Toe die dokter jou oopsny en jy vir my ‘n WhatsApp stuur op 3 Maart 2022 met die woorde: “Jan hulle het toegemaak. Dis te ver…”
Toe ek vir jou kom kuier in Mosselbaai in die hospitaal, en jy swart bloed opgooi onophoudend in jou geel emmertjie….
Toe hulle jou maag moes oopsny omdat die kanker jou derms toedruk….
Toe jy by die huis lê en jou wond septies word en die water uitspuit deur jou wond…
Toe ons jou nie op chemo kon sit nie, want jou wond is steeds oop…
Toe die kanker aan jou vreet dat jy net vel en been is…
Toe ek langs jou bed soos ‘n klein seuntjie sit en huil…
Toe sien ek dit raak:
Hoe jy die pad stap – elke dag
Hoe jy die dood elke dag in die gesig staar sonder vrees – amper nonchalant
Hoe jy nie een oomblik kerm of kla nie
Hoe jy my vertroos, waar ek veronderstel is om jou te vertroos
Hoe jy belangstel in ons wel en weë te midde van jou eie toestand
Hoe jy my herinner dat jy net in ‘n oorgang is na ‘n wêreld waarvan ons eintlik maar baie min van verstaan
Hoe jy vir my bid – jy vanuit jou dal van doodskaduwee
Toe weet ek:
Met trots
en met styl
en sonder enige vrees of angs
met tonne liefde
en emmers vol vrede
Stap jy elke dag die pad
En as ek hom eendag self moet stap,
dan sal ek hom wil stap presies soos jy hom stap…