaai en dan uitdeel aan boemelaars – dis op ‘n ander vlak.

My pa gaan aan: “Dis maklik om jou geld te gee. Dis moeilik om jou hande te gee…”

Ons kom uiteindelik by die plek aan waar die sop is. Die plek is maar armoedig.  Ons haak die sopwaentjie aan die rooi Foxie. Ry kerkplein toe. Die boemelaars staan al daar. Hulle weet elke Vrydag hierdie tyd dan gebeur dinge. Ons haak die waentjie af. Die boemelaars begin vanself in ‘n ry staan. My pa maak die deurtjie van die waentjie oop. Klim in. Gooi die eerste plastiekbakkie vol sop.

Ek is maar huiwerig. Weet nie waar om te vat en waar om te los nie. Maar dan kry ek my “joppie”. Ek skep die sop in, en my pa gee dit vir hulle. Die boemelaars kom in alle vorme. Daar is swartes en blankes en kleurlinge en Indiërs. Daar is van hulle wat ou klere aan het, en daar is van hulle wat lyk asof hulle op pad werk toe is – stop net gou vir ‘n gratis soppie. Daar is dié wat jy die dankbaarheid en soms trane in hulle oë kan sien, en dan is daar die wat nie eers met jou oogkontak maak nie.

Ons ry in stilte terug huistoe. Al die sop is uitgedeel. Waentjie is weer afgelaai. Boemelaars het almal sop in hulle mae. En ons het ons hande gegee.

“Miskien is dit waaroor alles gaan” mompel my pa toe ons inry by ons huis in Rossouw straat. En hy groet toe vir die soveelste keer die buurman wat nooit teruggroet nie.

Boeta se les

Yanik, ons is die sout van die aarde. Sout moet gaan waar daar nie sout is nie. Sout moenie gaan waar daar net nog sout is nie. Ons is die lig van die wêreld. Lig moet gaan na duisternis toe. Nie waar daar net nog lig is nie. Ons is die suurdeeg. Suurdeeg moet gaan waar deeg is. Nie waar daar net nog suurdeeg is nie. En daardie sout, lig en suurdeeg lyk soos hande…

As Oupa nog gelewe het, sou jy hom kon vra. Hy het my hierdie les op sy mooi manier geleer. Op sy begrafnis was al sy matriekmaats daar. Van jarre gelede. En ek kon sien dat hulle vir hom lief was. Miskien omdat hy sulke belangrike lesse eerder deur doen as deur praat oorgedra het.

Sien Oupa se begrafnisbriefie – klik hierop

Lief vir jou

Pappa

Die Hannes storie

Ek was baie klein – nog voorskool – toe ons in ‘n klein dorpie in die noorde van Namibia gebly het. Oshakati.  Dis ‘n klein plekkie waar die Ovambos hulle vleis ophang in veldslaghuise, natuurlik met ‘n oordosis vlieë wat op elke stuk vleis sit. Dis ‘n plek waar ek as kind kleilat gegooi en babers gevang het in die groot oop shônas. ‘n Shôna is a plat pan wat soms as dit gereën het vol water is. Daardie panne kon kilometers groot wees. Dit was ‘n ongelooflike plek om groot te word as kind.

En dan soos dit ‘n ordentlike Afrikaanse gesin beskoor, was ons hele gesinnetjie elke Sondag in die kerk. Die hele gesin. My pa, my ma, ek en my twee sussies. Die kerkie was ‘n NG kerkie, maar eintlik maar net ‘n sinkplaatgeboutjie met ‘n paar vensters en ‘n preekstoel. Geen lugverkoeling in daardie warm bedompige Namibiese klimaat nie. Ek onthou jy kon nie die dominee hoor nie soos die sinkplaat gekraak het van die son wat op hom skyn.  En die vrouens het netjies aangetrek met hoedens op die koppe, en die mans het hulle pakke aangetrek met dasse en al. Die voorste ry was vir die ouderlinge en diakens, en die ander 5 rye was vir die gemeentetjie. Klein, baie klein.  Maar ernstig. Die mense het nie gelag nie. Sondag was nie vir lag nie.

