Die Rickey storie

Yanik het eintlik nog altyd honde gehad. Van kleins af. Casper het hy gekry toe ons Johannesburg toe getrek het. in 2005 of 2006. Ek en Lynette het eintlik op Casper besluit. Ek wou ‘n opregte hond hê. Sy wou ‘n “pavement special” hê. Toe gaan google ons dit. En toe land ons op ‘n Border Terrier. Casper. Daar was net een teler in Suid-Afrika toe. In Senekal. Hy het die hond vir ons gebring. En van toe af is Casper deel van die gesin.

Maar nie lank daarna nie, toe sê Yanik hy hou van Casper. Maar eintlik is dit nie sy hond nie. Dis ons hond, want toe hy Casper gekry het, was hy te klein om te besef dat dit eintlik sy hond moet wees. En toe word Casper eintlik maar my hond. Dis waar. Hy aanbid die grond waarop ek stap. Hy eet nie as ek nie by die huis is nie. Ek is sy alles.

So besluit ek en Yanik toe een Saterdagoggend ons gaan nou vir hom sy eie hondjie kry. En ons spring op OLX en nie lank daarna nie toe word Muffin deel van die gesin. Haar pa was ‘n opregte trotse Yorkie. Haar ma was iets verskrikliks. Muffin is ons OLX special…

Maar Muffin het ook diep in ons harte ingeklim. Van kleins af het ons agtergekom dat Muffin meer behep is met haar balletjie as met enigiets anders. En van kleins af het Muffin eintlik op ‘n manier Lynette se hond geword

En so ruk terug toe kom Yanik met dieselfde storie. Hy soek sy eie hond. Casper is my hond, en Muffin is Lynette se hond. Alhoewel ons al twee honde eintlik vir Yanik gekoop het. En na baie oorweging toe besluit ons om vir Yanik sy eie hondjie te kry.

En so het Rickey in ons lewe ingekom. ‘n Beagle. Meer spesifiek, ‘n “lemon” Beagle.

En so rukkie terug toe raak Rickey siek. Sy koors is hoog, hy wil later nie meer eet of drink nie, sy maag werk. En ons vat hom van veearts na veearts maar niemand kan vir ons sê wat fout is nie.

Die vierde veearts (en duisende rande later) kom toe agter die kap van die byl. Rickey het Beagle Pain Syndrome. ‘n Tipe meningitis. En hy noem dat hy hom ‘n sterk dosis kortisoon gaan gee, en dit bring gelukkig dadelik ‘n wesenlike verskil.

Die volgende oggend was Rickey erger as ooit. Kon nie op sy eie voete staan nie. Kon niks eet nie. Kon niks drink nie. Ons is toe terug veerarts toe. En ons het daar besluit dat Rickey eerder uitgesit moet word. Hy kry swaar. Selfs die kortisoon het nie vir hom gewerk nie.

En ons was al drie by hom toe die veearts hom ingespuit het. En ons het al drie gehuil en sy lyfie gestreel en hom toegelaat om verlos te word van sy pyn

Boeta se les:

Yanik, ek is bly jy kom op jou vroeë ouderdom nader aan die konsep van dood. En dit is belangrik dat jy jouself vroeg daarmee oriënteer, want jy gaan net elke dag meer en meer daarmee te doen kry.

Hier op Aarde is die mens is die enigste skepsel wat bewus is van die dood. En daardie bewustheid word al hoe meer hoe ouer jy gaan word. Rickey en alle ander honde en katte en plante gee eintlik hulself 100% oor aan die siklus van lewe en dood. Dis vir hulle doodnormaal. Dis net vir ons mense moeilik – hierdie ding van dood. Omdat ons so bewus is daarvan.

Die blote feit dat ons bewus is van ons eie dood maak ons bang en onseker. Van kleins af. Ons weet so bietjie van die feit dat ons nie vir altyd gaan lewe nie. En ons verkies om eerder nie daaroor te dink nie. So ons bietjie bewustheid van ons eie dood maak dat ons eerder kies om onbewus daarvan te wil wees. Want dit maak te seer om daaraan te dink.

Ek wil jou help dat jy nie jou hele lewe lei in vrees vir die dood nie. Nie dat ek nie bang daarvoor is nie.

Ek is….!

Maar daar is iets oor die dood wat jy moet verstaan. Ek dink ek begin dit nou eers te verstaan…

‘n Dag het 24 ure. Twaalf daarvan is dag, en 12 daarvan is nag.

Jou Pappa was nie bang vir die dood toe Hy hier op die aarde was nie. Hy het geweer dat die donker ure sal kom. Maar Hy het ook geweet dat dit nie vir altyd sal aanhou nie. Hy het geweet dat dag en nag twee kante is van die ewige Misterie van die Lewe.

Hy het geweet dat dood nooit die finale sê het nie. Dood en lewe is twee kante van dieselfde muntstuk. Jy kan nie die een hê sonder die ander nie. Elke keer as jy oorgee en die “dood” vertrou, dan bring dit lewe. Dit klink”weird”- maar dit is so.

En elke keer wat jy dit regkry, is dit asof jy dieper gaan in die see van geloof. Jy laat gaan jou narsistiese woede (“laat dit doodgaan”) en skielik vind jy dat jy gelukkiger is. Jy laat gaan jou behoefte om jou lewensmaat te beheer (“laat dit doodgaan”) en skielik is daar nuwe varsheid in die verhouding. Dood bring nuwe lewe.

Maar elke keer is dit ‘n keuse. En elke keer is daardie keuse of jy iets gaan laat doodgaan, of nie. Dis asof ons eintlik net sal weet wat die lewe regtig is as ons verstaan wat die dood is.

Dis iets wat ek moes leer. Om hierdie siklus van dood en lewe beter te verstaan, maar meer nog, om dit te vertrou. Om eendag soos Merton te kan sê: ” What have I ever lost by dying…?”

Of in Paulus se woorde:” For me to live is Christ and to die is gain…”.

In elke atoom, in elke menslike verhouding, in elke sterrestelsel is hierdie patroon teenwoordig. Dis ‘n tipe van ‘n vloei. ‘n Universele patroon. Dinge verander en groei deur dood te gaan in sy huidige vorm. En elke keer is dit ‘n risiko. En dis seer. Hierdie konstante vloei van verlies en hernuwing wat soos ek hier tik, in werking is.

Dit is ‘n patroon van alle groei. Om te lewe, is om oor te gee aan hierdie “inevitable” vloei. Dit is baie groter as ons. Ons moet leer om iets kleiner te laat gaan (“to die”) sodat iets groter kan gebeur.

Jou Pappa is op ‘n verskriklike manier doodgemaak. Die kruis. Maar die kruis het Sy opstanding teweeg gebring. Sy dood het nuwe lewe gebring, vir ons almal.

En Sy opstanding was iets baie groter as Sy kruisdood.

Sien jy die vloei…?

Hy het dit baie beter verstaan as ons, en Hy wil graag dat jy dit ook so moet sien. Hy wil nie hê jy moet jou hele lewe bang wees vir die dood nie.

Dink aan ‘n saadjie wat moet doodgaan sodat ‘n plantjie kan opkom en baie vrugte kan dra.

Ek het jou trane gesien toe jy ons Rickey-hondekind vasgehou het terwyl die veearts hom ingespuit het. Ons was saam met jou hartseer. Maar Rickey is ook ‘n skepsel, soos ek en jy. En daarom is hy ook deel van hierdie vloei, op maniere wat ek en jy nooit sal verstaan nie.

Soos die plante om ons, en die diere, die visse en die planete en sonnestelsels.

Lief vir jou

Pappa