Die Staaldraad storie

In die jaar 1987 toe gaan ek Weermag toe. Net na matriek. Ek het in 1986 Matriek geskryf by Hoërskool Academia in Windhoek, Namibië.  Mnr Du Plooy het eendag tydens ons Jeugweerbaarheidsklas in sy “browns” vir ons kom verduidelik hoe belangrik dit vir ons is om Weermag toe te gaan. Ons moet gaan veg teen die kommunisme en SWAPO. Hy was verskriklik begeesterd en het sy “dog tags” onder sy hemp uitgeruk om vir ons te wys hoe belangrik die Army is. Maar ek onthou so goed dat sy “dog tags” aan sy bril vasgehaak het toe hy dit probeer uithaal. En daar staan hy voor in die klas, al sukkelende om die “dog tags” los te kry. Ons het hom skaapagtig aangegaap, maar ook deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat op ons as jong manne se skouers gelê is om ons land te beskerm sodat die vrouens en kinders lekker kan slaap in die aand. En ons het daardie klas afgesluit met ons lied: ℘In Suidwes wil ons graag bly, dis die wêreld net vir my, sorgeloos en kommervry. Met ons sweet het ons betaal, vir ons land en volk en taal, ons land, Suidwes, verre land. Wiederschau…℘ ”

Daardie middag onthou ek het ek “Green Berets” herhaaldelik geluister en my besluit geneem – ek gaan volgende jaar Army toe!

Ons moes eers gaan basiese opleiding doen in Osona basis, naby Okahandja. Ek onthou nog die dag toe ek inklaar in Windhoek en vir almal totsiens sê! Dit was ongelooflik “daunting” – ek het geen benul gehad wat voor my gelê het nie.

Die dag van inklaring saam met Anthoni van der Smit. Kyk net hoe maer is ek. My pa het gesê ek moet in die stort rondspring om nat te word…En met my hare wat so lank was het hy ook soms gesê ek lyk vir hom soos ‘n tolbos met ‘n dun stingel…! Alles darem met liefde!

Ons is op die Samil 50’s daar weg Osonabasis toe.  Eerste ding wat met ons gebeur het is al ons hare is afgesny met ‘n nommer 1 – poenskop pappie. Ons is toegedeel in ons  bateljonne. Ek onthou ek was in Charlie kompanie Peleton 5. Ons is ge-“kit” met staaldak, webbing en geweer, waterbottel, boshoed, trommel, pikstel; varkpan, slaapsak, staaldak en nog ‘n helse klomp goed wat ons kamma as troep sou nodig het. Elkeen kry ‘n magsnommer. As jy hom vergeet, is jy in jare se moeilikheid. Ek onthou myne tot vandag toe – 84802040 SCE. En dan moes ons alles in die trommel gooi, dit in die hoogvoor kry en hardloop na die volgende bestemming.

Ons is toegedeel in ons tente, en toe alles verby is, het ons so vinnig ‘n kans gekry om asem te skep op jou bed in jou tent.  “Wie is julle Samajoor?” vra ‘n troep wat sy kop daar by ons tent insteek. “Samajoor Staaldraad” mompel een van my nuwe tentmaats. “Eina – arme julle. As ek julle is sorg ek dat ek wegkom. Dis nag vir julle” – lag die troep en weg is hy. Ek het nog nie vir Staaldraad ontmoet nie. Maar dit klink nie goed nie. Lyk my ons het die verkeerde looitjie getrek. Maar ‘n ou is ook so oorweldig met alles wat gebeur dat jy nie eintlik te veel aandag skenk aan die feit dat jy toegedeel is aan “Staaldraad” nie.  Ons “bandwydte” kan nie nog ‘n verdere verrassing akkommodeer nie.

