Die Jool storie

Ek was lank terug in die enigste manskoshuis op Stellenbosch.

Majuba.

Ons sê dit maar altyd so tong in die kies, want toe ek eerstejaar was, was Majuba die koshuis vir die manne wat reeds in die “army” was. Ja, en ons het enkelkamers gehad. Dit was baie lekker tye daardie.

Ek weet nie of hulle dit nog steeds doen nie, maar tydens Jool het ons gewoonlik vlotte versier saam met die meisieskoshuis waarmee ons gejool het. Dan moes ons saam met die meisieskoshuis die vlotte regkry vir die groot optog. Dan ry al die vlotte agtermekaar en ek dink as ek reg onthou, kry die beste vlot ‘n prys. Of so iets.

So daag die groot dag toe op. Ons vlot is versier, en ons is trots om deel te wees van die jooloptog. Ons was nou nie verskriklik ingesteld om die vlotkompetisie te wen nie. Ek kan nie eers onthou wat ons tema was nie. Daardie tyd was die teenoorgestelde geslag baie belangriker as die tema van jou vlot.

Maar een ding onthou ek baie goed. Toe ons regmaak om saam met die vlot te loop, toe was daar ‘n appel-gedoente met sonbrille op wat daar eenkant gestaan het. Jy trek die gedoente oor jou kop, en dan lyk jy soos ‘n appel met bene. Die blêddie ding het so ‘n groot wit “smile”, en as jy hom oorgetrek het, dan het jy so ‘n “handle” aan die linkerkant onder en regterkant bo waarmee jy kan navigeer. En dan so ‘n belaglike klein gaatjie waardeur jy kan loer. En so ‘n groot stingel wat fatsoenlik uitrank op sy kop.

En dit is ‘n swaar gedoente. Die idioot wat die appelgevreet ontwerp het, kon regtig ‘n ander materiaal gebruik het. Ek weet al die goed, want ek was die “sucker” wat die appelgevreet moes opsit. Omdat ek ‘n “jarr” (eerstejaar) was en opdrag gekry het om die appel aan te trek.

Die mense wat my ken lag hulle vrek as hulle die storie hoor. Want ek was lank en maer, en met hierdie appelgevreet aangetrek het ek gelyk soos ‘n lolliepop. Lank en maer met hierdie moerse appelkop. Of soos ‘n aartappel op vuurhoutjies. Jy weet, gee eerder die appelgevreet vir ‘n kort outjie om aan te trek, dan lyk dit miskien beter. Nou kies hulle die langste en maerste ou.

En die ergste van alles is, jy kan nie self die appel afhaal nie. Iemand moet jou help. So as daardie appel eers oor jou kop is, dan is jy in jou moer. Jy is uitgelewer aan almal om jou. En daardie tyd was dit baie gevaarlik vir jou om aan ‘n klomp studente uitgelewer te wees.

So begin ons toe die vlootoptog. Ek het die appel aan die binnekant beet aan die linkerkant en regterkant met albei hande, en ek korrel so veel ek kan net om deur die piepklein gaatjie voor my te sien sodat die appel nie van die pad af foeter nie.

Maar die appel is swaar. En my arms word lam. En sodra ek begin wankelrig raak, dan kan ek ook nie meer sien deur die gaatjie nie. En dit raak warm en bedompig daar binne in die appel. Want ventilasie is nie aan gedink toe die appel ontwerp is nie.

Ek hou my “pose”, want jy wys mos nie jou “vulnerability” vir die meisies nie. Stap ewe gedweë agter die vlot aan. Maar die vlot begin toe vinniger ry, en ek raak uitasem. En ek word dors. En ek kry nie asem nie.

Maar ek byt vas. Ek is mos “mean”. Sal ‘n ou wat nou so pas uit die “army” uit kom staan en kerm oor ‘n simpel appel? Nooit.

Later beweeg ons vlot onder my uit. Ek kan nie byhou nie. My knieë is lam. Ek hyg na asem. Die gaatjie waardeur ek moet kyk gaan van links na regs, en dan weer van regs na links. En so nou en dan sien ek ‘n vlot, maar dit is elke keer ‘n ander vlot soos die vlotte een na die ander by my verbykom.

