Die Nou Maar storie

My oorlede pa het by die SWAUK (Suidwes Afrikaanse Uitsaai Koöperasie) in Windhoek, Namibië gewerk toe ek kind was. Hy het altyd vertel dat daar  ‘n ou saam met hom gewerk het wat gehakkel het. Verskriklik. Maar dit was ‘n besondere manier van hakkel. Hy het altyd begin met “P-P-P-P-P” voordat hy iets sou sê. Iets soos “P-P-P-P-P maar dis darem ‘n lekker oggend vanoggend”. Moes altyd eers die “P-P-P-P-P” ding doen voordat hy sy sinnetjie kon sê.

My pa vertel hulle noem hom toe naderhand ou P-P-P-P-P. Dit word sy bynaam. Wreed soos die mens nou maar is! En so het die lewe maar aangegaan by die SWAUK so saam met my pa en P-P-P-P-P.

My dierbare pa en ma ‘n paar jaar voor my pa se afsterwe. Meeste van die stories kom van hom af. Hy was die meester storieverteller en ek het die beste leermeester ooit gehad. Hierdie Nou Maar storie was syne – ek vertel hom net oor….

Tot eendag wat die grootmanne besluit maar so kan dit eenvoudig nie aangaan nie. Dit is hulle verantwoordelikheid om die P-P-P-P-P uit die man uit te kry. En hulle stuur hom na ‘n taallaboratorium in Pretoria. Maar die leser moet asseblief verstaan, vir ons Namibiane daardie tyd was Pretoria baie vêr. Dis in die Republiek. En ‘n taallaboratorium klink na iets allerverskrikliks. Daar is nie sulke goeters in Namibië nie.

So die hele gemeenskap is in rep en roer. P-P-P-P-P gaan “uitgesort” word. My pa gaan laai hom af op die lughawe. “P-P-P-P-P baie dankie Hennie! Sien jou binnekort” ppppp P-P-P-P-P en daar loop hy vliegtuig toe. My pa is verstom. As hy hom weer sien, dan gaan hy ‘n man raakloop wat nie meer ppppp nie. Ongelooflik, die wêreld waarbinne ons nou leef. Al die tegnologie en dinge, en dan is daar tot ‘n taallaboratorium in Pretoria.

‘n Week gaan verby. My pa moet weer vir P-P-P-P-P gaan haal op die lughawe. Hy is baie opgewonde, want nou gaan hy die wonderwerk heel eerste kan beskou. P-P-P-P-P kom aangestap en groet hom met ‘n glimlag:” P-P-P-P-P nou maar, hallo Hennie…..” . My pa groet beleefd terug. Help hom met sy bagasie, klim in die karretjie en ry terug Windhoek toe. Dinge maak nie lekker sin nie. Hy het dan nou nog steeds die P-P-P-P-P ding aan hom.  Na die taallaboratorium, die Pretoria ekskursie, die baie geld spandeer en alles.

Versigtig terwyl hulle ry, vra hy uit: “So het hulle jou nou uitgesorteer daar in Pretoria…?” P-P-P-P-P antwoord selfvoldaan:”P-P-P-P-P nou maar ek is heeltemal uitgesorteer Hennie. Ek is nou weer P-P-P-P-P nou maar heeltemal OK. Ek voel weer soos ‘n nuwe mens”.  My pa frons.

Hy vertel verder:” P-P-P-P-P nou maar hulle het vir my ‘n taalbrug ingesit.” My pa kan dit nie verstaan nie. ‘n Taalbrug?  P-P-P-P-P sien my pa is in die duister. “P-P-P-P-P nou maar dis eintlik heel eenvoudig Hennie. P-P-P-P-P nou maar hulle het my geprogrammeer en onder hipnose gesit.” My pa luister . P-P-P-P-P vertel verder: “P-P-P-P-P nou maar elke keer wat ek P-P-P-P-P, dan sê ek net eenvoudig – nou maar.”

P-P-P-P-P raak opgewonde:” P-P-P-P-P nou maar die nou maar kanselleer dan doodeenvoudig die P-P-P-P-P. So ek hoef nie meer vas te haak by die P-P-P-P-P nie – die nou maar-taalbrug verlos my daarvan.”

Hulle ry in stilte verder. My pa kry nie die kloutjie by die oor nie. Dit klink vir hom asof die taallaboratorium in die Republiek nou vir P-P-P-P-P heeltemal opgedonner het. Want hy is hier weg met ‘n P-P-P-P-P. En hy kom terug met dieselfde P-P-P-P-P en dan nog ‘n nou maar wat hy bygekry het…!

Natuurlik hardloop die storie baie vinnig in Windhoek. ‘n Week later verander P-P-P-P-P se bynaam na Nou Maar.

My pa vertel een oggend vroeg toe ry hy en Nou Maar Okahandja toe van Windhoek af.  My pa bestuur en Nou Maar hou hom geselskap. “P-P-P-P-P nou maar dis darem lekker so vroeg in die oggend”- vertel Nou Maar. “P-P-P-P-P nou maar kyk net hoe mooi is die veld…” gaan Nou Maar aan.  Die pad is so half gelig met ‘n grondwal aan die kante van die pad. As jy van die pad gaan afry, is die kans baie goed jy gaan jou karretjie rol as gevolg van die hoë walle.

Dan skielik sien my pa ‘n pragtige koedoebul wat vir hulle loer langs die pad. Dis koedoewêreld hierdie. En ‘n mooi koedoebul bly maar net eenvoudig ‘n mooi ding. My pa se volle aandag is op die koedoebul, en nie op die pad nie. En hy is reguit oppad om van die pad af te foeter soos hy hom vergaap aan die koedoebul.

Hy vertel die volgende oomblik toe hoor hy net vir Nou Maar wat benard hardop skree: ” P-P-P-P-P nou maar WOW!! P-P-P-P-P nou maar WOW!! ”

Gelukkig net betyds anders is hulle teen daardie walle af!

Maar Nou Maar kon nie net sê :” WOW” nie. Want hy het ‘n taalbrug. ‘n Baie fênsie taalbrug wat baie geld gekos het. Hy moet eers deur sy proseduretjie gaan om by die” WOW” uit te kom….Eers die P-P-P-P-P,  dan die Nou Maar, en dan eers die WOW!

Boeta se les:

Yanik – daar is niks wat jy kan doen wat sal maak dat ek vir jou meer of minder lief is nie. Jy maak my baie keer baie kwaad en soms wil ek jou vermoor, maar ek is vir jou lief net soos wat jy is!  En as ek so oor jou voel, probeer jouself indink hoe voel God oor jou! Jou Skepper – ek is maar net jou aardse pappa!

Pasop vir taallaboratoriums and taalbrûe en al sulke fênsie goeters! Dit mag miskien mooi klink op die oor – maar jy kan nie mense se  goedkeuring daarmee koop nie!  Wees net wie jy is! En as daar mense is wat nie van jou hou soos wat jy is nie, jammer vir hulle! Hulle mis uit sonder dat hulle eers weet!

Vra jou pa – hy weet! Hy het ook in daardie strik getrap van taallaboratoriums en taalbrue en allerhande deftige dinge net sodat ander ook sal dink ek is “cool”!

Die mense wat van jou hou en jou waardeer net soos jy is, is jou ware vriende! Moenie hulle afskeep nie! Spandeer jou geld, tyd en energie slim aan hulle. Die ander se moer….maar met baie liefde!

Lief vir jou

Pappa

Die Prototype storie

‘n Goeie vriend van my vertel vir my hierdie storie. Hy was op Potchefstroom Universiteit in ‘n manskoshuis.

Sy pa was ook arm soos meeste van ons sin, so hy moes maar sy koshuiskamerliggie aanhou tot laat in die aand of vroeg in die oggend om seker te maak hy slaag al sy vakke. Sy pa het dit duidelik gemaak dat hy nie geld het om vir hom te betaal vir nog ‘n jaar as hy nie sy deurkom nie. Universiteit was vir hom soos vir meeste van ons ‘n renbaan, nie ‘n loopbaan nie. Jy moet dit so vinnig as moontlik klaarkry want daar is nie geld nie.

