Die Woolworths storie

Ons het regtig gesukkel om aan te pas toe ons uit Namibië getrek het Pretoria toe. My pa het altyd gesê dit is omdat ons so bietjie “milieu-gestremd” was. Dis ‘n hogere woord – maar wat eintlik maar net beteken ons omgewing in Windhoek het ons nie regtig voorberei vir hierdie verskriklike skok van ‘n Gauteng nie.

Kom ek maak dit prakties. As ons op die hoofweg ry, dan maak dit nie sin om vir almal te groet wat van vooraf kom nie. Hulle is net te veel. In Namibië kan jy dit doen, en dis mooi. Maar nie in spitstyd op die N1 in Pretoria nie. Dit maak nie sin nie. Jy maak net jou naam gat. Niemand gaan teruggroet nie. En as hulle sou groet, sou hulle net by hulself dink wie dit was wat hulle gegroet het?  Want in Gauteng groet jy mos nie mense as jy hulle nie ken nie. Dis anders in Namibië.

Dit is wat my pa bedoel het met milieu-gestremdheid.

Of soos die slag toe my pa terugry van die gholf af en vir sy gholfmaat Fanie gaan aflaai. Maar Fanie vergeet sy selfoon onder die sitplek. My pa was maar tegnologies baie gestremd. Hy vertel my hy ry en hy hoor “tiengelieng-tieng-tien.”  Nog nooit so ‘n geluid gehoor nie – ken nie van selfone nie. En dan na ‘n ruk dan kom dit weer. “Tiengelieng-tieng-tien.” Hy dink daar is ernstig fout met sy karretjie se enjin en hy trek van die N1 af. Soek die geluid. Kry uiteindelik die foon onder die sitplek. Hy sien daar is ‘n groen knoppie. Druk die groen knoppie. Maar hou die foon hier so voor hom asof dit ‘n “walkie-talkie” is. “Hallo…” antwoord hy die foon. Dan hoor hy ‘n vae dowwe stemmetjie aan die ander kant:”Hennie kan jy my hoor? Dis Fanie. Dis my selfoon wat jy in jou hand het.” My pa antwoord:” Hallo? Fanie? Jy gaan moet harder praat, ek kan jou amper nie hoor nie”.   Fanie gil later soos ‘n besetene aan die ander kant: ” Hennie – sit die donnerse foon teen jou oor, dan gaan jy my kan hoor…”

Milieu-gestremd.

Of soos die keer toe ons besluit ons moet seker maar uit die huis uit, want ons was baie bang vir die hoofweë. As jy daar ‘n verkeerde afrit vat, dan is jy heeltemal in jou moer in. Ons moes by ‘n Midas uitkom, en volgens die kaart (daardie tyd was daar geen GPS’s nie) was daar ‘n Midas in Kerkstraat. My pa bestuur en ek navigeer. Links hier, regs daar. Bevind ons uiteindelik in Kerkstraat. Min het ons geweet ons is nou in die hoofstraat van Pretoria. In Namibië ry jy tot by die plek en dan stop jy sommer reg voor die gebou. Geen probeem. Ons sien uiteindelik toe die Midas, maar daar is geen parkeerplek nie.  Ry verby. Bevind ons in die sirkel waar Paul Kruger se standbeeld staan. Tussen die busse. Kerkplein. Almal toet vir ons. Ons ry terug in Kerkstraat. Ry weer by die Midas verby.

“Nou waar die donner moet ek parkeer” swets my pa.  Ons maak ‘n “U-turn” in Kerkstraat en ry weer verby. Nou is my pa se moermeter in die rooi. ” Hoe kan hulle verwag ons moet by hulle koop as hulle nie vir ons parkering kan bied nie?” praat hy hard.  Dan sien ek dit. ‘n Bordjie langs die pad wat lees : ” Parkade”.

“Pa – ry daar links. Daar by daardie bordjie” sê ek in my rol as navigator. “Nee man – jy kan mos nie met jou kar in ‘n gebou in ry nie. Miskien in ‘n garage in, maar “not de hel” in ‘n gebou in nie ” sê my pa kortaf. Hy is lekker de donner in, maar ek kry hom tog naderhand oortuig om daar in te ry.

