Die Hannes storie

Ek was baie klein – nog voorskool – toe ons in ‘n klein dorpie in die noorde van Namibia gebly het. Oshakati.  Dis ‘n klein plekkie waar die Ovambos hulle vleis ophang in veldslaghuise, natuurlik met ‘n oordosis vlieë wat op elke stuk vleis sit. Dis ‘n plek waar ek as kind kleilat gegooi en babers gevang het in die groot oop shônas. ‘n Shôna is a plat pan wat soms as dit gereën het vol water is. Daardie panne kon kilometers groot wees. Dit was ‘n ongelooflike plek om groot te word as kind.

En dan soos dit ‘n ordentlike Afrikaanse gesin beskoor, was ons hele gesinnetjie elke Sondag in die kerk. Die hele gesin. My pa, my ma, ek en my twee sussies. Die kerkie was ‘n NG kerkie, maar eintlik maar net ‘n sinkplaatgeboutjie met ‘n paar vensters en ‘n preekstoel. Geen lugverkoeling in daardie warm bedompige Namibiese klimaat nie. Ek onthou jy kon nie die dominee hoor nie soos die sinkplaat gekraak het van die son wat op hom skyn.  En die vrouens het netjies aangetrek met hoedens op die koppe, en die mans het hulle pakke aangetrek met dasse en al. Die voorste ry was vir die ouderlinge en diakens, en die ander 5 rye was vir die gemeentetjie. Klein, baie klein.  Maar ernstig. Die mense het nie gelag nie. Sondag was nie vir lag nie.

My pa was in daardie tyd ‘n diaken. So hy het in die voorste ry gesit elke Sondag. En saam met hom was daar ook ‘n diaken wat aan Tourette Sindroom gely het. Hannes. Ek het baie respek vir siektes, en ek spot nie met hierdie siekte nie, maar wat die dag gebeur het is iets om oor te vertel. Tourette sindroom soos ek hom verstaan is ‘n siekte waar die persoon as hy skrikgemaak word sal vloek of sal rondspring onbeheerds, en dan hou die onbeheerste gedrag nogal aan vir ‘n rukkie totdat die persoon homself weer onder beheer kry. Maar sodra hy weer skrik gemaak word, dan is dit alles weer van voor af!

Jy kan jouself indink dat dit nogal iets is wat die gemiddelde mens sal uitbuit wanneer hulle die geleentheid kry. My pa vertel dat hulle vir Hannes gereeld skrikgemaak het, en dan hop hy rond heen en weer vir ‘n lang ruk sonder ophou, ter vermaak van die groep. En dan sodra Hannes homself onder beheer kry, dan maak hulle hom net weer skrik. Onophoudend.

En so sit ons gesinnetjie toe een Sondag in die kerk. My pa en Hannes sit in die voorste gestoeltes, want hulle is diakens. Ek het ‘n safaripak aan, en my ma en twee sussies het mooi rokkies aan met hoedens. Die dominee was so ‘n lang maer dominee. Besadig. Nooit hard gepraat nie.

En dis warm. Bloedstollend warm soos dit net kan word in Ovamboland. Daardie sinkplaatgeboutjie kraak so elke nou en dan.  Die mense sweet. En hulle is moeg en vaak van die hitte. Maar kerk sal ons kerk.

Dominee bestyg toe naderhand die kansel. Snaaks genoeg is die kansel ongemaklik hoër as die res van die gemeente. Hy kyk af na sy kudde.  Sag praat hy. Ek onthou ek het so rondom my gekyk en meeste van die mense gesien slaap. Die preek het nog nie eers behoorlik begin nie en meeste van die mense slaap alreeds.

“Gemeente” sê die Dominee. Maar hy trek die woord uit dat dit klink soos “geme-e-e-e-e-e-e-nte”. Dit klink net baie meer dramaties as bloot gemeente. “As jy die dag do-o-o-o-o-o-dgaan, dan gaan jy by ‘n Poort uitkom. En dan gaan daar ‘n engel vir jou wag. En die engel gaan vir jou vra – Wat is jou na-a-a-a-a-a-a-a-a-a-a-m? Wat is jou n-a-a-a-a-a-a-a-am? En as jy jou naam gee, dan is daar ‘n groot Boek waarin hy gaan kyk. En as hy jou n-a-a-a-a-a-a-a-a-m vind in die Boek, dan gaan hy vir jou sê – Kom maar in, broeder! Oor min was jy aangestel, en oor baie was jy getrou.”

Maar toe vat Dominee daardie kansel vas dat sy kneukels so wit word, en sy gesig rooi. Dominee gaan nou duidelik oor na tweede rat toe.  En in ‘n hoë toon skree hy uit: “Maar O-w-e-e-e-e-e-e-e, O-w-e-e-e-e-e-e-e, O-w-e-e-e-e-e-e”. As kind kon ek  nooit verstaan hoekom hulle so verskriklik dramaties moes wees nie.  “As jy by daardie Poort kom, en die engel vra vir jou jou n-a-a-a-a-a-a-a-a-m, en hy soek jou n-a-a-a-a-a-a-a-m in die Boek, en hy kry hom nie…”  ’n Lang stilte. Die preek het nou opgebou na ‘n kritiese punt.  “Dan gaan hy vir jou sê….U-U-U-U-U-I-I-I-I-I-I-I-I-T-T-T-T-T-T-T!!!!!!

Hy skreeu dit uit volle bors oor die kudde, wys met sy vinger na die gemeente en skop die kansel vas met sy voete dat dit klink soos ‘n kanonskoot deur die sinkplaatgeboutjie. Hy het hom nou bietjie erg ingeleef in hierdie kritiese punt wat hy wil maak. Die hele kerkie skrik wakker. Onbewustelik wys Dominee sy vinger reguit na Hannes….

Hannes skrik wakker van die verskriklike knal, en hy kyk vas in die lang maer dominee wat met ‘n lang vinger reguit na hom wys en met ‘n oop mond dat jy sy kleintongetjie kan sien uit volle bors uit skree: “UIT!”

Hy spring op. Tourette vat nou oor by Hannes. Hy begin bokspring. So asof hy wil dans, maar hy kom nie lekker aan die gang nie. Hy dans rukkerig. Bokspring so daar na die kansel se kant toe. Spring vir ‘n hele tydjie op en af voor die kansel.  Die gemeente vergaap hulle aan Hannes. Dominee kyk uit die  hoogtes van die kansel af verbaas na Hannes. Hy is die fokuspunt van alle aandag. Hannes hou net aan met bokspring. Dis soos om oor ‘n kruiwa te val – dit  hou net nie op nie.

Na ‘n ruk kry Hannes beheer oor homself. Tourette staan terug vir Hannes. Hy loop vinnig uit die kerk uit. Doodse stilte.   Dominee besef hy sal moet aangaan met sy preek. Maar waar tel jy hom nou op? Iemand het so pas hier reg voor jou kansel gebokspring. Jou hele preek platgeslaan met ‘n rukkerige dans… En nou moet jy aangaan asof niks gebeur het nie?