Soos in elke koshuis is daar dan ook die manne wat gereeld uitgaan om te gaan kuier en dan kom hulle hoog in die takke terug koshuis toe hier so 2-uur of 3-uur in die oggend. Dan bulder hulle gereeld: “Almal wie se ligte nog aan is se ouers is arm…” My vriend vertel dan gaan die liggies so die een na die ander af in die koshuis.

Net om so bietjie af te wyk… Dit is interessant vir my dat daar in elke sisteem, maak nie saak hoe groot of hoe klein nie, is daar altyd ‘n Prototype. Wat ek bedoel daarmee is daar is altyd iemand wat reeds “arrive” het in die lewe nog voordat jy eers begin het. Vandat ek kan onthou tot vandag toe, van laerskool na hoërskool na “army” na universiteit na werk, was daar altyd iemand wat mooier, beter, sterker, ryker, slimmer, vinniger, of watookal was as ek.  Dit is Prototype.

Prototype was ook teenwoordig in my vriend se koshuis. Hy was die eerste span rugbykaptein. Sy pa het ook verskriklik baie geld gehad, want hy het met die nuutste Hilux 4×4 rondgery op die kampus. Hy het ook altyd die mooiste meisies gehad rondom hom.  Hy kon goed dans, en was natuurlik ook die voorbok by enige partytjie. Prototype het alles gehad in die lewe. En hy het dit geweet. So met ‘n nare ou houdinkie altyd rondgeloop. So asof hy OK is, en jy nie. Jy kan maar kyk, Prototype is orals in enige sisteem…selfs in joune. Gaan soek hom net.

So draf Prototype toe een Saterdag uit vir ‘n rugbywedstryd. Natuurlik 1ste span, en hy is natuurlik die kaptein. Dit is mos wat jy verwag van Prototype. Meisies staan langs die veld en vergaap hulle aan Prototype, want hy is gespierd en aantreklik, en wit tande en wat nog.

En hy druk sy kop onnodig in ‘n losskrum in, en hy breek summier sy kakebeen op ‘n onaardige manier op twee plekke.  Noodgedwonge besluit die dokter toe dat hulle sy bokaak en sy onderkaak aanmekaar gaan moet vasspalk sodat die kakebeen weer kan herstel. En om dit nog erger te maak, breek die dokter toe een van Prototype se tande uit sodat hy sy kossies nou deur ‘n strooitjie moet drink.  Prototype kan nie meer sy mond oopmaak om met jou ‘n gesprek te hê nie. Hy kan nie lag nie. Alles wat hy doen, gaan met ‘n toebek saam.

Uiteraard is Prototype se ego gekrenk. Hy kan nie meer sy “image” handhaaf nie. Hy loop druipstert rond waar hy gaan, en hy vermy mense want hulle gaan met hom wil praat. Hy weet hy gaan dan moet toebek antwoord. En dan gaan hulle lag. Dit is nie goed vir die man se ego nie. En ek sien naderhand dat daar nie meer mooi meisies rondom hom is nie. Hy ry ook nie meer so windmakerig in sy nuwe Hilux bakkie rond nie. Prototype word ‘n sluiper. Of soos ons in die koshuis genoem het, ‘n KGB lid. Jy sien hom net in die Kerk, Gang of Badkamer.

So sit my vriend een oggend drie-uur en swot. As hy pluk, dan is dit die einde van sy universiteitsloopbaan. En die werk is moer moeilik, en hy stres want sy tyd hardloop uit en hy het steeds nie ‘n lekker “grip” op hierdie vak nie. Dit is tjoepstil daarbuite. Almal slaap, behalwe hy. Net sy liggie is aan…Sy pa is arm.

Skielik hoor hy die mees onaardse geluid wat jy jouself kan voorstel. Dit klink asof iemand besig is om ‘n vark te slag.  “Hoeeeeeeeeeeeee……” dan hou dit vir so ‘n rukkie op, dan hoor hy : “Ffffffffff……….” en dan weer na ‘n rukkie knallend deur die oggendstilte: “Hoeeeeeeeeeeee………” Iets ernstig is verkeerd, en dit is reg hier buitekant sy venster. Gelukkig sit hy op die derde vloer, so dit moet iewers hieronder in die vierkant van die koshuis wees. Iemand moet besig wees om iemand te vermoor, dit is al wat dit kan wees. Dit is sulke roggelende geluide – as hy sy gordyntjies gaan oopmaak gaan hy definitief ‘n getuie word in ‘n moordsaak.

Skrikkerig en met bewende hande begin hy die gordyntjies oop te trek om te kyk wat gebeur. En dan sien hy dit….

Prototype is op sy knieë op die grond buite in die vierkant van die koshuis. Hy dink eers hy bid of iets, toe ruk Prototype se kop omhoog en ‘n straal spuit uit sy mond uit en val so 4 meter verder op die grond, en dit gaan saam met nog ‘n onaardige geroggel: “Hoeeeeeeeeeeee…..” Prototype is besig om op te gooi, maar hy kan nie sy kakebeen oopmaak nie. Want dit is vasgespalk. Sy oë is wydoop en verstar van vrees, want elke keer as die volgende sarsie kom dan staar Prototype die aaklige dood van versmoring in die gesig. En dan kom die volgende sarsie, en nog ‘n :”Hoeeeeeeeee…..” Elke keer na die “Hoeeeeeeeee…” dan hoor weer jy ‘n “Fffffffffffffff………..” geluid soos Prototype naarstigtelik inasem deur die klein openinkie waar sy tand eens was om lewensbelangrike suurstof in te asem.

Die hele koshuis is teen die tyd wakker. Die mense staan ‘n kring om Prototype. Hulle wil hom help, maar wat doen jy? Jy kan maar net staan en kyk en spuit die man strale soos ‘n tuinslang uit sy mond uit…

Naderhand nadat ons almal gedink het die man gaan dit nie maak nie – vanaand sien Prototype sy gat – toe hou dit gelukkig op. Prototype is moeg. Hy het so pas by die dood omgedraai. Hy staan op en loop druipstert weg. Almal is maar stil, want jy mag nie lag vir Prototype nie. En dan word dit weer stil in die koshuis.

Nou moet my vriend weer verder leer. Maar dis moeilik. Hoe tel jy nou jou konsentrasie weer op na so ‘n ervaring? Hy kry nie die prentjie van Prototype wat kots soos ‘n tuinslang uit sy kop uit nie. Dit is daar vasgenael vir altyd totdat hy maar later moed opgee en in sy bed gaan klim.

Die volgende dag toe kom die storie uit. Prototype het die aand toe uitgegaan saam met sy vriende. En na ‘n paar biere toe ervaar hy weer sy ou self. Hy is weer Prototype. Meisies om hom. Dit gaan te lekker. Sy toebek pla hom toe nie meer so erg nie. Hy drink sy bier deur ‘n strooitjie. Die een na die ander. Maar niemand het hom ooit vertel dat jy nooit in jou lewe bier deur ‘n strooitjie drink nie. Dit maak jou verskriklik dronk en naar…

Boeta se les

Yanik – pasop vir trots en arrogansie. Ego.  Dis ‘n lelike blêddie ding. Dit het ‘n manier om jou verskriklik hard grond toe te bring.  Wees altyd maar die nederige een. Moenie ooit dink jy is beter as ander nie. Ek glo vas daar is ‘n onsigbare rekenkunde waar jou inkomstestaat van trots en arrogansie of ego altyd op die snaakste maniere gebalanseer word met “vulnerability”.  Soos met Prototype. Sy ekstreme arrogansie het gelei dat hy al spoegend en kotsende op sy twee knieë sy Moses teëgekom het. Dis hard Boeta, baie hard.

Geen wonder ons Skepper praat van “the meek will inherit the earth” nie. Gaan lees maar. Die een wat die minste is sal die meeste wees, en die een wat die meeste is, die minste.

Vra maar vir Prototype. Ek dink hy verstaan dit bleddie goed – miskien beter as ander mense! Sy balansstaat het baie vinnig uitgebalanseer een nag  – sommer so op sy knieë…

En pasop – baie keer loop ek self vir Prototype raak wanneer ek in die spieël kyk. En dan moet ek my kop in skaamte laat sak.

