Hierdie Korona ding is ‘n ander dêng…
My oorlede pa het altyd gesê, as ek hom van ver af bel en vra wat hulle doen: ” Ag Boetie – ons sit soms en dink, maar meeste van die tyd sit ons net…”
Dis wat hierdie virussie doen – hy maak dat ek meeste van die tyd net sit, sonder om te dink…
Ek is nogal gemaklik met die sit ding. Daar waar ek vandaan kom doen ons die sit ding behoorlik. Want dit is so warm dat jy eintlik maar net wil sit. Nie nog sit en dink ook nie.
Toe trou ek mos vir Lynette in 1999. Maar sy is ‘n Pretoria meisietjie. Gewoond aan rondrits. Winkelsentrums. Rondry. Kan dit eenvoudig net nie regkry om stil te sit nie. En ek vat haar toe vir die eerste keer na my wêreld toe. Namibië. En ons gaan doen toe die ding soos jy hom doen daar – jy gaan kamp! By Myl 4 net so bietjie noord van Swakopmund.
En dis nie lank nie, toe forseer daardie Namib woestyn ons tot stilstand.
As jy lank genoeg so stil sit in die Namib, dan gebeur ‘n baie interessante ding.
Dinge wat jy lankal al vergeet het, kom skielik weer in jou gedagtes op! Dis asof jy sekere “files” weggebêre het, en met die stilte steek daardie “files” nou hulle hande op sodat jy ook deur hulle kan werk. En nie lank nie, dan vind jy dat jy hardop besig is om met jouself te praat soos jy deur daardie “files” werk.
Een vir een.
Sodra ek een “file” hanteer het, dan kom die ander een op. Sonder dat ek eers gaan soek vir hom.
Dink aan ‘n poeletjie water wat vol modder is. As jy dit lank genoeg los, dan sak die modder. En dan kan jy sien tot op die bodem. Dit is wat stilte doen. Dit laat sak die modder sodat jy kan “sien”.
Dis dan dat jy agterkom daar lê nog ‘n paar “files” vir jou en wag….
Kom ons los eers die tent en die Namib en die poeletjie en die “files”.
Laat ek jou na ‘n ander plek toe vat!
Kasane.
Ek was in 2005 die strategie-bestuurder in Orapa – die grootste diamantmyn in die wêreld. Orapa is ‘n klein myndorpie net suid van die Makgadikgadik-panne in Botswana. En eenkeer ‘n maand het ek saam met die Orapa EXCO gevlieg in die “company jet” na Kasane – en dan het ons gaan vergadering hou oor strategie en doelwitte en al daardie dinge by ‘n plek met die naam Mowana Lodge. Dit is ‘n vyfster lodge in Kasane reg langs die Chobe river. Alles was net die beste. Die kos, die beddens, die uitsig. Jy noem dit – en dit was daar!
Kasane is daardie plek waar 4 lande bymekaarkom. Namibië, Zimbabwe, Zambië en Botswana. As jy nog nie daar was nie, dan moet jy ‘n plan maak. Dit is volgens my waar Eden moes gewees het, lank terug.
Ek onthou hoe die olifante aan mekaar se sterte vashou soos hulle oor die rivier swem. Ek onthou hoe die krokodille op die oewer van die rivier gelê en bak het in die son. Ons het op ‘n riviersafari gegaan en tot teen die hippo’s gevaar – so paar meter van ons af! En dan elke nou en dan hoor jy die visarend skree! Kasane is een van die mooiste plekke in die wêreld!
En ek werk met die “cream of the cream” in Botswana. Daardie manne praat Ingils met ‘n Britse aksent. Dis nogal “scary” – want hulle het ongelooflike ervaring en internasionale blootstelling. En hier trippel ek tussen hulle rond. En hulle kyk in my oë om hulle oorhoofse strategie vir hulle te fasiliteer en te koördineer. Die grootste diamantmyn in die wêreld – “scary but true” .
En ek kan nie eens behoorlik Engels praat nie…
Een van die groot dinge wat ek daar geleer het, is die storie van “The Fear of Leadership”. Garrath Rosslee en Stuart Mennigke het my gehelp om die EXCO op die regte pad te hou, en hulle het hierdie konsep na die tafel toe gebring.
Dit gaan basies daaroor dat in enige sisteem is daar primêre prosesse, maar ook sekondêre prosesse. Primêre prosesse is dit wat waarneembaar is. Dit is soos die punt van die ysberg. Almal weet daarvan, en dis gemaklik, en dis veilig. Maar sekondêre prosesse is waar die uitdaging lê. Dit is daardie prosesse wat onder die water lê. Dit is nie waarneembaar nie. En dit is ook nie veilig nie. Dit lê daar, en almal weet daarvan, maar niemand praat daaroor nie.
