Die Prototype storie

‘n Goeie vriend van my vertel vir my hierdie storie. Hy was op Potchefstroom Universiteit in ‘n manskoshuis.

Sy pa was ook arm soos meeste van ons sin, so hy moes maar sy koshuiskamerliggie aanhou tot laat in die aand of vroeg in die oggend om seker te maak hy slaag al sy vakke. Sy pa het dit duidelik gemaak dat hy nie geld het om vir hom te betaal vir nog ‘n jaar as hy nie sy deurkom nie. Universiteit was vir hom soos vir meeste van ons ‘n renbaan, nie ‘n loopbaan nie. Jy moet dit so vinnig as moontlik klaarkry want daar is nie geld nie.

Soos in elke koshuis is daar dan ook die manne wat gereeld uitgaan om te gaan kuier en dan kom hulle hoog in die takke terug koshuis toe hier so 2-uur of 3-uur in die oggend. Dan bulder hulle gereeld: “Almal wie se ligte nog aan is se ouers is arm…” My vriend vertel dan gaan die liggies so die een na die ander af in die koshuis.

Net om so bietjie af te wyk… Dit is interessant vir my dat daar in elke sisteem, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, is daar altyd ‘n Prototype. Wat ek bedoel daarmee is daar is altyd iemand wat reeds “arrive” het in die lewe nog voordat jy eers begin het. Vandat ek kan onthou tot vandag toe, van laerskool na hoërskool na “army” na universiteit na werk, was daar altyd iemand wat mooier, beter, sterker, ryker, slimmer, vinniger, of watookal was as ek.  Dit is Prototype.

Prototype was ook teenwoordig in my vriend se koshuis. Hy was die eerste span rugbykaptein. Sy pa het ook verskriklik baie geld gehad, want hy het met die nuutste Hilux 4×4 rondgery op die kampus. Hy het ook altyd die mooiste meisies gehad rondom hom.  Hy kon goed dans, en was natuurlik ook die voorbok by enige partytjie. Prototype het alles gehad in die lewe. En hy het dit geweet. So met ‘n nare ou houdinkie altyd rondgeloop. So asof hy OK is, en jy nie. Jy kan maar kyk, Prototype is orals in enige sisteem…selfs in joune. Gaan soek hom net.

So draf Prototype toe een Saterdag uit vir ‘n rugbywedstryd. Natuurlik 1ste span, en hy is natuurlik die kaptein. Dit is mos wat jy verwag van Prototype. Meisies staan langs die veld en vergaap hulle aan Prototype, want hy is gespierd en aantreklik, en wit tande en wat nog.

En hy druk sy kop onnodig in ‘n losskrum in, en hy breek summier sy kakebeen op ‘n onaardige manier op twee plekke.  Noodgedwonge besluit die dokter toe dat hulle sy bokaak en sy onderkaak aanmekaar gaan moet vasspalk sodat die kakebeen weer kan herstel. En om dit nog erger te maak, breek die dokter toe een van Prototype se tande uit sodat hy sy kossies nou deur ‘n strooitjie moet drink.  Prototype kan nie meer sy mond oopmaak om met jou ‘n gesprek te hê nie. Hy kan nie lag nie. Alles wat hy doen, gaan met ‘n toebek saam.

Uiteraard is Prototype se ego gekrenk. Hy kan nie meer sy “image” handhaaf nie. Hy loop druipstert rond waar hy gaan, en hy vermy mense want hulle gaan met hom wil praat. Hy weet hy gaan dan moet toebek antwoord. En dan gaan hulle lag. Dit is nie goed vir die man se ego nie. En ek sien naderhand dat daar nie meer mooi meisies rondom hom is nie. Hy ry ook nie meer so windmakerig in sy nuwe Hilux bakkie rond nie. Prototype word ‘n sluiper. Of soos ons in die koshuis genoem het, ‘n KGB lid. Jy sien hom net in die Kerk, Gang of Badkamer.

So sit my vriend een oggend drie-uur en swot. As hy pluk, dan is dit die einde van sy universiteitsloopbaan. En die werk is moer moeilik, en hy stres want sy tyd hardloop uit en hy het steeds nie ‘n lekker “grip” op hierdie vak nie. Dit is tjoepstil daarbuite. Almal slaap, behalwe hy. Net sy liggie is aan…Sy pa is arm.

