Die Nico storie

Ek haat enige binnekring.

Ek het vroeg in my lewe al oorlog verklaar teen enige vorm van binnekring. Sal dit ook “fight” vir die res van my lewe. Dit is volgens my siek tot in die nate in. Veel erger as om ‘n kleintjie se roomys te steel. Of om jou sussie te soen.

Ek het nie baie maatjies gehad toe ek grootgeword het nie. Ek was nie die gewildste kind in die skool nie. Ek was nie prefek nie. Was te maer om goed te kon rugby speel. Maar ek het alles probeer, want as jy kon rugby speel, dan was jy OK.

Die rugby onnie het my begin op stut in Standerd 5. Dit was in 1981.

Toe haker.

Toe slot.

Toe flank.

Toe agsteman.

Toe skrumskakel.

Toe losskakel.

Toe senter.

Toe vleuel.

Toe heelagter.

Ek het die boodskap duidelik gekry toe ek op ‘n dag opdaag vir rugbyoefening en die meneer my op die skrummasjien laat sit terwyl die ander oefen.

Vir die hele oefening.

Toe los ek maar rugby.

Het ook nooit ‘n meisie gehad op skool nie. Ek was nie juis ‘n proposisie nie. Soos ‘n koedoekalf gelyk met my maer lyf en bakore. Kon ook nie daarop staatmaak dat my ouers ryk of invloedryk was nie. Ek het nie duur speelgoed gehad nie. Ons het ook nie in die duurste huis gebly nie. Ons het nooit luukse motors gehad nie. Kon nooit my maatjies beïndruk met ons speelgoed nie.

Ek onthou op ‘n tyd in my lewe toe ek geen maatjies gehad het nie. Ek onthou hoe bang ek was vir pouse. Ek onthou vele pouses in my lewe waar ek alleen gesit het. Niemand wou met my speel nie. Vroeg reeds in my lewe moes ek gewoond raak aan die buitekring.

Die buitekring is nie maklik nie.

Dankie tog vir maats in my lewe op skool soos Coen van Niekerk en Tarka du Plessis. As dit nie vir hulle was nie, dan het ek seker al lankal my polse met Marie-beskuite gesny.

Ek was my hele skoollloopbaan in die buitekring. En merendeels tot nou toe loop ek maar eerder in die buitekring.

Ek hou nie van die binnekring nie.

If you are not on the inside, you must always remember that you are on the outside

Warren Buffet

My pa het op ‘n tyd nie kerk toe gegaan nie. Sondagoggende sou ons aantrek vir kerk en dan sou hy nog steeds in die bed lê. Ek vra hom toe eendag hoekom hy nie saam met ons kerk toe gaan nie. Sy antwoord was dat hy weer kerk toe sal gaan sodra hy kan verstaan hoekom daar elke Sondag in die kerk gevra word vir donasies sodat die kerk sendingwerk kan doen in Afrika, maar ons laat geen swartes toe in die kerk nie. Ons wil siele red in Afrika, solank hulle net nie langs my sit in die kerk nie….

Die kringetjie.

Óf jy is aan die binnekant, of jy is aan die buitekant.

My pa het verstaan van die kring.

Daar is ‘n baie interessante sielkunde wanneer dit by die kring kom. Die mense aan die binnekant sal jou die hele tyd probeer “weeg”. Jy word na ‘n braai genooi en dan kom jy agter daar is allerhande “onsigbare” hoepeltjies waardeur jy die hele tyd moet spring. En as jy nie deur almal spring nie, dan word jy “te lig” bevind. En dan word jy eenvoudig net nie weer genooi nie.

Die mense aan die buitekant probeer weer gewoonlik met alle mag en mening om tog net deel te word van die ou kringetjie. Aanvaarding van die binnekring uber alles. Probeer die snaakste grappies te vertel of die meeste te drink of duurste speelgoed te koop – net om nie te “lig” te wees wanneer die binnekring hulle “weegskaal” uithaal nie.

As niemand van jou weet nie, sal niemand jou vergeet nie. Dis tog so eenvoudig. Dis jy alleen, net jy!

