Ek was in 1987 tot 1988 in die Suidwes-Afrikaanse Weermag. Ek het my eerste drie maande basies gedoen in Osona naby Okahandja, en toe is ek vir nege maande Potchefstroom toe (Artillerieskool) waar ek ‘n bombardier geword het en geleer het van kanonne. Begin 1988 was ons grens toe nadat ons ons troepe gaan haal het in Walvisbaai.
My ma was so bekommerd oor haar seuntjie toe ek haar die dag groet in Windhoek en vertel ons vlieg nou grens toe. Ek onthou hoe ek haar bel vanaf ‘n tefoonhokkie in Walvisbaai nadat sy gedink het ons het reguit grens toe gevlieg van Windhoek af. “Hallo Mamma….” skree ek terwyl Gunther von Schauroth ook in die telefoonhokkie staan en oorloggeluide maak:” Ratttatttattttattttattttaattttttaaattttaaa… Dwah……” Dan hoor ek haar skee: ” Jannie is jy OK?”
“Ja Ma – dit gaan net bietjie rof hier op die grens”
En dan trek Gunther weer los met ‘n projektielgeluid: “Pheeeeeeeeewwwwwwwwwwwww……..Dwah Dwah Dwah”. En dit klink blêddie erg want dit is nog binne ‘n telefoonhokkie. Sies tog haar senuwees was op hol oor haar ou seuntjie. Ma – jammer daaroor. Ons was maar net simpel en gevoelloos daardie tyd.
Nadat ons ons troepe gaan haal het in Walvisbaai toe vlieg ons uit Hurricane-basis toe – net noord van Ruacana-basis.
Boetie is toe op die border. En ons was daardie jaar maar baie min in Hurricane – baie van die tyd was ons in Angola.
Wanneer ons in Angola was, dan het ons op die grond geslaap. Sien een van hierdie fotos waar ek saam met Boensch was. Matrasse maak jou nie mobiel genoeg nie. En dan staan ‘n klomp manne wag terwyl die ander slaap, totdat dit jou beurt is om wag te staan. En meeste van die tyd het ons die kanonne geskiet in die nag, so jou slaap was maar ook van korte duur. Glo my – as 8 kanonskote gelyk afgaan is dit maar moeilik om weer aan die slaap te raak.
Een aand was dit baie koud. Ek onthou dat ek in my ou nylonslaapsakkie inkruip, maar dat dit naderhand so koud is dat ek my kop binne die slaapsak sit om warmer te kry. So raak ek toe naderhand aan die slaap.
Laat die nag word ek wakker. Ek hoor “grrts-grrts”. Ek besef hier is verskriklike groot moeilikheid. Die ouens wat wag staan moes aan die slaap geraak het. Hierdie geluid is niks anders as die terroris se “boots” nie – en dis hier teen my kop. Hy moet hier reg langs my staan. Want elke nou en dan dan hoor ek “grrts”. Ek is pap van die vrees.
Hoekom skiet hy my nie? Is dit omdat my kop onder die slaapsak is en hy nie mooi weet waar my kop is nie? Dit is net ‘n kwessie van tyd dan gaan daardie AK47 rondte deur my kop bars en my breins vernietig? My hande sweet en ek kan amper nie asemhaal so bang is ek nie…
Dan begin ek bid. Liewe Jesus – jammer oor daardie dag toe ek ‘n brulpadda in een van my sussies se bed gesit het terwyl sy geslaap het. Maar dit was baie snaaks toe sy wakker word. En jammer oor daardie tyd toe ek gejok het vir my pa. En daardie tyd toe ek nie geld teruggebring het van die fliek af nie maar dit vir myself gehou het. En dis asof alles wat ek ooit verkeerd gedoen het skielik in ‘n ry staan om openbaar gemaak te word. Bely my ook! En nog een – bely my ook! Dan hoor ek weer “grrts”. Damnit – skiet nou en kry klaar man! So kan dit mos nie aangaan nie. Ek wroeg nou al vir oor die 4 ure en ek huil en ek bid en ek sweet en ek bieg, maar hierdie storie wil nie einde kry nie. Een of ander tyd moet hierdie storie darem nou stop. Dit kan mos nie so aangaan nie.
Ek beweeg na ‘n volgende vlak van onderhandeling met die Skepper in my vrees. As ek lewendig hier uitkom, dan sal ek…..Dinge wat ek nooit sal wil doen nie kom skielik op die onderhandelingstafel.
En dan hoor ek weer “grrtts-grtts”. Dit is ‘n vrees wat ek vir niemand ooit kan verduidelik nie. As jy so bang is dat jy nie kan asemhaal nie, dan is jy regtig bang, ou maat! Ek ken dit!
