My pa het vir ons ‘n strandhuis gekoop in Hentiesbaai baie lank gelede. Dit was op die Suid Duin. In Pretoria is daar ‘n plek met die naam Alkantrant… toe noem ons maar die plekkie Alkantsant …..
Ons definisie daardie tyd van vakansie was maar net eenvoudig Hentiesbaai. Ons het van niks beter geweet het. Ons het geweet suid van ons was die grote Republiek en blykbaar was daar ook ‘n see, maar al wat ons geken het was Henties en Swakopmund. En almal wat saam met jou op skool was, het jy jaar na jaar daar gesien. Almal … die hele spul. Want ons het nie van beter geweet nie.
In 1981 was ek in Standerd 5. Dit was daardie jaar dat die mense in die Republiek Hentiesbaai ontdek het. Ek sal dit nooit vergeet nie. Hulle het met verskriklike groot 4×4’s in hulle massas die arme dorpie bestorm. Al die vleis uit die ou karige slaghuisie gekoop, al die drank uit die arme drankwinkeltjie en dan in De Duine hotel gaan sit en vertel van hulle groot planne om ‘n klomp vis te vang.
Ek het hulle maar so op ‘n afstand dopgehou. By myself gedink dat miskien weet hulle beter as ek, want hulle het darem groot 4×4’s, en net die beste katrolle en visstokke. Hierdie manne was definitief op ‘n ander “level” as ekke.
My pa het nie ‘n 4×4 gehad nie, maar ons het daardie see goed geken. Ons het geweet waar om galjoen te vang, waar om kabeljou te vang, watter aas om te gebruik vir watter vis, wanneer om te vang en wanneer om te weet dat die see jou niks gaan gee nie. Met ‘n stokou Penn katrolletjie en doodgewone visstokke het ons gereeld vele visse gevang langs daardie kus. En met ‘n ou Datsun Nissan 1400 bakkie het ons op plekke gery waar min mense dit sou oorweeg. Ons was “locals”.
Op ‘n dag kom my pa na my toe met die storie. Die ooms van die Republiek het hom gevra of ek nie saam met hulle kan ry en vir hulle wys waar om vis te vang nie. Hulle sukkel blykbaar. Desnieteenstaande hulle toerusting en 4×4’s en drank en vleis en oorvloed vang hulle geen vis nie. En toe een aand in die hotel toe word daar vertel hulle het iemand nodig wat hulle gids kan wees in hierdie dorre wêreld – en soos die noodlot dit wil hê word my naam toe genoem. Laat ek net onmiddelik dit noem – daardie tyd was daar baie Namibiërs daar wat baie beter was as ek met visvang, en ek erken dit ruiterlik. Maar ek was darem ook nie te sleg nie. Ek het darem geweet van watter hoek vir galjoen en watter hoek vir kabeljou, en waar vang jy wat, en al die ou klein dingetjies wat jou help om jou vissie te vang.
Die volgende oggend 04h00 toe is dit nog pikdonker. Vyf 4×4’s stop voor ons huisie – Alkantsant. Ek klim grootoog saam met die oom in die voorste 4×4. Nog nooit in my lewe in so ‘n groot kar gery nie. Net knoppies waar jy kyk. Hulle bied my koffie aan en biltong en dra my op hulle hande. Ek is nou die Moses wat hulle nou na die Beloofde Land gaan lei van baie vis.
“Watter vis wil Oom vang” – vra ek nadat ek genoeg moed bymekaar geskraap het om ‘n woord uit te kry. “Boetie – enige vis. Ons is nou hier vir ‘n week en ons het nog niks gevang nie.”
Ek weet dadelik waarheen om hulle te vat. Ons het ‘n vangplek net so anderkant Myl 69 daardie tyd gehad waar ek elke keer ‘n paar kabeljoue uitgetrek het. Jy hoef nie ver in te gooi nie, en daar is selfs rotse naby as die manne wil galjoen vang. “Watter aas het Oom” – vra ek weer. “Boetie, ons het alles. Rooiwurm, stinkaas, pilchards, mossel you name it we have got it….” lag die Oom en trek sy Paul Revere diep.
Daardie aand toe hulle my kom aflaai by die huis, toe het hulle nie een vis gevang nie.