Dit word skemer. Skielik hoor ek ‘n skril fluitjie wat blaas. “Tree aan” word daar gebulder deur Korporaal Cassie. Hy was die jaar voor ons in in dieselfde skool in matriek, en nou is hy ‘n korporaal. En hy het ‘n houding aan hom soos jy nie kan glo  nie. Want ons is nou rou troepe, en nou is hy in “charge”. En alles wat ooit verkeerd geloop het in sy skoolloopbaan en al sy patologie en “issues” gaan hy nou op ons uithaal.

Ons tree aan, maar dis maar ‘n gesukkel want ons verstaan nie mooi van “Peleton, peleton aandag” nie, en nog minder van “regs rig”, en dan nog minder van “oop orde mars”. Korporaal Cassie is sommer dadelik siedend.  Ek kan sien hier gaan dit net moeilik word, maar jy kan nie weghardloop nie. Dit sal nie help nie.

“Troepe, ek wil julle graag voorstel aan julle Samajoor”  sê Cassie.  “Hierdie is Samajoor Van Niekerk”. Cassie tree terug en Samajoor van Niekerk stap na vore.  Dis ‘n snaakse mannetjie. Hy is maer – net soos ek. Maar hy loop asof hy ‘n besem ingesluk het. Skerp gesiggie, met ‘n snor wat mooi krul soos dit enige Samajoor  wat sy sout werd is, betaam. Sy “bootse” is so blink jy kan jou hare daarin kam. Hy het so ‘n klein brilletjie waardeur hy na ons gluur. Staaldraad – dink ek. Hoekom Staaldraad?

“Naand troepe” sê hy saggies en met ‘n glimlag. Hy is vriendelik die Samajoor, dink ek. “Welkom op Osona. Ek is julle Samajoor en ek gaan mooi na julle kyk. Maak seker dat julle julle ouers bel vanaand om hulle te laat weet dat julle OK is, en gaan stort en klim vroeg in die bed. Môre is ‘n lang dag”. Dan maak hy ‘n omkeer soos net ‘n Samajoor kan, en loop daar weg.

Ons is nou weer in die hande van Korporaal Cassie. Hy is nie so vriendelik nie. ” As ek een van julle bliksems vang wat nie onmiddelik aantree in jou “overalls” wanneer ek die fluitjie more-oggend 04h30 blaas nie, dan gaan jy “k@k”.  Peleton, peleton uittree…”

Ek lê die aand in my bed. Dink by myself, wat ‘n dag. Ons het ingeklaar, ek is nou in die army… Nou gaan ek ‘n soldaat word, en ek gaan veg vir volk en vaderland. Swapo se gat. En Staaldraad is nie so erg nie. Hy praat dan so saggies en so mooi met ons soos ‘n pa met sy seun. Ek sal hierdie ding kan doen…dink ek. En toe slaap ek want ek was doodmoeg.

“PRRRRRRRRRTTTTT….” knal die fluitjie 04h30 die volgende oggend. Ek is klaar aangetrek in my “overalls” en “boots”, boshoed op die kop, web-belt aan. Wag al van 03h00 af vir daai fluitjie om te blaas. Korporaal Cassie loop breëbors rond. Dis lekker vir hom om ons so te sien rondhardloop soos hoenders met afkoppe. “Tree aan…. tree aan….” skree hy, harder as gewoonlik want Samajoor Staaldraad staan daar. Hy moet darem wys hy kan die ding doen.

Ons tree aan. Langste man heel regs en dan kom die res. Dis koel, maar nie so dat ons koud kry nie. Gisteraand het dit bietjie gereën en jy ruik die nat stof. “Môre troepe” sê Staaldraad. “Hoop julle het lekker geslaap? Is almal OK?” Tjoepstil. ” Goed, ons gaan so bietjie uitdril paradegrond toe. Ek het nodig om julle ‘n paar dinge van dril te leer. Kan sien dat daar baie skaafwerk nodig is. Ek sal sorg dat julle die beste drilpeleton in Osona is hierdie jaar. Doen net wat ek sê dan sal alles OK wees.”