In die aande het ons geskiet met die kanonne. In die dag het ons laag gelé onder die camo nette want ons was maar bang vir die MIGsDis 4h30 in die oggend. Dis nou op sy koudste. Ek bibber binne die slaapsak. Ek is nie seker of dit meer van die koue of van die vrees is nie, maar ek is moeg gevrees. Al my sondes is op ‘n ry gebieg. Die een na die ander. Ek kan nie meer dink aan iets wat ek verkeerd gedoen het in my lewe wat ek nie nou hier in hierdie bleddie slaapsak gebieg het nie. En ek is gatvol. Emosioneel uitgeput. Ek word kwaad. Weet die blêddie terr nie hoe om die sneller te trek nie? Is dit vir hom lekker om heelnag hier rondom my kop te “grrts-grtts…” Bleddie sadis. Get a life. Skiet nou en kry klaar man – dink ek.
Dan besluit ek – genoeg is genoeg. Ek gaan my kop uitpluk hier onder hierdie verdompte slaapsak en ek gaan hierdie man vierkantig aangluur. My R4 is te vêr van my af om hom te skiet, maar ek gaan hom ‘n kyk gee wat skrik vir niks. Iets wat hy nooit sal vergeet nie. Daai kyk moet hom hoendervleis gee elke keer as hy daaraan dink.
En as hy die sneller dan trek, dan is dit nou maar so. My sondes is alles deur die hele nag vergewe. Ek is silwerskoon. Kan nou maar na my Skepper toe gaan. “Grtts-Grtts” hoor ek weer. My moed begewe my amper weer , maar ek is so gatvol dat ek besluit ek begin by 20 en tel terug tot 1 en dan gaan ek die ewigheid al skietend in.
Twintig
Negentien
Agtien
Sewentien
Sestien
Vyftien
“Grtts – Grtts”
Veertien
Dertien
Twaalf
Elf
“Grtss-Grtts”
Tien
Nege
Agt
Sewe
Ek kan hoor hoe klop my hart…Doef doef doef in my ore
Ses
“Grtts-Grtts”
Vyf
Vier
Drie
Twee
Ek haal my laaste asem op – hier gaan ons….
Een
Ruacana
Ek pluk my kop uit die slaapsak en soek dadelik die loop van die AK47. Maar daar is niks. Almal slaap. Die wagte kan ek sien is wakker. Geen teken van enige vyand nie. Ek kan nie verstaan wat de hel gaan aan nie. Hoe is dit moontlik? Na 7 ure van absolute hel is daar niks. Net eenvoudig niks. Het ek deur hierdie pyn verniet gegaan? Waar kom die verdompde “grtts-grtts” geluid dan vandaan?
Ek steek ‘n Paul Revere op en gaan sit by die vuur. My kop is seer. My lyf is seer. Ek voel uitgeput. Nie ‘n oog toegemaak laas nag nie. Net gebieg, gehuil en gebid. Dis al. En nou is ek vodde – op soos ou hout. Ek het ‘n diepe moegheid aan my soos daar waar die Disprin oplos – diep binne my!
Dan besef ek skielik waar die “grtts-grtts” vandaan kom. Ek het lang oogwimpers, en elke keer wat ek my oë knip, dan “grtts-grtss” dit teen die nylon-slaapsakkie. En ek het my oë baie geknip deur die nag, en hoe banger ek geword het, hoe meer het ek dit geknip.
Ja – dit is wat vrees aan jou kan doen.
Boeta se les
Yanik – vrees is ‘n wetterse ding. Dis soos daardie skoolboelie. Hy maak jou bang, maar gee jy hom net een klap dan hardloop hy na sy ma toe. Hy beteken eintlik niks, maar as jy jou aan hom steur, dan maak hy jou lewe mislik.
Vra jou pa. Hy weet. Ek het vrees te veel toegelaat om my te boelie in my lewe. Vrees het my een nag vir niks daar in Angola in die koue laat rondrol. Net omdat ek my aan hom gesteur het.
Ek dink die Vader weet wat vrees aan ons nietige mense doen. Geen wonder dat Hy so gereeld vir ons vertel om nie te vrees nie. Gaan lees maar. Hy wil nie hê ons moet verniet sonder rede in ons slaapsakke rondrol nie. Hy is te lief vir ons. Daar staan dan – Volmaakte liefde dryf alle vrees uit….
Hy weet waarvan Hy praat….Vrees het hom ook probeer boelie toe Hy hier op aarde was. Maar Hy het dit nie toegelaat nie. Jy en ek moet ook so wees!
Lief vir jou
Pappa