Die Himba storie

Ek was in 1988 op die grens. Hurricane-basis om presies te wees. Dit is so ‘n paar kilo’s noord van Ruacana. Ons was in die artillerie. G2- kannonne. En ek was ‘n TA-sersant. Dis die outjie wat met ‘n teodoliet (‘n tipe kompas) die kanonne gerig het op die teiken wat deurgegee is na ons toe. Ons was daardie jaar meer in Angola as wat ons in Hurricane basis was.  ‘n Troep is 4 kanonne, en ‘n battery is 8 kanonne.  My “job” was om seker te maak dat daardie 8 kanonne se lope eweredig gerig was op die teiken. Ter aller tye. Dan het ons altyd eers net geskiet met 1 kanon. Hy was gewoonlik die inskietkanon. Ons het dan fyn aanpassings gemaak op die teiken, todat daardie inskietkanon 100% op teiken was. Dan was dit baie maklik om net daardie kanon se lesings deur te gee na die ander 7 kanonne. En met die volgende sarsie het daar 8 massiewe projektiele deur die lug geklief. En dan hoor jy hoe lawaai dit daar aan die ander kant wanneer daardie projektiele ontplof en die aarde uitmekaar uit geskiet word.

Ek het nooit geweet hoeveel skade ons aangevang het nie, want die teiken was gewoonlik so 30-50 km van ons af gewees. Maar ek kon net dink dat dit iets allerverskrikliks moes gewees het as daardie projektiele hier om jou ontplof.

Die eerste keer wat daardie kanonknal afgaan, is jou ore morsdood selfs al het jy oorpluisies ingehad. Dis ‘n verskriklike lawaai!  Jy hoor niks vir ‘n hele paar ure nie. Maar so met die tyd word ‘n mens gewoond aan die kanonskote en die reuk van buskruit. Ek het naderhand nie meer oorpluisies gedra nie (“tot my spyt want ek is nou half doof in my regteroor”). Ek onthou ons het soms deur die nag geskiet, en dan het ek rustig geslaap sonder om wakker te word van die geknal van kanonskote.  So gewoond word ‘n mens aan daardie lawaai!

Daar was ook ‘n baie interresante sielkunde tussen ons manne daar op die grens. So amper asof die ongeskrewe reël was dat die een wat die “meanste” is, is die wenner. As jy die meeste vloek en laster, die meeste drink of rook en die vuilste grappe kon vertel, dan was jy die wenner.  En elke dag was daar dan hierdie kompetisie – sonder dat ek dink ons ooit heeltemal bewus was daarvan. Wees rof en onbeskof, dan pas jy in. Dan is jy deel van ons. Maar as jy dit nie doen nie, dan maak ons van jou ‘n bespotting. Probeer om vir iemand te sê  dat hy nie so moet laster nie, dan kyk jy wat gebeur met jou. Probeer om op te hou rook of drink, dan word jy onmiddelik die uitgeworpene. Die bespotting. Die een wat geweeg is en te lig bevind is. Soos Warren Buffet sê: ” If you are not on the inside, then you are on the outside…”.

En om aan die buitekant te wees op die grens is nie ‘n plek waar jy wil wees nie. Want jy is op hierdie mense aangewese. Jy sit op die grens in die middel van nêrens. Dis nie dat jy in jou karretjie kan klim en net kan wegry nie. Jy moet oorleef daar – tussen al die manne wat so verskriklik rof en onbeskof is. En dan word jy ook maar naderhand so! Jy vloek en rook en drink en vertel vuil grappe, want verwerping is die ergste ding wat met jou kan gebeur. En jy begin onbewustelik om ander mense om jou te begin weeg en te lig te vind, want jy glo as jy ander kan weeg, dan is die kans skraler dat hulle jou gaan probeer weeg. En so beskerm jy jouself baie keer ten koste van ander mense. As hulle sleg lyk dan lyk jy miskien beter… Klink verskriklik siek maar dis hoe dit was.

Ek onthou ons was op ‘n dag in Hurricane, en ons moes skiet met die kanonne. Dit was helder oordag en ons kon van Hurricane af tot op ‘n berg in Angola skiet. Ek het my koördinate gekry en ek het al 8 die kanonne se lesings vir hulle oor die radio gegee. Dit was ‘n verskriklike warm dag. En soos ek die lesings gee oor die radio, sien ek toe ‘n klein Himba-seuntjie in die verte daar na ons aangestap kom. Hy was nuuskierig oor die kanonne, en kon seker maar net nie sy nuuskierigheid beteuel nie.