Wees altyd maar op jou hoede vir Prototype.

Lief vir jou!

Pappa

Die slaapsak storie

Ek was in 1987 tot 1988 in die Suidwes-Afrikaanse Weermag. Ek het my eerste drie maande basies gedoen in Osona naby Okahandja, en toe is ek vir nege maande Potchefstroom toe (Artillerieskool) waar ek ‘n bombardier geword het en geleer het van kanonne. Begin 1988 was ons grens toe nadat ons ons troepe gaan haal het in Walvisbaai.

My ma was so bekommerd oor haar seuntjie toe ek haar die dag groet in Windhoek en vertel ons vlieg nou grens toe. Ek onthou hoe ek haar bel vanaf ‘n tefoonhokkie in Walvisbaai nadat sy gedink het ons het reguit grens toe gevlieg van Windhoek af. “Hallo Mamma….” skree ek terwyl Gunther von Schauroth ook in die telefoonhokkie staan en oorloggeluide maak:” Ratttatttattttattttattttaattttttaaattttaaa… Dwah……” Dan hoor ek haar skee: ” Jannie is jy OK?”

Theuns van Zyl by sy kanon in Angola

“Ja Ma – dit gaan net bietjie rof hier op die grens”

En dan trek Gunther weer los met ‘n projektielgeluid: “Pheeeeeeeeewwwwwwwwwwwww……..Dwah Dwah Dwah”.  En dit klink blêddie erg want dit is nog binne ‘n telefoonhokkie. Sies tog haar senuwees was op hol oor haar ou seuntjie.   Ma – jammer daaroor. Ons was maar net simpel en gevoelloos daardie tyd.

Nadat ons ons troepe gaan haal het in Walvisbaai toe vlieg ons uit Hurricane-basis toe – net noord van Ruacana-basis.

 So lyk Hurricane basis vandag vanaf Google Maps. Baie biere hier in die kroeg gedrink….

Boetie is toe op die border. En ons was daardie jaar maar baie min in Hurricane – baie van die tyd was ons  in Angola.

 So lyk dit as ‘n Olifanttenk by jou verbyjaag in Angola…Bietjie anders as ‘n lorrie op die N1
 Die ouens het hulle meisies se voorletters uitgeknip op hulle onderbroeke en dan in die snikhete warmte die voorletters ingebrand in hulle boude in. Dan lyk dit baie “cool” as jy jou onderbroek uittrek – of so het ons gedink….ja dit is ekke in die blou onderbroek!

Wanneer ons in Angola was, dan het ons op die grond geslaap. Sien een van hierdie fotos waar ek saam met Boensch was. Matrasse maak jou nie mobiel genoeg nie. En dan staan ‘n klomp manne wag terwyl die ander slaap, totdat dit jou beurt is om wag te staan. En meeste van die tyd het ons die kanonne geskiet in die nag, so jou slaap was maar ook van korte duur. Glo my – as 8 kanonskote gelyk afgaan is dit maar moeilik om weer aan die slaap te raak.

Een aand was dit baie koud. Ek onthou dat ek in my ou nylonslaapsakkie inkruip, maar dat dit naderhand so koud is dat ek my kop binne die slaapsak sit om warmer te kry. So raak ek toe naderhand aan die slaap.

 Drie van Gunther von Schauroth se troepe op die Guntrekker. Ruacana is in die agtergrond
Groot Generaal Janneman trek ‘n Paul Revere terwyl ek op die ammogebou staan waar ons die Gun trekkers vol gelaai het met projektiele. Kyk net die boskop.

Laat die nag word ek wakker. Ek hoor “grrts-grrts”.  Ek besef hier is verskriklike groot moeilikheid. Die ouens wat wag staan moes aan die slaap geraak het.  Hierdie geluid is niks anders as die terroris se “boots” nie – en dis hier teen my kop. Hy moet hier reg langs my staan.  Want elke nou en dan dan hoor ek “grrts”.  Ek is pap van die vrees.

Hoekom skiet hy my nie? Is dit omdat my kop onder die slaapsak is en hy nie mooi weet waar my kop is nie? Dit is net ‘n kwessie van tyd dan gaan daardie AK47 rondte deur my kop bars en my breins vernietig? My hande sweet en ek kan amper nie asemhaal so bang is ek nie…

Sersant Kieretjies saam met Skim. Ons drink ‘n paar biere
Moelik om die manne te herken. Maar ek dink aan my regterkant sit Nel, en Fourie aan my linkerkant. Links voor met sy rug na ons toe sit Luandré, en regs voor met die strepieshemp sit Jorrie Jordaan. Ek is die een met die bier in die lug vir die wat nie weet nie…

Dan begin ek bid. Liewe Jesus – jammer oor daardie dag toe ek ‘n brulpadda in een van my sussies se bed gesit het terwyl sy geslaap het. Maar dit was baie snaaks toe sy wakker word. En jammer oor daardie tyd toe ek gejok het vir my pa. En daardie tyd toe ek nie geld teruggebring het van die fliek af nie maar dit vir myself gehou het. En dis asof alles wat ek ooit verkeerd gedoen het skielik in ‘n ry staan om openbaar gemaak te word. Bely my ook!  En nog een – bely my ook!  Dan hoor ek weer “grrts”. Damnit – skiet nou en kry klaar man! So kan dit mos nie aangaan nie. Ek wroeg nou al vir oor die 4 ure en ek huil en ek bid en ek sweet en ek bieg, maar hierdie storie wil nie einde kry nie. Een of ander tyd moet hierdie storie darem nou stop. Dit kan mos nie so aangaan nie.

Binne ‘n guntrekker met musiek op die ore en ‘n Paul Revere. Cool, boeta, baie cool. Hoe meaner jy was hoe beter, of so het ons gedink!
In Hurricane – ek dink hierdie was Schalla met sy wynsak

Ek beweeg na ‘n volgende vlak van onderhandeling met die Skepper in my vrees.  As ek lewendig hier uitkom, dan sal ek…..Dinge wat ek nooit sal wil doen nie kom skielik op die onderhandelingstafel.

En dan hoor ek weer “grrtts-grtts”.  Dit is ‘n vrees wat ek vir niemand ooit kan verduidelik nie. As jy so bang is dat jy nie kan asemhaal nie, dan is jy regtig bang, ou maat! Ek ken dit!

Kwévoël gelaai met proviant. Ons is in Angola

In die aande het ons geskiet met die kanonne. In die dag het ons laag gelé onder die camo nette want ons was maar bang vir die MIGsDis 4h30 in die oggend. Dis nou op sy koudste. Ek bibber binne die slaapsak. Ek is nie seker of dit meer van die koue of van die vrees is nie, maar ek is moeg gevrees. Al my sondes is op ‘n ry gebieg. Die een na die ander. Ek kan nie meer dink aan iets wat ek verkeerd gedoen het in my lewe wat ek nie nou hier in hierdie bleddie slaapsak gebieg het nie. En ek is gatvol. Emosioneel uitgeput. Ek word kwaad. Weet die blêddie terr nie hoe om die sneller te trek nie? Is dit vir hom lekker om  heelnag hier rondom my kop te “grrts-grtts…” Bleddie sadis. Get a life. Skiet nou en kry klaar man – dink ek.

Foto van ‘n G4 deur die venster van ‘n guntrekker
Die G2 se bene moet nou toe! Staak vuur

Dan besluit ek – genoeg is genoeg. Ek gaan my kop uitpluk hier onder hierdie verdompte slaapsak en ek gaan hierdie man vierkantig aangluur. My R4 is te vêr van my af om hom te skiet, maar ek gaan hom ‘n kyk gee wat skrik vir niks. Iets wat hy nooit sal vergeet nie. Daai kyk moet hom hoendervleis gee elke keer as hy daaraan dink.

Ek kry toe ‘n groot pitseer op my voorarm. Onthou so goed dat toe ons in Hurricane inkom, toe stap ek reguit Ops Medic toe. Linkerarm was amper twee keer so dik soos die regterarm. Loop vandag nog met hierdie “scar”..

