Ek was hierdie jaar 27 & 28 September in Windhoek. Ek het ‘n reünie gaan bywoon. ‘n Hurricane reünie. Ja, 31 gelede toe was ek op die grens as ‘n 20-jarige. Op Hurricane. Dis so ‘n ent noord van Ruacana. Ek was ‘n “gunner”.
En toe in hierdie jaar stig die “gunners” ‘n Hurricane WhatsApp groepie. En toe besluit die Hurricane WhatsApp groepie ons moet reünie hou. En so is ek op die vliegtuig Windhoek toe. En toe loop ek hulle almal daar raak. 31 jaar later. In die Dros in Windhoek. Twee dae aaneen!
Ek het hulle vir 31 jaar nie gesien en toe sit hulle almal skielik hier voor my. Ons drink ‘n paar biere. Waar tel ‘n man die toue nou op as jy die ouens vir so lank nie gesien het nie? Ons het saam die aarde stukkend geskiet met ons G2 kanonne, op die grond geslaap in Angola, Monopoly gespeel op ammokiste in Angola. Nou drink ons maar ons biertjie en voel-voel mekaar so uit.
So daar is Theuns. Hy bly nou in Walvisbaai. Hy sê vir my hy is nou in “programming” in. Ek verstaan maar min daarvan. Maar hy het ook ‘n 4×4 winkel op die dorp. In Walvisbaai. En hy maak verskoning dat hy nie die volgende dag saam met ons sal kan kuier nie. Hy en sy dogter gaan deelneem aan ‘n 4×4-kompetisie net buite Windhoek. Die volgende aand toe kry ons die boodskap op ons Hurricane WhatsApp groepie. Theuns het die kompetisie gewen.
Dan is daar ou Leon. Of Skim soos ons hom genoem het. Hy is ook daar. Maar hy het nou Parkinsons. Sy linkerhand bewe so bietjie. Ek vra maar eers nie te veel daaroor uit nie. Maar dan vertel hy ons dat hy wel op ‘n tyd baie depressief daaroor was. Maar hy het dit oorgegee aan die Here se wil. Hy sê hy dink dit is die beste ding wat ooit met hom kon gebeur het. Nou het hy weer perspektief. Hy weet nou waaroor die lewe nou gaan. Hy werk by Tiger Wheel & Tyre. En hy geniet elke dag. En dan maak hy sy eie musiek. Neem selfs deel aan kompetisies. So met die linkerhand en al. Gaan kyk ‘n bietjie hier:
Elke dag stuur hy vir ons “gunners” ‘n versie op ons Hurricane WhatsApp groepie.
Dan is daar ou Jorrie. Hy is nou ‘n groot motorverkoopsman in Windhoek. Ek was nog altyd mal oor ou Jorrie. Hy is nog steeds kwaad dat ons te vroeg uit Angola onttrek is. Hy onthou soos gister hoe die nuus gebreek het daar onder ‘n boom in Angola dat die groot generaals besluit het die oorlog is verby. Ons moes oppak en terugkom RSA toe. Volgens hom was dit ‘n groot fout. En hy bly op ‘n plot buitekant Windhoek. En hy sê hy slaap lekker, want hy het ‘n groot boerboel. Hy hengel vandag vir Namibië. As ek jou die stories oor Jorrie moet vertel, dan gaan jy moet kom sit by my. Want daar is baie.
En dan is daar ou Kessie. Seun Kesslau. Hy is nou ‘n groot versekeringsman daar in Namibië. Maar hy vertel ons dat hy twee dogters verloor het aan die dood. En vir die eerste keer wat ek hom ken, sien ek trane in sy oë. Hy vertel ons navorsing bewys dat baie min huwelike hou as daar ‘n kind aan die dood afgestaan word. Hy en sy vroutjie het twee verloor. En hulle huwelik hou. En hy vertel dat dit net die Here is wat hom gedra het in die tyd. Later die aand toe bieg hy dat hy steeds sukkel om te “cope”. Maar ek dink by myself – hoe verloor ‘n mens twee kinders aan die dood en dan bly jy steeds staan?
