Die Ons Tuis storie

My oupa was in sy laaste jare in Huis Ons Tuis in Gezina in Pretoria-Noord voor hy oorlede is.  Hy was in die Alzheimer saal.  Getref met Alzheimer’s. Dit is ‘n verskriklike siekte vir die wat weet. In 1996 was ek ‘n interne konsultant /sielkundige by die Militêre Psigologiese Instituut. Die twee geboue was reg langs mekaar.

Ek het gereeld vir my oupa daar gaan kuier wanneer ek geleentheid gekry het. Maar dit was nooit lekker vir my nie. Wanneer jy in daardie Alzheimer saal instap, dan twyfel jy soms aan God se genade. Daar sit letterlik ‘n klomp ou mensies die hele saal vol, maar dit is die doodse stilte is wat jou tref. Niemand praat ‘n woord nie. Elkeen sit net daar. In stilte. Alzheimer het hulle tot stilte gebring.

Stel jouself voor ‘n saal met so 50 -80 mense, en niemand praat ‘n woord met niemand nie. Dit is nogal ‘n onaardige ervaring.  Mense wat soveel jare se ondervinding en wysheid het maar dit nie meer kan deel nie want Alzheimer het hulle handbrieke opgetrek. Dit laat my altyd dink aan wat Eric Fromm, ‘n Duitse sielkundige gesê het:” We are so much together that we are all dying of loneliness”. Daardie stelling was nog nooit so waar elke keer wanneer ek in daardie saal ingestap het nie.

Ek vertel hierdie volgende storie met die meeste respek vir die mense wat in daardie saal sit.  Ek wil graag kontrakteer met die leser wat ‘n geliefde het wat ook al uit die Alzheimer-beker moet of moes drink – hierdie storie is nie om te spot met Alzheimer nie. Dit is net om dit makliker vir ons almal te maak deur so bietjie humor op die ding te sit. Anders raak dinge darem maar blêddie  morbied en swaar.

Ek en my oorlede pa het eendag vir my oupa gaan kuier. So stap ons toe in die Alzheimersaal in. Daar sit die ou mensies op ‘n knop. In stilte. Soveel mense en soveel stilte. Ons soek my oupa so tussen die mense uit. Niemand maak met ons oogkontak nie. En as hulle na jou kyk dan kyk hulle deur jou, nie vir jou nie. Elkeen net in sy eie ou wêreldjie.  Dan sien ons Oupa sit eenkant in ‘n hoekie. Ons stap na hom toe, en groet hom, Maar hy groet nie terug nie. Hy herken ons nie. Weet nie eers dat ons langs hom sit nie. Hy is ver weg, op sy eie plekkie iewers.

Ek gaan sit aan sy linkerkant, en my pa aan sy regterkant. Ons hou sy hande vas. Skuif reg op ons stoele. Maak reg vir ‘n lang sit in doodse stilte.  Want as jy sou praat sou jy eintlik rukkerig dans met die groter konteks.  Die stilte is groter as ons. Ons moet dit respekteer. Ons is nie groter as die spel  nie. Ontmoet hierdie mensies daar waar hulle is. Ons gaan in hulle spasie in, hulle is nie in ons spasie nie. Respek.

Voor my sit ‘n omie. Hy sit by ‘n tafel. Sy kop hang so skeef oor die tafel. Hy is baie ver weg. Verder as my oupa. En hy kwyl. En so met die tyd het die kwyl nou al behoorlik opgedam op die tafel.  Die kwyl hang eers so ‘n lang string aan sy mond totdat gravitasie naderhand die oorhand kry en dit op die tafel val. Snaaks hoe ‘n mens is – as jy so in stilte sit dan hou jy jouself maar besig met allerhande dinge. Ek begin ‘n speletjie in my kop om te raai presies wanneer sy kwylstring gaan val op die tafel.  Ek kry die oom jammer, maar ek moet myself darem ook op ‘n manier konstruktief besig hou in hierdie onaardse stilte. Of miskien is dit maar so ‘n bietjie OCD binne in my wat my nie wil toelaat om net stil te sit en aan niks te dink nie.

Dan skielik kyk hy op. Sy oë is helder. Hy soek iemand om mee te praat. Hy kyk vinnig rond in die saal op soek na ‘n maatjie vir ‘n praatjie, en dan sien hy vir my en my pa raak. Dadelik weet hy hy kan met ons praat! Weet nie hoe weet hy dit nie, maar hy het duidelik geweet!

“Julle sal nie glo wat gebeur met my nie” trek hy los na amper ‘n uur van kwyl op die tafel.  Ek is baie dik van die lag, want dit is bisar. Die een oomblik kwyl hy op die tafel en die volgende oomblik praat hy met ons asof niks fout is nie.

“Die dokter sê vir my ek het ‘n moerse probleem” gaan hy aan. “Die dokter het my laat weet dat my kop te groot is vir my lyf, en my nekwerwels gaan dit nie kan hou nie” vertel hy ons met oortuiging. “Hulle gaan my kop moet afsny – ek gaan vir drie maande sonder ‘n kop moet rondloop net om die nekwerwels ‘n kans te gee om te herstel”.

Ek kan my lag nie hou nie, maar uit respek vir die oom luister ons verder. “Haai oom – dit is verskriklik! Ons hoop die operasie sal ‘n sukses wees” praat ons hom moed in maar ek sukkel om my lag te kan hou. “Ja – en dan na drie maande gaan hulle my kop weer vasmaak aan my lyf. Teen daardie tyd is my nekwerwels dan weer reg” – vertel die oom.

Toe hoor ek vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd my Oupa wat praat: ” Ja – daar wag vir jou ‘n harde tyd my ou maat”. Hy het nooit ooit iets gesê as ons daar by hom was nie. Maar daardie dag het hy sy woorde ingekry.

Toe kon ek nie meer my lag inhou nie. Ek is jammer ou mensies dat ek daardie dag so gelag het in julle teenwoordigheid. Maar regtig – dit het opgebou en ek kon dit later net nie meer inhou nie. My oupa wat so ver weg was en skielik vir ‘n paar sekondes weer met ons was voordat hy weer verder op sy ver alleenreis gegaan het. Weet tot vandag nie of hy die oom geglo het of nie. Net hy sou weet.

Boeta se les:

Yanik – siekte is ‘n lelike ding. Jy gaan baie daarvan sien op hierdie aarde. Want hierdie wêreld is maar stukkend. Onthou altyd dat jy siek mense met baie respek moet hanteer. Moet nooit spot met siekte nie. Maar moet ook nie vergeet om dinge ligter te maak vir jou en vir hulle deur nie die humor in die swarigheid raak te sien nie. Probeer om jou swaarkry met lekkerkry klaar te kry sou ou Langenhoven ons leer. Anders gaan die pad maar lank en swaar word.

Vra jou pa. Daardie ou mensies het hom dit geleer. In elke situasie, maak nie saak hoe swaar en seer dit is nie, is daar altyd maar so ‘n bietjie humor. Ek glo die Vader gee dit vir ons sodat ons las nie so erg hoef te wees hier op aarde nie. Hy sê dan Sy juk is sag. Miskien is dit die humor wat Hy gee wat die juk sagter maak. Dra daardie juk, maar nie sonder die lagie humor nie. Anders gaan jou knieë knak.

Lief vir jou

Pappa