En as hy die sneller dan trek, dan is dit nou maar so. My sondes is alles deur die hele nag vergewe. Ek is silwerskoon. Kan nou maar na my Skepper toe gaan.  “Grtts-Grtts” hoor ek weer. My moed begewe my amper weer , maar ek is so gatvol dat ek besluit ek begin by 20 en tel terug tot 1 en dan gaan ek die ewigheid al skietend in.

So het ons in Angola gesit. Baie sigarette so gerook
Nog ‘n olifanttenk jaag by ons verby

Twintig

Negentien

Agtien

Sewentien

Sestien

Vyftien

Kesslau ry die Buffel asof hy ‘n perd is…

“Grtts – Grtts”

Veertien

Dertien

Twaalf

Elf

“Grtss-Grtts”

Tien

Luitenant Snyders

Nege

Agt

Sewe

Ek kan hoor hoe klop my hart…Doef doef doef in my ore

Ses

“Grtts-Grtts”

Luitenant Jacobi

Vyf

Vier

Drie

Twee

Ek haal my laaste asem op – hier gaan ons….

Een

Ruacana

‘n Ovahimba man laat toe dat ek hom kan afneem. Hulle hou die daarvan nie want hulle glo jy neem ‘n deel van hulle stel weg as jy hulle afneem…

Ek pluk my kop uit die slaapsak en soek dadelik die loop van die AK47. Maar daar is niks. Almal slaap. Die wagte kan ek sien is wakker. Geen teken van enige vyand nie. Ek kan nie verstaan wat de hel gaan aan nie. Hoe is dit moontlik? Na 7 ure van absolute hel is daar niks. Net eenvoudig niks. Het ek deur hierdie pyn verniet gegaan? Waar kom die verdompde “grtts-grtts” geluid dan vandaan?

My en Boensch (die Ops Medic) se slaapplek onder ‘n boom in Angola. Matrasse was nie toegelaat nie – dit maak jou net minder mobiel
Nog ‘n Olifanttenk jaag by ons verby in Angola

Ek steek ‘n Paul Revere op en gaan sit by die vuur. My kop is seer. My lyf is seer. Ek voel uitgeput. Nie ‘n oog toegemaak laas nag nie. Net gebieg, gehuil en gebid. Dis al. En nou is ek vodde – op soos ou hout. Ek het ‘n diepe moegheid aan my soos daar waar die Disprin oplos – diep binne my!

So het ons die G2 geskiet in Angola
‘n Jonge Gunther by die Otjikoto meer

Dan besef ek skielik waar die “grtts-grtts” vandaan kom. Ek het lang oogwimpers, en elke keer wat ek my oë knip, dan “grtts-grtss” dit teen die nylon-slaapsakkie. En ek het my oë baie geknip deur die nag, en hoe banger ek geword het, hoe meer het ek dit geknip.

Ons het vir Jorrie aan daardie watertoring vasgemaak een maand toe hy wou wegloop om vir Savimbi te gaan “join” – met te veel alkohol in die lyf…
So lyk Ruacana deur die voorruit van ‘n gun trekker

Ja – dit is wat vrees aan jou kan doen.

Boeta se les

Yanik – vrees is ‘n wetterse ding. Dis soos daardie skoolboelie. Hy maak jou bang, maar gee jy hom net een klap dan hardloop hy na sy ma toe. Hy beteken eintlik niks, maar as jy jou aan hom steur, dan maak hy jou lewe mislik.

Vra jou pa. Hy weet. Ek het vrees te veel toegelaat om my te boelie in my lewe. Vrees het my een nag vir niks daar in Angola in die koue laat rondrol. Net omdat ek my aan hom gesteur het.

Ek dink die Vader weet wat vrees aan ons nietige mense doen. Geen wonder dat Hy so gereeld vir ons vertel om nie te vrees nie. Gaan lees maar.  Hy wil nie hê ons moet verniet sonder rede in ons slaapsakke rondrol nie. Hy is te lief vir ons.  Daar staan dan – Volmaakte liefde dryf alle vrees uit….

Hy weet waarvan Hy praat….Vrees het hom ook probeer boelie toe Hy hier op aarde was. Maar Hy het dit nie toegelaat nie. Jy en ek moet ook so wees!

Lief vir jou

Pappa

Die Essie storie

Soms dan ontmoet jy mense op jou pad wat ‘n wesenlike verskil maak in hoe jy dink en doen. Daar is ‘n klomp van daardie mense wat so oor my pad gekom het. Maar dan kom daar soms ‘n man oor jou pad wat jou heel anders laat dink en doen. Een van daardie reuse wat ‘n massiewe impak op my ou lewetjie gemaak het, is Essie.

Essie

Ek het op die 1ste Augustus 1997 by Sasol in Secunda begin werk.  Dit was nie lank nie, toe kruis my paaie met Essie. Essie was die vergoedingsbestuurder by Synfuels tot redelik onlangs. Essie was enig in sy soort. Hy was ongelooflik plat op die aarde – ‘n “what you see is what you get”-tipe ou. Maar met ‘n besonderse liefde vir die mens en die natuur wat ek baie lanklaas teëgekom het.  Hy kon byvoorbeeld dae lank op mense se plase rondloop op soek na die Haworthia vetplantjies. Die man verstaan van die tipe vetplant. Daar is min mense in die wêreld wat meer verstaan van die Haworthia vetplant soos ou Essie. Daar is selfs vandag van hierdie vetplante wat vernoem is na hom en sy familie. Essie is so ‘n groot karakter dat hy selfs ‘n verskil gemaak in die lewe van vetplante…

Haworthia esterhuizenii – vernoem na die Esterhuizen gesinnetjie

Haworthia elizeae – vernoem na Essie se oorlede vrou Elize

Essie kon jou regtig ag as mens, en hy het altyd tyd gemaak vir mense. Maak nie saak of jy baas of klaas is nie. Hy was nooit te besig vir ‘n vinnige geselsie met enigiemand nie. Die man het baie diep spore gestap by Sasol en in die Sasoliete se harte . Hy het afgetree in 2017 en Stilbaai toe getrek. Ons almal was en is steeds net eenvoudig lief vir Essie. Dis hoe dit is met Essie – jy word net lief vir die mens wat hy is.

Ek en Essie het verskriklike goeie vriende geword oor die jare. Tot vandag toe is ons vriende, selfs al is hy ‘n hele paar jaar ouer as ek. En as ek ooit in Stilbaai ‘n draai maak, dan sorg ek dat ek by Essie uitkom. Die man is regtig ‘n “legend”.

Nico “The Thunder” du Toit aan die linkerkant. ‘n Groot Sasol gees met ongelooflike impak in my lewe. Ek gaan nog ‘n storie of twee oor The Thunder ook vertel.  En Essie aan die regterkant. Ons probeer een keer ‘n jaar saam “breakfast” eet. Ons noem die ete – Drie generasies eet tesame….

Maar so ‘n paar jaar gelede toe word Essie se vrou Elize baie siek. ‘n Baie aggressiewe kanker.  Dit was ‘n verskriklike tyd in hulle lewe.  Hy vertel dat hy nie kon dink dat iets so erg hom ooit kon tref nie. Die vrou vir wie hy lief is wat voor hom wegkwyn en hy kan niks doen om te help nie. En sy is toe ook oorlede na ‘n baie kort tydjie.

