In 2004 was ek en Lynette in Gaborone – Botswana. Yanik is daardie jaar gebore. Ek was op ‘n groot SAP projek die veranderingsbestuurder vir Debswana. Ek koop toe ‘n 4×4 Mazda Drifter bakkie by my vriend Marius von Wielligh. En ons besluit ons gaan die bakkie uittoets in Khutse Game Reserve. Daar is nie kampe daar nie. Dis rof en onbeskof. Jy slaap in die veld. Ons twee besluit ons gaan ‘n tentjie opslaan, ‘n lekker groot vuur maak, woeste steaks braai en verskriklik baie bier drink. En so is ons toe daar weg.

Hierdie bakkie het baie dinge gesien in Botswana

Ons het langs ‘n pan in die middel van nêrens ons tent opgeslaan, vuur gemaak en begin braai. Net ek en Marius in die middel van nêrens. Dinge het rof gegaan daardie aand. Die bier het geloop. Dit het ge-eindig waar ek en Marius gekyk het wie kan die vinnigste met die bakkie om die pan jaag – in die middel van die nag. En die volgende oggend het ons met rooi oë en seer koppe besluit ons gaan maar eerder huis toe – nie kans gesien vir nog ‘n nag in die veld nie. Ek onthou ons het blitsvinnig die volgende oggend vroeg die tent opgeslaan – in so mate dat toe ons drie maande later weer gaan kamp en die tent opslaan toe kry ons ‘n stuk gebraaide steak in die tent. Dis ook maar goed ons het eers later gehoor dat Khutse bekend is vir sy verskillende leeutroppe. Ook maar net genade dat ek nie daardie aand aan my been uit die tent getrek is deur ‘n honger vuilbaard nie.

Dit was baie vroeg die volgende oggend toe ons die pad vat terug Gaborone toe. Ons koppe was seer, ons oë rooi, en ons was verskriklik dors. Maar ons harte was vol. Die son was skaars op. En die veld was pragtig. En ons het stadig die grondpaadjie gevat terug Gaborone toe.

So 10 elande het net uit die bloute uit verskyn. En agter mekaar gehardloop. Vir lank, so langs my bakkie. So asof hulle met ons wou speel. Vroegoggend. En na seker ‘n kilometer of so wat hulle so langs ons hardloop, toe spring hulle almal een vir een so voor die bakkie oor die grondpad. Dit was ongelooflik. Hulle nekvelle het geskud soos hulle die grond tref nadat hulle hoog in die lug oor die pad gespring het. Hulle was so vry. En dit het vir my gevoel asof ek deel was van hulle. Asof ek daar ‘belong’ – daar in Khutse vroegoggend. Asof ek ook so vry was.

En ek onthou hoe ek op skool saam met vriende die son sien sak het in die Namib woestyn. En dan daar geslaap het op ‘n stretcher in ‘n slaapsak langs ‘n groot kameeldoringhout vuur. En as jy so op jou een sy lê, dan kyk jy so ver soos wat die oog kan kyk oor die Namib. En as jy omdraai op jou ander sy, dan kyk jy net so ver in die teenoorgestelde rigting in. En dan staar jy na die sterre in die nag. En die volgende oggend vroeg sien jy weer die son opkom oor die Namib met ‘n lekker koppie koffie. Daar in die Namib woestyn het ek ook gevoel ek ‘belong’. Ek het so klein maar ook so vry gevoel.

Yanik en die Namib

En ek onthou hoe ons tiervisse gaan vang het op die Groot Okavango. En hoe ons bootjie se enjin afgesit word en ons dan in stilte afdryf teen die rivier. En elke nou en dan hoor jy die visarend, of jy sien seekoeie wat vir jou loer, of ‘n krokodil wat op die rivierwal lê en bak. Ek onthou hoe ek so deel gevoel het van alles om my. So asof die Okavango my op my skouer wou klop en fluister – ‘you belong’.

Lynette en Yanik saam met vriende op die Okavango
Ek en Yanik op die Kasane rivier in Botswana

Of hoe ons as vriende Tankwa toe is. En daar om ‘n vuur gelag en gehuil het. En gedeel het met mekaar. Stories wat jy nie noodwendig met enigiemand sal deel nie. Die Tankwa het soos die Namib sy arms om my gevou en my gedruk. En vir my anderkant woorde laat besef dat ek ‘belong’, en dat ek vry is.

Ons en die Tankwa

Of hoe ek met my klein Jimny agter drie motorfietse 1200 kilometer grondpad ry deur die Karoo – van Stellenbosch af deur Prins Albert en Leeu Gamka en Frasierburg en Sutherland en die Tankwa tot weer in Somerset Wes. En die grondpad omhels my en druk my – en fluister vir my dat ek ‘belong’ en dat ek vry is.

Die Karoo grondpad en ‘n Tafel…
So loop hy in die Karoo…

En hoe ek die Visrivier canyon gaan stap saam met my sussie Karli en ‘n groep mense in 1998 en toe my vrou Lynette op die einste staptoer ontmoet. En hoe ek en Karli een aand in die canyon onder ‘n seiltjie sit omdat daar ‘n groot donderstorm was, en as die blitse slaan dan hoor jy hoe hardloop die donder van ver af in die canyon. Dit was ongelooflik. En die canyon het onder daai seiltjie sy kop vir my geknik – en bevestig dat ek vry is en dat ek ‘belong’.

