Die Woolworths storie

Ons het regtig gesukkel om aan te pas toe ons uit Namibië getrek het Pretoria toe. My pa het altyd gesê dit is omdat ons so bietjie “milieu-gestremd” was. Dis ‘n hogere woord – maar wat eintlik maar net beteken ons omgewing in Windhoek het ons nie regtig voorberei vir hierdie verskriklike skok van ‘n Gauteng nie.

Kom ek maak dit prakties. As ons op die hoofweg ry, dan maak dit nie sin om vir almal te groet wat van vooraf kom nie. Hulle is net te veel. In Namibië kan jy dit doen, en dis mooi. Maar nie in spitstyd op die N1 in Pretoria nie. Dit maak nie sin nie. Jy maak net jou naam gat. Niemand gaan teruggroet nie. En as hulle sou groet, sou hulle net by hulself dink wie dit was wat hulle gegroet het?  Want in Gauteng groet jy mos nie mense as jy hulle nie ken nie. Dis anders in Namibië.

Dit is wat my pa bedoel het met milieu-gestremdheid.

Of soos die slag toe my pa terugry van die gholf af en vir sy gholfmaat Fanie gaan aflaai. Maar Fanie vergeet sy selfoon onder die sitplek. My pa was maar tegnologies baie gestremd. Hy vertel my hy ry en hy hoor “tiengelieng-tieng-tien.”  Nog nooit so ‘n geluid gehoor nie – ken nie van selfone nie. En dan na ‘n ruk dan kom dit weer. “Tiengelieng-tieng-tien.” Hy dink daar is ernstig fout met sy karretjie se enjin en hy trek van die N1 af. Soek die geluid. Kry uiteindelik die foon onder die sitplek. Hy sien daar is ‘n groen knoppie. Druk die groen knoppie. Maar hou die foon hier so voor hom asof dit ‘n “walkie-talkie” is. “Hallo…” antwoord hy die foon. Dan hoor hy ‘n vae dowwe stemmetjie aan die ander kant:”Hennie kan jy my hoor? Dis Fanie. Dis my selfoon wat jy in jou hand het.” My pa antwoord:” Hallo? Fanie? Jy gaan moet harder praat, ek kan jou amper nie hoor nie”.   Fanie gil later soos ‘n besetene aan die ander kant: ” Hennie – sit die donnerse foon teen jou oor, dan gaan jy my kan hoor…”

Milieu-gestremd.

Of soos die keer toe ons besluit ons moet seker maar uit die huis uit, want ons was baie bang vir die hoofweë. As jy daar ‘n verkeerde afrit vat, dan is jy heeltemal in jou moer in. Ons moes by ‘n Midas uitkom, en volgens die kaart (daardie tyd was daar geen GPS’s nie) was daar ‘n Midas in Kerkstraat. My pa bestuur en ek navigeer. Links hier, regs daar. Bevind ons uiteindelik in Kerkstraat. Min het ons geweet ons is nou in die hoofstraat van Pretoria. In Namibië ry jy tot by die plek en dan stop jy sommer reg voor die gebou. Geen probeem. Ons sien uiteindelik toe die Midas, maar daar is geen parkeerplek nie.  Ry verby. Bevind ons in die sirkel waar Paul Kruger se standbeeld staan. Tussen die busse. Kerkplein. Almal toet vir ons. Ons ry terug in Kerkstraat. Ry weer by die Midas verby.

“Nou waar die donner moet ek parkeer” swets my pa.  Ons maak ‘n “U-turn” in Kerkstraat en ry weer verby. Nou is my pa se moermeter in die rooi. ” Hoe kan hulle verwag ons moet by hulle koop as hulle nie vir ons parkering kan bied nie?” praat hy hard.  Dan sien ek dit. ‘n Bordjie langs die pad wat lees : ” Parkade”.

“Pa – ry daar links. Daar by daardie bordjie” sê ek in my rol as navigator. “Nee man – jy kan mos nie met jou kar in ‘n gebou in ry nie. Miskien in ‘n garage in, maar “not de hel” in ‘n gebou in nie ” sê my pa kortaf. Hy is lekker de donner in, maar ek kry hom tog naderhand oortuig om daar in te ry.

Ons stop grootoog by die “beam”. “Nou wie gaan hierdie ding vir ons lig? Daar is nou weer niemand by hierdie hek nie” grom my pa.  Ek oortuig hom om die knoppie te druk wat sê: ” Press Here”.  Hy druk die knoppie. Dan hoor ons ‘n gerommel. “Wat gaan nou met die masjien aan?” vra my pa. Dan spoeg die masjien die kaartjie uit. “Wat moet ek doen met hierdie kaartjie?” vra my pa benoud. “Trek hom uit die masjien uit” sê ek vir hom. Hy trek hom uit, en die “beam” lig.  My pa trap die petrol want hy is bang die “beam” kom weer af op sy karretjie.