My pa was in daardie tyd ‘n diaken. So hy het in die voorste ry gesit elke Sondag. En saam met hom was daar ook ‘n diaken wat aan Tourette Sindroom gely het. Hannes. Ek het baie respek vir siektes, en ek spot nie met hierdie siekte nie, maar wat die dag gebeur het is iets om oor te vertel. Tourette sindroom soos ek hom verstaan is ‘n siekte waar die persoon as hy skrikgemaak word sal vloek of sal rondspring onbeheerds, en dan hou die onbeheerste gedrag nogal aan vir ‘n rukkie totdat die persoon homself weer onder beheer kry. Maar sodra hy weer skrik gemaak word, dan is dit alles weer van voor af!

Jy kan jouself indink dat dit nogal iets is wat die gemiddelde mens sal uitbuit wanneer hulle die geleentheid kry. My pa vertel dat hulle vir Hannes gereeld skrikgemaak het, en dan hop hy rond heen en weer vir ‘n lang ruk sonder ophou, ter vermaak van die groep. En dan sodra Hannes homself onder beheer kry, dan maak hulle hom net weer skrik. Onophoudend.

En so sit ons gesinnetjie toe een Sondag in die kerk. My pa en Hannes sit in die voorste gestoeltes, want hulle is diakens. Ek het ‘n safaripak aan, en my ma en twee sussies het mooi rokkies aan met hoedens. Die dominee was so ‘n lang maer dominee. Besadig. Nooit hard gepraat nie.

En dis warm. Bloedstollend warm soos dit net kan word in Ovamboland. Daardie sinkplaatgeboutjie kraak so elke nou en dan.  Die mense sweet. En hulle is moeg en vaak van die hitte. Maar kerk sal ons kerk.

Dominee bestyg toe naderhand die kansel. Snaaks genoeg is die kansel ongemaklik hoër as die res van die gemeente. Hy kyk af na sy kudde.  Sag praat hy. Ek onthou ek het so rondom my gekyk en meeste van die mense gesien slaap. Die preek het nog nie eers behoorlik begin nie en meeste van die mense slaap alreeds.

“Gemeente” sê die Dominee. Maar hy trek die woord uit dat dit klink soos “geme-e-e-e-e-e-e-nte”. Dit klink net baie meer dramaties as bloot gemeente. “As jy die dag do-o-o-o-o-o-dgaan, dan gaan jy by ‘n Poort uitkom. En dan gaan daar ‘n engel vir jou wag. En die engel gaan vir jou vra – Wat is jou na-a-a-a-a-a-a-a-a-a-a-m? Wat is jou n-a-a-a-a-a-a-a-am? En as jy jou naam gee, dan is daar ‘n groot Boek waarin hy gaan kyk. En as hy jou n-a-a-a-a-a-a-a-a-m vind in die Boek, dan gaan hy vir jou sê – Kom maar in, broeder! Oor min was jy aangestel, en oor baie was jy getrou.”

Maar toe vat Dominee daardie kansel vas dat sy kneukels so wit word, en sy gesig rooi. Dominee gaan nou duidelik oor na tweede rat toe.  En in ‘n hoë toon skree hy uit: “Maar O-w-e-e-e-e-e-e-e, O-w-e-e-e-e-e-e-e, O-w-e-e-e-e-e-e”. As kind kon ek  nooit verstaan hoekom hulle so verskriklik dramaties moes wees nie.  “As jy by daardie Poort kom, en die engel vra vir jou jou n-a-a-a-a-a-a-a-a-m, en hy soek jou n-a-a-a-a-a-a-a-m in die Boek, en hy kry hom nie…”  ’n Lang stilte. Die preek het nou opgebou na ‘n kritiese punt.  “Dan gaan hy vir jou sê….U-U-U-U-U-I-I-I-I-I-I-I-I-T-T-T-T-T-T-T!!!!!!

Hy skreeu dit uit volle bors oor die kudde, wys met sy vinger na die gemeente en skop die kansel vas met sy voete dat dit klink soos ‘n kanonskoot deur die sinkplaatgeboutjie. Hy het hom nou bietjie erg ingeleef in hierdie kritiese punt wat hy wil maak. Die hele kerkie skrik wakker. Onbewustelik wys Dominee sy vinger reguit na Hannes….