Iemand in die agterste gestoeltes kan nie meer sy lag hou nie.  Dit hoes en dit proes behoorlik.  Dis aansteeklik. Nie lank daarna nie, toe lag daar nog iemand. Naderhand lag almal dat die trane loop. Maar die kerk is tog nie vir lag nie.  Hier is ons baie ernstig.  Dominee besef hy moet die preek maar afsluit met gebed en kollekte.

Dit was een van my lekkerste en kortste kerkdienste ooit….

Boeta se les

Yanik, oppas vir godsdiens. Dis gevaarlik. Ons dink ons doen die regte ding as ons by die reëls bly wat ons vir onsself stel wanneer dit by godsdiens kom. Maar baie keer sit ons die pot ongelooflik mis. Dis soos die erdekruik en die skat. Die erdekruik (godsdiens) is daar om die skat (jou verhouding met God) te omvat. Niks verkeerd daarmee nie. Maar ons raak so behep met die erdekruik en die vorm daarvan, dat ons vergeet van die skat. En alles gaan tog oor die skat, nie oor die erdekruik nie. As die erdekruik groter en belangriker word as die skat, dan gebeur dit dat ons sing:”Juig al wat leef, juig tot die Heer” maar dit klink soos ‘n klaaglied.  Ons sing dit omdat ons moet, nie omdat ons wil nie.

Of soos Oupa wat nie op ‘n tyd kerk toe gegaan het nie. En toe ons hom vra hoekom nie, toe sê hy:”Die dag as die kerk vir hom kan verduidelik hoekom ons geld insamel vir sendingwerk in Afrika, maar nie swartes toelaat in die kerk nie, sal hy weer kerk toe gaan.” Hy het ‘n punt beet gehad, dink ek.

Phillip Yancey skryf ‘n boek – “What is so amazing about grace?”  Hy vertel dat ‘n vrou na hom toe kom vir berading. Sy vertel hom met trane in haar oë dat sy ‘n dwelmverslaafde is. En om haar verslawing finansieël te ondersteun, huur sy haar klein dogtertjie uit aan ou mans in die vertrek langsaan.  En sy kan nie meer na haarself in die spieël kyk nie. Hy moet haar help. Want sy gaan selfmoord pleeg. Hy vra haar hoekom raak sy nie betrokke by ‘n kerk nie, want sy het ondersteuning nodig. Sy lag vir hom. “Wat dink jy gaan hulle doen as ek vir hulle hierdie storie vertel? Dink jy hulle gaan my aanvaar? ” En Yancey besef net daar – “The church has lost its grace”.  Die erdekruik het belangriker geword as die skat. Daar moet ‘n bord staan voor elke kerk met die woorde: “All sinners welcome…”

Lewis was nogal ‘n slim ou dink ek. Ek moet sy goed oor en oor lees tot ek dit begin verstaan. Maar hy sê een ding wat ek dink baie van toepassing is hier:

“I was standing today in the dark toolshed. The sun was shining outside and through the crack at the top of the door there came a sunbeam. From where I stood that beam of light, with the specks of dust floating in it, was the most striking thing in the place. Everything else was almost pitch-black. I was seeing the beam, not seeing things by it. Then I moved so that the beam fell on my eyes. Instantly the whole previous picture vanished. I saw no toolshed, and (above all) no beam. Instead I saw, framed in the irregular cranny at the top of the door, green leaves moving on the branches of a tree outside and beyond that, 90 odd million miles away, the sun. Looking along the beam, and looking at the beam are very different experiences”.

Lees Lewis Boeta – die man verstaan. Hier is nog een:

“Provided the thing is in itself right, the more one likes it and the less one has to “try to be good,” the better. A perfect man would never act from sense of duty; he’d always want the right thing more than the wrong one. Duty is only a substitute for love (of God and of other people), like a crutch, which is a substitute for a leg. Most of us need the crutch
at times; but of course it’s idiotic to use the crutch when our own legs (our own loves, tastes, habits, etc.) can do the journey on their own!

“Duty” is die kleipot, “love of God and other people” is die skat….

Dis vir my baie snaaks dat Jesus heeltyd in konflik was met die Skrifgeleerdes en die Fariseërs. Hy noem hulle witgepleisterde grafte. Hy was die skat. En hulle die erdekruik. En hulle het nie eers die skat erken nie. Want die erdekruik was vir hulle belangriker as die skat. En net om dit nog erger te maak – die erdekruik gaan toe en kruisig die Skat omdat hulle nie gehou van wat Hy sê nie…..!

Onthou altyd dat die skat baie belangriker is as die erdekruik. Hannes het dit onwillekeurig op sy manier vir ons geleer in Oshakati. Daardie dag toe die kerkdiens vroeg gestop is omdat die mense nie kon ophou lag nie.

Moet nooit vergeet nie….Dit gaan alles oor die Skat….!

Lief vir jou

Pappa

Die Merwe Storie

My maatskappy, SimpleXity (Pty) Ltd,  is vandag ‘n maatskappy om mee rekening te hou. Ons kliënte is Standard Bank; Shoprite; Bevcan; Sasol; Solstices; Johannesburg Eye Institute; Dell Foundation; SA Cities Network; South African Geomatic Institute; Twinsaver; IQ Business; MAC Consulting en nog vele meer. Ons was redelik onlangs ‘n gasspreker op ‘n konferensie in Duitsland.  “Watch this space” – SimpleXity  gaan nog groter raak as dit.

Kyk daai vingertjie – so onthou ek hom! Merwe tussen sy beeste op sy plaas in Boshoff

En daar is twee redes hoekom SimpleXity vandag is wat dit is. Die een rede is God se ongelooflike groot genade, en die ander rede is Merwe van Pletsen.

Kom ek vertel julle hoekom Merwe.  Ek werk daardie tyd vir ‘n veranderingsbestuursmaatskappy en Merwe is my kliënt. Blêddie moeilike kliënt om te hê – maar kom ons los dit maar daar. Dis hoekom ek lyk soos ek lyk. Ek is eintlik net 19 jaar oud maar ek lyk 50 as gevolg van Merwe. Ons raak goeie vriende en die Vrystater nooi my een naweek saam na sy plaas op Boshoff. Ons braai skaaptjoppies op sy plaas, kyk rugby in Boshoff se kroeg, kyk na sy beeste, eet min groente en alles en nog wat.

Merwe en Ronald Logie by Nampo.

Die aand om die vuur maak ek my hart oop. Ek vertel hom dat ek massiewe projekte inbring vir hierdie plek waar ek werk, en nie eintlik die vergoeding kry daarvoor nie. Ek trek ernstig aan die kortste ent. Lang storie kort – ek wil my eie besigheid begin.  Ek los dit net daar.

