Die Gee en Vat Storie

Balans is belangrik.

My pa het altyd gesê iets met ‘n ‘te’ in is gevaarlik . Die sleutel lê maar in balans.

In my konsultasie besigheid gebruik ons dit baie. Ons gee dit net ‘n ‘fancy’ naam. Polariteitsbestuur. Om te kan besef dat sekere dinge in die lewe nooit opgelos kan word nie.

Maak nie saak hoe hard jy probeer nie.

Jy kan dit net balanseer.

Dink aan iets so eenvoudig soos asemhaling.

Jy kan NOOIT die probleem van asemhaling oplos nie. Jy gaan jou inasem ALTYD moet balanseer met jou uitasem.

Vir die res van jou lewe. Tot jy jou laaste asem uitblaas.

Dis ‘n polariteit.

Nie ‘n probleem nie.

So is daar baie polariteite in ons lewe wat ons misgis as probleme. En ons probeer dit oplos. En ons sukkel. Want dit wil nie opgelos word nie. Dit wil net gebalanseer word. Hoe mooi is hierdie:

“Get out of the Tyranny of the OR, and learn to get into the Genius of the AND” – Jannie du Toit en ander konsultante.

Ek dink en ek blog nogal baie oor die polariteit van ‘solitude’ AND ‘action’. Ons moet dink, en ons moet doen. En ons moet dit balanseer. Ons moet in die “Genius of the AND” kan ingaan. Maar dis bleddie moeilik. Want alles om ons skree vir aksie. En ons wonder oor mense wat hulself afsonder. En in Stilte ingaan. Dis asof hulle ‘weird’ is.

My vrou gaan merk Matriekvraestelle onlangs in Gauteng. En my seun gaan saam met koshuispelle Glentana toe om golf te speel. En ek is alleen by die huis vir agt dae.

En alles in my skree vir ‘extreme solitude’.

Ek is nie lus vir mense nie.

Ek is nie lus vir ‘shopping centres’ nie.

Ek is nie lus vir verkeer nie.

Ek is nie lus vir social media nie.

“Paradoxically, the ability to be alone is the condition for the ability to love.” Erich Fromm

Ek besef ek het ‘n hunkering na stilte.

Solitude.

Solitude

En ek gaan toe in ‘n spasie in van absolute stilte in by die huis.

Vir agt dae.

Ek slaap baie.

Ek eet gesond.

Ek bid.

Ek dink.

Ek lees.

Ek gaan alleen gym toe.

Ek vat my Yorkie alleen strand toe.

Ek werk alleen deur dinge.

Ek nooi niemand nie.

Just me, myself and I.

100% solitude.

“We must learn to get into the silence so that the silence can teach us to be silent.” Richard Rohr.

“The more powerful and original a mind, the more it will incline towards the religion of solitude.” Aldous Huxley

“You should sit in nature for twenty minutes a day. Unless you’re busy, then you should sit for an hour”. Becomingmindset

“I do not know if I am extremely sensitive or if life is unbearable.” Vincent Van Gogh

Stilte het my nog altyd beloon met groot insigte wat ek miskyk wanneer ek vasgeval is in die ‘Tyranny of the ‘OR”.

Dit het my nog nooit teleurgesteld nie.

Ek kry altyd ongelooflike skatkisse wanneer ek in stilte ingaan.

En stilte het my weereens ‘n groot skatkis gegee na hierdie agt dae. En ek wil dit graag met jou deel.

Stilte sê vir my ek is besig om weer vas te val in die Tyranny of the OR.

Ek gee te veel. Ek glo wel jy kan nie iets optel met ‘n toe hand nie. Maar soms sukkel ek met daardie balans.

Soms gee ek te veel van my geld, my tyd of my energie. En ek verwag ander gaan dit ook doen. So eenvoudig soos dit. En nie almal doen nie. Min doen eintlik. En dis nie omdat hulle sleg is nie.

Baie is maar net gewoond aan vat.

Dit sê ek versigtig want soms is daar mense wat graag tyd, geld en energie wil gee maar net nie in ‘n posisie is om dit te kan doen nie . En ek moet dit kan raaksien. En dit respekteer en opreg waardeer. Die weduwee se kruik het die beste olie.

Maar die ander…

Ek sien dit veral met die verhuring van my eiendomme. Dis asof sommige huurders dink hulle doen my ‘n verskriklike guns om my plek te huur. En sodra daar iets kleins verkeerd gaan, dan wil hulle dit onmiddellik reggestel hê. Want hulle betaal dan huur. En hulle skop vas soos ‘n donkie as die huur met ‘n netelige 4% opgaan per jaar. En as hulle die plek verlaat, los hulle een groot gemors. Jy kan maar allerhande ‘governance’ probeer inbring – jy trek maar op die einde aan die kortste end. Hulle kyk heeltyd waar kan hulle ietsie ‘score’. En dan is daar van my huurders wat absoluut dankbaar is vir wat hulle het. Wat nooit kom met onbillike versoeke nie. Wat jou plek in ‘n beter toestand los as wat hulle dit gekry het. Wat altyd betyds hulle huur betaal. Maar hulle is skaars.

