In Namibië is daar verskillende rasse en tale. Wikipedia vertel vir jou dat 49% van die bevolking praat Oshiwambo, 11% praat Nama/Damara, 10% Afrikaans, 9% praat Kavango en Herero word weer gepraat deur 9%. Engels as huistaal word net deur 3% van die bevolking gepraat.
Maar dit is ook nie heeltemal die waarheid nie.
Daar is drie ander tale ook, volgens my. Die Owambo’s praat ook Afrikambo. Dit is ‘n mengsel tussen Afrikaans en Owambo. Die Afrikaners praat weer Namlish. Dis ‘n mengsel tussen Namibiaans en Engels. En dan is daar die Suide. Die mense in die Suide praat “bittereinder Afrikaans”.
Laat ek verduidelik.
Johannes was ons tuinwerker in Windhoek, jare terug. ‘n Trotse Owambo rou uit Owamboland (noorde van Namibië) uit. En omtrent elke tweede Owambo se naam is Johannes. Hy kon nie Engels praat nie. Net Owambo en Afrikambo. Wanneer ‘n Owambo Afrikaans praat, dan ruil hulle hul R’e om met die L’e. Alles wat jy sou uitspreek met ‘n “r” spreek hulle uit as ‘n “l”, en andersom. Wanneer hy vir jou wil vertel van sy visvang, dan sal hy vir jou dit so stel:” Ek het hom gevang dlllie garrrrjoenne daar by die Hentiesbaai…”.
Dit is suiwer Afrikambo.
‘n Owambo sonder ‘n dikwielfiets is ook nie ‘n opregte Owambo nie. Johannes kom eendag daar by ons aan met sy dikwielfiets. En later die middag toe ry hy so bietjie rond met sy fiets. Die fietsketting gly en hy slaan sy kroonjuwele hard teen die fietspyp. Ek weet hoe dit voel – dit het baie keer met my gebeur. Hy kreun en word amper spierwit van die pyn.
Toe prewel hy: “My pierrrrr is seelllll…”
Dit is opregte Afrikambo. Uit die hart uit.
My oorlede pa vertel een Saterdag klop Johannes aan die deur. “Waalll is hy die follllk….?” vra Johannes vir my pa. My pa verstaan nie wat hy vir hom probeer sê nie. Hy vra toe vir Johannes wat hy wil doen. Johannes wys toe vir hom hy wil spit met die tuinvurk (“follllk”). Die R en die L word omgeruil. Later klop hy weer aan die deur. “Waalll is hy die halllk…?” vra Johannes. My pa is nou al geïrriteerd met Johannes want hulle kry nie gekommunikeer met mekaar nie. Hy vra hom weer wat hy wil doen. Johannes wys toe vir hom hy wil hark met die hark (“hallllk”). Nie lank daarna nie toe klop Johannes weer aan die deur. “Waalll is hom die Wambo se toirrret…” vra hy vir my pa. “Wat wil jy doen, Johannes?” vra my pa. Hy is nou al lekker gatvol, want Johannes hou hom uit sy middagslapie.
En Johannes trek los in perfekte Afrikambo: ” Ek werrr pesss….”
Want “toirret” in Afrikambo beteken toilet in Afrikaans.
Namlish weer is seker die mees geprate taal in Namibië. Wanneer ‘n Namibiaan Engels praat, dan sê ons net wat ons wat ons kan sê. Ons kan nooit sê wat ons wil sê in Engels nie. Daarom meng ons hom maar lekker met die Afrikaans. En as jy met ‘n ander Namibiaan Namlish sou praat, dan verstaan hy jou. Ek het baie skade gedoen in Suid-Afrika met my Namlish. Vra een dag in ‘n onderhoud wat ek voer met ‘n applikant wat sy “soccer prestations” is. Want in Namibië is ‘n prestasie in Afrikaans niks anders as ‘n “prestation” in Engels nie.
Dit is suiwer Namlish.
