My oorlede pa het by die SWAUK (Suidwes Afrikaanse Uitsaai Koöperasie) in Windhoek, Namibië gewerk toe ek kind was. Hy het altyd vertel dat daar ‘n ou saam met hom gewerk het wat gehakkel het. Verskriklik. Maar dit was ‘n besondere manier van hakkel. Hy het altyd begin met “P-P-P-P-P” voordat hy iets sou sê. Iets soos “P-P-P-P-P maar dis darem ‘n lekker oggend vanoggend”. Moes altyd eers die “P-P-P-P-P” ding doen voordat hy sy sinnetjie kon sê.
My pa vertel hulle noem hom toe naderhand ou P-P-P-P-P. Dit word sy bynaam. Wreed soos die mens nou maar is! En so het die lewe maar aangegaan by die SWAUK so saam met my pa en P-P-P-P-P.
Tot eendag wat die grootmanne besluit maar so kan dit eenvoudig nie aangaan nie. Dit is hulle verantwoordelikheid om die P-P-P-P-P uit die man uit te kry. En hulle stuur hom na ‘n taallaboratorium in Pretoria. Maar die leser moet asseblief verstaan, vir ons Namibiane daardie tyd was Pretoria baie vêr. Dis in die Republiek. En ‘n taallaboratorium klink na iets allerverskrikliks. Daar is nie sulke goeters in Namibië nie.
So die hele gemeenskap is in rep en roer. P-P-P-P-P gaan “uitgesort” word. My pa gaan laai hom af op die lughawe. “P-P-P-P-P baie dankie Hennie! Sien jou binnekort” ppppp P-P-P-P-P en daar loop hy vliegtuig toe. My pa is verstom. As hy hom weer sien, dan gaan hy ‘n man raakloop wat nie meer ppppp nie. Ongelooflik, die wêreld waarbinne ons nou leef. Al die tegnologie en dinge, en dan is daar tot ‘n taallaboratorium in Pretoria.
‘n Week gaan verby. My pa moet weer vir P-P-P-P-P gaan haal op die lughawe. Hy is baie opgewonde, want nou gaan hy die wonderwerk heel eerste kan beskou. P-P-P-P-P kom aangestap en groet hom met ‘n glimlag:” P-P-P-P-P nou maar, hallo Hennie…..” . My pa groet beleefd terug. Help hom met sy bagasie, klim in die karretjie en ry terug Windhoek toe. Dinge maak nie lekker sin nie. Hy het dan nou nog steeds die P-P-P-P-P ding aan hom. Na die taallaboratorium, die Pretoria ekskursie, die baie geld spandeer en alles.
Versigtig terwyl hulle ry, vra hy uit: “So het hulle jou nou uitgesorteer daar in Pretoria…?” P-P-P-P-P antwoord selfvoldaan:”P-P-P-P-P nou maar ek is heeltemal uitgesorteer Hennie. Ek is nou weer P-P-P-P-P nou maar heeltemal OK. Ek voel weer soos ‘n nuwe mens”. My pa frons.
Hy vertel verder:” P-P-P-P-P nou maar hulle het vir my ‘n taalbrug ingesit.” My pa kan dit nie verstaan nie. ‘n Taalbrug? P-P-P-P-P sien my pa is in die duister. “P-P-P-P-P nou maar dis eintlik heel eenvoudig Hennie. P-P-P-P-P nou maar hulle het my geprogrammeer en onder hipnose gesit.” My pa luister . P-P-P-P-P vertel verder: “P-P-P-P-P nou maar elke keer wat ek P-P-P-P-P, dan sê ek net eenvoudig – nou maar.”
P-P-P-P-P raak opgewonde:” P-P-P-P-P nou maar die nou maar kanselleer dan doodeenvoudig die P-P-P-P-P. So ek hoef nie meer vas te haak by die P-P-P-P-P nie – die nou maar-taalbrug verlos my daarvan.”
Hulle ry in stilte verder. My pa kry nie die kloutjie by die oor nie. Dit klink vir hom asof die taallaboratorium in die Republiek nou vir P-P-P-P-P heeltemal opgedonner het. Want hy is hier weg met ‘n P-P-P-P-P. En hy kom terug met dieselfde P-P-P-P-P en dan nog ‘n nou maar wat hy bygekry het…!
Natuurlik hardloop die storie baie vinnig in Windhoek. ‘n Week later verander P-P-P-P-P se bynaam na Nou Maar.
My pa vertel een oggend vroeg toe ry hy en Nou Maar Okahandja toe van Windhoek af. My pa bestuur en Nou Maar hou hom geselskap. “P-P-P-P-P nou maar dis darem lekker so vroeg in die oggend”- vertel Nou Maar. “P-P-P-P-P nou maar kyk net hoe mooi is die veld…” gaan Nou Maar aan. Die pad is so half gelig met ‘n grondwal aan die kante van die pad. As jy van die pad gaan afry, is die kans baie goed jy gaan jou karretjie rol as gevolg van die hoë walle.
Dan skielik sien my pa ‘n pragtige koedoebul wat vir hulle loer langs die pad. Dis koedoewêreld hierdie. En ‘n mooi koedoebul bly maar net eenvoudig ‘n mooi ding. My pa se volle aandag is op die koedoebul, en nie op die pad nie. En hy is reguit oppad om van die pad af te foeter soos hy hom vergaap aan die koedoebul.
Hy vertel die volgende oomblik toe hoor hy net vir Nou Maar wat benard hardop skree: ” P-P-P-P-P nou maar WOW!! P-P-P-P-P nou maar WOW!! ”
Gelukkig net betyds anders is hulle teen daardie walle af!
Maar Nou Maar kon nie net sê :” WOW” nie. Want hy het ‘n taalbrug. ‘n Baie fênsie taalbrug wat baie geld gekos het. Hy moet eers deur sy proseduretjie gaan om by die” WOW” uit te kom….Eers die P-P-P-P-P, dan die Nou Maar, en dan eers die WOW!
Boeta se les:
Yanik – daar is niks wat jy kan doen wat sal maak dat ek vir jou meer of minder lief is nie. Jy maak my baie keer baie kwaad en soms wil ek jou vermoor, maar ek is vir jou lief net soos wat jy is! En as ek so oor jou voel, probeer jouself indink hoe voel God oor jou! Jou Skepper – ek is maar net jou aardse pappa!
Pasop vir taallaboratoriums and taalbrûe en al sulke fênsie goeters! Dit mag miskien mooi klink op die oor – maar jy kan nie mense se goedkeuring daarmee koop nie! Wees net wie jy is! En as daar mense is wat nie van jou hou soos wat jy is nie, jammer vir hulle! Hulle mis uit sonder dat hulle eers weet!
Vra jou pa – hy weet! Hy het ook in daardie strik getrap van taallaboratoriums en taalbrue en allerhande deftige dinge net sodat ander ook sal dink ek is “cool”!
Die mense wat van jou hou en jou waardeer net soos jy is, is jou ware vriende! Moenie hulle afskeep nie! Spandeer jou geld, tyd en energie slim aan hulle. Die ander se moer….maar met baie liefde!
Lief vir jou
Pappa