“Jannie – hierdie is ongelooflik…” sê my pa in verwondering. “Kyk net al hierdie karre, en hulle is almal in een gebou?”  Ons ry stadig op soek na parkering. Gaan naderhand nog ‘n vlak op want ons kry nie parkering op die onderste vlak nie. Na 20 minute wat ons so ry, sê my pa: “Die Here is ‘n wonderlike God. Hy maak die mens met die vermoë om ‘n gebou te bou soos hierdie waar daar soveel karre in staan. En ons ry nou al vir twintig minute op in hierdie gebou, en ons kry nie parkering nie. Kan jy dink hoe hoog moet hierdie gebou wees?”

Toe kom ons agter ons ry die hele tyd net op die tweede vloer al in die rondte, want ek herken toe ‘n tjor waar ons netnou verby gery het…

Milieu-gestremdheid.

Ons kom uiteindelik in Kerkstraat, en soos die noodlot dit wil hê, weet ons nie meer hoe om by die “parkade” weer terug te kom nie. Ons is verdwaal.  En ons gaan iemand moet vra om ons te help. Maar ons wil nie. Want hulle groet ons nie. Ons het so half besluit hulle moere ook.  Maar nou het ons nie ‘n keuse nie. Iemand gaan ons moet help. Ons gaan ons trots in die sak moet druk.

“Verskoon my Meneer” vra my pa ‘n omie wat by ons verbystap. Hy vra die omie om ons te verduidelik waar die spesifieke parkade is. Ons het die parkade se naam  gememoriseer want ons het geweet ons gaan verdwaal.

Toe die omie antwoord, toe weet ons daar is nou iewers groot fout.  “Jooo” sê die oom, maar hy praat verskriklik stadig. “Juuuuulllleeee mmmmooooeeet nnnneeettt ddddrrrriiiieee bbbbbllllllooooookkkkkeee aaannnlllooooppppp, dddddaaaannnn sssssssaaaaalll jjjjjjuuuullllleeee hhhhhoooommmmm kkrrryyyy.”

Ons staan so paar tree terug. Dit klink asof die omie se plaat vasgehaak het.  My pa is sommer dadelik kwaad. Hierdie oom maak nou weer ‘n grap met ons.

“Aaannnn jjjjoooouuuu lllliiiinnnnkkkkeeeerrrrkkkkaaannnttt ssssaaaalllll jjjyyy ‘nn PPiiiccckkk & PPPaayyy kkkrryyy, eeennnn aannn jjjjooouuu rrrreeggttteerrrkkkaannt ‘nnnn ….”

Die oom haak nou heeltemal vas. Dis asof hy skielik tot stilstand kom. “Wooo…” sê die oom. Hy is rooi in sy gesig. Hy besef hy haak vas, en praat skielik harder:” WWWWOOOO…” Die oom is nou paniekerig, maar hy probeer weer: “WWWWOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOO…” skree hy op ons.

Ons dog hy verstik. Of dat ons moet stop met iets wat ons verkeerd doen. Toe ons naderkom om te help, toe sê hy dit:

“Woolworths…”

Ons loop grootoog daar weg. Ons het eers gedink die omie spot met ons. Maar soos ons reflekteer oor die ervaring, is ons beste hipotese dat hy miskien hakkel. En dat iemand hom mos geleer het om stadig te praat. En dat hy dit mooi reggekry het. Totdat hy by Woolworths uitgekom het. Woolworths het hom gegooi.

Nietemin, ons het uiteindelik ons karretjie weer gekry en veilig by die huis aangekom.

Boeta se les:

Yanik – hierdie aarde is nie ons huis nie. Ons is op die aarde maar nie van die aarde nie. Moet nooit vergeet dat ons nou maar net deur ‘n wasige spieël na dinge kyk nie. Selfs die slimste mens op hierdie aarde is steeds milieu-gestremd. Hierdie ou aarde kan ons nie voorberei op wat eendag vir ons wag nie.

Net soos wat Namibië ons nie kon voorberei vir Gauteng nie.

Ek wens soms daar was ‘n boek wat ons kon voorberei het op hoekom jy nie mense groet op die N1 nie, en wat ‘n selfoon regtig is en dat sommige mense mag sukkel om Woolworths uit te spreek.

Maar daar is ‘n Boek wat jou gaan voorberei op wat eendag vir jou wag. Gebruik hom. Spandeer baie tyd in daardie Boek. Hy gaan jou baie help met jou aardse milieu-gestremdheid.

Lief vir jou

Pappa