Die gesinnetjie voor Elize se dood

In 2013 toe is ek weer op ‘n projek in Secunda. In die aande is ek alleen, en dan gaan eet ek maar in ‘n restaurant. As konsultant is dit nogal sleg – jy sit alleen by ‘n ou tafeltjie. En ou Essie is in die aande ook alleen, so besluit ons toe om elke Dinsdagaand maar saam te gaan eet. Dit vat darem die alleenheid so bietjie weg. Een Dinsdagaand dan betaal ek. Die volgende Dinsdagaand dan betaal hy.  En so spandeer ons lekker tyd saam en begin hy my vertel van Elize se dood en hoe hy dit ervaar het. En ek vertel hom maar oor my lewe en my ou dingetjies. Ons sit in Secunda se restaurante tot laat in die nag elke Dinsdagaand. Die mense is naderhand bang as ons daar aankom, want hulle weet dit gaan weer ‘n lang nag wees…

Daar was baie waarhede wat ons so op ‘n Dinsdagaand met mekaar gedeel het. Essie vertel my een Dinsdagaand hy wil baie graag eendag woestyn toe gaan. Ek vra hoekom. Hy vertel dat ‘n woestyn nie paaie het nie. Ek frons – wat bedoel hy? Hy verduidelik dat wanneer jou vrou voor jy doodgaan, dan is dit soos om skielik in die woestyn te wees. Daar is nie paaie wat jou kan help om daaruit te kom nie. Jy kan nie op ‘n GPS klim om uit die woestyn te kom nie. Jy moet op jou eie daar uitkom. Mense kan vir jou raad gee en opinies lewer, maar daar is nie pad nie – jy moet maar self uit die woestyn uit. So op jou eie.

So kom ek agter my goeie vriend is regtig alleen. En eintlik is hy nie OK nie. Hy lag daaroor. Hy vertel dat hy nou besef dat hy eintlik ‘n maat nodig het. Hy glo vas hy het absoluut die potensiaal om eendag ‘n volslae kluisenaar te word, want Elize was altyd die ene wat gesprekke aan die gang kon sit met mense, terwyl hy maar aan die skaam kant is. Hy is soos ‘n stuk kameeldoringhout. Jy sukkel om hom aan die brand te kry, maar as hy eers brand, dan brand hy sonder ophou. Essie se kameeldoringhout het vuur nodig.

Toe een Dinsdagaand vertel Essie my die storie wat ek nooit in my lewe  sal vergeet nie.

Hy vertel hy kom agter sy twee dogters raak erg bekommerd oor hom, want as hy klaar gewerk het, dan gaan sit hy maar eenvoudig daar in sy huisie voor die televisie tot laatnag saam met sy honde. Dan word hy aan die slaap voor die TV. Staan dan gereeld laat in die nag weer op om bed toe te gaan .  Dag in en dag uit, week na week, maand na maand. Hy word ‘n kluisenaar. Hulle raak toe bekommerd dat hy miskien depressief is. Hulle besef dit gaan nie so kan aangaan nie, hulle gaan iets moet doen met pa. Hulle gaan vir hom ‘n maat moet kry. Essie gaan nie alleen so kan aangaan nie. Hy is nie gemaak om alleen deur die lewe te gaan nie. Hy het ‘n maat nodig.

Essie se oudste dogter Lize

Essie vertel my een aand toe kom kuier sy jongste dogter (Salomé) vir hom. Hulle praat oor dit en dat. En oor hulle kinderjare. So vra Salomé hom of hy kan onthou toe hy vir hulle twee dogters jare gelede geleer het om motor te bestuur toe hulle nog klein dogtertjies was. Lize (die oudste) het agter die stuurwiel gesit, Salomé op die agterste sitplek. Essie links voor. En dan ry hulle. Essie natuurlik baie benoud. En Lize maar ook baie op haar senuwees want sy leer maar bestuur. Wil nie ‘n ongeluk maak nie. So sy is ook maar rukkerig in die karretjie. Jy kan die atmosfeer van spanning in die karretjie knip met ‘n skêr.

Essie se jongste dogter Salomé

Skielik kom daar ‘n draai in die pad. En dan vertel Essie probeer hy op ‘n mooi manier sonder dat hulle agterkom sy senuwees is op die boodskap oorkry aan Lize dat iets nou moet gebeur. “Lize – as daar ‘n draai in die pad is, dan gaan jy iets met die stuurwiel moet doen” – mompel Essie vir Lize.  Maar Lize tel sy stemtoon op, en wanneer hulle uiteindelik by die huis kom, dan vertel sy vir Elize dat pappa baklei met haar. Daar is maar altyd iets met stemtoon. Ek weet. Ek is nou al ‘n paar jaar getroud. Stemtoon vertel baie meer as woorde.

So lag Essie en Salomé oor die storie die aand toe hulle dit vertel.

Toe kyk Salomé vir Essie stip aan, en sy sê vir hom:

“Pappa, as daar ‘n draai in jou pad is, dan moet jy iets doen met die stuurwiel….”

Essie besef hy is vas. Salomé sit nou links voor met Essie agter die stuurwiel….

Hulle het plekke gewissel.

Stilte…

Nie lank hierna nie, toe ontmoet Essie vir Anneli, en nie lank daarna nie, toe trou hulle.

Essie het die stuurwiel gedraai toe sy pad ‘n draai maak!

Essie trou met Anneli

Elize, jy moet baie trots wees op daardie twee dogters van jou. Essie het amper in die mielielande ingedonner toe sy pad skielik ‘n draai maak met jou dood.

En deur hom te vertel van lank terug, twee dogtertjies en hy, en ‘n pad wat ‘n draai maak, het die “penny gedrop” by hom.   Niks of niemand anders sou die boodskap kon deurkry na Essie toe nie. Sy hande het te vasgeklou aan die stuurwiel om iets te hoor. Iemand moes hom op ‘n besonderse manier wegtrek van die skildery sodat hy die groter prentjie kon sien. En wie anders kon dit doen as julle twee dogters?

Dankie julle twee meisiekinders. Julle het my goeie vriend gered. Anders was hy nou in die mielielande.

Boeta se les

Yanik, as jou pad eendag ‘n draai maak, dan moet jy iets met die stuurwiel doen my kind.  Onthou hierdie les! Oom Essie het my dit geleer! Die lewe is nie ‘n reguit pad nie. Hy maak die hele tyd draaie. En soms is daardie draaie baie seer. Maar jy het ‘n keuse: Draai die stuurwiel, of donner in die mielielande in. Eenvoudig. Dit is hoe die lewe is.

Lief vir jou

Pappa

 

Die Prestation storie

In 1994 toe kry ek my heel eerste volwaardige job. Ek word aangestel as psigometris by die Departement van Korrektiewe Dienste. Hulle gee my die rang van proefbewaarder. Dit is heel onder op die voedselketting. Ek onthou in daardie jare toe hulle my eerste salaris inbetaal, toe kry ek ‘n volle R310 na aftrekkings vir die maand.

My taak was om 16 PF (personality factor) toetse op werksapplikante te doen en dan ‘n onderhoud met hulle te voer gebaseer op die 16 PF. So jy vra vragies wat so bietjie krap op plekkies wat nie te lekker lyk op die 16 PF nie. En dan as alles klaar is, dan was daar drie boksies om van te kies –  “Not recommended; Recommended en Strongly Recommended”.  En dan kon die grootmanne maar besluit wat hulle met die kandidaat wou verder maak.

En dis omtrent al wat ek gedoen het daardie jaar. Ek was naderhand so gatvol vir onderhoude en 16 PF’s dat dit by my ore uitgeloop het.  Maar my heel eerste onderhoud wat ek moes voer, was anders. Jy moet verstaan – ek kom van Namibië af. Wanneer ons Engels praat, dan sê ons wat ons kan sê, nie wat ons wil sê nie. As jou Engelse juffrou in matriek se naam juffrou Du Toit is, dan dui dit mos duidelik aan dat jy eintlik maar met ‘n moerse agterstand die wêreld ingestuur word.  Sy was ‘n uitstekende juffrou maar haar taak was onmoontlik om ons klomp Namibiērs die taal te leer. En in hierdie geval moes ek ‘n onderhoud voer met ‘n man wat net Engels praat.

Aan die linkerkant is Johan. Hy was die grootbaas toe ek al my skade aangevang het. Ek het hom hier (Mei 2017) eers vertel wat ek alles aangevang het. Ook maar goed so. Hy sou my ge-“fire” het as ek hom toe (1994) hierdie storie vertel het. In die middel sit Chopper – my ou groot maat wat ek nou al ken van 1995 af.

Hy doen aansoek vir ‘n verskriklike hogere pos in die Departement.  Uitvoerende Generaal of so iets. En hy het ‘n CV wat skrik vir niks. Alles by University of Zululand; of University of Venda; of University of Fort Hare of iets in die lyn.  MBA; D Phill; noem dit en hy het dit.