Ek sien dit in my eie besigheid. Ek het uitstekende kontrakteurs. Maar daar is (en was) ook ander. As hulle nie jou kliënt (waaraan jy hulle voorgestel het) by jou probeer steel nie, dan wil hulle meer geld hê. En hulle is blind vir alles wat jy vir hulle doen en probeer doen. Hulle weet van vat. Verstaan maar baie min van gee. Dan is daar ander wat soos ‘n vis in die water is. Wat dankbaar is vir die geleenthede wat ek probeer skep vir hulle. Wat regtig aan my kant staan en saam met my probeer om my besigheid te groei. Wat soos ek, hulle man staan in die harde konsultasiebesigheid en dinge op die ken vat sonder om te kerm. Maar hulle is skaars.

Soos hoendertande.

Ek sien dit met sommige van my vriende. Hulle kom met leë hande by jou aan. En dan verwag hulle dat jy hulle moet ‘entertain’. Jou tyd. Jou geld. Jou energie. Jou hout. Jou wyn. Jou bad. Jou bed. Jou skottelgoed wat jy self moet was. Dat jy tog so bly behoort te wees dat hulle by jou kom kuier. Maar hulle gee nooit dieselfde tyd, geld en energie aan jou as wat jy aan hulle gee nie. Maar sal vinnig kom skep as hulle kan.

En dan het ek vriende wat absoluut verstaan van gee. Elke kuier met hulle is een groot plesier. Hulle ‘match’ jou op elke gebied met dit wat jy insit. En soms kan hulle nie – maar hulle bietjie is baie. Hulle kan net nie. Die weduwee se kruik storie.

Daai vriende is maar skaars.

Soos hoendertande.

Ek vra toe vir Stilte hoe bestuur ek hierdie polariteit? Van gee en vat.

En Stilte sê vir my: “Dis tyd. Jy is nou oud genoeg. Leer om mense te ontmoet met dieselfde energie en moeite as wat hulle gee. Nie meer nie. Nie minder nie. Dieselfde. As hulle 10% insit, sit jy 10% in. As hulle 80% insit, sit jy 80% in.”

Een van my vriende doen dit met sy wyn. Hy haal dieselfde klas wyn uit as wat sy gas bring. En as sy gas geen wyn bring nie, dan drink hulle water. Ek sukkel om dit reg te kry.

Maar hoor my reg. Die weduwee se kruik…

Ek is net versigtig vir die ander bliksems…

En Stilte sê vir my: ” Hou op om jouself maklik beskikbaar te maak vir mense wat jou nie prioritiseer nie…” Eish….

En Stilte sê vir my: “Jou afwesigheid in ander se lewens behoort doodeenvoudig te wees slegs as gevolg van hulle onveranderde gedrag.” Ek is nou oud genoeg om hierdie les te leer.

En Stilte sê vir my: “Jy kan nie mense verander wat nie wil verander nie. Maar jy kan jou lewe opmors deur wel te probeer. Jy kan wel jou nabyheid, reaksie en grense verander.” Eina…

En Stilte sê vir my: “Jy lewe op geleende tyd. Jy is 56. Omring jou nou met mense wat JOU kies. En laat die ander gaan…” Ja. Dankie Stilte. Ek gaan probeer.

En Stilte sê vir my:” Leer om hoe jy oor ander voel eenkant te sit. Gee bietjie aandag aan wat hulle aksies vir jou sê hoe hulle oor jou voel…” Eina…

En Stilte sê vir my: “Die duurste ding in die wêreld is vertroue (trust). Goedkoop mense kan dit nie bekostig nie.” Jô …

En Stilte sê vir my:” Begin onderskei dat baie mense ongelukkig in jou lewe inkom nie om jou lief te hê nie. Hulle kom om jou te gebruik. Hulle is nie lojaal aan jou nie. Hulle is net lojaal aan wat hulle kan kry van jou af. Sien hulle vinniger raak.” Ai tog!

Ja – ek sal hulle steeds liefhê. Maar ek moet my grense baie beter bestuur.

Boeta se les

Yanik, wees baie lief vir mense. Maar vertrou maar min van die bliksems.

Maar gaan kyk dan ook na jou Pa se voorbeeld.

Hy het vir ons kom wys hoe.

Eers het die hoender drie keer gekraai…

En toe word dieselfde ou wat die hoender laat kraai het genoeg vertrou om die rots te word waarop Hy Sy kerk bou…

Wat ‘n voorbeeld…!

Daai dwarslat bly darem baie hoog vir my.

Lief vir jou

Pappa