Die Essie storie

Soms dan ontmoet jy mense op jou pad wat ‘n wesenlike verskil maak in hoe jy dink en doen. Daar is ‘n klomp van daardie mense wat so oor my pad gekom het. Maar dan kom daar soms ‘n man oor jou pad wat jou heel anders laat dink en doen. Een van daardie reuse wat ‘n massiewe impak op my ou lewetjie gemaak het, is Essie.

Essie

Ek het op die 1ste Augustus 1997 by Sasol in Secunda begin werk.  Dit was nie lank nie, toe kruis my paaie met Essie. Essie was die vergoedingsbestuurder by Synfuels tot redelik onlangs. Essie was enig in sy soort. Hy was ongelooflik plat op die aarde – ‘n “what you see is what you get”-tipe ou. Maar met ‘n besonderse liefde vir die mens en die natuur wat ek baie lanklaas teëgekom het.  Hy kon byvoorbeeld dae lank op mense se plase rondloop op soek na die Haworthia vetplantjies. Die man verstaan van die tipe vetplant. Daar is min mense in die wêreld wat meer verstaan van die Haworthia vetplant soos ou Essie. Daar is selfs vandag van hierdie vetplante wat vernoem is na hom en sy familie. Essie is so ‘n groot karakter dat hy selfs ‘n verskil gemaak in die lewe van vetplante…

Haworthia esterhuizenii – vernoem na die Esterhuizen gesinnetjie
Haworthia elizeae – vernoem na Essie se oorlede vrou Elize

Essie kon jou regtig ag as mens, en hy het altyd tyd gemaak vir mense. Maak nie saak of jy baas of klaas is nie. Hy was nooit te besig vir ‘n vinnige geselsie met enigiemand nie. Die man het baie diep spore gestap by Sasol en in die Sasoliete se harte . Hy het afgetree in 2017 en Stilbaai toe getrek. Ons almal was en is steeds net eenvoudig lief vir Essie. Dis hoe dit is met Essie – jy word net lief vir die mens wat hy is.

Ek en Essie het verskriklike goeie vriende geword oor die jare. Tot vandag toe is ons vriende, selfs al is hy ‘n hele paar jaar ouer as ek. En as ek ooit in Stilbaai ‘n draai maak, dan sorg ek dat ek by Essie uitkom. Die man is regtig ‘n “legend”.

Nico “The Thunder” du Toit aan die linkerkant. ‘n Groot Sasol gees met ongelooflike impak in my lewe. Ek gaan nog ‘n storie of twee oor The Thunder ook vertel.  En Essie aan die regterkant. Ons probeer een keer ‘n jaar saam “breakfast” eet. Ons noem die ete – Drie generasies eet tesame….

Maar so ‘n paar jaar gelede toe word Essie se vrou Elize baie siek. ‘n Baie aggressiewe kanker.  Dit was ‘n verskriklike tyd in hulle lewe.  Hy vertel dat hy nie kon dink dat iets so erg hom ooit kon tref nie. Die vrou vir wie hy lief is wat voor hom wegkwyn en hy kan niks doen om te help nie. En sy is toe ook oorlede na ‘n baie kort tydjie.

Die gesinnetjie voor Elize se dood

In 2013 toe is ek weer op ‘n projek in Secunda. In die aande is ek alleen, en dan gaan eet ek maar in ‘n restaurant. As konsultant is dit nogal sleg – jy sit alleen by ‘n ou tafeltjie. En ou Essie is in die aande ook alleen, so besluit ons toe om elke Dinsdagaand maar saam te gaan eet. Dit vat darem die alleenheid so bietjie weg. Een Dinsdagaand dan betaal ek. Die volgende Dinsdagaand dan betaal hy.  En so spandeer ons lekker tyd saam en begin hy my vertel van Elize se dood en hoe hy dit ervaar het. En ek vertel hom maar oor my lewe en my ou dingetjies. Ons sit in Secunda se restaurante tot laat in die nag elke Dinsdagaand. Die mense is naderhand bang as ons daar aankom, want hulle weet dit gaan weer ‘n lang nag wees…

Daar was baie waarhede wat ons so op ‘n Dinsdagaand met mekaar gedeel het. Essie vertel my een Dinsdagaand hy wil baie graag eendag woestyn toe gaan. Ek vra hoekom. Hy vertel dat ‘n woestyn nie paaie het nie. Ek frons – wat bedoel hy? Hy verduidelik dat wanneer jou vrou voor jy doodgaan, dan is dit soos om skielik in die woestyn te wees. Daar is nie paaie wat jou kan help om daaruit te kom nie. Jy kan nie op ‘n GPS klim om uit die woestyn te kom nie. Jy moet op jou eie daar uitkom. Mense kan vir jou raad gee en opinies lewer, maar daar is nie pad nie – jy moet maar self uit die woestyn uit. So op jou eie.