‘n Paar weke later bel hy my. “Du Toit – het jy ‘n Pty Ltd? Ek wil jou gebruik”. Gelukkig het ek al ‘n ruk terug ‘n besigheid gestig met die polities onvriendelike naam van Jannie du Toit Consulting (Pty) Ltd. “Ja Merwe – ek het alles reg.”

Ek skryf ‘n e-mail aan die maatskappy waar ek werk om my bedanking in te dien. Alle hel breek los.  Hulle skeduleer ‘n vergadering met my. Dreig my met hofsake en “restraint of trade” en waaraan jy nog kan dink.

Ek raak skrikkerig, want dit lyk my hulle weet waarvan hulle praat. Hulle dreigemente laat my huiwer. Ek kom ooreen met hulle dat hulle die kontrak direk met Merwe  kan sluit, en dat ek dan vir hulle sal subkontrakteer.  Dit beteken Merwe bly hulle kliënt, maar ek kry die geleentheid om my eie besigheid van die grond af te bring.  Nie heeltemal wat ek in gedagte gehad het nie, maar dit is darem ‘n kompromie. So kan al die partye darem op ‘n manier gelukkig wees.

Die Global Learning spannetjie

Maar nie met Van Pletsen nie. Hy bel my die aand om te hoor van die status van die kontrak.  “Ja Vrystater ” sê ek versigtig. “Ons het ‘n wen-wen-wen.” Lang stilte. “Wat is ‘n wen-wen-wen?” vra die Vrystater.  “Jy wen, want ek gaan persoonlik die werk vir jou doen. Die maatskappy waar ek werk wen, want die kontrak gaan tussen jou en hulle wees. Hulle gaan my net subkontrakteur. En ek wen, want ek kan nou my eie besigheid begin. ”

Merwe braai skaaptjoppies op sy plaas in Boshoff

“Nee – dis nie wat ek wil hê nie” sê Merwe. “Ek soek ‘n kontrak met jou, nie met die ander konsultasiefirma nie. Sê vir hulle hulle moet my kom sien.”  Nou is die vet in die vuur. Merwe en hulle. Die Vrystater is moeilik.

Die direkteur van die konsultasiebesigheid gaan sien vir Merwe. Na 3 minute loop hy uit Merwe se kantoor uit. Hangskouers. Hy is uitgeslaan in die eerste rondte. Hy het hom behoorlik vasgeloop in die Vrystater wat hom vasgevat het.  Ek  dog alles is verby. Ons kan nou maar net aangaan.

Merwe by sy plaas Uitkyk

Dan hoor ek die volgende dag dat Merwe ‘n kommunikasie laat opstel het om te versprei aan Sasol dat hy in dispuut is met hierdie spesifieke konsultasie-maatskappy, en dat alle werk wat hierdie maatskappy tans doen in Sasol onmiddelik gestop moet word totdat die dispuut opgelos is.  En hulle het baie werk daardie tyd gehad in Sasol.  Hy hou nie op boks nie, selfs al het die teenstander al uit die kruit uitgespring na die eerste rondte. Of alles, of niks.

Merwe die boer.

So het SimpleXity (Pty) Ltd tot stand gekom.

Alles wat SimpleXity vandag is, is te danke aan een man. Merwe. Hy wat nie tevrede was met ‘n kompromie nie. Wat nie bang was om die regte ding te doen nie, maak nie saak hoe moeilik of ongemaklik dit was nie.  Wat nooit bang was vir konflik nie. Wat bereid was om op te tree in my beste belang, selfs al sou hy nie self baie baat daardeur nie. Wat geglo het in my en in my droom. Wat nie skaam was om sy geloof in God te deel nie. Wat nie ‘n bang haar op sy kop het nie, alhoewel hy nie meer baie hare oor het nie. Wat een aand in Bothaville toe ek, hy en Ronald Logie saam in een klein koshuiskamertjie slaap omdat ons drie Nampo se landbouskou gaan bywoon het nie skaam was om die kamer se lig eers af te sit nadat hy sy Bybel gelees het en gebid het nie. Wat nie bang was om ‘n massiewe transformasie teweeg te bring vir die Learning funksie van Sasol nie. Wat enige uitvoerende baas gas gegee het as hulle nie na die tafel toe kom nie. Wat so gelei het dat mense hom wou volg! Een van sy gunsteling gesegdes was altyd Alvin Toffler:

“The illiterate of the 21st century will not be those who cannot read and write, but those who cannot learn, unlearn and relearn”

Baie mense het hom nie verstaan nie, want hy was 10 jaar voor sy tyd.  Die wêreld het leiers soos Van Pletsen vandag broodnodig.

Dit is Merwe! Wat ‘n mens! Wat ‘n leier!

Lekker verjaar Merwe. Ek sien uit na die volgende 60 jaar.

Janneman

 

Die Oshiterera storie

‘n Hospitaal is ‘n snaakse plek. Ek is altyd hartseer of depressief as ek myself in ‘n hospitaal bevind.  Pik ‘n traan onverwags en verlang na mense wat ek nie eers ken nie. Ek verstaan dit nie lekker nie, maar iets loop nie lekker met my as ek in ‘n hospitaal is nie.

Ou Priester, ‘n vriend uit my jong dae uit,  het altyd vertel dat hy eendag so gelê het voor die televisie op ‘n Vrydagaand toe hy skielik sien en voel hoe sy maag opswel. Hy sê dis naderhand asof hy ‘n boep het. Sommer binne ‘n uur of twee.  Besluit net daar hy moet maar eerder hospitaal toe, want iets is ernstig verkeerd.  Die twee nursies laat weet hom hy gaan moet gaan vir ‘n “enema”, want sy derm het gedraai en dit kan bars.  Hy weet nie so mooi wat ‘n “enema” is nie, maar hy weet wel dat die twee nursies baie mooi is. Hulle sê vir hom hy gaan in Saal 5 moet lê want dit is die naaste aan ‘n toilet. Maar hulle gaan eers ‘n ou oom daar moet uithaal, en hom in Saal 1 wat ver is van die toilet af sit, sodat Priester naby die toilet kan wees. Die ou manlike ego skop toe in by Priester. Meestal oor sy oningelightheid rondom wat hierdie enema-ding is. “Los die oom net daar. Ek sal in Saal 1 lê” sê hy ewe selfvoldaan. Daardie manlike ego maak mos dat jy enigiets sal doen wat nodig is om die nursies te beïndruk.