Skielik hoor hy die mees onaardse geluid wat jy jouself kan voorstel. Dit klink asof iemand besig is om ‘n vark te slag.  “Hoeeeeeeeeeeeee……” dan hou dit vir so ‘n rukkie op, dan hoor hy : “Ffffffffff……….” en dan weer na ‘n rukkie knallend deur die oggendstilte: “Hoeeeeeeeeeeee………” Iets ernstig is verkeerd, en dit is reg hier buitekant sy venster. Gelukkig sit hy op die derde vloer, so dit moet iewers hieronder in die vierkant van die koshuis wees. Iemand moet besig wees om iemand te vermoor, dit is al wat dit kan wees. Dit is sulke roggelende geluide – as hy sy gordyntjies gaan oopmaak gaan hy definitief ‘n getuie word in ‘n moordsaak.

Skrikkerig en met bewende hande begin hy die gordyntjies oop te trek om te kyk wat gebeur. En dan sien hy dit….

Prototype is op sy knieë op die grond buite in die vierkant van die koshuis. Hy dink eers hy bid of iets, toe ruk Prototype se kop omhoog en ‘n straal spuit uit sy mond uit en val so 4 meter verder op die grond, en dit gaan saam met nog ‘n onaardige geroggel: “Hoeeeeeeeeeeee…..” Prototype is besig om op te gooi, maar hy kan nie sy kakebeen oopmaak nie. Want dit is vasgespalk. Sy oë is wydoop en verstar van vrees, want elke keer as die volgende sarsie kom dan staar Prototype die aaklige dood van versmoring in die gesig. En dan kom die volgende sarsie, en nog ‘n :”Hoeeeeeeeee…..” Elke keer na die “Hoeeeeeeeee…” dan hoor weer jy ‘n “Fffffffffffffff………..” geluid soos Prototype naarstigtelik inasem deur die klein openinkie waar sy tand eens was om lewensbelangrike suurstof in te asem.

Die hele koshuis is teen die tyd wakker. Die mense staan ‘n kring om Prototype. Hulle wil hom help, maar wat doen jy? Jy kan maar net staan en kyk en spuit die man strale soos ‘n tuinslang uit sy mond uit…

Naderhand nadat ons almal gedink het die man gaan dit nie maak nie – vanaand sien Prototype sy gat – toe hou dit gelukkig op. Prototype is moeg. Hy het so pas by die dood omgedraai. Hy staan op en loop druipstert weg. Almal is maar stil, want jy mag nie lag vir Prototype nie. En dan word dit weer stil in die koshuis.

Nou moet my vriend weer verder leer. Maar dis moeilik. Hoe tel jy nou jou konsentrasie weer op na so ‘n ervaring? Hy kry nie die prentjie van Prototype wat kots soos ‘n tuinslang uit sy kop uit nie. Dit is daar vasgenael vir altyd totdat hy maar later moed opgee en in sy bed gaan klim.

Die volgende dag toe kom die storie uit. Prototype het die aand toe uitgegaan saam met sy vriende. En na ‘n paar biere toe ervaar hy weer sy ou self. Hy is weer Prototype. Meisies om hom. Dit gaan te lekker. Sy toebek pla hom toe nie meer so erg nie. Hy drink sy bier deur ‘n strooitjie. Die een na die ander. Maar niemand het hom ooit vertel dat jy nooit in jou lewe bier deur ‘n strooitjie drink nie. Dit maak jou verskriklik dronk en naar…

Boeta se les

Yanik – pasop vir trots en arrogansie. Ego.  Dis ‘n lelike blêddie ding. Dit het ‘n manier om jou verskriklik hard grond toe te bring.  Wees altyd maar die nederige een. Moenie ooit dink jy is beter as ander nie. Ek glo vas daar is ‘n onsigbare rekenkunde waar jou inkomstestaat van trots en arrogansie of ego altyd op die snaakste maniere gebalanseer word met “vulnerability”.  Soos met Prototype. Sy ekstreme arrogansie het gelei dat hy al spoegend en kotsende op sy twee knieë sy Moses teëgekom het. Dis hard Boeta, baie hard.

Geen wonder ons Skepper praat van “the meek will inherit the earth” nie. Gaan lees maar. Die een wat die minste is sal die meeste wees, en die een wat die meeste is, die minste.

Vra maar vir Prototype. Ek dink hy verstaan dit bleddie goed – miskien beter as ander mense! Sy balansstaat het baie vinnig uitgebalanseer een nag  – sommer so op sy knieë…

En pasop – baie keer loop ek self vir Prototype raak wanneer ek in die spieël kyk. En dan moet ek my kop in skaamte laat sak.

Wees altyd maar op jou hoede vir Prototype.

Lief vir jou!

Pappa