“Rig op die regterflank – Voorwaarts mars.” Daar gaan ons. Korporaal Cassie is soos ‘n Jack Russel tussen ons, maar veral wanneer hy Staaldraad se aandag het. “ha liek ja hiek ja hiek ja je; ha liek ja hiek ja liek ja he” dril Cassie ons met geoefende styl daar weg.  “Lang man”, skree Cassie vir een van die manne wat heel voor dril. “Jy dril soos ‘n dr@l in ‘n wasbak. Hou jou arms reguit jou dom moer.  Skouerhoogte.”  Dan struikel een van die ander manne oor ‘n klip wat hy nie gesien het nie. “Ek sal vir jou so bliks@m dat jou sn@t om jou nek sal gaan en jou f@kken nek sal afruk” blaf Korporaal Cassie. Maar Samajoor Staaldraad is heel rustig. Ons gaan nie groot probleme hê nie, dink ek. Ou Cassie is meer bek as binnegoed, en Ou Staaldraad is ‘n vulletjie. Ons gaan draaie om hom stap.

Uiteindelik dril Cassie vir ons op die paradegrond op. Die Namibiese son kom rooi op oor die horison. Dis nog baie vroeg. Ons oefen enigiets van “oop orde mars”, na “presenteer geweer” na “makeer die pas” na “na regs salueer, saluut” na “stadige pas mars”. En Cassie is tussen ons die hele tyd. “Troep, jy is so bleddie maer jy kyk seker met twee oë deur ‘n sleutelgat” slaan Cassie ‘n hou na my kant toe. “Jy kan seker ‘n appel deur ‘n raket eet” slaan hy na ‘n man hier neffens my wie se tande so bietjie uitsteek uit sy mond uit. Was seker nooit by ‘n tandarts in sy lewe nie.

Dis nou 10h00. Dis nou warm. Staaldraad is ook nie meer so rustig nie. Ek kan sien sy gesig is rooi. Weet nie of dit van die son is en of dit van frustrasie is nie. Sy oē flits ook. Iets het die man nou ernstig omgekrap. “As julle nie wil luister nie, gaan julle voel…” skree hy uit die bloute uit. Maar met ‘n stem wat so dwarsdeur jou wil breek. Dis so ‘n skril gegil.” Daardie bergkop daar doer – sien julle hom – sy naam is Plesierkop. Daar gaat julle…” jaag hy ons op teen ‘n kop wat so kilometer ver van ons af is. Terwyl ek hardloop, wonder ek by myself: “Wat het nou gebeur? Wie het vir Staaldraad de hel in gemaak.”

Plesierkop is steil, en jy sien dadelik ‘n diep spoor soos vorige arme slagoffers hulle sweet daar laat val het. Almal is na ‘n hele ruk terug. Ons is pootuit. Die hitte en Plesierkop is besig om sy tol te vat.

Maar Staaldraad lyk nou selfs meer de bliksem in. Sy gesig is bloedrooi, en hy gil so skril dat jy hoendervleis kry. “Haal julle waterbottels uit en lê op die grond” gil hy. “Rol” gil hy nog ‘n opdrag. “Staan op”  gil hy weer. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. “Rol vinniger” gil hy. “Staan op” gil hy. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. Ons begin die een na die ander opgooi, want om op ‘n warm paradegrond met ‘n moeë lyf te rol met ‘n klomp water in jou maag maak jou baie naar. Staaldraad en Cassie staan en kyk wie het nog nie opgegooi nie. “Ons gaan aanhou hiermee totdat ieder en elk van julle gek@ts het vandag” dra Cassie by tot die slagting.

Toe die laaste man opgooi, skree Staaldraad weer: “Plesierkop verlang na  julle…” en daar gaan ons weer. Ek dink by myself – miskien gaan ek al uitval op my eerste dag in die Army, want ek kan nie meer nie. Maar ek byt vas. Op teen Plesierkop, en af.  Terug na Staaldraad en Cassie toe. Cassie staan en rook terwyl hulle vir ons wag.