Hannes skrik wakker van die verskriklike knal, en hy kyk vas in die lang maer dominee wat met ‘n lang vinger reguit na hom wys en met ‘n oop mond dat jy sy kleintongetjie kan sien uit volle bors uit skree: “UIT!”

Hy spring op. Tourette vat nou oor by Hannes. Hy begin bokspring. So asof hy wil dans, maar hy kom nie lekker aan die gang nie. Hy dans rukkerig. Bokspring so daar na die kansel se kant toe. Spring vir ‘n hele tydjie op en af voor die kansel.  Die gemeente vergaap hulle aan Hannes. Dominee kyk uit die  hoogtes van die kansel af verbaas na Hannes. Hy is die fokuspunt van alle aandag. Hannes hou net aan met bokspring. Dis soos om oor ‘n kruiwa te val – dit  hou net nie op nie.

Na ‘n ruk kry Hannes beheer oor homself. Tourette staan terug vir Hannes. Hy loop vinnig uit die kerk uit. Doodse stilte.   Dominee besef hy sal moet aangaan met sy preek. Maar waar tel jy hom nou op? Iemand het so pas hier reg voor jou kansel gebokspring. Jou hele preek platgeslaan met ‘n rukkerige dans… En nou moet jy aangaan asof niks gebeur het nie?

Iemand in die agterste gestoeltes kan nie meer sy lag hou nie.  Dit hoes en dit proes behoorlik.  Dis aansteeklik. Nie lank daarna nie, toe lag daar nog iemand. Naderhand lag almal dat die trane loop. Maar die kerk is tog nie vir lag nie.  Hier is ons baie ernstig.  Dominee besef hy moet die preek maar afsluit met gebed en kollekte.

Dit was een van my lekkerste en kortste kerkdienste ooit….

Boeta se les

Yanik, oppas vir godsdiens. Dis gevaarlik. Ons dink ons doen die regte ding as ons by die reëls bly wat ons vir onsself stel wanneer dit by godsdiens kom. Maar baie keer sit ons die pot ongelooflik mis. Dis soos die erdekruik en die skat. Die erdekruik (godsdiens) is daar om die skat (jou verhouding met God) te omvat. Niks verkeerd daarmee nie. Maar ons raak so behep met die erdekruik en die vorm daarvan, dat ons vergeet van die skat. En alles gaan tog oor die skat, nie oor die erdekruik nie. As die erdekruik groter en belangriker word as die skat, dan gebeur dit dat ons sing:”Juig al wat leef, juig tot die Heer” maar dit klink soos ‘n klaaglied.  Ons sing dit omdat ons moet, nie omdat ons wil nie.

Of soos Oupa wat nie op ‘n tyd kerk toe gegaan het nie. En toe ons hom vra hoekom nie, toe sê hy:”Die dag as die kerk vir hom kan verduidelik hoekom ons geld insamel vir sendingwerk in Afrika, maar nie swartes toelaat in die kerk nie, sal hy weer kerk toe gaan.” Hy het ‘n punt beet gehad, dink ek.

Phillip Yancey skryf ‘n boek – “What is so amazing about grace?”  Hy vertel dat ‘n vrou na hom toe kom vir berading. Sy vertel hom met trane in haar oë dat sy ‘n dwelmverslaafde is. En om haar verslawing finansieël te ondersteun, huur sy haar klein dogtertjie uit aan ou mans in die vertrek langsaan.  En sy kan nie meer na haarself in die spieël kyk nie. Hy moet haar help. Want sy gaan selfmoord pleeg. Hy vra haar hoekom raak sy nie betrokke by ‘n kerk nie, want sy het ondersteuning nodig. Sy lag vir hom. “Wat dink jy gaan hulle doen as ek vir hulle hierdie storie vertel? Dink jy hulle gaan my aanvaar? ” En Yancey besef net daar – “The church has lost its grace”.  Die erdekruik het belangriker geword as die skat. Daar moet ‘n bord staan voor elke kerk met die woorde: “All sinners welcome…”

Lewis was nogal ‘n slim ou dink ek. Ek moet sy goed oor en oor lees tot ek dit begin verstaan. Maar hy sê een ding wat ek dink baie van toepassing is hier:

“I was standing today in the dark toolshed. The sun was shining outside and through the crack at the top of the door there came a sunbeam. From where I stood that beam of light, with the specks of dust floating in it, was the most striking thing in the place. Everything else was almost pitch-black. I was seeing the beam, not seeing things by it. Then I moved so that the beam fell on my eyes. Instantly the whole previous picture vanished. I saw no toolshed, and (above all) no beam. Instead I saw, framed in the irregular cranny at the top of the door, green leaves moving on the branches of a tree outside and beyond that, 90 odd million miles away, the sun. Looking along the beam, and looking at the beam are very different experiences”.