Koos du Plessis

Ek het nog altyd so ‘n rebel streep in my gehad. Ek kan vasskop soos ‘n steeks donkie. Want ek weet van kringe. Die oomblik as ek snuf in die neus kry van ‘n kring, dan raak ek moeilik. Skuinsbedônnerd. As hulle hulle hoepeltjies begin stel en “onskuldige” vragies begin vra met die eintlike doel om jou te “weeg”, dan sien ek dit gelukkig baie vinnig raak. En dan speel ek hulle “game” terug. Maar op my manier. Ek probeer myself doelbewus diskwalifiseer. Spring juis nie deur hulle siek hoepeltjies nie. Gee vir hulle antwoorde wat hulle nie juis verwag nie. As hulle my vra wat doen ek vir ‘n lewe, dan antwoord ek gewoonlik: “Ek is ‘n pastorale ingenieur…”

En dan los ek hulle net daar…. in hulle verbasing.

Die uiteinde is gewoonlik dat ek nie deel word van die kringetjie nie. Dankie tog! Ek val nie meer vir hulle siek aanvaarding nie. Want die buitekring is eintlik baie beter as die binnekring. Dit is waar jy regtig vry is. Niemand kom weeg my nie. Miskien is ek net gewoond aan die buitekring. Ek hoef nie te “perform” nie.

Of jy hou van my, of jy hou nie van my nie. Eenvoudig. Ek is nogal nou by die punt in my lewe waar ander mense se aanvaarding van my eintlik heeltemal irrelevant is vir my. As hulle nie van my hou nie, dan mis hulle ‘n wonderlike persoon. Hulle is doodeenvoudig net baie armer.

If you are not on the outside, then you must know that you are on the inside. Get out…!

Jannie du Toit

Ek weet nie wat is erger of meer pateties nie. Die een wat binne sy siek sirkeltjie sit en ander weeg, of die een wat glo hy of sy OK sal wees as hulle net deur al die hoepeltjies kan spring van die idioot binne die kringetjie…

En as jy die eerste kringetjie eers raakgesien het, dan sien jy dit die hele tyd raak. Dit is orals om jou. Kringetjies hier en kringetjies daar. Dit is soos wanneer jy ‘n nuwe kar koop. Skielik sien jy daardie karretjie orals op die paaie. Dit was nog die hele tyd op die paaie. Jy sien dit nou net vir die eerste keer raak.

Kringetjies.

Of jy is binne, of jy is buite…

En as jy buite is, probeer jy binnekom. En as jy binne is, probeer jy almal “weeg”…of keer dat hulle inkom…

Is dit nie ongelooflik siek nie?

Nico Nel is ‘n baie goeie vriend van my. Ons kom al jare saam. Hy was my gholf partner jare terug toe ons saam by Sasol gewerk het.

Nico as klein seuntjie

Ek kon hom nooit wen met gholf nie. Maar dan moet ek ook bysê – Hy is gebore sonder ‘n linkerarm. Ek met my twee gesonde arms kon hom nooit wen met gholf nie. Ja dit is waar. Moeilik om te erken – maar dit is so!

Ek en Nico Nel in Februarie 2020

En redelik onlangs kom maak hy ‘n draai hier by my in Somerset Wes. En ons braai lekker, en ek maak ‘n paar rooiwyne oop. En ons gesels oor alles en nog wat. En hy vertel my sy storie. Hoe hy ‘n hartaanval kry in 2011. En toe begin oefen omdat hy dink sy leefstyl het gelei tot sy hartaanval. En hoe hy begin triathlon’s doen het. Doen die Sani-to-Sea, Crater Cruise (105 km), Barbeton (110 km) en die 36One (360 km). En nog ‘n klomp ander. Topfiks. En toe kry hy ‘n beroerte in November 2015. En hy sukkel om te sluk. En hulle sit vir hom ‘n “shunt” in om breinvog te dreineer. En hoe hy gediagnoseer word met fabry – ‘n baie skaars siekte. Gaan google dit maar. En daarna stoei met depressie. Glo my, die man is deur absolute hel.

Nico op sy fiets!
Nico en een van sy Triathlons
So doen jy ‘n traithlon as jy nie ‘n linkerarm het nie.
Nico na sy operasie
Nico en die nursies

En aan die einde van die aand toe vertel hy my iets wat ek nooit sal vergeet nie.