Of hoe ek huilend langs my ma se sterfbed sit. En lank in stilte by haar sit in ‘n spasie waar woorde nie meer nodig is nie. En selfs in haar pyn het sy my hand vasgehou. En vir my geglimlag en my laat voel op haar manier dat ek regtig ‘belong’ – en dat ek vry is.

Ek en my sussie Karli by my ma net voor haar dood

En selfs jare terug in 1988 toe ek in die Artillerie in Angola was, onthou ek hoe ons ‘n speaker vasgemaak het aan ‘n Buffel. En met die oordowende lawaai van Neil Diamond se Hot August Night het ons deur Ovamboland se sjônas gejaag en hardop saamgesing. Ons het gedink ons was ongelooflik ‘cool’ – maar kan jy by jouself dink wat die terroriste sou dink as hulle ons so sou sien – een moerse stofwolk lawaai met ‘n Neil Diamond ‘flavour’. Maar op ‘n manier het ek vry gevoel. So asof ons en die Buffel en Oom Neil een was op die sjôna.

Seun Kesslau ry daai Buffel soos ‘n perd

Boeta se les:

Yanik – lees hierdie stukkie. En dan lees jy hom weer:

I rest and notice the trees rising out of the water. I look into the water and see how the trees have bonded with the algae and plant life. Aren’t I out here to learn how to bond to God?

Nature bonds, but it does not cling….


I look at the river. If I were to cling to it, I’d have to pick it up in a bucket and take some of it with me. I’d separate it from itself. If I were to cling to a tree, I’d have to break a part of it off, or uproot it. If I were to cling to a rock, I’d have to remove it from its home. This is worse: if I were to cling to the red bird, I’d have to cage him.
Maybe when I cling to people, I dim them, too. I separate them from their own inner roots. I help them to believe that they are dependent on me, or that the hunger in their bellies is a cry for me. I convince us both. And then we never hear the cry of hunger which is for God. Until this moment I have not understood that. I am hungry for God…. Now as I am eating and drinking (taking in) God’s creation, I feel satisfied. I am letting myself live in its beauty without needing to own it or control it or secure it for tomorrow. I am seeing it as it is … really seeing it.

And that is enough, to really see.

I am present to this moment.

That brings joy

Paula D’Arcy, Gift of the Red Bird: A Spiritual Encounter (New York: Crossroad Publishing, 1996), 93, 107–108

As die water nie gehoorsaam en verbonde wou wees aan die rivier nie en in ‘n emmer alleen sou wou voortbestaan, dan het die water sy vryheid en ‘belonging’ verloor.

As die blare en takke van ‘n boom op sy eie wou gaan en nie gehoorsaam wil wees van die boom nie, dan sou dit nie lank bestaan het nie.

As ek ‘n klip sou vat by die Spitzkoppe en dit na my huis toe bring, dan sou die klip nie so mooi gelyk het soos tussen die ander klippe in die Namib nie.

As ek ‘n voëltjie wou vang omdat dit vir my so mooi is, en dit in ‘n hokkie sou sit, sou daardie voëltjie sy vryheid en ‘belonging’ verloor.

Kan ‘n brander vir die see sê: “ Ek wil my eie ding doen – sonder jou…”…?

Net soos die water en die takke en die klip en die voëltjie en die brander ‘belong’, so ‘belong’ jy aan God. Hy het jou gemaak. Jy behoort aan Hom. Sonder dat jy iets hoef te doen. En die oomblik as jy jouself daarvan wil distansieer, dan gaan jy jou vryheid verloor.

Ons verloor dit so maklik deur te val vir die wêreld se ‘candy store’: sonde, begeertes; afhanklikheid van ander mense se opinie van ons; geld; besittings; mag. Dis alles ‘n simpel gejaag na wind. Dis leeg.

Die elande in die Khutse en die sterre in die Namibwoestyn en die visarend in die Groot Okavango en die vuur in die Tankwa en die grondpaaie in die Karoo en die blitse in die Visrivier Canyon en die koue hand van Ouma en die sjônas in Ovamboland het niks gedoen sodat hulle kan ‘belong’ nie. Hulle ‘belong’. Pint.

En alles was eintlik alles maar net God se manier om vir my vas te hou in Sy Liefde. En in my oor te fluister dat ek vry is in Hom – en dat ek ‘belong’.

Want Hy sê tog: “You, my brothers and sisters, were called to be free” Gal 5 v13.

Soos ek vanoggend in die kerk hoor: “Jou vryheid lê in gehoorsaamheid en verbondenheid aan God. ”

Mag jy nooit onbewustelik slaaf word deur te val vir die wêreld se ‘candy store’ nie.

Jy is vry, en jy ‘belong’….

Lief vir jou

Pappa

2 thoughts on “Die Eland storie

  1. Janneman, wat ‘n cool en treffende boodskappie. Ons ry oor 4 weke Botswana , Caprivi en Namibie toe vir 4 weke . Ek is seker dat oop ruimtes en natuur en elkeen in die geoepie vry gaan laat voel. Ek gaan beslis op Kubu eiland ‘n glassie op jou klink. Mooi loop ou mater.

Comments are closed.