En die “fear of leadership” gaan daaroor dat jy as leier die moed moet hê om die sekondêre prosesse in die gesig te staar. En dit nie meer gerieflikheidhalwe onder die water in te druk omdat jy nie weet hoe om dit te hanteer nie. En om nie bang te wees vir dit wat onder die water lê nie.
“What is essential is invisible to the eye…”.
En Garrath en Stuart het my gehelp om daardie EXCO te skuif van “politeness” af na “brutal honesty”. In die begin was dit baie moeilik, en almal het na jou gekyk met wit oë dat ons dit durf waag om oor die dinge te praat wat “no entry” was. Maar later in die jaar was die span baie gemaklik om oor dit wat onder die water lê te praat en uit te sorteer. Maar ons moes hulle eers “fiks” maak hierin.
Dit kom nie oornag nie.
Tot vandag toe gebruik ek dit in my besigheid.
Ek noem daardie sekondêre prosesse krokodille. Want dit is wat dit is. Hy lê onder die water, en hy is gevaarlik. En as jy hom nie doodmaak of na die wal toe bring nie, dan word daardie krokodil net vetter by die dag. Dit is eintlik doodeenvoudig. Of jy maak jou krokodille dood, of jou krokodille gaan jou eendag doodmaak!
En hulle is orals, die blêddie krokodille. Jy sal hom kry op ‘n individuale vlak, of in ‘n huwelik, of in ‘n span, of organisasie-wyd, of op ‘n nasionale vlak, of selfs op ‘n internasionale vlak. En ons het sterk leierskap nodig om hulle uit die water uit te kry! Anders word hulle net groter en vetter en gevaarliker by die dag.
Laat my asseblief toe om Myl 4 en Kasane vir jou bymekaar te bring.
Elkeen van ons sit met krokodille. Grotes en kleintjies. Ek het gedink dit is ‘n “file” destyds op Myl 4. Nou weet ek beter. Dis ‘n krokodil.
Maar dit is stilte wat maak dat die modder in jou poeletjie sak. En dan wanneer jy behoorlik kan “sien”, dan sien jy die krokodil op die bodem! Jy kon hom nie voorheen sien nie, want jou poeletjie was te vol modder van jou eie ego en besig wees. En kompetisie en materialisme en noem dit net wat jy wil.
Richard Rohr stel dit so:” You must get into the silence so that the silence can silence you…”
En dis my A-HA. Korona het ons almal geforseer om op ons stoel te gaan sit in die Namib. En die modder te laat sak in ons poeletjies. En noudat jy kan “sien” tot op die bodem, sien jy skielik klomp krokodille raak. Vir die eerste keer. En dit is juis daardie krokodille wat maak dat jy nie so effektief of gelukkig is of was nie. Want hulle byt jou. Soms sonder dat jy weet van die krokodil.
Noudat jy jou krokodille behoorlik kan sien (“Dankie Korona”) – moenie hulle verder laat grootword nie. Kry hulle uit op die wal. Maak hulle dood.
Want jy is gemaak om vry te wees van krokodille.
Boeta se les:
Yanik – Jou Pappa het verstaan van krokodille, en Hy het verstaan van die woestyn soos die Namib.
Hy het gereeld woestyn toe gegaan. Jy sal Sy voetspoor daar vind. Hy het verstaan van die poeletjie, en dat die modder eers moet sak voordat jy die krokodil kan raaksien. Dis asof Hy ‘n tipe ritme aan Hom gehad het. Eers stilte, dan aksie. Dan weer stilte, dan weer aksie.
Soos inasem, en dan uitasem.
Hy het geweet van in die stilte ingaan sodat die stilte Hom kan stilmaak.
Maar gaan lees bietjie die storie van die Samaritaanse vrou by die put. En lees hom dan weer ‘n keer! Naderhand sal jy iets raaksien in die storie.
Kyk hoe vat Hy haar krokodille vas wat haar elke dag byt.
Hy hou nie daarvan dat ons rondloop met krokodille wat ons byt omdat ons nie die tyd wil maak om die krokodille binne ons raak te sien nie.
Boeta – my wens vir jou is dat jy die waarde van stilte, die “files”, die poeletjie, die modder, en die krokodil sal verstaan.
Word eers stil. Laat die modder eers sak. En dan eers doen jy.
Stilte. Doen. Stilte. Doen.
Asem in. Asem uit.
En moet nooit toelaat dat krokodille jou ooit boelie nie.
Lief vir jou
Pappa