Hy vertel my hy verstaan baie goed van die kring. As jy in die lewe inkom sonder ‘n linkerarm, dan is dinge klaar baie moeiliker vir jou as vir die gemiddelde mens. Die term “handicapped” skop jou sommer onmiddellik uit in die donkertes van die buitekringe. Waar jy jouself die hele tyd moet bewys en deur al die hoepeltjies moet spring net om OK te wees. Jou hele lewe lank.

En na al sy ervaringe vertel hy my is daar een ding wat soos ‘n paal bo water vir hom uitstaan na al die jare. Dit is die volgende:

Niemand kan homself of haarself “include” nie.

Dit moet aan jou gedoen word. Jy het geen beheer daaroor nie. Niks.

“Inclusion” is iets wat jy nie vir jouself kan doen nie.

Boeta se les:

Yanik, jy weet jou pa haat enige binnekring. Kies jy ook altyd die buitekring. Moet nooit in die versoeking val om deur al die hoepeltjies van die binnekring te probeer spring net sodat hulle van jou hou nie. Die buitekring is miskien “lonely” – maar jy is vry daar!

Moenie val vir goedkoop aanvaarding van siek binnekringe nie.

Maar baie meer belangrik: Wees jy altyd die “includer”.

Wees jy daardie ou wat mense insluit!

Nie omdat hulle nie deur al die hoepeltjies kon spring nie. Nie omdat hulle geweeg is en te lig bevind is nie. Nee – slegs omdat hulle hulself nie kan insluit nie.

Ek verstaan nou baie beter hoekom jou Pa so ‘n “issue” gehad het met die binnekring toe Hy hier op Aarde was. En hoekom Hy Homself heeltyd besig gehou het met die buitekring. Met die outjies wat net nie deur al die hoepeltjies kon spring nie. Wat geweeg is, en die hele tyd te lig bevind is.

Want die binnekring het Hom op die einde doodgemaak omdat Hy nie deur al hulle hoepeltjies wou spring nie. En omdat Hy die gepeupel “include” het.

Hy het geweet hulle kan hulself nie insluit nie.

Wees jy altyd die “includer”…

Omdat mense hulself nie kan insluit nie.

Jou Pa sal trots wees op jou!

Lief vir jou

Pappa

Die Beet Storie

Ek kan nie beet eet nie.

Elke keer as ek beet sien, vat dit my terug na 1987.

Elke liewe keer.

Ek was in Potchefstroom besig met Nasionale Diensplig. Artillerieskool. Besig met Junior Leierskap kursus (JL’s) . Om rang te kry. Nege maande kursus.

Elke ou wat in die Weermag was sal jou vertel van Vasbyt. Dit is waar die koring van die kaf geskei word. Jy loop vir dae aaneen en dra dromme vol water en jy word tot die uiterste getoets. En as jy dit nie maak nie, dan word jy van die kursus afgegooi en dan kry jy nie rang nie. So eenvoudig soos dit.

So lyk ‘n Vasbyt

Hulle het ons in sindikate ingedeel. Jy kies nie jou sindikaat nie – jy word net eenvoudig ingedeel. En dan moet jy en jou sindikaat kilometers aaneen stap vir dae aaneen sonder ophou, swaar dinge dra, min water drink, opgooi as jy nie meer kan nie en verder stap.

Hel op hel.

En as daar ‘n maatjie in jou sindikaat is wat sukkel, dan is dit die sindikaat se probleem. So jy hoop maar jy word ingedeel by ‘n goeie sindikaat anders kan jy maar weet jou Vasbyt gaan erger hel wees.

A picture is worth a thousand words

Daar is ‘n ding soos O’Reilly’s Law. Hy het mos geglo Murphy was ‘n optimis. Toe hulle ons indeel, toe is die meerderheid van die outjies in my sindikaat nou nie die wêreld se sterkste of slimstes nie.

Inteendeel.

En dit word toe op die eerste dag van Vasbyt sommer gou duidelik. Want nie lank nie, toe kom skreeu die bombardier vir ons dat ons die laaste is van al die sindikate. En as jy laaste is, dan kry jy aan die einde van die dag geen kos nie. Nadat jy heeldag geswoeg, gesweet, gehuil en geproes het. Niks. Dit is jou straf.

Want julle was die laaste sindikaat.