“Julle gee nie om vir julle maatjie nie, sien ek” sê Staaldraad. Ek verstaan eers nie, maar sien almal kyk terug. Doer op die paradegrond lê ‘n man. Sy liggaam kan nie meer nie. Hy huil kliphard. “Gaan haal die dônner” sê Staaldraad.  Ons gaan haal hom. Hy hang soos ‘n lel tussen twee manne wat hom dra. Trane loop oor sy wange. Maar dis sulke bruin strepe want sy gesig is vol stof. “Gaan lê jy daar onder die boom soos ‘n meisietjie en verlang na jou mamma, terwyl ons weer probeer met die dril” koggel Staaldraad.

Ek gaan dit nie maak nie, dink ek. As ek nog een keer teen Plesierkop moet uithardloop, dan gaan hulle my langs daardie man neerlê.  Ek sien al hoe lê ek lepel met hom onder die boom.

Die hele dag het ons gedril, gerol en gehardloop. En gekôts. En toe sak die son. Weereens ‘n pragtige sonsondergang soos jy net kan kry in Namibië.  En Staaldraad se gesig is nie meer rooi nie. En hy praat rustig en sag. Dis asof hy ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het. Wat de hel gaan aan?

Daardie aand in ons tent vertel een van die ou manne vir ons die waarheid. “Weet julle nie hoekom is sy naam Staaldraad nie? Dis omdat hulle ‘n stuk van sy skedel weggeskiet het in Angola. Hulle het ‘n staalplaat in die plek daarvan gesit.” Dadelik maak ek die konneksie. Daardie staalplaat word warm wanneer die son op hom skyn, en dan word Staaldraad geïrriteerd.  En wanneer die son nie skyn nie, dan is hy die rustigheid van self…

“Tree aan” skree Cassie. Dis aand. “Naand troepe”, groet Staaldraad ons vriendelik. “Dankie vir ‘n heerlike dag. Ek dink ons het regtig goeie vordering gemaak vandag, met beide drilwerk en fiksheid. Onthou om met my te kom praat as julle enige probleme het. Bel jou ma vanaand, gaan eet nou lekker en ons het gesorg vir lekker warm water vir ‘n stort. Skree as julle koud kry – ek het ekstra komberse…”

Ek lê die tweede aand in my bed. Die Weermag se basies was daardie jare drie maande. Drie maande wat vir my voorlê op Osona saam met Samajoor Staaldraad en Korporaal Cassie. En die son skyn elke dag op Osona. Want dit is net anderkant Okahandja. Dit is baie min dat jy enige wolke daar ooit sal sien. Genoeg son elke dag om te skyn – op Staaldraad se staalplaat.

Boeta se les:

Yanik – hierdie lewe is hard. En weet maar verseker dat jy altyd mense in enige organisasie gaan kry wat jou lewe gaan hel maak. Soos Staaldraad en Korporaal Cassie. Maar onthou een ding – Victor Frankl skryf in sy boek “Man’s Search for Meaning” dat die mens die enigste wese op aarde is waar hy die vryheid van keuse het tussen stimulus en respons. Geen ander wese het daardie vermoë nie.  Maak nie saak wat met jou gebeur op aarde nie, jy het altyd die vryheid van keuse om te besluit wat jou respons gaan wees….! Niemand kan dit ooit van jou af wegvat nie.

En watter beter voorbeeld het ons nie van dit as by ons Skepper nie? Toe Hy aan die kruis hang met spykers deur Sy hande, toe sê Hy: “Vader, vergeef hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie…!!” Hulle stimulus, en Sy respons. Ons kan net leer.

Ek het dit nooit so goed verstaan soos ek dit nou verstaan nie. My amper my hele lewe sover gevat om hierdie les onder die knieg te kry.  Maar nou verstaan ek hom beter. En as ek toegelaat het destyds dat Staaldraad en Cassie onder my vel ingekom het, dan het ek sekerlik nie dit gemaak in die Army nie. Maar ek het.

Lief vir jou

Pappa