Ons stop grootoog by die “beam”. “Nou wie gaan hierdie ding vir ons lig? Daar is nou weer niemand by hierdie hek nie” grom my pa.  Ek oortuig hom om die knoppie te druk wat sê: ” Press Here”.  Hy druk die knoppie. Dan hoor ons ‘n gerommel. “Wat gaan nou met die masjien aan?” vra my pa. Dan spoeg die masjien die kaartjie uit. “Wat moet ek doen met hierdie kaartjie?” vra my pa benoud. “Trek hom uit die masjien uit” sê ek vir hom. Hy trek hom uit, en die “beam” lig.  My pa trap die petrol want hy is bang die “beam” kom weer af op sy karretjie.

“Jannie – hierdie is ongelooflik…” sê my pa in verwondering. “Kyk net al hierdie karre, en hulle is almal in een gebou?”  Ons ry stadig op soek na parkering. Gaan naderhand nog ‘n vlak op want ons kry nie parkering op die onderste vlak nie. Na 20 minute wat ons so ry, sê my pa: “Die Here is ‘n wonderlike God. Hy maak die mens met die vermoë om ‘n gebou te bou soos hierdie waar daar soveel karre in staan. En ons ry nou al vir twintig minute op in hierdie gebou, en ons kry nie parkering nie. Kan jy dink hoe hoog moet hierdie gebou wees?”

Toe kom ons agter ons ry die hele tyd net op die tweede vloer al in die rondte, want ek herken toe ‘n tjor waar ons netnou verby gery het…

Milieu-gestremdheid.

Ons kom uiteindelik in Kerkstraat, en soos die noodlot dit wil hê, weet ons nie meer hoe om by die “parkade” weer terug te kom nie. Ons is verdwaal.  En ons gaan iemand moet vra om ons te help. Maar ons wil nie. Want hulle groet ons nie. Ons het so half besluit hulle moere ook.  Maar nou het ons nie ‘n keuse nie. Iemand gaan ons moet help. Ons gaan ons trots in die sak moet druk.

“Verskoon my Meneer” vra my pa ‘n omie wat by ons verbystap. Hy vra die omie om ons te verduidelik waar die spesifieke parkade is. Ons het die parkade se naam  gememoriseer want ons het geweet ons gaan verdwaal.

Toe die omie antwoord, toe weet ons daar is nou iewers groot fout.  “Jooo” sê die oom, maar hy praat verskriklik stadig. “Juuuuulllleeee mmmmooooeeet nnnneeettt ddddrrrriiiieee bbbbbllllllooooookkkkkeee aaannnlllooooppppp, dddddaaaannnn sssssssaaaaalll jjjjjjuuuullllleeee hhhhhoooommmmm kkrrryyyy.”

Ons staan so paar tree terug. Dit klink asof die omie se plaat vasgehaak het.  My pa is sommer dadelik kwaad. Hierdie oom maak nou weer ‘n grap met ons.

“Aaannnn jjjjoooouuuu lllliiiinnnnkkkkeeeerrrrkkkkaaannnttt ssssaaaalllll jjjyyy ‘nn PPiiiccckkk & PPPaayyy kkkrryyy, eeennnn aannn jjjjooouuu rrrreeggttteerrrkkkaannt ‘nnnn ….”

Die oom haak nou heeltemal vas. Dis asof hy skielik tot stilstand kom. “Wooo…” sê die oom. Hy is rooi in sy gesig. Hy besef hy haak vas, en praat skielik harder:” WWWWOOOO…” Die oom is nou paniekerig, maar hy probeer weer: “WWWWOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOOOWWWWOOOO…” skree hy op ons.

Ons dog hy verstik. Of dat ons moet stop met iets wat ons verkeerd doen. Toe ons naderkom om te help, toe sê hy dit:

“Woolworths…”

Ons loop grootoog daar weg. Ons het eers gedink die omie spot met ons. Maar soos ons reflekteer oor die ervaring, is ons beste hipotese dat hy miskien hakkel. En dat iemand hom mos geleer het om stadig te praat. En dat hy dit mooi reggekry het. Totdat hy by Woolworths uitgekom het. Woolworths het hom gegooi.

Nietemin, ons het uiteindelik ons karretjie weer gekry en veilig by die huis aangekom.