Ek sal nooit vergeet hoe ons daardie eerste aand by die basis aankom nie. Doodmoeg. Heeldag lank gestap met “full kit”. Dromme vol water gedra. Opgegooi. Gehuil. Gevloek. En daar staan ‘n simpel bombardier met ‘n “over-inflated ego” by ‘n groot gat in die grond wat hulle gegrawe het. Met ‘n houtkruis ingesteek in die grond langs die gat hou hulle kamma begrafnis.

Ons kos gaan begrawe word.

En dan voor ons honger oë begrawe hulle seremonieël die kos wat uitgehou is spesifiek vir ons sindikaat. Steak. Wors. Lemoensap. Brood. KFC. Eiers. Bier.

‘n Feesmaal word begrawe reg voor ons oë.

Omdat ons die laaste sindikaat was.

En dan het jy honger en doodmoeg in jou slaapsak ingeklim. En die volgende oggend staan jy vroeg met ‘n leë maag op, trek jou “full kit” aan, geweer in die hoogvoor, en daar gaat jy. Nog ‘n dag van hel wat voorlê, maar nou met ‘n leë maag. En geen energie nie. Nodeloos om te sê dat jy teen die einde van die tweede dag outomaties weer heel laaste is – en dan weer heel onwillekeurig toeskouers word van nog ‘n “kosbegrafnis”.

Ek onthou dat hulle aan die einde van die tweede dag vir elkeen van ons in die laaste sindikaat twee klein blikkieskos gegee het waarvan die “labels” afgehaal is net om ons aan die lewe te hou. So dit is so iets soos ‘n “lucky packet” – jy weet nie wat jy gaan kry nie. Maar jy is so honger dat jy nie regtig omgee wat jy kry nie – solank jy net iets in jou maag kan kry.

Toe ek my eerste blikkie oopmaak, toe was daar beet daarin. En toe ek my tweede blikkie oopmaak, toe was daar ook beet daarin.

Niemand wou met my uitruil nie.

Tot vandag toe eet ek nie beet nie. Dit is nou 33 jaar later, maar elke keer as ek beet sien, dan vat dit my terug na die “kosbegrafnis” toe.

Die oomblik as ek beet sien, sien ek daardie Vasbyt in 1987. Ek kan nie die twee skei van mekaar nie. Beet en Vasbyt. Sukkel nou al vir jare. Kry dit nog steeds nie reg nie. Sal seker ook nooit nie.

Ek eet nog steeds geen beet nie.

Boeta se les:

Yanik, hier is ‘n baie belangrike les wat ek graag met jou wil deel in hierdie beetstorie.

Die prentjie wat jy in jou kop het van enigiets, bepaal jou gedrag. Die prentjie wat ek in my kop het van beet, maak dat ek nou vir 33 jaar nooit weer my lippe aan beet gesit het nie.

Wat is die prentjie in jou kop van God?

Dis belangrik, want dit gaan jou gedrag bepaal vir die res van jou lewe.

En ek wil by jou pleit dat jy altyd hierdie “blog” sal oopmaak, en jouself heeltyd toelaat om te “recalculate” soos ‘n GPS oor die volgende punte wat vir my persoonlik hopeloos te lank gevat het om onder die knie te kry.

Kou lank en herhaaldelik hieraan tot dit vir jou ook sin maak.

Eerstens: God is nie kwaad vir jou nie. Daar is te veel lawaai in hierdie wêreld wanneer dit kom by hierdie punt. Dit maak jou deurmekaar en onseker, want die een sê een ding en die ander een sê iets anders. En iewers tussen dit alles moet jy self die antwoord probeer kry.

We come to God not by doing it right, but by doing it wrong….

Richard Rohr

Pasop vir al hierdie slim mense wat jou aandag probeer fokus op jou 6 emmers sonde. Luister na hulle wat met jou praat oor die see van genade. Dit is hoe groot jou Pa is. Sy genade is meer as genoeg vir jou. Gaan lees bietjie Julian of Norwich en laat daardie denke deel word van jou DNA. Daar waar die disprin oplos.

As my ses emmers sonde in Sy see van genade val, dan weet ek Hy is God…

Prophet

All will be well and all will be well and every kind of thing shall be well

Julian of Norwich

Daar is sonde in hierdie wêreld. Die plek is blêddie stukkend. Maar “all will be well and all will be well and every kind of thing shall be well” desnieteenstaande die stukkende wêreld. Jy moet dit glo. God is en bly in beheer.