 

download (1)
Die Himbatjie het soos hierdie outjie gelyk

Ons lok hom toe nader om te kom kyk hoe lyk hierdie ding wat soveel lawaai maak. En grootoog en versigtig kom hy nader. Sy nuuskierigheid weeg meer as sy vrees. En ons wys hom alles van die kanon, die projektiel tot die buskruit tot die teodoliet tot die loop. Jy kon sien hy was oorweldig. Nooit gedink hierdie kanon kan so ‘n ongelooflike ding wees nie.

En toe knal die eerste skoot deur die lug. Ons is nou al daaraan gewoond. Maar die Himbatjie het dit glad nie verwag dat dit so hard gaan wees nie. Hy skrik so groot dat hy plat neerval op die grond, opspring en weghardloop.

Toe skop daardie “rof en beskof” sielkunde weer in by ons. Die troepe hardloop hom van agter af in, en bring hom terug na die kanonne toe. Sy oë is groot en spierwit van die vrees. Hy  lê op die grond agter die kanonne en huil bitterlik van die vrees. Hy probeer sy ore toedruk om weg te kom van die knal van 8 projektiele gelyktydig deur die lug. Maar dit help nie. En ons lag vir hom. Want ons is tog so rof en onbeskof.

 Boeta se les

Yanik – een van my grootste wense is om weer daardie Himbatjie raak te loop. Hy sal vandag al groot wees. Miskien al so 37 tot 40. En sal graag vir hom die volgende wil sê:

  1. Ek is verskriklik jammer dat ek nie die een was wat daardie dag opgestaan het uit die groep uit om hom weg te vat van die kanonne af nie. Ek moes hom aan sy bewende handjie vat en weglei van die kanonne af. Maar ek het nie. Want dan was ek nie meer rof en onbeskof nie.  Dan was ek ‘n uitgeworpene.
  2. Ek is so verskriklik jammer dat ek nie die een was wat daardie dag sy trane afgevee het nie. Ek moes ‘n sakdoek uithaal en sy trane afvee. Maar dit sou gelyk het soos “weakness”. Daarom het ek nie.
  3. Ek is so verskriklik jammer dat ek nie die ouens daar daardie dag vasgevat het nie. Hoe verskriklik lafhartig en pateties om plesier te put uit ‘n klein onskuldige Himba-seuntjie se vrees nie. Maar ek het nie. Want dan was ek die bespotting van die groep. Dan was ek alleen aan die buitekant en hulle aan die binnekant.
  4. Ek is so verskriklik jammer dat ek daardie dag nie teen die orders opgestaan het nie. Hulle het geweet dat hy hom morsdood gaan skrik vir die geraas, maar hulle het nog steeds die opdrag om te vuur gegee. En gelag toe hy huil van die vrees. Ek moes opgestaan het daarteen, maar ek het nie. Want om aan die binnekant te wees was vir my belangriker as om op te staan vir wat reg is.

Yanik – die binnekring is op die ou einde baie slegter as die buitekring. En die prys wat jy betaal om aan die binnekring te behoort is glad nie die moeite werd nie. Ek weet dat soos vir enige normale mens is aanvaarding deur die groep belangrik vir jou, veral op jou ouderdom nou. Maar ek weet ook nou dat om die regte ding te doen baie belangriker is as om dinge reg te doen.

Hoe meer ek daaroor dink, hoe meer dink ek dat dit die term “gentleness” is.  Een van my groot leermeesters Leo Buscaglia het gesê: ” Only the weak are cruel. Gentleness can only be expected from the strong”. My seun – ons was so ongelooflik “weak” . En ons het vas geglo ons was “mean” …

Hoe pateties was ons nie  – so met ons Paul Revere’s in ons monde en vuil laster en vloek op ons lippe. Om in die aand in die kroeg oor ‘n bier verder te lag oor die Himbatjie – arme armsalige ons.

Ek skaam my morsdood om hierdie storie vir jou te vertel. Maar dit is waar. Elke woord daarvan. Mag waar jy gaan jy “gentleness” bring – want wreedheid kom net van “the weak”. Mag jy hierdie les vroeg in jou lewe leer.

En as jy ooit iewers in jou lewe ‘n Himbaman raakloop van so by die 40 jaar – selfs al is dit nie hy nie – onthou tog net hierdie storie en dat jou pa daardie tyd nie mooi verstaan het van “gentleness” en “cruelty”, en “weak” en “strong” nie.

Lief vir jou

Pappa