En toe gaan hy vir sy enema…

Hy vertel dat hy nog so lê in sy bed in Saal 1 wat ver van die toilet af is, toe besef hy dat sy skielike “behoefte” en die afstand na die toilet nie belyn is met mekaar nie. Hy gaan dit nie maak nie. Hy gaan hierdie mooi blink hospitaalvloer behoorlik bevuil vandag. Voor daardie twee nursies. Hy gryp sy “drip”, en hy storm uit sy bed uit. Net een van die drie wieletjies van die drip raak grond. Die ander twee hang so in die lug en raak net sou nou en dan grond, dan maak dit so “sjjjjrrrrrr- sjjjjjrrr” soos hy verby die twee nursies hardloop.  Hy vertel hy sien so in die hoek van sy oog hoe lê altwee van die nursies op hulle arms toe hy verby hulle hardloop. Hulle lag hulle longe uit, maar wil nie dat hy sien dat hulle vir hom lag nie. Sy verdiende loon. Ego is ‘n lelike ding. Hy vertel hy maak daardie toilet net betyds. Sit amper daar vir 30 minute. Die hele rol toiletpapier is net-net genoeg. En dan moet hy sy “drip” kry, sy hospitaalpakkie weer aantrek waar sy holle uitsteek agter, en weer by die twee nursies verbystap. Hulle maak asof niks gebeur het nie. Antwoord kamma die telefoon. Maak geen oogkontak nie. Sodra hy in sy bed inklim, dan kom rondte twee. Alles weer presies dieselfde. Storm uit die bed – nursies op hulle arms – 30 minute – min toiletpapier – weer verbystap  – nursies antwoord die telefoon. Hy vertel hy sal volgende keer self enige ou mens uit enige saal uitboender as hy weet dat hy weer moet gaan vir ‘n enema.

Of soos Andre Theron van Secunda my jare verlede vertel. Hy kry ‘n oproep dat sy vrou in Bloemfontein in kraam is. Maar hy is ver van Bloem af. Hy jaag met ‘n stink spoed Bloemfontein toe. Kom daar aan en hardloop na ontvangs toe. “Waar is mevrou Theron” gil hy vir die meisietjie. “Saal 7 boonste vloer – maar sy is reeds in kraam. Jy gaan moet hardloop. Gaan op met die vloer, draai links, en die derde vertrek aan jou regterkant is teaterklere. Trek dit aan en gaan dan na teater 3 op dieselfde vloer. Maar maak vinnig, ek dink jy is klaar te laat” sê die meisietjie. Hy vertel hy trek daar weg met ‘n spoed en volg so rofweg die rigtingaanduidings. En hy maak ‘n deur oop. En daar binne is moppe en besems en seep en pienk rokke met wit kolletjies en ronde pienk musse en Handy Andy en Windolene. Jy ruik net seep. En hy dink so vinnig by homself dat dinge darem baie verander het in hospitale. Min wetend dat hy die skoonmakers se kamer oopgemaak het. Hy vertel dat almal in die teater, selfs sy vrou, vir hom gelag het toe hy uiteindelik daar inwals met sy pienk uniform met wit kolletjies en mus op die kop.

My eie storie is ook maar erg. Ek kom van die Grens af einde   1988 en ek stap saam met ‘n klomp van my grenspelle in ‘n biertent in Windhoek in. En ons kuier verskriklik. Want ons dink die wêreld skuld ons. Swaar op die brandstof. Die een bier na die ander.  En skielik staan daar ‘n man hier agter my wat nie hou van my gesig nie. Hy wil my foeter omdat iemand anders bier oor hom uitgegooi het. En hy vat my so agter my kop en slaan my kop in die houttafel in. Ek was uit vir so 15 minute. Kop op die tafel, voete op die grond. En toe ek wakker word, toe is alles net bloed. En my neus sit reg onder my linkeroog. Morsaf. Ja – dit was rowwe jare daardie.

‘n Paar weke later toe lê ek in die hospitaal in Windhoek. Hulle gaan my neus nou weer breek om dit darem net so bietjie reguit te maak.  Langs my lê ‘n omie van Okakarara. Dis ‘n klein dorpie in Namibië so 50 km suidoos van die Waterberg Nasionale Park.

So lyk hy!

Ons het altyd die plek Oshiterera genoem. Maar die omie kom nooit in ‘n hospitaal nie. Jy kan dit sien. Hy is so “out of place” soos wat kan kom. Jy sien net sy twee ogies wat onder die komberse uitloer. Hy hou elke beweginkie haarfyn dop. Hy vertrou niemand nie. En hy is bang – doodbang vir hierdie hospitaal.

En so ‘n groot nurse met ‘n bolla en sulke dik bo-arms kom daar na my toe. “Trek jou klere uit, en ook jou onderbroek. Trek hierdie jurk aan en sit die mus op jou kop. Klim terug in die bed. Jy is volgende…” blaf sy nors instruksies vir my.

Ek staan toe maar ewe gedwee op en trek die jurk aan.  Sit die mus op my kop. Lyk heel lagwekkend in die spieël.  Maar dis toe ek agterkom dat die jurk my holle laat uitsteek, dat ek toe net daar besluit ek gaan my onderbroek aanhou. En ek wonder by myself:” As hulle aan my neus gaan werk, hoekom moet ek my onderbroek uittrek?” Ek is dadelik agterdogtig. Klim met onderbroek en al terug in die bed. Mus op die kop.

Na ‘n rukkie kom die Nors Nurse weer daar aan. En so waar as wragtig, sy voel onder die komberse of ek my onderbroek uitgetrek het. “Ek het dan duidelik vir jou gesê dat jy jou onderbroek moet uittrek” baklei sy met my. Ek is te bang om my agterdogtigheid met haar te deel, want sy is groot en sterk. Met daardie bo-arms sal sy my ‘n klap gee wat skrik vir niks. En hulle gaan my nou uitsit – en wat gaan sy nie dan met my doen nie? Ek besluit om maar eerder gedwee my onderbroek te laat gaan.

Ek hardloop vinnig terug bed toe, want my holle steek uit. Lê daar en wag vir hulle om my te kom haal. Na ‘n rukkie bring die nurse vir my ‘n pilletjie. Sy sê dit is ‘n “kannie-worry” pil. Ek drink hom. En voel hoe my liggaam hom dadelik oorgee aan die “kannie-worry”. Dis ‘n heerlike gevoel. Die wêreld kan maar vergaan. Ek gee nie meer ‘n blou duit om nie. Almal se moere behalwe myne ….

Met nuwe moed vra ek die oom van Oshiterera hier langs my of hy kan verstaan hoekom ek my onderbroek moet uittrek as hulle aan my neus gaan opereer?

Hy is dadelik reg met ‘n antwoord, want hy hou alles dop: “Ja boetie – dit is sodat daardie nurse aan iets kan vashou as jy sou besluit om op te staan daar in die teater as hulle besig is met jou…”

Hy maak nie ‘n grap nie. Doodernstig. Dit is hoekom jy jou onderbroek uittrek as jy hospitaal toe gaan. Moet dit nooit vergeet nie.

Boeta se les

Yanik – as jy ooit moet hospitaal toe gaan en ek is nie meer met jou nie, onthou net asseblief ‘n paar dinge.

Eerstens, moet nooit ooit stry of baklei met die nurse nie. As sy vir jou opdrag gee om jou onderbroek uit te trek, laat val daai broekie. Dadelik.  Jy is in haar hande, nie andersom nie. Vra maar vir jou pa.