Nou stres ek want dit is baie hoë profiel onderhoud hierdie, en ek sukkel met die Engels.  En ek berei toe nou maar voor vir die onderhoud deur die man se CV so bietjie te beloer voor die tyd. En toe sien ek dat die man nie net ‘n ywerige akademikus is wat grade insamel nie, maar ook sy merk gemaak met sokker. Selfs uitgedraf vir Bafana Bafana op ‘n tyd.  Hulle het ons mooi geleer op Stellenbosch – wanneer jy ‘n onderhoud doen is dit soos om ‘n hamburger van bo af te eet. Jy gaan nie direk vir die “pattie” nie. Nee, jy eet eers die broodjie, dan hanteer jy die “pattie”, en dan eindig jy weer met die broodjie. Binne die onderhoudkonteks beteken dit eenvoudig dat jy die onderhoud begin met iets informeel, dan zoom jy in op die formele, en dan eindig jy die onderhoud weer met die informele.

Net daar besluit ek die sokkerding is die boonste broodjie van die hamburger. Ek gaan met die man sokker praat, en sodra ek genoeg selfvertroue het in Engels, dan sal ek die “pattie” aandurf. En dan weer afsluit met sokker. Ek is toe se reg as wat kan kom vir hierdie onderhoud. Eintlik sommer opgewonde.

Die volgende oggend toe staan die man voor die Departement van Korrektiewe Diense se deur – 10 minute voor die tyd. Net soos dit ‘n goeie kandidaat betaam. Skoene netjies blink – das en baadjie en alles. Ek nooi hom om te kom sit en bied hom koffie aan. Ons drink saam koffie. Dan begin ek die gesprek met my beste Engels:

” I see on your CV you play soccer?” Hy antwoord positief. Ek vra hom: “Tell me more about your soccer prestations…”

Want in Afrikaans noem ons dit mos ‘n prestasie. Nou in my wêreld praat ons van Namlish – Namibian English. Ek kan vir enige Namibiaan vra wat is sy “prestations” en hy sou hulle opnoem sonder om eers te aarsel. Hoekom kan ‘n prestasie in Afrikaans nie ‘n “prestation” in Engels wees nie…?

Die man kyk my skaapagtig aan. Hy het nie die vaagste benul waarvan ek praat nie.  Na ‘n ruk vra hy my: “What do you mean – prestations?” Ek kyk hom op en af. Hoe kan hy nie weet wat sy “prestations” is nie? Ewe selfvoldaan sê ek vir hom: “Sir I do not understand how you do not know what your soccer prestations are. You clearly indicated them to me in your CV….”  En dan wys ek vir hom op sy CV met my vinger, maar toe ek my vinger so druk op die woordjie waar daar “prestation” moet staan, toe staan daar “achievements”.

Hoe red ek myself sonder dat hy agterkom dat ek eintlik nou my naam met ‘n plank geslaan het? “I mean your soccer achievements” mompel ek saggies sonder om te verleë te probeer lyk, so asof dit maar net ‘n klein onbenullige ou simpel foutjie is.

Hy noem sy “soccer prestations” selfvoldaan op – die een na die ander. Dis so asof hy ‘n sug van verlugting slaak, want ek dink na die tyd dat hy moes gedink het daar bestaan wel iets soos ‘n “prestation” – en hy gaan hierdie onderhoud nie maak nie want dit is nie deel van sy woordeskat nie. Ek los hom om aan te gaan, want dit gee my tyd om te dink watter volgende vraag kan ek vra om net hierdie hele “prestation”-ding agter my te kan sit met die hoop dat hy dit net sal vergeet en dat “prestations” net liggies soos mis voor die son in die niet sal verdwyn.

“How many goals did you achieve?” – vra ek ewe selfvoldaan. Ek het darem nou baie tyd gehad om te herstel en weer beheer te vat van die onderhoud.  Maar hy kyk my nou selfs meer skaapagtig aan. So met ‘n oorbluftheid dat hy nie kan glo dat ek hom so ‘n vraag durf vra nie. Ek kan dit glad nie verstaan nie. Dis dan duidelik, en die woord “goals” bestaan tog….

“Do you want their names….?” vra hy my.

Ek neem aan hy gee vir elke doel wat hy skop ‘n naam.  “Yes – what is their names…?” vra ek. Die man is vaal. Hy skuif so van die linkerboud na die regterboud, soos ‘n stout skoolseun. Kyk af na die grond – wil my nie in my oë kyk nie.

Na ‘n ruk hoor ek saggies: “Felicity”. Dan “…and Sarah”. Dan “…and Anna”. Dan “…and Beauty”. Dan “…and Precious”. Dan “…and Bridgette”. So gaan hy aan. So asof hy bely! En die name gaan eenvoudig aan sonder ophou!

Dan slaan die verskriklike gedagte my – Ek besef dat met my swaar Namibiese engelse aksent hoor hy “girls” en nie “goals” nie.   Hy dink ek vra hom direk in die onderhoud “how many girls did you achieve…”  En dit in ‘n baie hoë profiel formele onderhoud.  En as hy die werk wil hê, dan gaan hy nou maar moet bieg. Dis hoe dit werk in Korrektiewe Dienste.

Ek het die man baie sterk aanbeveel vir die werk. Nie omdat ek dink hy dit regtig dit verdien het nie. Eerder omdat ek skrikkerig is dat hy my swak Engels gaan blootstel aan die groter publiek. En ek miskien my werk kan verloor omdat ek die aansoekers seksueel teister.

Ek dink daar loop vandag iewers by Korrektiewe Dienste ‘n groot generaal rond wat tot vandag nog nie lekker verstaan van ‘n “prestation” nie. En miskien nie kan glo dat hy sy privaatlewe so op die tafel moes sit nie. Ek wonder of hy my onthou…

Ek wil net graag vir daardie man uit my hart uit jammer sê vir die ongemak waar ek hom ingebring het. Dit was regtig nie my bedoeling nie. Ek wou net my werkie so goed as moontlik doen. Maar as jy ‘n Namibiaan forseer om Engels te praat, dan moet jy maar verlief neem met die nagevolge. Dan praat ons Engels uit selfverdediging…

Boeta se les:

Yanik, Engels is belangrik Boeta. Jou pa sukkel sy hele lewe met die taal maar jy hoef nie.  Ek dink dit is ‘n balans. Ek sal jammer wees as jy eendag die waarde en die rykheid van ons pragtige Afrikaans nie meer sal waardeer nie. Die taal is in ons gene Boeta. Dis deel van ons DNA. Ons bid in Afrikaans as ons met ons God praat! Maar ek wil ook nie dat mense eendag vir jou moet lag as jy die Ingils gooi nie! Mag jy eendag beter Engels praat as jou pa!

Eendag toe gaan haal ek jou by ‘n maatjie wat verjaar het. Sy pa nooi my in vir ‘n bier. Hy gee my ‘n Windhoek Lager. Ek vertel hom dat hy goeie bier drink en ons kom agter ons kom albei van Namibië af.  Ons werk hom terug dat hy saam met my jare terug in Sub A in Oshakati was. Ek vra hom hoe “cope” hy hier in Johannesburg. Hy vertel my dat nou die dag toe was hy saam met ‘n groep mense, toe vra hulle hom: “From where are you?” Hy gooi toe sy beste Engels: “I am a Namibian burger”.

Hy vertel dat hy toe nie kon verstaan hoekom hulle vir hom lag nie…

Mag jy vry wees van prestations en burgers en al sulke dinge my kind

Lief vir jou

Pappa

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Yanik se eerste visvang kompetisie

Op 7 Mei 2017 toe neem Yanik deel aan sy eerste visvangkompetisie by Steenkoolspruit daar in die Delmas gebied.

Die mannetjie het 5 vissies gevang – klein, maar ‘n vis is en bly ‘n vis

Yanik en Fish met hulle vissies

Vroegoggend toe is die gazebo al op

Yanik en Fish praat visvangstrategie so met sonsopkoms

Hy raak nie moedeloos nie. Selfs al is daar geen byt nie, hou hy goeie hoop. Ek dink hy gaan eendag ‘n baie goeie visserman wees. My job bly maar om die “support staff” te wees. Ek slaan die gazebo op; braai ietsie vir ontbyt en later weer vir middagete, en help dan maar waar ek kan.