Toe gebeur die ergste.

Elsenburg het ook ingeskryf vir die jooloptog. Die pampoenboere. Maar hulle het niks moeite gedoen met hulle vlot nie. Hulle vlot is ‘n doodgewone lorrie met ‘n oopbak. En agterop die bak staan die Elsenburgers en braai. Elkeen met ‘n bier. Dis die vlot.

En so kry die trokkie toe ook sy beurt om verby die appel te ry. En een Elsenburger wat seker te veel bier gedrink het, besluit vandag is die dag dat hy hierdie appel ‘n les gaan leer. En hy sit op die lorrie en gryp die appel aan sy stingel…

Nou is ek vas. Ek moet nou beweeg teen dieselfde spoed as die lorrie, anders gaan ek val. En val is erg, want jy kan niks keer nie. Jy het nie arms nie – dis alles binne die appel. So die appel begin toe maar draf langs die trok. En binne die appel gil ek so hard soos ek kan:”Los – ek gaan val…”. En ek vloek en gaan tekere…

Maar dit is net wat die dronk student nodig gehad het. “Boys – hoor hoe kerm hierdie appel” – hoor ek hom sê. Skielik is die appel die fokus van die hele trok se bemanning. Hulle maak beurte om die stingel vas te hou, en hoe meer ek kerm, hoe harder lag hulle.

Ek dink ek het daardie dag seker maklik 3 kilo’s gedrafstap. Al langs daardie trokkie. Met een verskriklike gekerm en gekla.

In ‘n appel.

Vasgehou aan my stingel.

Met my tong wat vas aan my verhemelte kleef van die dors.

Dit moes iets gewees het om te aanskou. Hierdie groot ronde appel met sy groot wit “smile” en sonbrille, met sy dun lang bene, en ‘n klomp dronk pampoenboere wat nie wil laat los nie.

Jy sien ‘n vreeslike vriendelike appelgesig maar jy hoor net ‘n gekerm.

Ek onthou toe die pampoenboere naderhand verveeld is met die skreeuende appel, toe los hulle my. Genadiglik.

En toe hoor ek ‘n stem. ‘n Meisiestem. Ek hoor haar, maar ek kan haar nie deur die gaatjie sien nie. Sal vandag nog haar stem herken.

Sy vra of ek dors is.

Toe gee sy vir my ‘n yskoue Coke. Sy het dit selfs vir my oopgemaak, en onder die appel ingedruk met ‘n strooitjie.

En vir my vasgehou sodat ek kon drink. Want ek moes die appel vashou met altwee my hande.

Boeta se les:

Yanik, daardie meisie het deur die vals “smile” van die appel gekyk en my nood raakgesien.

Ek weet glad nie hoe sy lyk nie. Maar ek sal steeds haar stem onthou.

En na die tyd lag ek oor die storie, maar daar is ‘n pragtige les hier.

Compassion.

Daar is baie mense wat soos daardie appel rondloop. Buite is dit sonbrille en wit tande en “smiles”, en binne is dit ‘n geween en geklap van tande.

“The realm of God that Jesus preached and died for was one that was known for its kindness and generosity, its compassion and healing. There was no one deemed outside the love of the Holy One whom Jesus called Father. No one was excluded from fellowship, not the rich or the poor, male or female, slave or free. Jesus went beyond superficial divisions and called for a culture of compassion.

Compassion changes everything. Compassion heals. Compassion mends the broken and restores what is lost. Compassion draws together those who have been estranged or never even dreamed they were connected. Compassion pulls us out of ourselves and into the heart of another, placing us on holy ground where we instinctively take off our shoes and walk in reference. Compassion springs out of vulnerability and triumphs in unity” Judy Cannato, Field of Compassion: How the New Cosmology is Transforming Spiritual Life (Sorin Books:2010), 8.

Ek het daardie dag “compassion” ervaar.

Deur ‘n yskoue Coke. En ‘n pragtige stem.

Wees jy ook eendag “compassion” vir iemand!

Lief vir jou

Pappa