So kom ek agter my goeie vriend is regtig alleen. En eintlik is hy nie OK nie. Hy lag daaroor. Hy vertel dat hy nou besef dat hy eintlik ‘n maat nodig het. Hy glo vas hy het absoluut die potensiaal om eendag ‘n volslae kluisenaar te word, want Elize was altyd die ene wat gesprekke aan die gang kon sit met mense, terwyl hy maar aan die skaam kant is. Hy is soos ‘n stuk kameeldoringhout. Jy sukkel om hom aan die brand te kry, maar as hy eers brand, dan brand hy sonder ophou. Essie se kameeldoringhout het vuur nodig.

Toe een Dinsdagaand vertel Essie my die storie wat ek nooit in my lewe  sal vergeet nie.

Hy vertel hy kom agter sy twee dogters raak erg bekommerd oor hom, want as hy klaar gewerk het, dan gaan sit hy maar eenvoudig daar in sy huisie voor die televisie tot laatnag saam met sy honde. Dan word hy aan die slaap voor die TV. Staan dan gereeld laat in die nag weer op om bed toe te gaan .  Dag in en dag uit, week na week, maand na maand. Hy word ‘n kluisenaar. Hulle raak toe bekommerd dat hy miskien depressief is. Hulle besef dit gaan nie so kan aangaan nie, hulle gaan iets moet doen met pa. Hulle gaan vir hom ‘n maat moet kry. Essie gaan nie alleen so kan aangaan nie. Hy is nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie. Hy het ‘n maat nodig.

Essie se oudste dogter Lize

Essie vertel my een aand toe kom kuier sy jongste dogter (Salomé) vir hom. Hulle praat oor dit en dat. En oor hulle kinderjare. So vra Salomé hom of hy kan onthou toe hy vir hulle twee dogters jare gelede geleer het om motor te bestuur toe hulle nog klein dogtertjies was. Lize (die oudste) het agter die stuurwiel gesit, Salomé op die agterste sitplek. Essie links voor. En dan ry hulle. Essie natuurlik baie benoud. En Lize maar ook baie op haar senuwees want sy leer maar bestuur. Wil nie ‘n ongeluk maak nie. So sy is ook maar rukkerig in die karretjie. Jy kan die atmosfeer van spanning in die karretjie knip met ‘n skêr.

Essie se jongste dogter Salomé

Skielik kom daar ‘n draai in die pad. En dan vertel Essie probeer hy op ‘n mooi manier sonder dat hulle agterkom sy senuwees is op die boodskap oorkry aan Lize dat iets nou moet gebeur. “Lize – as daar ‘n draai in die pad is, dan gaan jy iets met die stuurwiel moet doen” – mompel Essie vir Lize.  Maar Lize tel sy stemtoon op, en wanneer hulle uiteindelik by die huis kom, dan vertel sy vir Elize dat pappa baklei met haar. Daar is maar altyd iets met stemtoon. Ek weet. Ek is nou al ‘n paar jaar getroud. Stemtoon vertel baie meer as woorde.

So lag Essie en Salomé oor die storie die aand toe hulle dit vertel.

Toe kyk Salomé vir Essie stip aan, en sy sê vir hom:

“Pappa, as daar ‘n draai in jou pad is, dan moet jy iets doen met die stuurwiel….”

Essie besef hy is vas. Salomé sit nou links voor met Essie agter die stuurwiel….

Hulle het plekke gewissel.

Stilte…

Nie lank hierna nie, toe ontmoet Essie vir Anneli, en nie lank daarna nie, toe trou hulle.

Essie het die stuurwiel gedraai toe sy pad ‘n draai maak!

Essie trou met Anneli

Elize, jy moet baie trots wees op daardie twee dogters van jou. Essie het amper in die mielielande ingedonner toe sy pad skielik ‘n draai maak met jou dood.

En deur hom te vertel van lank terug, twee dogtertjies en hy, en ‘n pad wat ‘n draai maak, het die “penny gedrop” by hom.   Niks of niemand anders sou die boodskap kon deurkry na Essie toe nie. Sy hande het te vasgeklou aan die stuurwiel om iets te hoor. Iemand moes hom op ‘n besonderse manier wegtrek van die skildery sodat hy die groter prentjie kon sien. En wie anders kon dit doen as julle twee dogters?

Dankie julle twee meisiekinders. Julle het my goeie vriend gered. Anders was hy nou in die mielielande.

Boeta se les

Yanik, as jou pad eendag ‘n draai maak, dan moet jy iets met die stuurwiel doen my kind.  Onthou hierdie les! Oom Essie het my dit geleer! Die lewe is nie ‘n reguit pad nie. Hy maak die hele tyd draaie. En soms is daardie draaie baie seer. Maar jy het ‘n keuse: Draai die stuurwiel, of donner in die mielielande in. Eenvoudig. Dit is hoe die lewe is.

Lief vir jou

Pappa