‘n Goeie visserman het goeie support staff nodig…..amper soos die golfer en die caddy

 

 

Die les van die 17 dorpers

Ek het ‘n goeie vriend uit die Kaap wat saam met my studeer het by RAU jare terug. Sommige mense dink RAU staan vir Rand Afrikaanse Universiteit. Eintlik staan dit vir “Rejected Applicants of Unisa”. Maar dis nou weer ‘n ander storie, kom ons kom eerder terug na hierdie storie. Hy kom een aand oorslaap by my in Johannesburg, en hy vertel my toe die storie  – Die Les van die Sewentien Dorpers. Die vuurtjie is aan die gang, en ons teug rustig aan ‘n rooiwyntjie toe hy met die storie kom. Ek mag miskien hier en daar ‘n fout maak rondom detail, maar jy wil ook nie ‘n goeie storie opdonner met feite nie.

Hy vertel hy besluit om een vakansie Namibië toe te gaan, en meer spesifiek Swakopmund. Hy vat sy vrou en sy twee klein kindertjies en hulle word toe dolverlief op Namibia. En net daar besluit hulle van nou af gaan hulle elke jaar Namibië toe! So vind hulle hulself toe die spesifieke jaar weer daar in Swakopmund. Werner besluit hy wil bietjie die Guass pas gaan ry met sy gesinnetjie. Vir die mense wat nie weet nie, die Gauss pas vat jou volgens my deur die mooiste deel van Namibia. Jy ry grondpad, al langs Sossusvlei af. Dit is droog en ongenaakbaar. Daar is niks, en dit hou net eenvoudig aan en aan vir myle en myle. So hier en daar dan is daar ‘n ou grassietjie wat die moed het om kop uit te steek, en die klippe is swart verbrand deur die son. Jy het nie regtig ‘n 4×4 nodig om daar te ry nie, maar dit bly maar grondpad en daar is lekker groot klippe waaroor jy moet ry, wat dit net makliker maak as jy ‘n 4×4 het.

Werner en sy gesin het hierdie spesifieke jaar gevlieg Swakopmund toe, en dan ‘n gewone ou sedannetjie gehuur om meer rond te ry. Dis ‘n bietjie duur om ‘n 4×4 te huur as jy vir ‘n hele ruk  daar in Swakopmund wil rondry.

So eindig Werner en sy gesinnetjie op in hulle karretjie op die Gauss pas, en hy noem dat dit net te pragtig is vir woorde. Hulle is verstom oor die welwitchias langs die pad, en so nou en dan dan hardloop daar ‘n likkewaan of ‘n bok oor die pad.   En dan kom die Sossusvlei duine op die horison, en dan vlieg daar ‘n arend oor hulle koppe. Die ervaring is soos om oor ‘n kruiwa te val ….dit hou net nie op nie.

Skielik hoor Werner “Dwah…”… Hy het ‘n pap wiel. Die sedannetjie is nie eintlik gemaak vir die grondpad nie, en die klippe maak die bande seer. Maar die probleem is nie te erg nie. Hulle klim uit, en terwyl die vrou en kinders lekker moerkoffie en beskuit eet langs die pad, ruil Werner gou die wiel om met die spaarwiel. Nie lank nie, toe is hulle weer in die karretjie en ry verder deur die ongenaakbare landskap.

“Dwah….” hoor Werner weer na so ‘n ruk se ry in die vlakte. Nou het hy ‘n probleem. Hy het nie nog ‘n spaarwiel nie.  Maar vinnig stel hy sy vrou en kinders gerus. “Hier sal nou-nou iemand hier verbykom wat ons sal help…” Maar Werner misgis hom met die verlatenheid van Namibië. So ver soos die oog kan kyk, is daar geen bewys dat iemand op pad is in hulle rigting nie. Maar hy mag nie vir sy gesinnetjie wys hy is bekommerd nie. In die weermag het hulle altyd vir ons gese dat ‘n offisier wat hardloop saai paniek. Nee, jy loop eerder terwyl die bomme hier om jou val. Trek maar lank aan daardie Gunston, maar moet asseblief net nie hardloop nie. Die oomblik as jy hardloop, dan saai jy paniek.

Nou vertel jy vir my waar gaan jy skuil teen die son? Ons het hierdie foto geneem in 2004 naby Maltahöhe – maar dit lyk maar dieselfde as daar waar Werner-hulle was. Ons spot dat daardie boer met klippe moet boer, want daar is nie baie gras nie

Dan tref die tweede realiteit hom tussen die oë. Hulle het nie water saamgebring nie. Nou-nou gaan die kinders begin kerm dat hulle dors is, en wat gaan hy dan doen?  En asof dit nie genoeg is nie, slaan die derde realiteit hom. Hulle het nie skaduwee nie. Daar is net klein bossies, maar nie genoeg skaduwee nie. En die Namibiese son is stadig besig om al hoe warmer te word – ongenaakbaar! Werner weet dis nie lank nie dan gaan sy kroos kerm oordat hulle warm kry en dors is. En hy weet nie wat hy gaan doen daaromtrent nie! Maar hulle mag nie weet dat hy nie antwoorde het nie. Jy kan hardloop, maar jy kan nie wegkruip nie…

“Pa – ek is dors…” kerm een van sy kinders. En dan trek die ander een los: “Pappa …ek kry warm…!” “Toemaar…”  paai Werner, met die wete dat toemaar baie ver tekort skiet om die behoefte weg te vat. Hy kry dit reg om sy vrou en kinders onder die karretjie in te kry, want dit is die enigste skaduweeplekkie… Plat op hulle mae lê hulle daar in die vlakte onder die karretjie op die harde grond en wag vir iemand om verby te kom. Maar daar is niemand op die horison nie.

Werner is emosioneel wanneer hy hierdie storie vir my vertel. Hy vertel nog nooit in sy hele lewe het hy so absoluut magteloos gevoel nie. Daar is niks wat hy kan doen om sy gesin te help nie. Hy sê ‘n vrees vat jou vas daar in die woestyn wat hy nie kan beskryf nie. En intussen word dit net al hoe warmer en word hulle net al hoe dorser…

So lyk dit daar! Paar gemsbokke op die vlakte

Die vlakte hou net aan en aan

Werner vertel hulle is later so desperaat dat hulle hardop bid daar onder die karretjie. En huil. Dis so ‘n mengsel tussen bid en huil. Wanneer hulle nie huil nie, dan bid hulle. En wanneer hulle nie bid nie, dan huil hulle. En dan was daar tye wat hulle sommer gelykertyd bid en huil. En dan is daar net weer stilte, met die wind wat liggies sus in hulle ore.

Net toe hy dink dit is die einde van hierdie gesin, en dat ons van hulle sal lees in die Sondagkoerant, toe sien hy doer op die horison ‘n stofkolletjie. Hier is iets op pad. Al vier is oë vasgenael op die stofkolletjie. Is dit hulle verbeelding, of is dit iemand? Dan sien hulle dit: Dit is ‘n donkiekar. En soos die donkiekar naderkom, sien hulle daar sit net een mens op die donkiekar. Dankie tog! Hulle hoop net die persoon het water!

Mooi maar hard is hierdie kontrei

Na ‘n hele ruk stop die donkiekar by hulle. Werner sê die man wat op die donkiekar sit is so ‘n tipiese “Crocodile Dundee” karakter. Hy het ‘n cowboy-hoed op en trek rustig aan sy pyp. Sy vel lyk soos leer soos die son dit al verbrand het. Sy gesig is die ene plooie, en sy stoppelbaard verklap die feit dat hy dae laas geskeer het.

“Klim maar op”. ..sê hy. Werner kom vinnig agter hierdie man is ‘n man van min woorde. Maar hy is tog te dankbaar. Hy wil net die man omhels en sy voete soen, maar besef dit gaan nie gepas wees nie. Hy gee vir hulle water want hy kan sien hulle is morsdood van die dors. Die vrou en kinders klim agterop die donkiekar, en Werner klim voor op saam met die man. Hy slaan liggies met sy latjie op die twee donkies se rug, en stadig maar seker trek die ou donkiekarretjie vorentoe! So tipies donkie – nie regtig lus nie, maar gaan tog stadig vorentoe.