Lees Lewis Boeta – die man verstaan. Hier is nog een:

“Provided the thing is in itself right, the more one likes it and the less one has to “try to be good,” the better. A perfect man would never act from sense of duty; he’d always want the right thing more than the wrong one. Duty is only a substitute for love (of God and of other people), like a crutch, which is a substitute for a leg. Most of us need the crutch
at times; but of course it’s idiotic to use the crutch when our own legs (our own loves, tastes, habits, etc.) can do the journey on their own!

“Duty” is die kleipot, “love of God and other people” is die skat….

Dis vir my baie snaaks dat Jesus heeltyd in konflik was met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hy noem hulle witgepleisterde grafte. Hy was die skat. En hulle die erdekruik. En hulle het nie eers die skat erken nie. Want die erdekruik was vir hulle belangriker as die skat. En net om dit nog erger te maak – die erdekruik gaan toe en kruisig die Skat omdat hulle nie gehou van wat Hy sê nie…..!

Onthou altyd dat die skat baie belangriker is as die erdekruik. Hannes het dit onwillekeurig op sy manier vir ons geleer in Oshakati. Daardie dag toe die kerkdiens vroeg gestop is omdat die mense nie kon ophou lag nie.

Moet nooit vergeet nie….Dit gaan alles oor die Skat….!

Lief vir jou

Pappa

Die Merwe Storie

My maatskappy, SimpleXity (Pty) Ltd,  is vandag ‘n maatskappy om mee rekening te hou. Ons kliënte is Standard Bank; Shoprite; Bevcan; Sasol; Solstices; Johannesburg Eye Institute; Dell Foundation; SA Cities Network; South African Geomatic Institute; Twinsaver; IQ Business; MAC Consulting en nog vele meer. Ons was redelik onlangs ‘n gasspreker op ‘n konferensie in Duitsland.  “Watch this space” – SimpleXity  gaan nog groter raak as dit.

Kyk daai vingertjie – so onthou ek hom! Merwe tussen sy beeste op sy plaas in Boshoff

En daar is twee redes hoekom SimpleXity vandag is wat dit is. Die een rede is God se ongelooflike groot genade, en die ander rede is Merwe van Pletsen.

Kom ek vertel julle hoekom Merwe.  Ek werk daardie tyd vir ‘n veranderingsbestuursmaatskappy en Merwe is my kliënt. Blêddie moeilike kliënt om te hê – maar kom ons los dit maar daar. Dis hoekom ek lyk soos ek lyk. Ek is eintlik net 19 jaar oud maar ek lyk 50 as gevolg van Merwe. Ons raak goeie vriende en die Vrystater nooi my een naweek saam na sy plaas op Boshoff. Ons braai skaaptjoppies op sy plaas, kyk rugby in Boshoff se kroeg, kyk na sy beeste, eet min groente en alles en nog wat.

Merwe en Ronald Logie by Nampo.

Die aand om die vuur maak ek my hart oop. Ek vertel hom dat ek massiewe projekte inbring vir hierdie plek waar ek werk, en nie eintlik die vergoeding kry daarvoor nie. Ek trek ernstig aan die kortste ent. Lang storie kort – ek wil my eie besigheid begin.  Ek los dit net daar.

‘n Paar weke later bel hy my. “Du Toit – het jy ‘n Pty Ltd? Ek wil jou gebruik”. Gelukkig het ek al ‘n ruk terug ‘n besigheid gestig met die polities onvriendelike naam van Jannie du Toit Consulting (Pty) Ltd. “Ja Merwe – ek het alles reg.”

Ek skryf ‘n e-mail aan die maatskappy waar ek werk om my bedanking in te dien. Alle hel breek los.  Hulle skeduleer ‘n vergadering met my. Dreig my met hofsake en “restraint of trade” en waaraan jy nog kan dink.