My pa vra my wat het gebeur. “Pa, hierdie mense is ongelooflik haastig. Hulle gooi in en dan katrol hulle sommer dadelik weer op. So asof die vis moet resies jaag om by die aas uit te kom”. En dan wil hulle sommer dadelik na ‘n ander plek toe gaan want hier is dan nie vis nie. Dis asof iets hulle jaag Pa…”
“Het jy vir hulle vertel dat hulle moet geduldig wees?” vra my pa. “Nee Pa, ek kan mos nie vir die Ooms dit sê nie. Hulle ry dan hierdie groot karre en Pa moet hulle katrolle en visstokke sien. Hulle weet tog seker meer as ek…wie is ek nou?”
“Jannie” sê my pa, “môre as die mense jou weer kom haal, dan gaan ek vir hulle sê dat hulle jou opdragte streng moet gehoorsaam. Niemand gooi hulle lyne in as jy nie vir hulle toestemming gee nie, en niemand katrol op as jy dit nie goedkeur nie. Anders is dit baie eenvoudig – jy gaan net nie weer saam nie…”
Ek staan so ‘n entjie weg die volgende oggend 04h00 terwyl my pa deur die 4×4 se venster met die Ooms praat. Maar ek kan sien so op ‘n afstand hy is baie ernstig en die ooms knik net hulle koppe. En so is ons daar weg die oggend…
Daardie aand in 1981 toe daardie 5 4×4’s in die dorp inry, toe hang hulle omtrent op die grond so baie vis het elkeen gedra. Dit was nog voor die tyd van kwotas waar jy soveel vis kon vang as wat jou wou. Kabeljoue, steenbras, galjoene, kolsterte en barbers by die dosyne. Die manne is in baie goeie gees daar weg toe hulle my aflaai by Alkantsant voordat hulle De Duine hotel toe gaan om hulle stories verder te gaan vertel oor ‘n bier.
“Daar is ‘n verskriklike belangrike les wat jy moet leer uit hierdie ervaring, Jannie” sê my pa nadat hy ‘n vuurtjie vir ons aangesteek het in die kaggel. “En ek wil graag dat jy vir my sê wat jy dink daardie les is…?”
“Dis seker maar dat die mense na my geluister het Pa?”, mompel ek want ek is self nie so seker nie.
“Nee my kind, die les is baie groter as dit. Dit gaan oor ritme. Daar is ‘n sekere ritme in hierdie land, en voordat jy nie “in sync” kom met daardie ritme nie, gaan jy oneffektief wees. Jy kan nie met groot 4×4’s en baie geld en drank en die beste katrolle en visstokke daardie ritme verander nie. Dit is groter as jy. Kom in pas met die ritme om jou. Die oomblik toe die omies na jou luister en jy hulle in pas bring met die groter ritme, toe kom die vis. Het jy dit geweet?”
Daardie tyd het ek dit nie mooi verstaan nie. Maar nou, jare later, verstaan ek dit nou baie beter wat my pa my probeer leer het daardie dag.
Boeta se les:
Yanik my seun, dit gaan alles oor ritme. Ons dans baie rukkerig as mense omdat ons nie die groter ritme om ons lekker verstaan nie. Maar ook baiekeer omdat ons dink ons eie ritme is belangriker as die groter ritme om ons.
Leer hierdie les terwyl jy nog jonk is! Ou Dok Craven het dit mooi gestel: “Jy is nie groter as die spel nie…” En as jy dit begin verstaan dan is dit sommer asof alles makliker is. Want jy dans nie meer so rukkerig nie.
Ek lees nou die dag hierdie stukkie, en dit som nogal op ‘n manier op wat ek vir jou probeer leer: “The biggest lesson I learned this year is to not force anything: conversations, friendships, relationships, attention, love (en mag ek byvoeg visvang…?). Anything forced is just not worth fighting for, whatever flows flows, what crashes crashes. It is what it is.”
Ons is nie groter as die spel nie my liewe kind. Ons is maar net klein miertjies wat die heelal probeer verstaan. Maar daar ‘s ‘n groot God wat ons geskape het, en dit is Hy wat die groter ritme skep waarbinne ek en jy kan dans. “He plays the music, you and I must do the dancing…”
Ek wonder of daardie omies dit daardie tyd verstaan het? Toe hulle die lang pad terugvat Republiek toe, het die “penny gedrop” of nie?
Wees jy eendag iemand wat nie rukkerig dans nie….
Lief vir jou
Pappa