Tweedens, pasop vir die manlike ego in ‘n hospitaal. Skop die ou tannie of oom self uit haar bed uit as die nurse dink sy moet ruil met jou. As hulle jou vra of jy seer het, sê dadelik ja. Selfs al voel jy geen pyn nie. “Vulnerability is the name of the game.” Met ego in ‘n hospitaal gaan jy net jou gat sien. Onthou dit. Vra maar vir Priester.

En dan, baie belangrik.  Moenie skaam wees om verkeerde klere aan te trek of foute te maak nie. Glo my, dis nie meer vir hulle so snaaks nie. Jy is die pasiënt, en hulle is die dokter. Jy is swak en hulle is sterk. Speel hom so. Hulle sien baie erger dinge as dit wanneer jy oopketel onder narkose met ‘n oop bek lê en roggel terwyl die kwyl drip op die vloer.  Vra maar vir oom Andre.

Miskien is die groot ding van ‘n hospitaal dat dit ons eintlik maar net terugbring na wie ons eintlik is. Nietig en broos.  Ons kan niks doen op hierdie aarde sonder Sy groot genade nie – selfs ons eie asemhaling is net uit Sy genade, elke hartklop net bloot genade. Geen wonder daar staan geskrywe dat die geseënd is wat weet hoe afhanklik hulle van God is.

Moet dit nooit vergeet nie. Ons is ongelooflik nietig. Broos, selfs al dink jy op jou jonge ouderdom jy kan alles doen.

Vra maar vir Priester, en Andre, en jou eie pa. Ons weet. Die hospitaal het ons dit geleer. Dis met ‘n drip op drie wielietjies, ‘n pienk uniform met wit kolletjies en ‘n omie van Oshiterera waar ons die lessie baie mooi geleer het.

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

Die Martti Ahtisaari storie

In April 1989 is ‘n man met die naam Martti Ahtisaari Namibië toe gestuur om UNTAG (United Nations Transition Assistance Group) te kom lei in Namibië.  Die man was ‘n yster. Hy was onder andere die 10de president van Finland (1994 – 2000) en ook ‘n Nobel Peace Price winner.  Groot prestasies.

Martti

My pa werk daardie tyd (1989) by die SWAUK (Suidwes Uitsaai Korporasie). Hy kry die opdrag om vir hierdie belangrike man ‘n Namibiese ervaring te gee sodra hy land in Windhoek en net voor al hierdie groot veranderinge (Resolusie 435 en wat nog) behoorlik gaan afskop. En in die SWAUK se beskeie oordeel is daar niks beter om ‘n belangrike gas te ontvang as om 5 Landrovers behoorlik “op te kit” en dan sommer vir Martti op te laai soos hy land by JG Strijdom (die lughawe se naam destyds) net buite Windhoek. Dan ry hulle sommer van die lughawe af dadelik wes Namib woestyn toe. Jy het nie Namibië ooit ervaar as jy nie die Namib woestyn ervaar het nie. En ten minste een nag onder die sterre in die woestyn geslaap het nie.

En so kom Martti toe die dag daar aan in Namibië. My pa vertel dat die man net die beste VIP behandeling kry. Hy klim saam met my pa in die voorste Landrover en daar ry die konvooi wes, Namib woestyn toe. Hulle het die beste kamptoerusting, die beste koffie, baie duur wyn en whisky; net die beste “stretchers” en waaraan jy nog kan dink. Alles netjies ingepak in die vyf Landrovers. Martti mag nooit een oomblik ongelukkig raak nie. Hy is baie belangrik. Hy is die VIP. Hulle gaan hierdie man behoorlik op hulle hande dra. Hy sal vir altyd verlang na hierdie paar dae in die woestyn.

My pa vertel dat die Martii-ou toe eintlik ‘n baie aangename ou is. Soos hulle ry, praat hy oor alles en nog wat. Dis mooi wêreld daar waar die lughawe is – Khomas Hochland.  En as dit so bietjie gereën het, dan is dit grasgroen. Daar is darem niks lekkerder as die reuk van nat stof nie. Die konvooitjie ry deur die Khomas Hochland. Grondpad.  Hulle ry agtermekaar,  wes, Namib woestyn toe.

So lyk die Khomas Hochland

Maar soos hulle ry, word die veld al hoe yler. Dit is normaal, want jy ry wes. Jy ry woestyn toe. Soos wat jy woestyn toe rry, so is dit heel normaal dat die bome en bosse al hoe m inder word. My pa vertel dat Martti ook al hoe stiller raak soos die bome en bossies minder word.  Naderhand is dit net die uitsondering op die reël as Martii praat. Hy trek al hoe dieper in sy dop in. My pa is bekommerd. Hulle VIP is nie meer so lekker nie. En hy lyk ook nie meer so lekker nie.

Die wereld word platter. Spitzkoppe in die agtergrond

Uiteindelik kom hulle by hulle bestemming aan. Die son trek nou al water. Hulle is nou behoorlik in die Namib woestyn in. So ver as wat jy kan kyk, sien jy net vlakte. En watter beter Namibiese ervaring kan hulle nie vir Martti gee as dit nie. Hulle slaan die kamp op. Die idee is dat jy vanaand op jou “stretcher” gaan slaap onder die woestynhemel. Nie binne in ‘n tent nie. En as jy op jou een sy draai dan kan jy 800 kilometer ver kyk oor die horison. En as jy omdraai, dan kyk jy net eenvoudig 800 kilometer in die teenoorgestelde rigting in. En dan hopelik roer iets binne jou. Iets van jou eie nietigheid. Dat jy eintlik maar net ‘n ou klein miertjie is in hierdie grote heelal.  En my pa hoop met harte dat daardie “penny” sal “drop” by ou Martti vanaand…

Die Namib woestyn. Net ‘n duin sal sorg dat jy soms nie ver kan kyk op die horison nie

Hulle steek die vuur aan. Kameeldoringhout. Tafel Lager word oopgemaak. Hulle het nou ver gery. Tyd vir ‘n koue een.  Die son sak rooi in die weste.  Dis ‘n ongelooflike mooi sonsondergang. En nou gaan hulle lekker vleis braai – alles vyf ster natuurlik – want hulle VIP moet ‘n Namibiese ervaring kry.

Hulle VIP…?  Waar is hy? Hulle kom agter vandat hulle hier aangekom het, sit Martti nog steeds binne die Landrover… Hy het nog nooit uitgeklim nie. Daar is iets groot fout. My pa stap vinnig oor na die Landrover. Martti sit binne.   Hy klop liggies aan die venster. Martti draai die venster oop, maar nie heeltemal nie. “Sir, is everything OK?” vra my pa. “Are we going to sleep here tonight” vra Martti met ‘n bewerige stem. “Yes, Sir. Look, we have got a fire going. You are going to sleep under the stars here tonight. In the Namib desert. And you will hear what silence really means tonight when we sleep.  Can I get you something to drink?”

Martti beweeg nie. “Can we go, please? I will not be able to sleep here tonight. It is…. It is too remote.” My pa sien ‘n traan in Martti se oog. Die VIP is bang. Hy is bang tot die dood toe. Hy kan dit aan sy stem hoor.