Boeta se les:

Yanik – hierdie aarde is nie ons huis nie. Ons is op die aarde maar nie van die aarde nie. Moet nooit vergeet dat ons nou maar net deur ‘n wasige spieël na dinge kyk nie. Selfs die slimste mens op hierdie aarde is steeds milieu-gestremd. Hierdie ou aarde kan ons nie voorberei op wat eendag vir ons wag nie.

Net soos wat Namibië ons nie kon voorberei vir Gauteng nie.

Ek wens soms daar was ‘n boek wat ons kon voorberei het op hoekom jy nie mense groet op die N1 nie, en wat ‘n selfoon regtig is en dat sommige mense mag sukkel om Woolworths uit te spreek.

Maar daar is ‘n Boek wat jou gaan voorberei op wat eendag vir jou wag. Gebruik hom. Spandeer baie tyd in daardie Boek. Hy gaan jou baie help met jou aardse milieu-gestremdheid.

Lief vir jou

Pappa

Die Boemelaar storie

Ons gesinnetjie het afgetrek vanaf Namibië na Pretoria in 1991. Suidwes het so pas Namibië geword. Onafhanklikwording. My pa het gewerk by die SWAUK voordat hy medies ongeskik verklaar is – voordat hy 50 jaar oud was. Die SWAUK (Suidwes Afrikaanse Uitsaai Korporasie) het oornag die NBC (Namibië Broadcasting Corporation) geword.  Dit was die verkeerde plek om by te wees as jy blank was en voorheen gepraat het van terroriste. Nou was vryheidsvegters die polities korrekte bewoording. Dit was vir my pa baie moeilik, en ek dink al daardie dinge het maar aanleiding gegee tot sy hartaanval en latere mediese ongeskiktheid.

Hy was ongelooflik lief vir Namibië, en dit was vir hom verskriklik om die land te verlaat en in Pretoria te gaan bly. Ons het afgery, maar hy het afgevlieg. Hy wou nie deur Namibië ry, die land waarvoor ons oor die jare so lief  geword het nie.

En toe trek ons in ‘n huisie in Rossouw Straat in. Murrayfield. Pretoria. En daar sit ons toe. Soos meerkatte wat uitkyk by die venster. Wanneer kom die bure dan nou vir ons hallo sê? In ons wêreld kom die hele buurt, of hulle jou nou ken of nie, en kom groet. Dis hoe dit werk! Maar nie hier nie. Ek onthou my pa wat sê:” Nee wat, dis ‘n sleg plek die. Ek gaan nie hier kan bly nie. Ek wil terug Windhoek toe.” Dit was vir hom baie swaar.

Die eerste oggend wat ons wakker word in Pretoria skrik ons wakker van ‘n moerse lawaai. Dit klink asof iemand vermoor word. Toe ons by die venster uitkyk, sien ons dit vir die eerste keer – ‘n hadeda. Ons ken nie sulke goeters in Namibië nie. Ons het ons verstom aan die voël wat so ‘n verskriklike lawaai kan maak. Geen wonder niemand wou vir ons ‘n melktertjie bring nie. Hulle het seker ons al op ‘n afstand gesien en gekatagoriseer as “Die weird Du Toit’s”.

Een oggend toe stap ons buurman af met sy asdrom met wieletjies om dit te gaan los teen die pad sodat die asdrommense dit daar kan optel. My pa gryp ons asdrom en loop vinnig af pad toe. Vandag is sy kans. Hy gaan die asdrom gebruik om uit te reik na sy buurman en homself voor te stel.  Maar die buurman skrik toe my pa op hom afstorm en loop vinnig terug huis toe. Ek sal nooit my pa se moedelose stappie terug huis toe vergeet nie.  Selfs ons eie buurman wou niks van hierdie Du Toit’s weet nie.

Dit was baie erg vir ons in die begin in Pretoria. My pa wat nie werk nie, en my ma wat die pot aan die kook hou. En ons drie kinders wat ook maar elkeen ons eie stryd gehad het.