En Hy het nie een stukkie “blame” na jou kant toe, of na enige ander persoon toe nie. Sy hele Natuur maak hierdie “blaming game” totaal en al irrelevant.

“Perfection, rather, is the ability to incorporate imperfection! There’s no other way to live: You either incorporate imperfection, or you fall into denial. That’s how the Spirit moves in or out of our lives.”

Richard Rohr

Dit is juis wanneer jy struikel dat Hy sag en met liefde na jou kyk. Jou “vulnerability” as netelige mens is vir Hom pragtig.

Hy is nie kwaad vir jou nie. Sal ook nooit wees nie.

God verwag nie prestasie van jou nie. God soek jy teenwoordigheid sodat Hy met jou kan werk en jou kan verander en transformeer. Hy is die Pottebakker, en jy is net die klei.

God does not expect performance from you. He expects presence…

Richard Rohr

Jy gaan Hom nooit beïndruk met jou dade nie. Hou asseblief dadelik daarmee op as iemand jou verlei het dat dit jou waarheid moet wees. Dit is soos om jouself te probeer optrek aan jou skoenveters. Stop dit onmiddellik. Jy mors jou tyd, en jy gaan moeg en gatvol word. Vra my, ek weet!

Daag op, in stilte. Word “present” – sodat Hy met jou kan werk en jou kan verander!

God tiekiedraai oor jou. Gaan lees weer die storie van die verlore seun. En weer. En weer.

It is not about requirements. It is all about relationship…

Richard Rohr

Dit is God. Hy hardloop na jou toe. Hy spog oor jou. Hy laat slag die Lam oor jou. Hy staan nie aan die ander kant van jou rivier van sonde en vertel jou hoe teleurgesteld Hy is in jou nie. Hy staan langs jou, en Hy gooi Sy mantel oor jou. En Hy hou jou vas in Sy Liefde en vertel jou dat jy nie alleen staan teen jou rivier van sonde nie. Hy sal en gaan jou help. Jy is en sal nooit alleen wees nie. Alles sal OK wees. Hy hardloop na jou toe. Nie omdat jy iets reg gedoen het nie.

Inteendeel.

Hy hardloop na jou toe omdat jy Sy kind is. En Hy jou Pa is.

Boeta – toets alles wat slim mense julle wil van oortuig van teen hierdie drie vrae:

  1. Vereis dit “performance” van my voordat dinge kan gebeur in my lewe? Of vereis dit “presence” van my sodat God my kan verander?
  2. Gaan dit my na ‘n plek toe vat waar ek beheer word deur my ses emmers sonde? Of waar ek verbaas gaan staan oor die see van genade…?
  3. Gaan dit my na ‘n plek toe vat waar ek God probeer oortuig dat ek eintlik OK is? Rooi vlag! Moenie eers probeer nie. Word wie jy reeds is, alias Thomas Merton

Moenie toelaat dat mense jou prentjie van God in jou kop verander nie. Want daardie prentjie van God vorm jou gedrag. Nooit andersom nie.

Ek moet eers die prentjie in my kop van beet verander voordat ek weer beet sal kan eet.

En ek gaan probeer. Drie-en-dertig jaar is lank genoeg.

Lief vir jou

Pappa

Die Oseaan storie

Ek hou daarvan om gewoontes te skep in my lewe. En snaaks genoeg, ek kry dit nogal reg. Dit moet miskien maar my diensplig jare wees wat by my die dissipline geskep het om dit te kan regkry. Ek besluit op iets, en dan doen ek dit. En ek forseer myself, byt vas deur die pyn, en skielik is dit ‘n gewoonte. ‘n Ruk terug besef ek ek moet iets doen aan my gewig. En baie maklik skep ek toe drie doodeenvoudige gewoontes wat nou al gemaak het dat ek oor die 20 kg verloor het:

  • Ek eet minder. So eenvoudig soos dit. Ek “log” en weeg al my kos en sorg dat ek nie meer kilojoules eet as wat nodig is nie.
  • Ek drink net water of swart koffie van 20h00 elke aand tot 12h00 die volgende dag. Selfs al word ek honger.
  • Ek kry my hartklop op na 140 BPM vir 30 minute elke dag