Dit is sewe uur in die aand. Die son is so pas onder. Hulle is so ongeveer 300 kilometer van Windhoek af. Hulle gaan nou alles weer moet opslaan, oppak en terugry Windhoek toe.  Maar Martti is die VIP. Alles gaan oor hom. En die man is nie gelukkig nie. En hulle “job” is om hom gelukkig te hou. En dit lyk nie asof hulle dit regkry nie.

My pa breek die nuus aan die ander manne. Hulle mompel. Hulle het so uitgesien na ‘n lekker kuier hier in die woestyn. Nou stop hierdie blêddie Fin al hulle plesier.  Hulle pak op, maak die vuur dood. Traag ry die konvooitjie die lang pad terug Windhoek toe. Alle grappies op ‘n stokkie. Die “trippie” is verby.

Dis tjoepstil in die Landrover. Martti praat nie ‘n woord nie. My pa besluit om nie die gesprek aan die gang te probeer sit nie. Los die man eerder uit. Hy het ‘n paar prosesse om deur te werk in sy eie kop.

Laat daardie aand toe boek my pa vir Martti in die Kalahari Sands hotel in Windhoek in.  Martti is weer mens. Hy gaan die hele naweek in die Kalahari Sands spandeer. En dis waar hy eerder wil wees. Nie in die woestyn op ‘n “stretcher” onder die sterre nie.

Windhoek in die nag – my grootworddorp.

My pa vertel hy besef dat Martti grootgeword het in Europa. Daar waar daar die hele tyd liggies en geraas is. En dat die Namib woestyn totaal die teenoorgestelde is waaraan die arme man gewoond is. Die skok van die verlatenheid en niksheid was seker net te groot vir Martti.

Boeta se les:

Yanik, daar is ongelooflike “magic” in die woestyn. Jy moet sorg dat jy gereeld in ‘n woestyn uitkom in jou lewe. Dan gaan sit jy daar op ‘n stoel, en jy staar in die verte in. Dan  sal jy agterkom na ‘n rukkie (soms vat dit langer) begin ou “files” waarvan jy al lankal vergeet het, vanself van jou derms af na jou kop toe kom. Heel natuurlik. En daardie “files” skree dan: “Process me – process me, please!” Dan sit jy op jou stoel en jy werk deur daardie “file”. Sorg dat niemand jou pla nie. Jy moet alleen wees. Dit lei soms daartoe dat jy kliphard sit en praat met jouself, maar moenie toelaat dat daardie “file” weer van jou kop afgedruk word na jou derms toe nie. Want ons doen dit te veel.

Ons het nie meer tyd in hierdie gejaagde lewe om deur al ons “files” te werk nie. En dan kan ons nie verstaan hoekom ons moeg en uitgeput is nie. Werk asb deur jou “files”. Die woestyn is soos Traxa salf wat Mamma altyd op jou seerplekke sit. Hy trek daardie “file” van jou derms af na jou kop toe. Heeltemal op sy eie sonder dat jy enige moeite hoef te doen.  Sodat jy deur hom kan werk.

Kyk na Martti. Hulle sê hy het so gereageer want hy is nie gewoond aan die woestyn nie. Ek is nie so seker nie. Ek dink hy het besef hierdie plek gaan hom tot stilstand forseer sodat hy ook deur sy eie “files” moet werk. Dis wat ‘n woestyn doen. Jy kan nie weghardloop nie. My goeie vriend Essie sê altyd dat daar nie paaie in ‘n woestyn is nie. In ‘n groot stad met baie liggies is dit maklik om weg te hardloop. Nie in die Namib nie.

En kyk na Jesus.  Daar is ‘n duidelike patroon in Sy lewe. Hy het gereeld weggegaan na ‘n stil plek toe. Hy is versoek in die woestyn. Dis daar waar jou “files” vir jou lê en wag! Ek is seker Hy het ook daar iewers gesit en deur al Sy “files” gewerk.

Scott Peck skryf ‘n boek jare gelede – “The Road Less Travelled”. En hy begin die boek met die sin: “Life is difficult”. En dat die lewe moeilik is omdat die lewe probleme het. So eenvoudig soos dit.  En dat probleme nie weggaan as ons dit ignoreer nie. Ons dink so, maar dit is nie so nie. Hy gaan lê net in jou derms as jy hom ignoreer. Dit gaan slegs weg as ons dit in die gesig staar en daardeur werk. Dit is “the road less traveled” – om probleme te laat weggaan deur hulle in die gesig te staar en deur hulle te werk, en nie toe te laat dat hulle onverwerk in jou derms gaan lê met die vals hoop dat dit sommer vanself daar opgelos gaan word nie. Dit gaan nie.  En as jy besef dat die lewe veronderstel is om moeilik te wees want die lewe het probleme, dan is dit skielik asof die lewe makliker is.

Werk deur jou “files”, Boeta! En gaan gereeld woestyn toe sodat hulle van jou derms af na jou kop toe kan kom!

Gereeld!

Lief vir jou

Pappa

 

 

Die Staaldraad storie

In die jaar 1987 toe gaan ek Weermag toe. Net na matriek. Ek het in 1986 Matriek geskryf by Hoërskool Academia in Windhoek, Namibië.  Mnr Du Plooy het eendag tydens ons Jeugweerbaarheidsklas in sy “browns” vir ons kom verduidelik hoe belangrik dit vir ons is om Weermag toe te gaan. Ons moet gaan veg teen die kommunisme en SWAPO. Hy was verskriklik begeesterd en het sy “dog tags” onder sy hemp uitgeruk om vir ons te wys hoe belangrik die Army is. Maar ek onthou so goed dat sy “dog tags” aan sy bril vasgehaak het toe hy dit probeer uithaal. En daar staan hy voor in die klas, al sukkelende om die “dog tags” los te kry. Ons het hom skaapagtig aangegaap, maar ook deeglik bewus van die verantwoordelikheid wat op ons as jong manne se skouers gelê is om ons land te beskerm sodat die vrouens en kinders lekker kan slaap in die aand. En ons het daardie klas afgesluit met ons lied: ℘In Suidwes wil ons graag bly, dis die wêreld net vir my, sorgeloos en kommervry. Met ons sweet het ons betaal, vir ons land en volk en taal, ons land, Suidwes, verre land. Wiederschau…℘ ”

Daardie middag onthou ek het ek “Green Berets” herhaaldelik geluister en my besluit geneem – ek gaan volgende jaar Army toe!

Ons moes eers gaan basiese opleiding doen in Osona basis, naby Okahandja. Ek onthou nog die dag toe ek inklaar in Windhoek en vir almal totsiens sê! Dit was ongelooflik “daunting” – ek het geen benul gehad wat voor my gelê het nie.

Die dag van inklaring saam met Anthoni van der Smit. Kyk net hoe maer is ek. My pa het gesê ek moet in die stort rondspring om nat te word…En met my hare wat so lank was het hy ook soms gesê ek lyk vir hom soos ‘n tolbos met ‘n dun stingel…! Alles darem met liefde!