Toe eendag vra my pa my om saam met hom te ry. Ek klim saam met hom in ons ou rooi Foxie en ons ry. “Waarnatoe gaan ons, Pa?” vra ek. “Kerkplein – jy moet my kom help met iets…”

Toe begin hy sy storie vertel soos ons ry.  “Ek kan nie meer so by die huis sit nie. Jy besef nie die impak as jy skielik nie meer deel is van die ekonomiese stroom nie.”  Ek weet hy trek swaar. Sy werk was sy alles, en skielik is dit weggeneem van hom af deur sy gesondheid. En nou sit hy hier in die vreemde, en nie eers die buurman wil met hom praat nie. En die blêddie hadeda skreeu ons wakker elke oggend.  En niemand doen die moeite om net ‘n ou koffietjie saam met ons te kom drink nie.

“Ek bel toe die Salvation Army, want ek voel ek moet op een of ander manier ‘n bydrae maak tot die samelewing. Ek kan nie net so sit nie.”  Hy het ‘n ongelooflike humorsin gehad. “Soms sit ek en dink, en ander tye sit ek net…” sê hy tong in die kies.

“Ek bied toe die Salvation Army geld aan om vir die arm mense te gee, maar die tannie aan die ander kant sê toe vir my hulle soek nie my geld nie. Hulle het genoeg geld. Hulle soek my hande…”

“Ek skrik eers, maar sy vertel toe verder. Hulle gee elke Vrydagmiddag sop vir die boemelaars op Kerkplein. Daar is genoeg sop, maar hulle het niemand om die sopwaentjie aan ‘n kar met ‘n haak te sleep na kerkplein, dit dan daar af te haak en dan die sop in te skep vir die boemelaars nie. Dis wat ek en jy vandag gaan doen….”

Ek is tjoepstil. Nog nooit in my lewe sop vir boemelaars ingeskep nie. Ons is nie sulke mense nie. Ons gaan kerk toe ja. En ons hou nagmaal. En ons bid. Maar sop self gaan oplaai en dan uitdeel aan boemelaars – dis op ‘n ander vlak.

My pa gaan aan: “Dis maklik om jou geld te gee. Dis moeilik om jou hande te gee…”

Ons kom uiteindelik by die plek aan waar die sop is. Die plek is maar armoedig.  Ons haak die sopwaentjie aan die rooi Foxie. Ry kerkplein toe. Die boemelaars staan al daar. Hulle weet elke Vrydag hierdie tyd dan gebeur dinge. Ons haak die waentjie af. Die boemelaars begin vanself in ‘n ry staan. My pa maak die deurtjie van die waentjie oop. Klim in. Gooi die eerste plastiekbakkie vol sop.

Ek is maar huiwerig. Weet nie waar om te vat en waar om te los nie. Maar dan kry ek my “joppie”. Ek skep die sop in, en my pa gee dit vir hulle. Die boemelaars kom in alle vorme. Daar is swartes en blankes en kleurlinge en Indiërs. Daar is van hulle wat ou klere aan het, en daar is van hulle wat lyk asof hulle op pad werk toe is – stop net gou vir ‘n gratis soppie. Daar is dié wat jy die dankbaarheid en soms trane in hulle oë kan sien, en dan is daar die wat nie eers met jou oogkontak maak nie.

Ons ry in stilte terug huistoe. Al die sop is uitgedeel. Waentjie is weer afgelaai. Boemelaars het almal sop in hulle mae. En ons het ons hande gegee.

“Miskien is dit waaroor alles gaan” mompel my pa toe ons inry by ons huis in Rossouw straat. En hy groet toe vir die soveelste keer die buurman wat nooit teruggroet nie.

Boeta se les

Yanik, ons is die sout van die aarde. Sout moet gaan waar daar nie sout is nie. Sout moenie gaan waar daar net nog sout is nie. Ons is die lig van die wêreld. Lig moet gaan na duisternis toe. Nie waar daar net nog lig is nie. Ons is die suurdeeg. Suurdeeg moet gaan waar deeg is. Nie waar daar net nog suurdeeg is nie. En daardie sout, lig en suurdeeg lyk soos hande…

As Oupa nog gelewe het, sou jy hom kon vra. Hy het my hierdie les op sy mooi manier geleer. Op sy begrafnis was al sy matriekmaats daar. Van jarre gelede. En ek kon sien dat hulle vir hom lief was. Miskien omdat hy sulke belangrike lesse eerder deur doen as deur praat oorgedra het.

Sien Oupa se begrafnisbriefie – klik hierop

Lief vir jou

Pappa