En so besef ek tydens COVID-19 dat ek nog ‘n gewoonte moet integreer in my daaglikse lewe. Ek moet stilte balanseer met aksie. Ek besef dat ek nie genoeg tyd maak vir stilte in my lewe nie. Richard Rohr sê:” You must get into the silence so that the silence can silence you…”

I have abandoned all particular forms of devotion, all prayer techniques. My only prayer practise is attention. I carry on a habitual, silent and secret conversation with God that fills me with overwhelming joy

Brother Lawrence

En ek besluit net daar ek gaan die volgende doen:

  • Vroegoggend dan strompel ek uit die bed uit.
  • Ek slaan ‘n behoorlike koffie aanmekaar, want dit is die regte ding om te doen. Maar ek doen dit op die ou manier. Ek maal my koffiebone, en ek gooi dit in ‘n kontrêpsie wat die lekkerste swart koffie maak. Swart en bitter.
Die lewe is te kort vir slegte koffie. Jy kan maar honger ly. Maar moet asseblief nie slegte koffie drink nie.
So lyk my koffie “tools”….
Ek maal die bone fyn, en sit die keteltjie op die stoof. So 15 minute later drink ek die lekkerste swart koffie.
  • Dan gaan sit ek by my venster. Ek kan die see sien hier van my plekkie af. En dit is die een oggend mooier as die ander. En dan word ek net eenvoudig stil terwyl ek wag vir my koffie om te prut. Ek probeer nie mooi woordjies bid nie. Ek praat nie met myself nie. Ek klim nie op FaceBook of LinkedIn nie. Ek kyk nie na my e-mails nie. Ek gee net aandag. Soos ‘n klein voëltjie wat net sy bekkie oopmaak en wag vir sy wurmpie…
So lyk dit vroegoggend as ek die stilte gaan “face”. Met my koffie vars swart koffie.
  • En dan sit ek so in doodse stilte vir 20 minute elke oggend. En ek drink my swart koffie. En ek probeer met alles in my om net doodeenvoudig “present” te wees. As gedagtes in my kop begin maal, dan erken ek dit, maar ek laat dit ook dadelik gaan. Ek baklei dit nie. Gedagte vir gedagte. Totdat die stilte my stilmaak.

Deep within you lies a profound stillness. In this place, where the mind is silent and the heart is open, lies the answer to every question you ever had. Go there often, the silence has much to teach you. For in this still quiet place lives your truth. And once you’ve met her, you will never be the same again.

The Gift of The Horse

En toe een oggend, sit ek toe weer so by my venster. En ek drink my koffie en ek laat die stilte toe om my stil te maak. En ek kyk uit die venster uit na die see. Soos ek elke oggend doen. En toe skielik kom die volgende gedagte na my toe:

Ek sien myself as ‘n seedruppel wat uitgespoel het op die strand. Ek kom van die Oseaan (“ewigheid”) af, maar ek is nou op die strand (“Aarde”). Maar omdat ek my bevind op die strand, beteken dit nie ek hoort op die strand nie. Hierdie strand is maar net my tydelike tent. Ek hoort in die See. Want ek behoort aan iets baie groter as net ‘n eenvoudige uitgespoelde druppel op die strand. Ek, nietige druppel, is en sal vir altyd onlosmaaklik deel wees van die Groot Oseaan.

I have never made one of my discoveries through the process of rational thinking

Albert Einstein

En dit is net daaglikse stilte wat my die verskil gaan leer tussen Oseaantaal en strandtaal. Sonder stilte gaan ek nooit kan onderskei tussen die twee tale nie. Want strandtaal skreeu in jou ore, en Oseaantaal fluister saggies. Slegs in stilte. En as ek nie stilword nie, dan sal ek nie die Oseaan hoor fluister nie.

Strandtaal skreeu “performance & requirements”. Oseaantaal fluister saggies, slegs in stilte: “Not performance, not requirements, but presence…”

But there is a greater comfort in the substance of silence than in the answer to a question.