Ons is op die Samil 50’s daar weg Osonabasis toe.  Eerste ding wat met ons gebeur het is al ons hare is afgesny met ‘n nommer 1 – poenskop pappie. Ons is toegedeel in ons  bateljonne. Ek onthou ek was in Charlie kompanie Peleton 5. Ons is ge-“kit” met staaldak, webbing en geweer, waterbottel, boshoed, trommel, pikstel; varkpan, slaapsak, staaldak en nog ‘n helse klomp goed wat ons kamma as troep sou nodig het. Elkeen kry ‘n magsnommer. As jy hom vergeet, is jy in jare se moeilikheid. Ek onthou myne tot vandag toe – 84802040 SCE. En dan moes ons alles in die trommel gooi, dit in die hoogvoor kry en hardloop na die volgende bestemming.

Ons is toegedeel in ons tente, en toe alles verby is, het ons so vinnig ‘n kans gekry om asem te skep op jou bed in jou tent.  “Wie is julle Samajoor?” vra ‘n troep wat sy kop daar by ons tent insteek. “Samajoor Staaldraad” mompel een van my nuwe tentmaats. “Eina – arme julle. As ek julle is sorg ek dat ek wegkom. Dis nag vir julle” – lag die troep en weg is hy. Ek het nog nie vir Staaldraad ontmoet nie. Maar dit klink nie goed nie. Lyk my ons het die verkeerde looitjie getrek. Maar ‘n ou is ook so oorweldig met alles wat gebeur dat jy nie eintlik te veel aandag skenk aan die feit dat jy toegedeel is aan “Staaldraad” nie.  Ons “bandwydte” kan nie nog ‘n verdere verrassing akkommodeer nie.

Dit word skemer. Skielik hoor ek ‘n skril fluitjie wat blaas. “Tree aan” word daar gebulder deur Korporaal Cassie. Hy was die jaar voor ons in in dieselfde skool in matriek, en nou is hy ‘n korporaal. En hy het ‘n houding aan hom soos jy nie kan glo  nie. Want ons is nou rou troepe, en nou is hy in “charge”. En alles wat ooit verkeerd geloop het in sy skoolloopbaan en al sy patologie en “issues” gaan hy nou op ons uithaal.

Ons tree aan, maar dis maar ‘n gesukkel want ons verstaan nie mooi van “Peleton, peleton aandag” nie, en nog minder van “regs rig”, en dan nog minder van “oop orde mars”. Korporaal Cassie is sommer dadelik siedend.  Ek kan sien hier gaan dit net moeilik word, maar jy kan nie weghardloop nie. Dit sal nie help nie.

“Troepe, ek wil julle graag voorstel aan julle Samajoor”  sê Cassie.  “Hierdie is Samajoor Van Niekerk”. Cassie tree terug en Samajoor van Niekerk stap na vore.  Dis ‘n snaakse mannetjie. Hy is maer – net soos ek. Maar hy loop asof hy ‘n besem ingesluk het. Skerp gesiggie, met ‘n snor wat mooi krul soos dit enige Samajoor  wat sy sout werd is, betaam. Sy “bootse” is so blink jy kan jou hare daarin kam. Hy het so ‘n klein brilletjie waardeur hy na ons gluur. Staaldraad – dink ek. Hoekom Staaldraad?

“Naand troepe” sê hy saggies en met ‘n glimlag. Hy is vriendelik die Samajoor, dink ek. “Welkom op Osona. Ek is julle Samajoor en ek gaan mooi na julle kyk. Maak seker dat julle julle ouers bel vanaand om hulle te laat weet dat julle OK is, en gaan stort en klim vroeg in die bed. Môre is ‘n lang dag”. Dan maak hy ‘n omkeer soos net ‘n Samajoor kan, en loop daar weg.

Ons is nou weer in die hande van Korporaal Cassie. Hy is nie so vriendelik nie. ” As ek een van julle bliksems vang wat nie onmiddelik aantree in jou “overalls” wanneer ek die fluitjie more-oggend 04h30 blaas nie, dan gaan jy “k@k”.  Peleton, peleton uittree…”

Ek lê die aand in my bed. Dink by myself, wat ‘n dag. Ons het ingeklaar, ek is nou in die army… Nou gaan ek ‘n soldaat word, en ek gaan veg vir volk en vaderland. Swapo se gat. En Staaldraad is nie so erg nie. Hy praat dan so saggies en so mooi met ons soos ‘n pa met sy seun. Ek sal hierdie ding kan doen…dink ek. En toe slaap ek want ek was doodmoeg.

“PRRRRRRRRRTTTTT….” knal die fluitjie 04h30 die volgende oggend. Ek is klaar aangetrek in my “overalls” en “boots”, boshoed op die kop, web-belt aan. Wag al van 03h00 af vir daai fluitjie om te blaas. Korporaal Cassie loop breëbors rond. Dis lekker vir hom om ons so te sien rondhardloop soos hoenders met afkoppe. “Tree aan…. tree aan….” skree hy, harder as gewoonlik want Samajoor Staaldraad staan daar. Hy moet darem wys hy kan die ding doen.

Ons tree aan. Langste man heel regs en dan kom die res. Dis koel, maar nie so dat ons koud kry nie. Gisteraand het dit bietjie gereën en jy ruik die nat stof. “Môre troepe” sê Staaldraad. “Hoop julle het lekker geslaap? Is almal OK?” Tjoepstil. ” Goed, ons gaan so bietjie uitdril paradegrond toe. Ek het nodig om julle ‘n paar dinge van dril te leer. Kan sien dat daar baie skaafwerk nodig is. Ek sal sorg dat julle die beste drilpeleton in Osona is hierdie jaar. Doen net wat ek sê dan sal alles OK wees.”

“Rig op die regterflank – Voorwaarts mars.” Daar gaan ons. Korporaal Cassie is soos ‘n Jack Russel tussen ons, maar veral wanneer hy Staaldraad se aandag het. “ha liek ja hiek ja hiek ja je; ha liek ja hiek ja liek ja he” dril Cassie ons met geoefende styl daar weg.  “Lang man”, skree Cassie vir een van die manne wat heel voor dril. “Jy dril soos ‘n dr@l in ‘n wasbak. Hou jou arms reguit jou dom moer.  Skouerhoogte.”  Dan struikel een van die ander manne oor ‘n klip wat hy nie gesien het nie. “Ek sal vir jou so bliks@m dat jou sn@t om jou nek sal gaan en jou f@kken nek sal afruk” blaf Korporaal Cassie. Maar Samajoor Staaldraad is heel rustig. Ons gaan nie groot probleme hê nie, dink ek. Ou Cassie is meer bek as binnegoed, en Ou Staaldraad is ‘n vulletjie. Ons gaan draaie om hom stap.