En dan is daar Essie. Hy was die radioman. Heeldag met seine en radio’s en dinge gewerk. Altyd saam met die grootbaas op sy Buffel rondgejaag. So klein regop mannetjie. Hy het klaargemaak in die weermag as ‘n samajoor. Ek kan hom sien as ‘n samajoor op die paradegrond- met daai regop lyfie. Hy bly nou in Upington. Hy vertel hy het so ‘n paar besighede aan die gang. Maar toe ons later die dag in ‘n ander vertrek gaan sit om te gesels oor planne vir die toekoms, toe is hy die voorsitter van die vergadering. En hy vat daai vergadering vas. So op sy manier. Met meesterlike styl bestuur hy as voorsitter daardie vergadering met ‘n klomp “gunners” dat ons waaragtig daar uitstap met ‘n paar aksies. Essie is ‘n yster.
En so is daar Dawie. Hy was die jaar voor my op Hurricane. Bly nou op Keetmanshoop. Ek ken hom nie te goed nie. Hy het ‘n gastehuis op Luderitz en “gunners” kry afslag… Maar wanneer hy praat, dan is daar diepte. Hy lees vir ons ‘n paar teksversies toe dit sy beurt is om iets van homself te vertel. Wens ek kon hom beter leer ken. Maar lyk vir my na ‘n ware “gunner”. Sy seun en vrou kom maak ‘n draai. Hy stel hulle aan ons voor. Ek kan sien in Dawie se seun dat sy pa hom reg grootgemaak het. Hy skud my hand behoorlik en kyk my in die oë.
En Snyders is daar. Nog altyd van hom gehou. En toe hy sy storie vertel, toe kan jy ook sien dat hy ook die grondpad ken. Deur ‘n egskeiding. Besighede verloor en dan weer opgebou. Ek het sy vorige vrou geken. Nou het hy ‘n besigheid daar in Windhoek. Net nooit moed opgegee nie. Die man sal hom nie laat onderkry nie. “Gunner” van formaat
En Marius de Beer is ook daar. Staf Kierretjies. Hy was ons stafsersant. Kan jou klomp stories oor die man vertel. Hy ken oorlog. Nog lank voordat ek breins gekry het het hy al oorlog gemaak. En vandag is hy groot in die karate in. Op Potch as ek reg onthou. Hy lyk nog soos altyd. Net bietjie gryser geword. Maar nog steeds so ekstrinsiek soos altyd. Yster.
En dan was Piet ook daar. Hy was ook voor my op Hurricane. Hy vertel my hy het so paar jaar terug geloop in ‘n winkelsentrum en toe uit die bloute uit net eenvoudig “uitgepass”.. En toe kom hy eers na ‘n ruk by. En toe gaan hy dokter toe en hulle vertel hom hy het breinkanker. En toe het hy maar net besluit hy gaan dit alles ignoreer en net aangaan met sy lewe. En hy sê dis nou jare later en hy val nie meer nie. Maar hy weet ook nie of hy nog die kanker het of nie. Hy sê as hy moet doodgaan, dan is dit so. Hy sê dis beter om nie te weet nie as om te weet. Maar toe Kesslau hartseer vertel van sy twee dogters wat hy aan die dood afgestaan het, toe staan Piet op, gaan staan agter Kesslau en sit sy hand op Kesslau se skouer. Hy ken van seer…
En dan is daar Schalla. Ek is mal oor Schalla. Hy het hom nooit te veel gesteur aan die wêreld nie. Net sy ding so op sy eie manier gedoen. Hy is vandag die “green-keeper” van Walvisbaai se gholfbaan. Hy bly ook daar. Hy was blykbaar so ‘n rukkie getroud gewees. Dit het so ‘n paar maande gehou. Toe kom hy agter dit werk nie vir hom nie. Nou is hy maar eerder op sy eie.