Thomas Merton

Strandtaal skreeu dat ek moet opstaan vir my regte en dat ek vinnig op my perdjie moet spring as die taxi voor my indruk. Die Oseaan fluister saggies slegs in stilte: “Hoekom word jy “offended” oor alles wat om jou gebeur? Het jy vergeet dat jy behoort aan die Oseaan? Dat jy deel is van iets baie groter as jou eie ou klein druppeltjie? Dat alles wat jou nou “offend” so klein en totaal irrelevant is in vergelyking met die Groot Oseaan. Get perspective…”

Strandtaal skreeu hard in my ore – “religion….”. Die Oseaan fluister saggies, maar net in stilte: “Not religion, but relationship

The way you must go is the way you already know. He has set it in your heart. The solitude will speak to you…

Thomas Merton

Strandtaal skreeu dat die een met die meeste speelgoed wen. Die Oseaan fluister saggies slegs in stilte: Die see het nie speelgoed nie. En kyk hoe gelukkig is elke druppel daarin…

Strandtaal skreeu dat ek afhanklik is van die ander druppels op die strand se aanvaarding en goedkeuring. Die Oseaan fluister saggies, maar slegs in stilte: Elke druppel in die Oseaan is ten volle aanvaar. Bloot omdat dit ‘n druppel is. Nie omdat dit iets gedoen het nie…!!

You are not alone. We are all connected. You could no more separate yourself from humanity than a wave could separate itself from the ocean and still be a wave.

Gerald Jampolsky

Strandtaal skreeu in my ore dat ek moet skep terwyl daar nog is, want môre is alles op. Scarcity uber alles. Word stil en hoor of jy dit ook kan hoor hoe die Oseaan fluister:” Kyk net na die Oseaan. Abundance. Meer as wat jy ooit kan dink…”

Strandtaal skreeu in jou ore dat jy moet wen bo alles. Gaan na die stilte toe, en luister of jy die Oseaan kan hoor fluister:” If it is going to cost you your peace, you simply cannot afford it…”

Strandtaal skreeu in my ore dat ek elke dag moet werk aan myself om beter en beter te word. Die Oseaan fluister, maar slegs in stilte: “You must become who you are already…”

Mysticism is the experience of limitless belonging

Brother David Stiendl-Rast

Strandtaal skreeu in my ore dat ek nog nie goed genoeg is nie. Dat ek steeds net ‘n “sinner” is, en miskien sal ek eendag ‘n “saint” wees as ek hard probeer. Maar in die stilte fluister die Oseaan saggies vir my:” You are a saint that sin…”

Strandtaal skreeu vir my in my ore dat ek my moet oorgee aan bekommernis en twyfel. Jy het rede om te “worry” – ou bul. En dan fluister die Oseaan saggies, maar slegs in die stilte:” Kyk na die see. Sien jy bekommernis en twyfel…?”

Boeta se les:

Yanik – Die strand verstaan nie die Oseaan se taal nie.

Sal ook nooit nie.

Stilte is jou grootste vriend. Want dit is slegs stilte wat sal toelaat dat jy die Oseaan se sagte fluistering kan hoor. Terwyl jy hier op die strand is.

Luister mooi hoe fluister die Oseaan vir jou:

Jy is ‘n seedruppel wat net vir ‘n baie kort tydjie uitgespoel het op die strand. Ek gaan jou gou kom haal. Nog net ‘n kort rukkie. Dan vat ek jou terug na waar jy hoort. By My. In die Groot Oseaan.

Moet nooit dit vergeet nie. Jy het net uitgespoel op die strand. Vir ‘n kort rukkie. Jy hoort nie op die strand nie. Jy gaan, soos ek en Mamma, weer eendag deel wees van die Groot Oseaan.

Jou Pa sal jou kom haal.

Hy het nie vergeet van jou op die strand nie. En vir hierdie “sekonde” in tyd wat jy op die strand is, wees net lief vir Hom. Want as Hy jou kom haal, gaan Hy jou weer vashou vir ewig in Sy Liefde. Soos die Oseaan al die druppels vashou.

Dit behoort jou so opgewonde te maak dat jy nie sal kan slaap nie. Hou vas aan jou stoel…

Laat stilte jou daagliks meer daarvan vertel. Hy sal as jy hom toelaat. Hy is jou Vriend.

En ignoreer die lawaai op die strand. Hulle weet nie waarvan hulle praat nie.

Lief vir jou

Pappa