Uiteindelik dril Cassie vir ons op die paradegrond op. Die Namibiese son kom rooi op oor die horison. Dis nog baie vroeg. Ons oefen enigiets van “oop orde mars”, na “presenteer geweer” na “makeer die pas” na “na regs salueer, saluut” na “stadige pas mars”. En Cassie is tussen ons die hele tyd. “Troep, jy is so bleddie maer jy kyk seker met twee oë deur ‘n sleutelgat” slaan Cassie ‘n hou na my kant toe. “Jy kan seker ‘n appel deur ‘n raket eet” slaan hy na ‘n man hier neffens my wie se tande so bietjie uitsteek uit sy mond uit. Was seker nooit by ‘n tandarts in sy lewe nie.

Dis nou 10h00. Dis nou warm. Staaldraad is ook nie meer so rustig nie. Ek kan sien sy gesig is rooi. Weet nie of dit van die son is en of dit van frustrasie is nie. Sy oē flits ook. Iets het die man nou ernstig omgekrap. “As julle nie wil luister nie, gaan julle voel…” skree hy uit die bloute uit. Maar met ‘n stem wat so dwarsdeur jou wil breek. Dis so ‘n skril gegil.” Daardie bergkop daar doer – sien julle hom – sy naam is Plesierkop. Daar gaat julle…” jaag hy ons op teen ‘n kop wat so kilometer ver van ons af is. Terwyl ek hardloop, wonder ek by myself: “Wat het nou gebeur? Wie het vir Staaldraad de hel in gemaak.”

Plesierkop is steil, en jy sien dadelik ‘n diep spoor soos vorige arme slagoffers hulle sweet daar laat val het. Almal is na ‘n hele ruk terug. Ons is pootuit. Die hitte en Plesierkop is besig om sy tol te vat.

Maar Staaldraad lyk nou selfs meer de bliksem in. Sy gesig is bloedrooi, en hy gil so skril dat jy hoendervleis kry. “Haal julle waterbottels uit en lê op die grond” gil hy. “Rol” gil hy nog ‘n opdrag. “Staan op”  gil hy weer. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. “Rol vinniger” gil hy. “Staan op” gil hy. “Drink water” gil hy. “Rol weer” gil hy. Ons begin die een na die ander opgooi, want om op ‘n warm paradegrond met ‘n moeë lyf te rol met ‘n klomp water in jou maag maak jou baie naar. Staaldraad en Cassie staan en kyk wie het nog nie opgegooi nie. “Ons gaan aanhou hiermee totdat ieder en elk van julle gek@ts het vandag” dra Cassie by tot die slagting.

Toe die laaste man opgooi, skree Staaldraad weer: “Plesierkop verlang na  julle…” en daar gaan ons weer. Ek dink by myself – miskien gaan ek al uitval op my eerste dag in die Army, want ek kan nie meer nie. Maar ek byt vas. Op teen Plesierkop, en af.  Terug na Staaldraad en Cassie toe. Cassie staan en rook terwyl hulle vir ons wag.

“Julle gee nie om vir julle maatjie nie, sien ek” sê Staaldraad. Ek verstaan eers nie, maar sien almal kyk terug. Doer op die paradegrond lê ‘n man. Sy liggaam kan nie meer nie. Hy huil kliphard. “Gaan haal die dônner” sê Staaldraad.  Ons gaan haal hom. Hy hang soos ‘n lel tussen twee manne wat hom dra. Trane loop oor sy wange. Maar dis sulke bruin strepe want sy gesig is vol stof. “Gaan lê jy daar onder die boom soos ‘n meisietjie en verlang na jou mamma, terwyl ons weer probeer met die dril” koggel Staaldraad.

Ek gaan dit nie maak nie, dink ek. As ek nog een keer teen Plesierkop moet uithardloop, dan gaan hulle my langs daardie man neerlê.  Ek sien al hoe lê ek lepel met hom onder die boom.

Die hele dag het ons gedril, gerol en gehardloop. En gekôts. En toe sak die son. Weereens ‘n pragtige sonsondergang soos jy net kan kry in Namibië.  En Staaldraad se gesig is nie meer rooi nie. En hy praat rustig en sag. Dis asof hy ‘n gedaanteverwisseling ondergaan het. Wat de hel gaan aan?

Daardie aand in ons tent vertel een van die ou manne vir ons die waarheid. “Weet julle nie hoekom is sy naam Staaldraad nie? Dis omdat hulle ‘n stuk van sy skedel weggeskiet het in Angola. Hulle het ‘n staalplaat in die plek daarvan gesit.” Dadelik maak ek die konneksie. Daardie staalplaat word warm wanneer die son op hom skyn, en dan word Staaldraad geïrriteerd.  En wanneer die son nie skyn nie, dan is hy die rustigheid van self…

“Tree aan” skree Cassie. Dis aand. “Naand troepe”, groet Staaldraad ons vriendelik. “Dankie vir ‘n heerlike dag. Ek dink ons het regtig goeie vordering gemaak vandag, met beide drilwerk en fiksheid. Onthou om met my te kom praat as julle enige probleme het. Bel jou ma vanaand, gaan eet nou lekker en ons het gesorg vir lekker warm water vir ‘n stort. Skree as julle koud kry – ek het ekstra komberse…”

Ek lê die tweede aand in my bed. Die Weermag se basies was daardie jare drie maande. Drie maande wat vir my voorlê op Osona saam met Samajoor Staaldraad en Korporaal Cassie. En die son skyn elke dag op Osona. Want dit is net anderkant Okahandja. Dit is baie min dat jy enige wolke daar ooit sal sien. Genoeg son elke dag om te skyn – op Staaldraad se staalplaat.

Boeta se les:

Yanik – hierdie lewe is hard. En weet maar verseker dat jy altyd mense in enige organisasie gaan kry wat jou lewe gaan hel maak. Soos Staaldraad en Korporaal Cassie. Maar onthou een ding – Victor Frankl skryf in sy boek “Man’s Search for Meaning” dat die mens die enigste wese op aarde is waar hy die vryheid van keuse het tussen stimulus en respons. Geen ander wese het daardie vermoë nie.  Maak nie saak wat met jou gebeur op aarde nie, jy het altyd die vryheid van keuse om te besluit wat jou respons gaan wees….! Niemand kan dit ooit van jou af wegvat nie.

En watter beter voorbeeld het ons nie van dit as by ons Skepper nie? Toe Hy aan die kruis hang met spykers deur Sy hande, toe sê Hy: “Vader, vergeef hulle. Hulle weet nie wat hulle doen nie…!!” Hulle stimulus, en Sy respons. Ons kan net leer.

Ek het dit nooit so goed verstaan soos ek dit nou verstaan nie. My amper my hele lewe sover gevat om hierdie les onder die knieg te kry.  Maar nou verstaan ek hom beter. En as ek toegelaat het destyds dat Staaldraad en Cassie onder my vel ingekom het, dan het ek sekerlik nie dit gemaak in die Army nie. Maar ek het.

Lief vir jou

Pappa