En toe ek skaapagtige uitdrukkings kry van ‘n klomp “fancy” Engelse toe ek ‘n deftige aandete bewoon en vra vir die “chicken legs”, toe kom ek eens later agter die regte Engels is “drumstick”. Maar as ek vir ‘n ander Namibiaan sou gevra het vir ‘n “chicken leg” dan sou hy dit vir my gegee het sonder enige vrae.
Want hy verstaan Namlish.
Maar dan kry jy ook die “bitter einder Afrikaans”. Die mense wat hierdie taal praat vat Afrikaans na die volgende vlak toe. Jy kan met hulle praat in enige taal, maar hulle hou net eenvoudig by Afrikaans. Maak nie maak wat nie. As jy nie met hulle kan Afrikaans praat nie, dan is dit jou probleem. Nie hulle sin nie.
My oorlede pa vertel dat toe Suidwes-Afrika deur sy transformasie gaan en Namibië word, toe word die SWAUK (Suidwes Afrika Uitsaai Koöperasie) oornag die NBC (Namibian Broadcasting Corporation). En skielik is alles Engels. Niemand mag meer Afrikaans praat nie. Hulle stel net verslaggewers aan wat Engels kan praat. As jy nie Engels kan praat nie, dan is die NBC nie meer die plek vir jou nie.
So stuur hulle ‘n nuutaangestelde Owambo verslaggewer af Karasburg toe. Suide toe. Want daar is ‘n Namakoorleidster by name Anna wat blykbaar met haar koortjie die een internasionale prys na die ander wen. En hierdie Owambo (wat deel is van die 3% in Namibië wat Engels kan praat en daarom die “job” gekry het as verslaggewer ) moes toe ‘n onderhoud gaan voer met Anna.
En lewendig oor die televisie word die volgende onderhoud toe gevoer:
“Thank you for taking the time to talk to us. So in fact, actually, what is your name?”
“Nee, my naam is Anna…”
“So, Anna, in fact actually, what do you do…?”
“Nee ek het die koortjie hier op die dorp en ons sing ‘n hond uit ‘n bos uit…”
“So in fact actually you have got the choir…?”
“Ja – ek sê dan vir jjou. En ons het nou die dag ‘n “reward” gekry. Daar “oversea…”
“So in fact actually Anna, how many people have you got in your choir…?”
“Nei man ek het tien maar ons gaan nou nog ‘n bas bykry, dan is ons elf.”
Teen hierdie tyd kom die nuutaangestelde Owambo verslaggewer agter dat Anna hou by Afrikaans. Plat, maar pragtige Afrikaans.
“So in fact, Anna, actually, do you rather want to speak Afrikaans than English” vra die verslaggewer versigtig.
“Jja man, wat kom jjy hier met jjou Engels? Jjy is nou in die Suide by Karasburg. Hier praat ons net Afrikaans…”
Toe slaan die verslaggewer oor van Engels na die mooiste Afrikaans: “Hoe het jjy nou weer gesê Anna, hoeveel mense is daar in jjou koortjie…”
Dis wat ek bedoel met “bittereinder Afrikaans”. Jy hou aan met hom totdat die ander party die knie buig en ook die taal praat!
Jy hou aan met hom, want jy is trots op hom.
Dankie, Anna.
Jy het ons gewys hoe mens dit moet doen…
Boeta se les
Yanik, jou pa sukkel nog sy hele lewe met die Engels. Om in Namibië groot te word het my eintlik nou ook nie verskriklik gehelp nie. Dit het net my Namlish so bietjie opgeskerp.
Maar ek dink jy gaan die taal bemeester. Jy praat dan nou al reeds beter Engels as wat ek ooit sou kon droom.
Maar weet jy wat? As ek bid, dan bid ek in Afrikaans. Nie in Namlish nie. Nie in Afrikambo nie. Nie in Engels nie. Nee – bittereinder Afrikaans.
Dis die taal waarin ek lag en die taal waarin ek huil, en die taal waarmee ek met God praat. En ek is soos Anna trots daarop.
Bittereinder Afrikaans.
Praat maar jou Engels, en jou Duits. Maar moet nooit skaam wees vir jou taal nie.
Dit is ons hartstaal. Daar waar die “disprin” oplos, daar is alles Afrikaans.
Lief vir jou
Pappa