Werner voel hy moet nou met hierdie man wat so pas sy lewe gered het in ‘n sinvolle gesprek gaan, want hulle gaan nog lank op hierdie donkiekar sit. Die man se huis moet baie vêr wees, want hier waar hulle nou op die donkiekar sit is dit so plat jy kan kilometers vêr kyk en hy sien geen huisie op die horison nie. Hy kyk so skuins na die man want hy wil die gesprek nou aan die gang sit, maar hy sien die man is baie diep in gedagte – hy trek net daardie pyp so elke nou en dan. Werner is ongemaklik met die stilte. Hy dink by homself dat hy op een of ander manier die gesprek aan die gang moet kry, maar hy wil darem ook nie die man se gedagtegang onderbreek nie.

Dan na ‘n hele ruk kry Werner genoeg moed bymekaar: “Boer jy…?” vra hy hom. Werner vertel die man trek daardie pyp so lank en dink oor die vraag asof dit ‘n strikvraag is, en na ‘n lang ruk blaas hy sy rook uit en sê: “Ja.” Dis al. Net ja. Die gesprek word tot stilstand gebring deur die Ja. Hierdie gesprek is soos ‘n vuurtjie wat jy wil begin maar elke keer dan gaan dit dood. Werner dink by homself dat hierdie ‘n baie lang rit gaan word, want hy kan die stilte eenvoudig net nie meer vat nie. Maar hy sien ook nie kans om af te klim van die donkiekar en oorgelewer te word aan die woestyn nie. So hy gaan maar bly sit.

Na nog ‘n tyd verbygaan wat vir Werner na ‘n ewigheid voel, skraap hy weer genoeg moed bymekaar om weer te probeer. “So waarmee boer jy…?” Die man trek sy pyp lank en dink diep oor die vraag. Na ‘n lang ruk antwoord hy: “Dorpers”. Dis al. Net daar stop die gesprek weer. Dis so asof Werner eenrigtingtennis speel. Daar staan iemand aan die ander kant, maar die bal kom net nooit terug oor die net nie. Nie lekker nie.  Soos ek verstaan, is die Dorperskaap ‘n omgewingsvriendelike skaap wat die min grassies wat daar is, net afbyt en nie soos ander skape uittrek uit die grond uit met wortel en al nie. Die dorper is ‘n “groen” skaap.  Die boere daar verkies die Dorper want dan kry die gras darem weer kans om te groei. Want daar is maar min gras. Maar die gesprek is weer dood, en al wat jy hoor is die donkiekarwiele wat teensinning voortbeur op die grondpad.

Werner voel nou ‘n mengsel van emosies. Aan die een kant is hy kwaad en verneder, want die man stel duidelik nie belang in geselskap nie. Maar aan die ander kant is hy verleë, want afklim van die donkiekar af gaan nie gebeur nie. Nie in hierdie vlakte nie. So hy besluit om maar weer te probeer om te kyk of hy die gesprek aan die gang kan kry. Na ‘n hele ruk van niks kug hy liggies en slaan dan weer af: “Hoeveel dorpers het jy…?” Die man trek lank aan sy pyp en dink diep oor die vraag. Nadat hy sy rook uitblaas, sê hy : “Sewentien”. Dis al. Die gesprek stop daar.

Werner sê hy besef net daar dat die man iets het wat hy nie het nie. Werner doen baie goed in die korporatief – hy is al hoogop in die organisasie waar hy werk. Hy is op die 17de vloer van sy maatskappy se gebou. Die agtiende vloer is waar die uitvoerende span sit. En soos dit nou maar is – jou verdiepingnommer bepaal jou waarde. Hoe hoër jy in die lug is, hoe belangriker is jy. Hy is ‘n sukses, baie naby aan die 18de vloer en baie beter af as hierdie Crocodile Dundee skepsel op sy donkiekar met net 17 dorpers.

Maar hierdie man het iets wat hy nie het nie – ‘n vrede en ‘n “contentment”.

Verstaan – dis nie vir hom nodig om in ‘n gesprek met Werner te hoef te gaan nie, want sy eie gedagtes en vrede is vir hom meer werd op die donkiekar as gesprek met iemand anders. Hy is gelukkig op sy eie, in sy eenvoud en met sy sewentien ou dorpertjies. Hy hoef niemand te beindruk nie. En eintlik, sê Werner, dink hy na die tyd, dat hierdie ou miskien nie eers lus was om hom op te tel nie want hy het miskien geweet Werner gaan hom net kom pla met ‘n klomp irrelevante, oppervlakkige poginkies tot gesprekke.  Hy sou eerder in stilte alleen op sy donkiekar wou wees.

Toe hulle teen sononder by die man se eenvoudige ou huisie uitkom, staan sy vroutjie daar vir hulle en wag met ‘n warm glimlag. En sy kindertjies kom aangehardloop na Pappa toe, bly om hom te sien. En die sewentien dorpers loop ook daar rond.

Vrede en geluk, en “contentment”. Nie ‘n strewe na iets meer nie. Slegs ‘n waardering vir wat daar is. Iets baie skaars in vandag se lewe.

Werner sê Namibië het hom ‘n harde les geleer daardie dag in die woestyn. Hy noem dit die les van die sewentien dorpers. En dan vee hy ‘n traan uit die oog as hy vertel dat iets verander het in hom sedert sy trippie op die donkiekar…. die 17de vloer is vir hom nou ook OK. Hy hoef nie by die 18de vloer uit te kom nie.

Die man met die 17 dorpers het hom dit geleer…

Boeta se les:

Yanik, jy moet nooit iemand op sy baadjie trakseer nie. Pasop om dadelik mense in “buckets” te sit net omdat hulle miskien op ‘n donkiekar ry of nie geld het nie. Dit is vir my altyd interesant dat Jesus nie sy twaalf dissipels gaan haal het in die boonste kringe van die kerk nie. Doodgewone mense soos ek en jy is vir Hom baie waardevol. En kyk nou net hoe het Christenskap uitgekring vanuit daardie twaalf dissipels dat dit nou omtrent een derde van die wereld se bevolking is. Weet jy hoeveel is 2.1 biljoen Christene? Boeta, dit is baie!

Maar nog meer belangrik. Waardeer dit wat jy het, en moenie heeltyd strewe na iets wat jy nie het nie. Vind ‘n diepe vrede en geluk in dit wat is, nie wat kan wees nie. Anders is jou so besig om ‘n lewe to probeer maak dat jy jou lewe verloor. Die Here wil graag hê dat ons moet vrede hê. Elke dag van ons lewe, elke sekonde!  ’n Vrede wat die wêreld nooit sal verstaan nie! Iewers in Spreke staan daar – “Where ambition ends, happiness begins” …. Hierdie ou op die donkiekar het dit verstaan.

Ek wens dit so vir jou – dat jy jou lewe in vrede sal leef en nie ‘n gevangene sal word van ander mense se goedkeuring of dat jy sal dink dat status. posisie of mag jou in die tent sal inbring nie. Bly eerder buite die tent.

Vra maar vir jou Pa. Hy weet.  Hy het baie lank geprobeer om binne die tent te wees, en uitgevind dat dit eintlik baie lekkerder is buite die tent. Want dan is jy vry.  Die vrede van God is goud werd in hierdie ou stukkende wêreld waarin ons vandag leef. Jy moet elke oomblik in jou lewe streef daarna. Mense kan nie vir jou vrede gee nie.  Moenie tyd mors om dit by mense te soek nie – hulle het dit nie.

En as jy ooit in ‘n woestyn is en iemand kom tel jou op met ‘n donkiekar, onthou dat dit soms nie nodig is om te praat nie. Stilte is waar God ook is. Dis nie toeval dat Hy gereeld woestyn toe gegaan het om perspektief te kry nie. Gaan kyk maar – Hy het gereeld weggegaan op sy eie na plekke van stilte.

Lief vir jou

Pappa