Ek raak skrikkerig, want dit lyk my hulle weet waarvan hulle praat. Hulle dreigemente laat my huiwer. Ek kom ooreen met hulle dat hulle die kontrak direk met Merwe  kan sluit, en dat ek dan vir hulle sal subkontrakteer.  Dit beteken Merwe bly hulle kliënt, maar ek kry die geleentheid om my eie besigheid van die grond af te bring.  Nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie, maar dit is darem ‘n kompromie. So kan al die partye darem op ‘n manier gelukkig wees.

Die Global Learning spannetjie

Maar nie met Van Pletsen nie. Hy bel my die aand om te hoor van die status van die kontrak.  “Ja Vrystater ” sê ek versigtig. “Ons het ‘n wen-wen-wen.” Lang stilte. “Wat is ‘n wen-wen-wen?” vra die Vrystater.  “Jy wen, want ek gaan persoonlik die werk vir jou doen. Die maatskappy waar ek werk wen, want die kontrak gaan tussen jou en hulle wees. Hulle gaan my net subkontrakteur. En ek wen, want ek kan nou my eie besigheid begin. ”

Merwe braai skaaptjoppies op sy plaas in Boshoff

“Nee – dis nie wat ek wil hê nie” sê Merwe. “Ek soek ‘n kontrak met jou, nie met die ander konsultasiefirma nie. Sê vir hulle hulle moet my kom sien.”  Nou is die vet in die vuur. Merwe en hulle. Die Vrystater is moeilik.

Die direkteur van die konsultasiebesigheid gaan sien vir Merwe. Na 3 minute loop hy uit Merwe se kantoor uit. Hangskouers. Hy is uitgeslaan in die eerste rondte. Hy het hom behoorlik vasgeloop in die Vrystater wat hom vasgevat het.  Ek  dog alles is verby. Ons kan nou maar net aangaan.

Merwe by sy plaas Uitkyk

Dan hoor ek die volgende dag dat Merwe ‘n kommunikasie laat opstel het om te versprei aan Sasol dat hy in dispuut is met hierdie spesifieke konsultasie-maatskappy, en dat alle werk wat hierdie maatskappy tans doen in Sasol onmiddelik gestop moet word totdat die dispuut opgelos is.  En hulle het baie werk daardie tyd gehad in Sasol.  Hy hou nie op boks nie, selfs al het die teenstander al uit die kruit uitgespring na die eerste rondte. Of alles, of niks.

Merwe die boer.

So het SimpleXity (Pty) Ltd tot stand gekom.

Alles wat SimpleXity vandag is, is te danke aan een man. Merwe. Hy wat nie tevrede was met ‘n kompromie nie. Wat nie bang was om die regte ding te doen nie, maak nie saak hoe moeilik of ongemaklik dit was nie.  Wat nooit bang was vir konflik nie. Wat bereid was om op te tree in my beste belang, selfs al sou hy nie self baie baat daardeur nie. Wat geglo het in my en in my droom. Wat nie skaam was om sy geloof in God te deel nie. Wat nie ‘n bang haar op sy kop het nie, alhoewel hy nie meer baie hare oor het nie. Wat een aand in Bothaville toe ek, hy en Ronald Logie saam in een klein koshuiskamertjie slaap omdat ons drie Nampo se landbouskou gaan bywoon het nie skaam was om die kamer se lig eers af te sit nadat hy sy Bybel gelees het en gebid het nie. Wat nie bang was om ‘n massiewe transformasie teweeg te bring vir die Learning funksie van Sasol nie. Wat enige uitvoerende baas gas gegee het as hulle nie na die tafel toe kom nie. Wat so gelei het dat mense hom wou volg! Een van sy gunsteling gesegdes was altyd Alvin Toffler:

“The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn and relearn”

Baie mense het hom nie verstaan nie, want hy was 10 jaar voor sy tyd.  Die wêreld het leiers soos Van Pletsen vandag broodnodig.

Dit is Merwe! Wat ‘n mens! Wat ‘n leier!

Lekker verjaar Merwe. Ek sien uit na die volgende 60 jaar.

Janneman