Ek dink vanaand aan my ouers. Hulle is nou altwee weg. Maar hulle is so vars in my gedagtes.
Ek is nou in 2022 ‘n weeskind.
Op 54.
Ja – ek het nie meer ‘n ma of ‘n pa nie.
My pa is onverwags weg. Ons het dit sien kom, maar dit was steeds vinnig. Dood aan sy hart. Ek het die oproep laat in die nag gekry. In Johannesburg. In die IX35 gespring en deurgejaag Pretoria toe. Op pad het my sussie Karli my gebel en gesê ek is te laat.
Hy is klaar weg.
Hy het op die mat gelê. Sy ou groot lyf plat op die mat. Ek het hom vasgehou en gehuil, uit my hart uit.
Asof hy my sou kon hoor. Die ambulans het opgedaag en ons het hom in ‘n kombers gesit en op die ‘stretcher’ gesit en hulle is daar weg met hom.
Toe is ek terug Johannesburg toe. En toe ek die volgende oggend wakker word, toe was ek sonder ‘n pa.
Vir die eerste keer in my lewe.
My ma se storie loop anders. Ek het haar verloor hierdie jaar.
03:30 23 Mei 2022 het sy haar laaste asem uitgeblaas.
Die groot kanker.
Ek het amper elke naweek probeer deurry van Somerset Wes af Mosselbaai toe. En dan het ek langs haar bed gesit, haar hand vasgehou en gehuil. En gekyk hoe die kanker haar stukkie vir stukkie opeet.
Ek het vir haar gebid. Ek het een aand alleen nagmaal gehou met haar, net ek en sy. Met rooi wyn en ‘n stuk droë brood. Nogal.
En ek het vir haar Psalm 23 hardop gelees tussen my trane deur.
En my storie vir haar gelees oor die oseaan. En vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd het ek my ma terug gehad deur die dementia en alles. Haar volle aandag – asof sy elke woord opgeslurp het:
https://www.diedutoitsonline.com/die-oseaan-storie/
En ons het gelag. En gehuil. En ons het mekaar gegroet. En toe spring sy in die Groot Oseaan in. .
En nou is altwee weg.
Ek was die naweek by ‘n vriend van my se sestigste verjaarsdag. En iemand praat oor hom en sê iets waaraan ek nog die heeltyd kou…
Hy sê as iemand doodgaan dan is ons nie noodwendig jammer oor die oorledene nie. Ons is jammer vir die mense wat agterbly. Want die oorledene het iets in hulle wakker gemaak wat net hulle kon. En met die afsterwe, gaan daardie stukkie ook dood in die wat agterbly.
En dis hoe ek voel.
Daar is iets dood in my wat net my ma en my pa kon wakker maak.
Niemand anders nie.
En nou is hulle nie meer hier nie.
Boeta se les:
Yanik, eendag gaan ek en Mamma ook nie meer hier wees nie.
Mag jy dan aan ons dink soos wat ek vanaand aan Oupa en Ouma dink.
Dat ons iets kon wakker maak in jou wat net ons kon doen.
Hierdie gedig verwoord wat ek probeer vir jou sê:
EK KAN JOU TRANE NIE AFDROOG NIE
ek kan jou trane nie afdroog nie
maar ek kan saam met jou huil
ek kan jou nie optel nie
maar ek kan langs jou kom kniel
ek kan vir jou nie antwoorde gee nie
maar ek kan luister na jou vrae
ek kan jou nie gesondmaak nie
maar ek kan seerkry as jy ly
ek kan jou woede nie stilmaak nie
maar ek kan ruimte maak vir jou storm
ek kan jou nie keer as jy wil weggaan nie
maar ek kan vir jou wag as jy terug sou wou kom
ek kan jou nie heelmaak nie
maar ek kan saam met jou veg teen dit wat jou wil breek
ek kan jou lied nie skryf nie
maar ek kan jou redes gee om te sing
ek kan jou nie peil nie
of stuur nie
of dwing nie
of definieer nie
maar ek kan jou liefhê
Lief vir jou
Pappa