En dan was Jacobie ook daar. Hy was ons luitenant. Ook die Hurricane WhatsApp groepie begin. En die reünie gereël. Smart ou die. Later klaargemaak met die weermag en is nou in Windhoek. Het nou ‘n besigheid met “gearboxes” of so iets. Hy vertel vir ons hy het een van die Swapo offisiere ontmoet teen wie ons oorlog gemaak het in 1988. Hy vra hom toe wat hulle gedoen het net voor ‘n operasie. Die man vertel hom toe dat hulle bymekaargekom het in ‘n kring om te bid. Net soos ons destyds.
En dan was Slinger ook daar. Hy is ook nou daar in Windhoek. Wat ‘n oulike ou. Vertel vir my hoe hy ook maar grondpad gestap het vandat hy uit die “army” is. Maar nou het hy ‘n goeie “job” en selfs kleinkinders. En sy vroutjie kom maak ook ‘n draai en hy stel haar aan ons voor. Hy is ‘n oupa. Maar toe ons praat oor die grens, toe vertel hy my stories oor die MIGs en dinge wat my mond laat ophang. Daardie man het ervaring wat jy nie in jou wildste drome ooit sal kan oorvertel nie.
En Andre Schoonwinkel was ook daar. Die grootbaas. Hy was ons Kaptein. Ek dink baie keer hy moes seker sy hare uit sy kop uittrek met al hierdie “gunners”. Ons was onmoontlik stout. Maar hy het ons goed hanteer. So op sy manier. Hy is nou in Potchefstroom. As dit nie vir hom was nie, was ons almal seker al lankal dood. Hy het gesit met al die verantwoordelikheid. En hy het dit soos ‘n ware leier gedra. En hy het al die pad opgekom om ons almal weer na soveel jare daar te sien.
En dan was daar ‘n paar manne wat dit nie kon maak nie. Gunther von Schauroth. Siegfried Schulte. Dagga Retief. Basie. Leon Scwartz. Louis de Schande. Willem Maritz. Jannie Roux. Jan Swart. Luandré Botha is oorlede in ‘n motorongeluk hoor ek. En Herselmann ook. En dan mis ek seker nog ‘n paar ander.
Dis gewone ouens die. Doodmenslik. Stout. Maar goed.
En ons besluit net daar dat ons na mekaar gaan kyk. Ons gaan ‘n bond skep en ons gaan op so manier meer formeel dan na mekaar begin kyk. En laaste wat ek gehoor het is Jacobie die Voorsitter, en Jorrie is die onder-voorsitter, en die tesourier is Snyders, en Theuns is die sekretaris. En Kesslau en Slinger is die twee additionele lede.
En toe kom die eerste takie.
Otto.
Otto is ‘n troep wat saam met ons op die grens was. Hy was ‘n drywer. Hy bly nou op Aranos. Hy het net 10% sig oor.
Die manne het daar met ‘n oogarts gesels en die man het ingestem om Otto te sien. Hulle vind toe dat sy regteroog se retina geskeur is en nie meer gered kan word nie. Maar dat daar ‘n goeie kans is om sy linkeroog te red. Hulle kan sy linker- en regterkornea’s omruil, en dan sal hy weer beter kan sien.
So ‘n operasie kos normaalweg tussen R264 000 en R382 000. Ons het dit reggekry om dit te kon doen teen so entjie onder die R20 000. Die “gunners” het saamgestaan en geld gegee soos hulle kan, en nie lank daarna nie, toe is daar genoeg geld vir Otto se operasie.
Ons “gunners” het gereël vir sy vervoer vanaf Aranos en terug en akkomodasie en alles.
Otto is geopereer op die 11 November 2019.
Ons “gunners” het dit vir hom moontlik gemaak.
En nie lank daarna nie, toe stuur Otto vir ons die volgende “voicemail’
Boeta se les:
Yanik – miskien dis daar net een les vir jou my seun.
Die Dalai Lama sê: The purpose of life is to help other people. And if you cannot help them, will you please not hurt them”?
Ons is hier om mekaar te help.
So eenvoudig soos dit.
Lief vir jou
Pappa